Maretha Maartens reageer as volg op ’n uitnodiging om die boek Die Mighty Men Verhaal te bespreek:
1. Vir sommige is die Mighty Men-beweging ’n diep emosionele saak. Oom Angus se prediking het iets aangeraak wat aandag in hulle gesinslewe nodig gehad het. Gesinne is verander en vernuwe omdat iemand soos Angus Buchan in ons land begin preek het. Dit is die spiritueel-emosionele faset. En wie sou ek as nieteoloog wees om die prediking en getuienis van ’n man te bevraagteken as sy boodskap heling en genesing in sekere mense se lewe bewerkstellig? Indien ek dit sou doen, is dit ’n herhaling van die situasie waar die styl van Johannes die Doper se dissipels vrae by Jesus Christus se dissipels ontlok het en andersom (Mark 2).
2. Vir sommige is die benaming Mighty Men dalk soos ’n strooihalm in ’n see van magsverlies. Vir dié soort Mighty Men-bekeerdes is ek baie bang. Die motief is verkeerd.
3. Vir sommige is die verskynsel vanselfsprekend ’n finansiële geleentheid. Bekendheid, ook op geestelike gebied, maak geld. Daarom is sepiesterre ook geldkoeie vir tydskrifte.
4. Vir sommige is die verskynsel ’n steen des aanstoots, die leer van onderdanigheid iets waaroor tot die bittere einde geargumenteer moet word. Daar is moedeloosheid oor die naïwiteit van vroue, veragting, die missie om duistere motiewe te ontbloot.
5. By sommige – en ek dink ek hoort hier – is daar kennisname, terloopse opmerkings soos hier bo as iemand ’n mens daarna sou vra, maar nie ’n gedrewenheid om die saak na die een of ander kant te sleep nie. My eie spirituele styl is nie charismaties nie, wat uiteraard reeds by voorbaat gaan bepaal of ek die boek oor die Mighty Men-beweging sou wou lees. Ek vind dit gewoon nie besonder belangrik vir my eie geestelike lewe binne my meer analitiese, vraagstellende, navorsende spirituele styl nie. Daarby bedoel ek ook: my fokus is op die Skrif, nie op verskynsels nie. Ek bestudeer Christus meer en meer en mense minder en minder.
Dus dink ek nie ek is die regte kandidaat vir ’n mening oor die boek nie. Die bestudering van medegelowiges in hulle sukses of styl is nie my sterkpunt nie.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


Kommentaar
Mmmm. Wyse antwoorde. Ek hou van die stelling: Ek bestudeer Christus meer en meer en mense minder en minder.