Anglo-Boer War (South African War) 1899–1902: Historical Guide to Memorials and Sites in South Africa deur Jackie Grobler: ’n lesersindruk

  • 0

Anglo-Boer War (South African War) 1899–1902: Historical Guide to Memorials and Sites in South Africa
Jackie Grobler

Uitgewer: 30º South Publishers Pty (Ltd)
ISBN: 9781928211297

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Met die publiseer van hierdie boek, Anglo-Boer War (South African War) 1899–1902 Historical Guide to Memorials and Sites in South Africa, het Jackie Grobler baanbrekerswerk verrig. Vir die eerste keer is ’n publikasie beskikbaar wat ’n bykans volledige visuele beeld van die herdenkings- of gedenkplekke van die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) weergee.

Dit is Grobler se 14de boek en vorige publikasies sluit onder meer in The War reporter. The Anglo-Boer War through the eyes of the burghers (2004); Monumentale erfenis: ’n Gids tot 50 Afrikaner-gedenktekens (2012); en Oorlog-Beeld Nuusblad oor die stryd tussen Boer en Brit (2014).

Grobler verklaar dat verskeie oorloë meer as een naam het en dat dit selfs mettertyd verander. So was die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) eers as die Groot Oorlog bekend, maar na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) is dit na eersgenoemde naam verander. Die Anglo-Boereoorlog is deesdae ook as die Suid-Afrikaanse Oorlog bekend, maar Grobler verkies die benaming Anglo-Boereoorlog omdat dit die konflik tussen die twee Boererepublieke (die Zuid-Afrikaansche Republiek en Republiek van die Oranje-Vrystaat) en die Britse magte weerspieël.

Hy het benewens die gebruik van sekondêre bronne uitgebreide veldwerk gedoen en meer as 90% van die herinneringsplekke besoek en gefotografeer. Die uitgebreide bronnelys getuig van deeglike navorsing terwyl die indeks hoofsaaklik op persone, geselekteerde plekke, terreine, gevegte en botsings fokus.

Dit was sy doel om vir die student, die reisiger deur Suid-Afrika en die publiek ’n publikasie saam te stel wat aanvullend tot studies, as reisgids of as interessante leesstof benut kan word. Om dié rede het hy gepoog om ideologiese kwessies ter syde te laat en is die inligting volgens hom vanuit ’n “neutrale vertrekpunt” aangebied: dis nóg pro-Brits nóg pro-Boer. Grobler se navorsing dui daarop dat ongeveer 60% van die herinneringsplekke die Britse magte en ongeveer 40% die Republikeinse magte huldig. Voorts handel ’n gedeelte oor die rol van swartes, bruines en Indiërs in die oorlog en is die gedenktekens wat hulle huldig, so volledig as moontlik weergegee. Volgens Grobler is daar nogtans ’n groot gaping rakende die oprig van gedenktekens wat dié persone se deelname aan die oorlog herdenk.

Grobler deel die herdenking van die Anglo-Boereoorlog in vier stadia in. Die eerste fase is na die oorlog en strek tot ongeveer 1930, waartydens veral die slagoffers van die oorlog in die vorm van monumente gehuldig is; die tweede fase strek vanaf ongeveer 1938 tot 1948, waartydens ’n aantal gedenktekens vir burgers opgerig is; die derde stadium strek vanaf 1948 en bereik sy hoogtepunt in die 1970's, waartydens pogings aangewend is om byvoorbeeld historiese plekke te bewaar; terwyl die vierde stadium met die honderdjarige viering van die Anglo-Boereoorlog tussen 1999 en 2002 verband hou en daardeur gestimuleer is.

Hy verklaar dat een van die nalatenskappe van ’n oorlog herinneringe is wat voortdurend na gelang van die heersende geestesklimaat gerekonstrueer word. Monumente en gedenktekens word opgerig om leiers, helde, slagoffers, oorwinnings en rampe in herinnering te roep. Grobler klassifiseer die verskillende herdenkingsplekke soos volg: historiese landskappe en -terreine; monumentale strukture en gedenktekens; stand- en borsbeelde; gedenkplate; historiese aanduiders of merkers; historiese geboue; herdenkingsgeboue; historiese plekke; museums en museumuitstallings; historiese kunswerke; begraafplase en begraafplekke; en historiese name of plekname. Vir elk van die kategorieë het hy in sy inleidende hoofstuk ’n voorbeeld gekies om die aard en voorkoms daarvan te illustreer.

Die foto’s toon onder meer plekke waar gevegte plaasgevind het, soos die Karoo-landskap naby Colesberg; die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein; die stand- en borsbeelde van byvoorbeeld Louis Botha; plate met name wat op mure van geboue aangebring is; ’n plaat teen ’n gebou wat bloot die gevegsterrein aandui; die Mount Nelson Hotel, wat vir ’n rukkie die Britse magte se hoofkwartier was; die kerk in Middelburg; en Anton van Wouw se bronskunswerk getiteld Slegte nuus.

Hoofstuk twee, “Prelude to the war”, handel oor die gebeure wat tot die oorlog aanleiding gegee het, die oogmerke van die twee opponerende groepe en die voorbereidings wat getref is. In hoofstuk 3, “The military history of the war: the first year 11 October 1899–10 October 1900", word die belangrike botsings geskets, asook die inneem van die Republieke se onderskeie hoofstede deur die Britse magte. Die Republiek van die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) is onderskeidelik in Mei en September 1900 deur die Britte geannekseer en daar is geglo dat die oorlog verby was. Die regerings van die twee Republieke het hernude pogings aangewend om die oorlog voort te sit wat van 11 Oktober 1900 tot 31 Mei 1902 geduur het. Dié pogings was die guerrillamanier van oorlogvoering en word in hoofstuk vier, “The guerrilla phase of the war 11 October 1900 – 31 May 1902" beskryf. In hoofstuk vyf, “The war of attrition”, word onder meer die swart Suid-Afrikaners se betrokkenheid by die oorlog, die konsentrasiekampe en oorlogsgevangenes bespreek. Hoofstuk ses, “Peace”, handel oor die onderhandelingsproses en die vredesooreenkoms bekend as die Verdrag van Vereeniging wat onderteken is. In die laaste hoofstuk, getitel “The legacy of the war”, behandel Grobler die generaals van die oorlog, die burgermonumente en die Britse gedenktekens.

Die foto’s is binne die konteks van die verloop van die oorlog aangedui en hou gevolglik met die rol van ’n bepaalde persoon of geveg op ’n spesifieke tydstip verband. Die foto’s is merendeels onderaan elke bladsy of so naby as moontlik aan die geskrewe verduideliking geplaas. Om dié rede is die foto’s ook op ’n bepaalde manier genommer: die standbeeld van generaal C de Wet in Bloemfontein is byvoorbeeld nommer P4.3.1, waar P4.3 verwys na hoofstuk 4 en die subopskrif 4.3 getitel “The guerilla war in the Orange Free State”, terwyl die 1 die eerste foto onder dié bepaalde opskrif is. Die swart-wit foto’s is nie veel groter as 40 x 40 mm nie en sommige foto’s is te donker, byvoorbeeld die bronsbeeld Slegte nuus van Anton van Wouw, foto nommer P1.11 op bladsy 16 en ’n foto van ’n houtplaat nommer P4.4.15. op bladsy 191.

Die publikasie bevat 36 kleurfoto’s wat apart genommer is, byvoorbeeld CP 1. Tog is met die numerering gefouteer, want daar is nie ’n foto nommer 32 nie. Voorts sou ’n kleurfoto van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein eerder gepas gewees het in plaas van die talle kleurfoto’s van grafstene. Ek is van mening dat van die foto’s in die laaste hoofstuk by ander hoofstukke ingedeel kon gewees het. Voorts is die vraag of dit nodig was om foto’s van die grafstene van Eugène Marais en C Louis Leipoldt te plaas, veral in die lig van die feit dat hulle nie aan die oorlog deelgeneem het nie en bloot daaroor geskryf het.

Die voorwoord is deur Arnold van Dyk geskryf, maar ek mis ’n perspektief deur Grobler self. Dit sou van waarde gewees het as hy sy publikasie binne die konteks van soortgelyke bronne kon geplaas het en ook sy veldwerk, bevindings en “agter die skerms”-belewenisse met sy ondersoek geboekstaaf het. Verder sou ek graag meer te wete wou gekom het in watter toestand van die monumente verkeer. Die leser moet ook nie die agtergrondgeskiedenis van die oprigting van die betrokke monumente of gedenktekens verwag nie. Dit sou in elk geval in ’n lywige publikasie soos hierdie (met meer as 1 200 foto’s) nie moontlik gewees het nie. Merendeels is die datum van die oprigting van die monumente en gedenktekens wel vermeld. Die publikasie is slegs in Engels beskikbaar en gevolglik ook vir ’n kopersmark buite Suid-Afrika toeganklik.

Die publikasie is ’n onskatbare bydrae tot die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing. Die forse generaals op hulle perde, ’n bronsbeeld van ’n huilende dogtertjie op ’n seepkis, ’n agterryer wat die teuels van ’n perd vashou, eensame grafte in die veld en gras wat oor ’n verlate gevegsterrein wuif, vertel die verhaal van ’n oorlog wat almal in Suid-Afrika geraak het – dié oorlog wat nou in klip, graniet, bakstene en brons vasgevang is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top