André P Brink: Oor die vroue in sy lewe

  • 0

Met André P Brink se dood kom meld allerlei brokkies van gesprekke en geselsies oor die jare by my aan. Nou besef ek dat hierdie herinneringe vir my ’n bate is – dié spesiale manier van onthou van ’n man van waarde.

Om hierdie onthou te deel en beslag daaraan te gee, herroep ek ’n besondere gesprek in 2003 in sy huis in Rosebank. Dit was ’n lekker gesprek oor sy vrouekarakters in sy boeke, maar ook oor die vroue in sy lewe. Só sal ek hom onthou: lojaal, meelewend, mededeelsaam, innemend en welwillend.

*

Jong, sensuele nimfe, ’n stereotipe, so is al dikwels na die vrouekarakters in Brink se romans verwys. Daar is altyd raakpunte – klein, skraal soos ’n halfwas meisietjie, lenig, speels, ’n positiewe bevestiging van lyf en lede, fyn beenstruktuur, skraal gesig met ’n uitdagende mond, lang bene, mooi voete en meer intiem die verleidelike ronding van die maag, die driehoek van die pubis en veral die borste, ronde borskalbassies, die tepeltjies soos die pienk snoete van konyne …

Dit is die gemene delers vanaf sy eerste roman, Lobola vir die Lewe (1962), tot sy negentiende, Donkermaan (2000).

Met die bekendstelling van André se twintigste roman, Anderkant die stilte, het ek hom hoor sê: "Ek word altyd verlief op die vrouekarakters in my boeke, maar hierdie keer was dit anders. Op Hanna kon ek nie verlief raak nie, maar vir háár het ek lief geword."

Dit het my opnuut laat wonder hoe hy die vrou in sy boeke en wêreld sien. Ek kom ’n lang pad met hom en wou dit waag om hom te vra om daaroor te gesels. Teen die voormiddag staan ek op die afgespreekte tyd voor sy deur, effens senuweeagtig onseker of ek met sulke vrae sy privaat terrein mag betree.

Soos altyd is sy ontvangs hartlik en ons stap deur na die sitkamer waar hy eers vir ons tee maak. Ek kyk weer na die skilderye, wat hy, oor jare, keurig versamel het. Twee prominente werke is Goya-agtige portrette van ouer vroue deur Marjorie Wallace. Ek onthou hy het ’n vorige keer gesê: "Daardie Marjories is gunstelinge." Dit klop nie met die aantekeninge wat ek vooraf gemaak het rondom die vrouekarakters in sy boeke nie.

Oor koppies tee gesels ons lank oor mense en ervaringe wat ons deel. Ek onthou my eerste ontmoeting met hom net na die verskyning van Lobola en die indruk dat hy ’n private mens is, skamerig met ’n ouwêreldse beleefdheid. Ons het oor die jare altyd ’n verbintenis behou en tydens die Afrikaanse Skrywersgilde-dae mekaar leer ken. Daar het baie water in die see geloop, het ons die oggend besef, maar by my het dieselfde indrukke bly vassteek en kon ek byvoeg: André met ’n deernis vir ander, nou – soos altyd – introspektief. Die blootlegging, wat aan weerloosheid grens, is om juis die reis na die binnelandskap van die self te onderneem.

Toe ek my bandmasjien aanskakel, vra André: "Waaroor het ons nou weer gesê gaan ons gesels?"

Na ons vorige gesprek verg dit ’n bietjie moed: "Oor hoe jy die vrou in jou boeke en jou wêreld sien?"

Hy lag en op sy eiesoortige manier begin hy oor sy ma, toe 95 en fisiek fragiel, te praat. "Sy is nog altyd absoluut ’n sentrale figuur in my lewe." Dit voel soos ’n terugflits na sy kinder- en jeugdae, asof hy vir oomblikke die plekke besoek waar hy grootgeword het: Vrede, Jagersfontein, Brits, Douglas en Sabie. Hy onthou kleintydse dinge waar sy hom in sy kamer opgesluit het omdat sy gemeen het dat hy nie genoeg vir die eksamens voorberei het nie, wat hom "woedend" gemaak het. Dit was dikwels haar wil teen syne. "Sy was vir almal van ons ’n ma-figuur."

Sy was ’n oudonderwyseres en André verklaar sy ma se "befoeterdheid" ook as ’n reaksie dat sy "as iemand van haar generasie geweet het dat haar plek in die huis is en dat dit as groot genoeg geag is". Hy erken dat sy deur haar "gulheid, mededeelsaamheid en befoeterdheid" ’n bepaalde vrouebeeld in sy lewe geskep het.

Sy wêreld, sê hy, is beïnvloed deur twee soorte ervarings. "Een was die woord, letterkunde veral, en die ander die vrou deur verskillende gedaantes."

’n Ander vrou, eers sentraal in sy lewe, later die teenpool van alles waarvoor hy gestaan het, het uiteindelik, vir ’n kort rukkie - voor haar dood - ’n gespreksgenoot geword. Sy was André se suster, Elsabe. (Sy was die bekende jeugboekskryfster Elsabe Steenberg.) Sy was drie jaar jonger as André en hulle het na aan mekaar grootgeword.

"Ons het geweldig baie baklei en met die verloop van die jare ongelukkig ’n bietjie uitmekaar gedryf. Maar ons het werklik saam grootgeword. Ons het saam gelag en soveel van die dinge wat die lewe en menswees beteken, saam ervaar. Onbewustelik het ons dieselfde ideale gedeel. Sy het kortverhale gepubliseer voordat myne nog aanvaar is. Sy was in standerd 8 of 9 toe sy al gepubliseer het. Toe sy haar eerste roman geskryf het, het ek die hele ding vir haar getik. Ons het baie intens ons vroeë lewe met mekaar gedeel, hoewel ons in baie verskillende rigtings ontwikkel het.

"Sy was baie meer konvensioneel, godsdienstig ingestel en sy het geweldig afkeurend geraak teenoor my, veral ook my wegbreek van die godsdiens en veral toe ek begin skei het. Dit kon sy nooit goedkeur nie. Daar was jare van werklike verwydering. Gelukkig die laaste jare voor haar dood het ons weer begin om baie goed klaar te kom."

In die stilte tussen ons is dit asof baie herinneringe nou in hom kom plek maak. Na ’n rukkie sê hy: "Ek dink dit was waarskynlik die eerste twee vrouefigure wat in ’n hoë mate my beeld begin opbou het."

Hy was sku en skaam in sy jeugjare. Hy vertel hoe "verskriklik verlief" hy, as eerstejaar, op ’n standerd 6-meisie was. "Maar ek sou dit nooit ooit eers waag om vir haar enigiets te sê nie! Ons het albei op Sabie gewoon. Ons moes van Lydenburg met die begin en einde van vakansies met die trein saamry. Sy het toe in Pretoria afgeklim en ek is dan Potch toe. Maar ek sou byvoorbeeld nooit ooit gewaag het om op die trein eers vir haar te sê ‘Hallo’ nie. Ek sou my hele reis beplan sodat ek saam met haar op die trein kan wees, al sou ek nooit waag om nader te kom nie."

André vertel hoe hy met ’n vriend hieroor gesels het en moes erken het dat ondanks sy ma se tussenkoms om hom hier te help, niks ooit gebeur het nie. "Dit is hierdie soort verering van ’n afstand af. Hierdie verskriklike romanties sentimentele stelling dat die vrou ’n soort eteriese wese is wat onbereikbaar is en onbereikbaar moet wees, anders kon ek nie verlief raak nie …"

Hy moes oor sy "totale angsvallige beskroomdheid kom" om eers in sy derde jaar – vir die eerste keer – ’n date te reël. "Natuurlik het dit ook nie uitgewerk nie, maar dit was darem ’n begin." Vir André was dit "daardie soort romantisering" wat deel geword het van die manier waarop hy "die konsep van vrouwees probeer hanteerbaar maak het".

Dit was altyd vir hom asof hy "nie rêrig nader kon kom nie". Die werklikheid kon hy nie so maklik hanteer nie. Eers aan die einde van sy derde jaar op universiteit het hy vir die eerste keer gekys geraak. "Ek dink dit was in daardie stadium ook vir my ’n soeke na sekuriteit. Ek het eenvoudig angsvallig vasgehou aan wat ek het en ek het later met haar getrou. Dit was ’n geweldig kuise verhouding, want ons albei was, maar veral ek, verskriklik Calvinisties-godsdienstig en sekere dinge doen jy nie."

Na hul huwelik is hulle na Parys en hier, vertel André, het sy ontdekking van ’n nuwe wêreld rondom die vrou, veral rondom seksualiteit, plaasgevind. "Dit het vir my ’n verwilderende, maar daarom ook ’n baie aanloklike onbetreebare paradys voorgestel." Terug in Grahamstad, by die Universiteit van Rhodes, waar hy as lektor aangestel is, is hul oudste kind ’n jaar daarna gebore. Baie kort daarna moes André ’n werksverpligting in Kaapstad nakom en het hy die digter Ingrid Jonker ontmoet. "Sy het beslag gegee aan die beeld wat vrou kan wees en in my lewe sou wees. Sy het my laat ontdek wat ek eintlik al die jare misgeloop het."

Met verwysing na die veelbesproke verhouding, waaroor hy ook in ’n destyds opspraakwekkende roman, Orgie, verslag gedoen het, praat hy nou van die ekstase van die "baie onstuimige verhouding" en kan hy dit "ongelooflik poëties" verklaar.

"Ingrid was eintlik die beliggaming van die taboe. Sy het ’n onuitwisbare indruk op my gelaat. Ek was besig om weg te breek van die tradisionele politiek en nuwe idees te verken. Sy het daaraan liggaam gegee. Sy het daaraan ’n werklikheid gegee. Haar onkompromislose uitkyk oor ook sommer net klein dingetjies …"

Hy vertel van insidentjies in hul verhouding wat dit juis onderstreep het. Klein goedjies wat vir haar óf wit óf swart was. "In alle opsigte het Ingrid in daardie wêreld van uiterstes geleef. Onvermydelik het sy, wat Ingrid was, vir my ’n beeld van die vrou geword." Hy vertel dat sy skielik "vlees" gegee het aan sy vrouekarakters in sy eerste twee romans, Lobola vir die lewe en Die Ambassadeur. "Ingrid het beliggaam oor wat ek gedroom het."

Destyds het hy egter besef dat hoewel hy en Ingrid gedroom het oor ’n huislike gesinstruktuur, dit nie met haar moontlik sou wees nie. "Sy was nooit bedoel as ’n gewone konvensionele huisvrou wat kinders grootmaak nie … Hierdie kompromislose slinger tussen uiterstes van diep terneergedruktheid, woede, ekstase, kinderlike opgewondenheid, speelsheid, naïefheid en terglustigheid was alles in haar."

André vertel hoe die beeld van die vrou vir hom die eerste keer in Parys gevorm is toe hy gelees het wat Simone de Beauvoir geskryf het oor Brigitte Bardot. (Brigitte Bardot and the Lolita syndrome). Dit het die grondstof geword van die beeld wat hy van die vrou begin opbou het. Dit het gedeeltelik in Nicolette in die Ambassadeur beslag gekry en later het hy dit oorgedra op Ingrid.

"In watter mate ek werklik vir Ingrid 'skoon' gesien het met die mens wat sy was en in watter mate ek toe reeds gekondisioneer was om haar te wil sien op ’n bepaalde manier is moeilik om agterna te wil sê."

Dit was die soort ondervindinge wat van vroeg af ’n sekere beeld van vrouwees in André geskep het. "Die een wat haar nooit laat vaskeer nie, die een wat buite alle konvensies bestaan, die een wat ’n soort ewige jeug belowe. Iemand met wie jy ekstaties verenig kan word en wat jou ook net op ’n afstand gaan hou." Ingrid se gewelddadige dood was vir hom ook "’n skokkende vaslê van ’n hierdie bepaalde beeld".

Wat uiteindelik met sy vrouekarakters gebeur het, was "’n stadige afronding, verfyning en hersiening" van Ingrid as beliggaming van sy vrouebeeld. "Ek het besef dat daar ’n bietjie te veel idealisme en te veel romantisering bykom. Dat sy ook ’n mens is – ’n doodgewone wese wat deur ’n dag moes kom. Dit het hanteerbaarder geword. Dit het ook ’n mensliker gedaante gegee aan die beeld van die vrou. Deur die jare het dit verder ontwikkel."

Na die verbreking van sy verhouding met Ingrid, was André ’n kort rukkie getroud met ’n jong digter. In sy derde huwelik was hy sestien jaar getroud. "Ek dink ek was baie gelukkig om veral iemand soos Alta - ’n ryker, dieper, voller belewing van die volwasse vrou - te hê, wat begin verruim het aan my beeld van die jong nimf."

In hom roer allerlei emosies en dit is asof hy weer begin formuleer aan wat die vrou vir hom is toe hy sê: "Die beeld van die jong nimf is so sterk in my gevestig dat dit op ’n manier nooit heeltemal uit my sal kom nie."

  • Ek eer jou nagedagtenis, André, en onthou jou met waardering vir die verryking en verruiming wat jy gebring het.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top