Anders geveer: ’n onderhoud met verlede jaar se wenner van die RSG | Sanlamradiodramakompetisie

  • 0

Die RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie is vanjaar 23 jaar oud met prysgeld ter waarde van R90 000. Nog inligting omtrent die kompetisie is hier onder. Sophia van Taak, wenner van verlede jaar se kompetisie, praat met Naomi Meyer oor Sophia se wendrama, Anders geveer.

Sophia, jy het verlede jaar die RSG | Sanlam-radiodramakompetisie gewen met jou radioteaterstuk Anders Geveer. Wat het jou die idee vir die storie en sy karakters gegee?

Ek het nooit ’n klinkklare storie-idee nie. Dit begin gewoonlik met ’n paar verskillende stories, ’n onderwerp waaroor ek die laaste tyd obsessief oplees, ’n paar losstaande karakters en ’n spertyd. En dan vind ek maar ’n manier om die drie komponente te laat saamwerk.

Die een groot tema in Anders Geveer, is die lewe van ’n persoon wat met Asperger se sindroom leef. Aspergers — en die wyer outisme-spektrum — het my nog altyd fassineer, omrede daar nog soveel te leer is en daar voortdurend nuwe kennis omtrent die toestand aan die lig kom. Dit is ’n toestand wat so dikwels nog verkeerd verstaan word en diegene wat daarmee saamleef is steeds uitgelewer aan stigmas. Ek dink ek het heimlik gehoop om — deur middel van ’n hoofkarakter met Aspergers — die wanopvattings rondom die toestand met dié karakter vir wie die gehoor dadelik simpatie kry, aan te spreek.

Toe ek my weer kom kry, het ’n paar ander temas ook kom aanmeld: alkoholisme, lesbiese verhoudings, eensaamheid, die swaarkry van ’n enkelouer, die onvermoë om met persoonlike verlies om te gaan... onderwerpe wat die meeste mense ongemaklik laat voel en daarom selde eerlik oor gesels word. Ek het egter ’n broertjie dood aan sulke taboes — práát om hemelsnaam tog net!  

Jou werk het jou in kontak met die vlugduiwe gebring en jy het baie navorsing oor hulle gedoen ook, het ek gelees. En dan nog die treffende metafoor/idioom wat jy daarmee verbind. Maar hoe word dit toe ’n storie?

In die geval van Anders Geveer het ek geweet ek wil iets oor vlugduiwe skryf. Dit is ’n sportsoort waaroor ek geruime tyd navorsing gedoen het vir ’n artikel vir die tydskrif Weg, waar ek as joernalis werk. Na afloop van die artikel het ek egter nog só baie dinge van die vlugduifkultuur geweet wat nie die artikel gehaal het nie, dat ek gevoel het dit kan nie verlore gaan nie — ek moet eenvoudig nóg iets hiermee skryf.

Die radiodrama se titel, Anders Geveer, is bloot ’n verdraaing van die uitdrukking “eenders geveer”. Terwyl ek so met die vlugduiwe doenig was, het allerlei woordspelings op vere en voëls en vlug en vlerke maar uitgeduik. Dié een het egter in my agterkop bly draal en eindelik ’n bepalende rol in die karakterkeuse gespeel.

Vir my is die roerendste stories dié waarin die karakters nie helde is nie, maar doodgewone mense — met verwonding, met blinde kolle, met tekortkominge en die gedeelde basiese hunkering om iewers geborge te voel. Maar dan moet iémand die moed hê om daardie eerste tree oor die lang brug tussen ewe skaam en behoeftige individue te gee.

Dít word toe op die ou einde die sterkste saambindende tema in Anders Geveer — ons elkeen se begeerte om steeds te voel ons pas iewers in , ongeag hoe “anders” of buite die verwagtings van die samelewing ons is.

Is jy meer ingestel op storie, of meer op klank? En vir die skryf van ’n radiodrama: wat is jou topwenke?

Ek is die sterktste ingestel op karakters. Jy kan die wonderlikste storie onder die son bedink, maar op die ou einde is dit die emosionele reaksie wat jou karakters by die gehoor uitlok, wat maak dat hulle van die storie hou al dan nie.

Wanneer ’n mens vir radio as medium skryf, is dit noodsaaklik om met jou ore te “dink”. Shakespeare draai seker in sy graf om as hy hoor hoe sy Julius Ceasar 400 jaar later aan die suidpunt van Afrika verdraai word, maar ek wil graag vir Mark Antony aanhaal en sê: “Friends, Romans, countrymen, lend me your ears!” Ek herinner myself oor en oor hieraan. Lend me your ears… Dit is al wat jy het om mee te werk. Die gehoor kan nie lees wat in die karakters se gedagtes aangaan nie. Hulle kan nie sien wie staan nou buite die voordeur en huiwer om te klop nie. Hulle kan slegs hoor wat aangaan. Aanvanklik voel dit baie beperkend, maar sodra jy met toe oë begin skryf, besef jy hoe kragtig klank eintlik is …én hoe baie jy daarmee kan vermag.

’n Paar wenke:

  • Die beste raad wat ek kan gee, is: skryf oor dinge wat jy self al beleef het, of temas waarin jy belangstel. Dit spaar jou baie voorbereiding, jy ken reeds die lingo en emosies en gesprekke oor die onderwerp, en dit gee jou ’n voorsprong om dit geloofwaardig te laat klink.
  • Doen jou huiswerk deeglik — veral wanneer jy skryf oor dinge wat jy nog nie self beleef het nie en daarom nie die emosie en gedagtes en woorde ken wat daarby pas nie. Jy kan aanvaar dat daar luisteraars is wat meer weet oor, byvoorbeeld, diabetes as jy. En jou verhaal kan in ’n oomblik sy geloofwaardigheid verloor wanneer jou karakters dinge kwytraak wat nie strook met die onderwerp nie. Gesels met mense wat weet. En luister nie alleen na die feite nie, maar ook na die manier hoe hulle daaroor praat en die woorde wat hulle gebruik wanneer hulle daaroor praat. Dít is die woorde wat jy gaan aanwend wanneer jou jy karakters daaroor laat praat.
  • Ons werk nie hier met prosa nie. Daar is nie ruimte vir mooi paragrawe wat bloot aanhou en aanhou om ’n landskap of ’n heimwee te omskryf totdat jy trane in jou oë kry nie. Kort sinne. Mense in gesprek. Belangriker as waaroor jou karakters praat, is die manier hoe hulle daaroor praat. Dit kan nie omslagtig raak nie, dan verloor jou luisteraar die draad.
  • Hoe mensliker, hoe makliker. Gee jou karakters ’n agtergrond, gee vir hulle vrese, gee hulle ’n sekere sin vir humor, iets om hier — in jou storie — mee te worstel. Gee vir hulle stokperdjies, gee vir sommige meer mag as ander. Laat hulle swaarkry. Laat hulle lag. Laat hulle blinde kolle hê en laat hulle foute maak. Wanneer jy dit doen, maak jy jou karakters toeganklik. Want jou luisteraar begin dan dinge omtrent homself, of mense wat hy ken, in jou karakters raaksien. So word jou karakters regte mense by wie die gehoor aanklank vind.
  • Hoe doen jy dit? Hoe suig jy só ’n lewensgetroue, volronde persoon uit jou duim? You don’t need to reinvent the wheel — skoei elke karakter op ’n regte mens, iemand wie jy ken, of wie aan jou bekend is. Dan weet jy reeds al die bogenoemde van hom.

Het jy van die begin af geweet dis die storie, dis die karakters, en dis hoe dit gaan werk en eindig? Het jy beplan, het dit organies gebeur? Wat was jou proses van skryf?

Ek het geweet waar die storie gaan begin en hoe ek wil hê dit moet eindig. Om dié twee punte met mekaar te verbind, moes daar binne die verloop van ’n uur sekere dinge gebeur — dit het my tonele bepaal.

Maar dan het ek ook tot ’n mate dit bloot aan die karakters oorgelaat om net met mekaar te gesels: Aan die begin van elke nuwe toneel (of dan nou, gesprek) het ek geweet wat volgende onthul moet word om die storie se momentum te behou. Hóé die karakters dit in dialoog aan die gehoor kommunikeer, is deur die karakters self bepaal.

Ek stel myself gewoonlik in die een karakter se skoene en sal sy sinne, soos dit by my opkom, hardop sê. Die ander een se reaksie daarop gebeur dan organies — jy tik maar net soos wat die woorde uittuimel. Aan die einde van ’n toneel ruil jy die karakters om: dié keer lees jy die sinne van die karakter wat jy sopas self vertolk het, en reageer dan daarop en kyk of dit strook met jou aanvanklike “aanhoor” van die ander een se uitlatings.

Deur albei rolle so om die beurt te speel, kom ’n mens baie gou agter waar iemand se reaksie nie akkuraat of menslik of “in karakter” genoeg was nie.

En tussendeur strooi jy ’n paar rosyntjies in die deeg vir smaak: Werk humor in, sowel as spanning, misverstande, woede ... dit hou dinge boeiend.

En toe jy dit op die radio hoor, was dit soos wat jy gedink het dit sou klink? So met die musiek en die manier hoe die akteurs hulle rolle vertolk?

As skrywer is jy verantwoordelik om spelaanwysings (byvoorbeeld, wanneer ’n karakter ’n sin ietwat huiwerig moet uiter, of eers smalend moet lag voordat hy verder praat ...) en byklanke (’n deur in die agtergrond toeklap, ’n motorfiets wat verbyjaag ...) in die teks aan te dui. Dit is egter iets waarmee ’n skrywer konserwatief moet omgaan, omrede die akteurs baie ervare is en gewoonlik reeds ’n sterk aanvoeling het hoe om ’n teks te speel, en ook omdat té veel byklanke die dialoog kan oordonder. Jy wil nét genoeg hiervan inskryf om aan te dui watter tyd van die dag dit is, en in watter ruimte (sitkamer, kombuis, binne-in ’n fabriek, op ’n roeibootjie ...) die karakters hulself nou bevind.

Dit is handig om vir dié doeleinde jou radiodrama as ’n verhoogstuk te beskou: daar is ’n beperking op die hoeveelheid stelle en rekwisiete tot jou beskikking. ’n Goeie reël is om vir elke karakter sy eie “stel” te skep, en dan keer op keer daarheen terug te keer: Die duiweboer is altyd by sy duiwehok doenig, met die gekoer en gevroetel van voëls in die agtergrond. Die ma is gewoonlik in die kombuis aan’t koekbak. Die skoolhoof is altyd in sy kantoor, ensovoorts. Nie alleen verleen dit dan ’n duidelike struktuur aan jou verhaal wat dadelik die luisteraar oriënteer wanneer ’n nuwe toneel aanbreek nie, maar dit vereenvoudig ook die taak van klankversorging in die ateljee.

Ek is lief daarvoor om my eie musiekkeuse in die teks aan te dui (weereens iets wat spaarsamig aangewend moet word en gewoonlik slegs as ’n verposing of ’n drastiese verskuiwing — hetsy in tonele of tydsverloop — dien). Hier laat ek my lei deur die stemming van die tonele voor én na die musiekbrug, sowel as die karakter(s) se gemoed op daardie punt. Dit staan egter die regisseur vry om self te besluit watter musiek by die stuk pas.

Wanneer jy klaar geskryf is, kry die storie ’n lewe van sy eie. Vertrou dat die regisseur en die akteurs die teks op die beste moontlike manier gaan stem gee. Glo my — hulle is ongelooflik goed. Hulle wéét wat hulle doen. Hier en daar gaan ’n toneel of ’n sinnetjie of ’n sug nie hééltemal klink soos wat jy nou gedink het dit moet klink nie. Maar: die gehoor weet dit nie. Hulle hoor die professionele vertolking van ’n teks en dit is meesleurend en wonderlik en, op hulle ore, 100% reg so. Sit terug, geniet. Luister net ...

  • Laai die potgooi van Anders geveer hier af.

Nog inligting oor radiodramakompetisie:

Radiodramakompetisie 23 jaar oud met R90 000 se prysgeld

Die RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie is vanjaar 23 jaar oud met prysgeld ter waarde van R90 000. Dié jaarlikse kompetisie kan bestempel word as die oudste dramakompetisie in Suid-Afrika wat vir bykans ’n kwarteeu Afrikaanse radiodrama bevorder en beloon.

Die wendrama sal vanjaar R35 000 ontvang, terwyl die tweede en derde plek met prysgeld van onderskeidelik R25 000 en R15 000 bekroon sal word. Die Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) sal ook R15 000 ontvang. Buiten die prysgeld word die wendramas ook op RSG uitgesaai.

Die sluitingsdatum vir die 2019-kompetisie is Woensdag 31 Julie 2019.

Daar is geen voorgeskrewe tema nie, solank dit net ’n nuwe en oorspronklike radiodrama is. Geen verwerkings van bestaande materiaal of verhoogdramas of stories wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie.

Die volle spektrum van Afrikaans kan gebruik word, maar die inskrywings word beperk tot slegs een radiodrama per persoon.

Die duur van die dramas moet tussen 40 en 55 minute wees — sowat 45 A4-bladsye wat volgens die wedstrydreëls getik is.

’n Volledige handleiding wat ook die reëls en inskryfvorm bevat, is gratis op RSG se webblad beskikbaar. Daar is ook ’n spesiale blad met skryfwenke vir nuweling-skrywers, asook diegene wat graag hul skryftalent wil skaaf.

In die eerste ronde van beoordeling word tussen tien en vyftien tekste gekies wat dan met die hulp van ’n mentor vir die eindronde geslyp word. Die finaliste kan dan hul tekste vir die eindronde van beoordeling voorlê.

Daar sal weer gratis radiodrama-skryfskole in samewerking met Sanlam in Kaapstad én Johannesburg aangebied word en meer besonderhede sal op RSG (100 tot 104 FM) aangekondig word.

Volgens Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, voed die kompetisie terselfdertyd die Afrikaanse kunstebedryf met van die radiodramas wat mettertyd in verhoogstukke of flieks omskep word. “Die wendramas van verlede jaar wat tans op RSG uitgesaai word, is ’n toonbeeld van die verskeidenheid skrywers, temas en boeiende stories wat ons ontvang. Soveel van die stories is heeltemal vars en vernuwend, wat weer eens bewys watter kreatiewe medium die radiodrama is.”

Verlede jaar se wen-dramas word tans op Donderdae om 20:00 in Radioteater op RSG uitgesaai.

Besoek RSG se webblad by www.rsg.co.za om op hoogte te bly of om die kompetisie se handleiding af te laai. Kyk onder die hofie “Wat gebeur” en lees ook ’n reeks skryfwenke vir voornemende radiodrama-skrywers of luister na ’n oudio-slypskool.

www.rsg.co.za; Twitter @zarsg

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top