Anderkant Die Ondenkbare deur Jeanette Morton: ’n lesersindruk

  • 0

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het.

Anderkant Die Ondenkbare
Jeanette Morton

Uitgewer: Struik Christian Media
ISBN: 9781415341001

Ek reken elke familie het datums wat vir die res van hulle dae op aarde in hulle geheues ingeprent sal wees. Elke mens is ’n lewende argief. In die kollektiewe argief staan sekere datums uit, soos 2 Februarie 1990, of 27 April 1994. En dan het mens jou eie datums. Jou eie argief. In my argief is byvoorbeeld 22 Februarie 2018, toe my pa dood is. En daar is 25 September 1997. Ek was 11 jaar oud daardie dag en het sport gedoen by die skool. Toe ek my pa in die motor kry langs die sportveld, toe vertel hy my my suster is dood in ’n motorongeluk. Sy was 21 jaar en 5 dae oud. Ons het die Saterdag nog ’n reusepartytjie vir haar gehou, en al haar vriende van die universiteit het op ons klein plattelandse dorpie saamgetrek vir die geleentheid: ’n spitbraai en ’n dans.

Dit is hierdie ervaring van dekades gelede wat my belangstelling geprikkel het in Anderkant die ondenkbare, Jeanette Morton se boek oor die dood van haar seun. Vir Jeanette was dit die dag van 1 Mei 2011 toe sy die doodstyding oor haar seun gekry het. Ook hy het in ’n motorongeluk gesterf. Op die N1 naby Kaapstad. Ook hy was nog baie jonk – maar 20. Die dood van ’n kind is een van die pynlikste ervaringe wat enige ouer ooit kan hê. Ek moet die skrywer salueer vir die feit dat sy haar emosies so blootlê in hierdie boek. Daar is baie in die boek waarmee ek kon assosieer. En oor die jare het ek geleer dat dit waar is dat mens nooit finaal en volkome herstel van die dood van jou geliefdes nie. Dit is ’n rouproses wat aanhou tot die dag wanneer jy self die lewe verlaat. Dit is ’n besef wat duidelik deurskemer in hierdie boek: “Ek sal my hele lewe lank die ma wees van ’n kind wat gesterf het” (146). Elders vergelyk sy haarself met ’n pot wat ’n poot verloor het: “Ons sal maar altyd half hinkepink wees: bewus daarvan dat ons van nou af altyd een te min is” (117). Dit is in my eie ervaring ’n gesonde besef – dat die dooies altyd voortleef in ons harte. Die vreugde van die herinnering aan hulle, maar hand aan hand daarmee die pyn van die verlies. Die skoene wat altyd leeg sal staan.

’n Interessante deel van die proses van rou is die rol van selfverwyt. Dit skyn byna universeel te wees dat selfverwyt deel is van wat met mense gebeur by die dood van ’n geliefde. My mening daaroor is dat mens gesonde selfverwyt en ongesonde selfverwyt kry. Gesonde selfverwyt reflekteer op die verlede en evalueer dit krities, en help waarskynlik in die proses van rou. Ongesonde selfverwyt sal mens verteer en jou verhoed om op lang termyn normaal te funksioneer in die samelewing. Ek dink nie selfverwyt is iets waarteen mense moet veg nie. Selfverwyt is ’n natuurlike deel van die rouproses. Mens moet net waak teen ongesonde selfverwyt. 

Baie water het egter vir my deur die see gevloei sedert daardie dag in 1997. Anders as die skrywer, glo ek vandag dat die dood finaal is. Die boek, daarenteen, het ’n uiters sterk Christelike klem. Spesifiek ’n Calvinistiese uitkyk op dinge, wat my ongelukkig, moet ek bieg, by tye ’n bietjie walg. Morton skryf byvoorbeeld oor die gospelsanger Louis Brittz se vrou Hettie, wat beweer dat god haar voorberei het daarop dat sy verkrag sal word (175). Vir my as deesdae ongelowige is so ’n gedagte onverstaanbaar. Ek kan myself nie daarby bring om my ’n god te kan voorstel wat mense voorberei op ’n walglike daad soos verkragting nie. Ek aanvaar egter langtand dat gelowige mense sulke idees kan ontwikkel, maar dit doen nie veel om my weersin in godsdiens te versag nie; inteendeel. Dan is daar ook tonele in die boek waarin die engele uit die “hemel” neerdaal in die boek, waarvoor mens maar ’n redelik groot verbeelding moet hê. Gelukkig krioel die boek nie hiervan nie, en is dit beperk tot slegs twee van die 53 hoofstukke.

Morton lê baie bloot in hierdie boek, en haar boek is alles in ag genome aangrypende leesstof. Sy worstel onder meer met vrae oor haar seun se geloofslewe, maar ook met die feit dat hy ’n uitdaging gehad het met beroepskeuses, en dat dit ’n geweldige impak op hom en die gesin gehad het. Sy skryf ook oor die swak verhouding tussen haarself en die pa van die oorlede kind. Natuurlik skryf sy ook breedvoerig oor haar geloofstryd na afloop van haar kind se dood. Vir haar was daar egter genoeg redes om aan te hou glo. Ek reken die boek sal vir baie mense sinvol wees, en veral vir tradisioneel gelowige mense.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top