And the girls in their Sunday dresses: Soms is dit waarvoor ons wag reg langs ons

  • 0

Awethu Hleli en Tamzin Daniels (foto: Mark Dobson)

........
Die lewe is vol rye waarin ons elkeen wagtend is op iets, iets groters as onsself en ook op oplossings uit ons daaglikse stryd. Maar soms dink ons dat ons op een ding wag, maar dan wag ons eintlik op iets anders. Dis ook die geval met Zakes Mda se And the girls in their Sunday dresses wat eersdaags weer by die Baxterteater opgevoer word.
........

Die lewe is vol rye waarin ons elkeen wagtend is op iets, iets groters as onsself en ook op oplossings uit ons daaglikse stryd. Maar soms dink ons dat ons op een ding wag, maar dan wag ons eintlik op iets anders. Dis ook die geval met Zakes Mda se And the girls in their Sunday dresses wat eersdaags weer by die Baxterteater opgevoer word.

Twee vroue ontmoet mekaar in ’n ry, wagtend op goedkoop stapelvoedsel wat deur die staat aan die gemeenskap in Kaapstad verkoop word. Ons ontmoet hulle in ’n moedelose toestand. Hulle wag nou al vir langer as twee dae en dit bly alewig net ’n ander verskoning, as hulle so gelukkig is om een te ontvang, oor waarom die produkte nie beskikbaar is nie, en in hierdie geval so basies soos rys.

Die twee kan nie meer van mekaar verskil nie. The Lady, gespeel deur Tamzin Daniels, is uitgestof in ’n leeuvel-tier-tertrokkie met bypassende serpie, alles behalwe dies van Hilda in 7de Laan. Sy is egter nie jou gewone hier-jy nie. Die vrou bring haar stoel saam na elke ry waarin sy moet staan, of in haar geval sit. The Woman, gespeel deur Awethu Hleli, vaal aangetrek in haar rok oor knie en truitjie, bring vir die ander een ’n vetkoek in bruin papier toegedraai. Dit blyk gou dat hulle ’n tipe verstandhouding het. The Woman koop The Lady om om ook op haar stoel te kan sit, want dis ’n lang gewaggery. The Lady is nie altyd veel van ’n lady nie, ook nie een vir doekies omdraai nie, al hou sy van bakkies poeier en erken gou dat sy ’n sekswerker is – ’n karakter wat gereeld in verskillende rokkies in verskeie van Mda se werke verskyn, dink maar aan The whale caller en Black diamond. Aan die begin smaak The Woman dit niks nie. Dis nie ’n eerbare beroep in haar oë nie. Sy sien werk as iets wat jy met jou hande moet doen. Sy is ’n huishoudster van Lesotho en boonop deel van die Domestic Worker’s Forum om te veg vir beter toelaes.

Dit is egter wanneer die twee besef dat hulle albei deur ewe Italiaanse mans verlei en verraai is dat hulle regtig op gelyke vlak voor mekaar staan, met ’n ewebeeld wat die twee nie kan miskyk nie. The Lady wroeg. Sy is al so gewoond daaraan om misbruik en verstoot te word dat die geleidelike aanvaarding en verdraagsaamheid van The Woman haar ontstem. Haar frustrasie lê egter dieper. Sy is nou 40 en kry nie meer die jobs wat sy destyds gekry het nie. Sy is platsak en het boonop ’n dogter vir wie sy al haar tricks geleer het, maar wat nie eens ’n sent huis toe bring nie. The Lady is nie net deur liefde versaak nie, maar ook deur moederskap. Haar drome, ideale en selfbeeld lê aan skerwe. So, wanneer The Woman besluit sy is moeg gewag en eerder die pad wil vat, laat The Lady dit nie toe nie. Sy sak op haar knieë en soebat. Alleen kan sy nie meer al die demone in die ry face nie. Hier het sy nou ’n oor gevind, iemand wat haar ietwat kop, iemand om haar las mee te deel en sy wil nie meer alleen dra aan die hongerte, werkloosheid en ongelykheid nie.

Die regisseur, Mdu Kweyama, bied ’n vars oog op ’n klassieke teks, een wat reeds in 1988 die eerste keer opgevoer is. Kweyama se weergawe dwaal egter af van die oorspronklike teks se strak en rou uitbeelding van die realisme en bevat droomtonele wat tussendeur geweef word, wat soms nodige toonwisseling bied en ander kere afbreek doen aan die ritme. Daniels bied ’n oortuigende vertolking, maar speel nog te veilig met haar karakterkeuses. Dit is ’n volronde karakter wat bruis van die emosie en vra om by tye meer rou en spontaan aangepak te word, wat nog nie sigbaar is hier nie. Hleli omlyn haar karakter helderkleurig en maak die beste van elke oomblik, of dit nou in die vreksnaakse teatrale uitbeelding van die hervormde hoer is, of wanneer sy afgebreek word deur The Lady en ons stilletjies, roerend, sien hoe haar binneste kraak.

........
Soos met And the girls in their Sunday dresses, wag ons ook soms, party langer as ander, vir iets om te gebeur in ons lewens. Ons dink dis die eindbestemming wat die doel is, maar vergeet om voor, sowel as agter ons te kyk, soms ook langs ons, na dié wat vir dieselfde ding wag, dieselfde kruis dra en sodoende ook weet waardeur ons gaan. Die stuk het my opnuut herinner om te onthou dat nie een van ons hoef alleen ons bietjie niks deur die lewe te dra nie.
........

Soos met And the girls in their Sunday dresses, wag ons ook soms, party langer as ander, vir iets om te gebeur in ons lewens. Ons dink dis die eindbestemming wat die doel is, maar vergeet om voor, sowel as agter ons te kyk, soms ook langs ons, na dié wat vir dieselfde ding wag, dieselfde kruis dra en sodoende ook weet waardeur ons gaan. Die stuk het my opnuut herinner om te onthou dat nie een van ons hoef alleen ons bietjie niks deur die lewe te dra nie.

Teater: And the girls in their Sunday dresses.
Met: Awethu Hleli en Tamzin Daniels
Ontwerp: Leopold Senekal
Beligting: Solomon Mashiane
Musiek: Jannous Nkululeko Aukema
Assistent-regisseur: Lyle October
Regisseur: Mdu Kweyama
Baxterteater, Rondebosch

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top