Titel: Homoseksualiteit – ’n studie deur die ouers van ’n gay seun
Skrywer: Geoff en Eileen Stenekamp
ISBN: 9781920654122
Koop Homoseksualiteit – ’n studie deur die ouers van ’n gay seun by Kalahari.com.
Anastasia de Vries lees en bespreek Eileen en Geoff Stenekamp se Homoseksualiteit – ’n studie deur die ouers van ’n gay seun.
|
Homoseksualiteit. ’n Studie deur die ouers van ’n gay seun deur Geoff en Eileen Stenekamp (Naledi) “is die hartroerende bewys van ’n ouerpaar se liefde vir hulle gay seun, ondanks alles,” lui die agterplat van dié boek.
Drie, vier keer het ek die studie deurgewerk op soek na iets waarmee ek my kon vereenselwig, iets waarin ek ons kon herken. Ek is immers die ma van ’n gelowige gay kind. Ek sou moes aanklank vind by ’n ander ouer se soeke na antwoorde in die wetenskap en die Bybel, die Boek waarop ons Christelike geloof gebou is.
Maar dié boek, met sy antwoorde op vrae wat nóg ek nóg my meisiekind ooit oor haar gay-wees gestel het, is duidelik nie vir ons geskryf nie. Ek gee toe: my kulturele agtergrond en my geloofsbelewing kleur noodwendig my verwagting en ervaring van geskrifte oor gay-wees, veral wanneer die Bybel bygehaal word.
Laat ek dus die agtergrond skets vir waarom die Stenekamp-werk vir my ’n pynlike boek is.
Ek kom uit ’n straat en ‘n gesin (gemeenskap) waar geloof ’n ingebedde deel van ons kultuur is, nie iets wat tot Sondae of heilige feesdae uitgeskuif word nie, en waar jou naaste jou sonder slag of stoot sal aantree oor die grootste gebod: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”
Nie op voorwaarde dat hulle straight of na jou ewebeeld geskape is nie, herinner my meisiekind my toe ek vir haar uit die Stenekamp-boek voorlees. Jou kind is jou kind, ongeag. Volmaak geskape deur die Here onse God. Punt. Durf ek, wat myself ’n Christen noem, dan sy handewerk bevraagteken die dag as en wanneer my kind haar gay-wees aan my toevertrou?
Nee, ek wou en wil nie weet hoekom my kind gay is nie, of soos die seksnavorser Bell op bl 17 van die boek aangehaal word: “Wat veroorsaak die spesifieke tipiese gedrag van homoseksuele mense?”
Huh?
Wat die Stenekamps deurgemaak het, die hoekoms en waaroms waaroor hulle gewroeg het, geringskat ek geensins nie. Trouens, die boek het my dankbaar gemaak dat ek nooit hul pad van pyn saam met my gay kind moes loop nie.
En tog, al is ek nie ’n wafferse Bybel-Christen nie, het 1 Korinthiërs 13:12 kom saampraat terwyl ek hul boek gelees het: “Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”
![]() |
Anastasia de Vries
|
Intussen, my naaste soos myself …
En terug na enkele aspekte in die boek wat my nogal biddend gelaat het.
“Homosexuality is not a choice or illness,” word die psigiater John Gosling aangehaal (19). ’n Entjie verder die boek in (24) word gestipuleer dat om gay te wees, “is waarskynlik oorerflik, soos hoë cholesterol”. Waarom dan hier gay-wees gelykstel aan ’n siekte? Vreemd. (Terloops, in die gemeenskap waartoe ek behoort, is hoë cholesterol nie ’n oorerflike siekte nie, eerder ’n verworwe een.)
Die boek benadruk dat homoseksualiteit en pedofilie nie in een asem genoem kan word nie, en dis goed en reg so. Maar waarom verval die skrywers op bl 62 tog te gerieflik in veralgemenings oor selibaat lewe? “Soos reeds gesê is homoseksualiteit nie ’n keuse nie, maar om selibaat te lewe wel. Daar is mense wat dit uit eie keuse doen, terwyl die Katolieke Kerk dit van sy al sy priesters vereis (tot hulle verdriet – vergelyk die kindermolesteringskandale). Wat het selibaatheid met dié misdade te doen? “Polisieverslae wat betrekking het op seksuele misdrywe met kinders, toon dat heteroseksuele mans by meer as 90% van hierdie misdrywe betrokke is,” staan op bl 22. Moet mens dan hieruit die drogredenasie aflei dat hulle selibaat gelewe het?
Dit was nogal verontrustend dat die skrywers hier presies doen wat hulle nie wil hê ons met gay mense moet doen nie: ander Christene aan die hand van veralgemenings “die ander” maak (“other”) of demoniseer, om watter rede ook al.
Net so onbevatlik vir my was die liefdelose taal waarin sommige beskrywings van gay-wees in die boek geklee is. Ek noem enkele voorbeelde: “sulke neigings” (12) en “hierdie ‘gay’ ding” (14).
Dalk het ek te veel verwag, of dalk wou ek net meer van die liefde inlees, van die sielsmoment waarop ouers hul bang gay kind in die oë kyk en sê: “Ek is lief vir jou. Jy is wat jy is: ’n geskenk uit die Vader se Hand.” En minder van die eie bevryding, aanvaarding.
Liefde.
Ironies genoeg het ek die woord “liefde” net een keer in die boek raakgelees, op bl 50, die laaste inskrywing onder “In die groter boodskap is waarhede, soos dat ...” ons ons naaste moet liefhê soos ons onsself.
Maar ... ek kon die ander verwysings na liefde misgelees het.
Lees ook 'n onderhoud met die skrywers van die boek.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
Kommentaar
Dankie, ná die lees van hierdie boek, stem ek met elke woord van jou saam, Anastasia.