Homoseksualiteit – ’n studie deur die ouers van ’n gay seun

  • 20

Titel: Homoseksualiteit – ’n studie deur die ouers van ’n gay seun
Skrywer: Geoff en Eileen Stenekamp
ISBN: 9781920654122

 

 

Koop Homoseksualiteit – ’n studie deur die ouers van ’n gay seun by Kalahari.com.

 

 

Geoff en Eileen Stenekamp het ’n boek geskryf met die titel: Homoseksualiteit - ’n studie deur die ouers van ’n gay seun. Wat sê die wetenskap? Wat sê die Bybel?

Hulle vertel vir Naomi Meyer van hulle reis saam met hul kind deur die jare. En van ’n boek wat baie mense gaan laat regop sit en dalk vir nóg meer mense iets sal kan beteken.

Geoff, jy en jou vrou Eileen het pas ’n boek geskryf oor julle gay seun. Wie se idee was dit?

Soos wat mense die onderwerp van homoseksualiteit vermy het, het dit vir Eileen aan die spreekwoordelike olifant in die sitkamer herinner. Die olifant is daar, maar niemand praat daaroor nie. Sy het die boek eintlik as ’n brief aan vriende begin, vriende en familie wat oortuig is dat ons verkeerd is in die aanvaarding van die feit dat ons seun gay is, en dat ons hom moet oortuig om ’n gay-“leefstyl” af te sweer. Met bykomende inligting en uitbreiding van ons punte het ons die brief verander in ’n dokument, en die dokument het oor een en ’n halwe jaar ’n boek geword.

Op watter stadium het jul uitgevind jul seun is gay en op watter stadium het julle die boek begin skryf?

Hy het dit op die ouderdom van 21 aan ons openbaar, alhoewel ons toe reeds die vermoede gehad het. In die tyd hierna het Eileen se gedagtes teruggegaan na gebeurtenisse oor die jare en het sy besef dat die tekens van kleins af daar was. Eileen het niks hiervan ooit as verkeerd gesien nie, of as tekens van gay-wees vermoed nie; sy het slegs gedink dat dit is hoe hy is. Nadat ons ongeveer tien jaar se navorsing op die gebied van die Bybel sowel as die wetenskap gedoen het, het ons met die boek begin.

Wat dink julle veroorsaak dat baie mense negatief reageer op gay-wees?

Mense word van hul kinderjare af deur hulle ouers ingeprent dat homoseksualiteit verkeerd en sondig is. Wanneer dit iemand nie persoonlik aangaan nie, soos dat hulle nie ’n kind of broer of suster het wat gay is nie, word hulle nie, soos ons, gedwing om dieper na die hele aangeleentheid te kyk nie. Mense verstaan dikwels nie dat gay-wees nie ’n keuse is nie, en indien hulle dink dis nie ’n keuse nie, verwag hulle dat so ’n persoon selibaat moet leef. Die vraag by ons is dan: Sou jy as heteroseksuele persoon bereid wees om selibaat te leef? Dit word van priesters in sommige gelowe verwag, wat uitloop op baie geknyp van katte in die donker, juis omdat die seksuele drang, sowel as aggressie, die sterkste menslike drange is, aldus Sigmund Freud.

Julle seun is ’n komplekse mens met ’n verskeidenheid eienskappe. Waarom op die gay-aspek fokus?

Hy is ’n pragtige mens, ’n hoogs intelligente mens, sosiaal deur almal geliefd, uiters suksesvol in sy beroep. ’n Totale ekstrovert. Ons as ouers wou die hartseer van verwerping en marginalisering verhoed en hom die geleentheid gun om sy potensiaal as mens met volle oorgawe uit te leef.

Hoe betrokke was julle seun by die skryf van die boek en hoe voel hy daaroor?

Ons seun is baie opgewonde oor die boek. Hy kry amper daagliks te doen met gay mense wat tou opgegooi het met kerke, dominees, pastore en geloof oor die algemeen, omdat hulle al so baie verwerp en weggegooi is – beide deur die kerk en sy lidmate, maar ook deur hul ouers, wat vinnig in onkunde die Bybel voor hul gesigte hou. Hy was nie “hands-on” by die boek betrokke nie. Die rede hiervoor is dat hy nie graag wou inmeng nie, aangesien die boek uit die oogpunt van ’n ouer geskryf is. Hy het met liefde raad en insig gegee wanneer dit verlang was, maar het homself op ’n gesonde afstand gehou om ons as sy ouers kans te gee om die feite oor te dra soos ons dit bekom het.

Dink julle daar is baie mense in die land wat nie openlik gay is nie omdat hulle voel hul gaan nie aanvaar word nie?

Ja beslis, maar ons mening is dat minder mense dit onderdruk of probeer wegleef deur heteroseksueel te probeer leef. Gay persone besef hulle kan nie vir ewig ’n leuen leef, en daardeur ander mense, soos ’n vrou en kinders, se lewens verwoes nie. Wat kerkgang betref, alhoewel die kerk haar benadering tot gays al versag het, voel gay persone nie daar welkom nie, as gevolg van die reaksies deur sommige van die lidmate. Die gemeentelede leef nie die besluit van die kerk ten opsigte van homoseksualiteit uit nie. Die praat van die kerk en die dade van die gemeentelede is nie twee verskillende goed nie.

Julle het baie navorsing gedoen oor die oderwerp. Wat was julle interessantste bevinding?

Vir Geoff was die interessantste die feit dat homoseksuele gedrag algemeen onder diere voorkom. Vir Eileen was dit openbarend dat homoseksualiteit, nes Downsindroom, ’n afwyking van chromosoom x kan wees. Downsindroompersone word met groot liefde en deernis aanvaar, maar gays word merendeels deur die gemeenskap verwerp. Albei godgeskape. Hoekom die verskil in hantering? ’n Kind kies nie om met Downsindroom gebore te word nie; so ook kies ’n gay persoon nie om homoseksueel te wees nie.

Waarom dink julle koppel baie ouers dit aan een van die drome vir hulle kinders: ’n man, vrou, kinders, ’n toekomstige gesin? Het julle dit self ook so gevisualiseer?   

Ons het beslis gevisualiseer dat ons seun met ’n oulike meisie sou trou en nog oulike  kinders sou hê. Dit was egter glad nie ’n groot ding om te moes aanvaar dat dit nie gaan gebeur nie. Mens maak dadelik daarmee vrede, sekerlik omdat ons twee heteroseksuele kinders ook het, wat nie noodwendig alle ouers gegun is nie. Jy as ouer moet dit aanvaar, dis onveranderlik. Die pluspunt hier is dat ons geweet het dat alhoewel daar op daardie tydstip nie ’n spesiale persoon in sy lewe was nie, ons definitiewe vertroue gehad het in sy keuse van vriende, en dus ook in die keuse van ’n lewensmaat die regte oordeel sou toepas.

Wat ondervind julle in die kerk as julle met mense oor julle navorsing gesels?

Mense wat anders voel, plaas jou onder ’n geweldig vinnig polsende preek om jou so gou moontlik te probeer anders oortuig. Ander, weer, keer hul gesig in ’n ander rigting en is hoegenaamd nie bereid om die onderwerp te bespreek nie. Dankie tog dat daar baie mense is wat meer ingelig is en met groot simpatie en inskiklikheid saampraat.

Sou ’n Bybelstudiegroep hierdie boek kon koop en daaroor in ’n groep gesels?

Ja, beslis. Die boek bied ’n gulde geleentheid vir sel- en Bybelstudielede om meer van die wetenskap oor homoseksualiteit te lees, sowel as om aktief te debatteer oor die gevolgtrekkings waartoe ons, die skrywers, gekom het.

Sou ’n ateïstiese persoon wat om enige ander rede die boek wou koop, ook aanklank kon vind by jul benadering?

’n Hele gedeelte word aan die wetenskaplike bevindings gewy en dit behoort op sigself rede genoeg te wees om die boek te lees – om te leer wat presies wetenskaplikes oor die wêreld heen se bevindings in hul navorsing oor die onderwerp is. Is dit aangeleerde gedrag? Kan dit afgeleer word? Is diere homoseksueel? Is daar gay-gene in die liggaam? Verskil die brein van homoseksuele persone van dié van heteroseksuele mense? Kan homoseksualiteit in die embriostadium ontwikkel? En daar is nog baie ander vrae wat aangespreek word.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

  • 20

Kommentaar

  • Dr Niel le Roux

    Hoe op aarde kan jy gay met down-sindroom vergelyk en sodoende impliseer gay wees is 'n gestremdheid?!  Dit verhoog die wanpersepsie van gay as 'n siektetoestand soos homoseksualiteit ook destyds uit die mediese wêreld gekom het om dit as' n toetand te onderskryf!  Net die titel alleen sal my nie die boek laat oopslaan nie.  Gay is die term om te gebruik en nie die toestandelike homoseksualiteit nie.  Deur die woord net  hardop te sê klink al dat die onderwerp iets afskuweliks is! 

  • Pieter Redelinghuys

     

    Die skrywer hierbo oorreageer op die stelling dat gay-wees vergelykbaar is met Down-sindroom. Die skrywers (Eileen en Geoff Stenekamp) van die boek het waarskynlik dit nooit so bedoel nie maar 'n voorbeeld genoem van 'n moontlike genetiese afwyking op die X-chromosoom, 'n voorbeeld verstaanbaar deur 'n leek.

    Verder vind ek hierdie ouers baie simpatiek, en hulle het die waarheid van die saak ontdek. Aanvaarding van hulle seun soos hy is, en sy aanvaarding van homself is meer werd as al die stories in die Bybel en hopelose pogings deur sielkundiges en psigiaters om van hom heteroseksueel te maak: 'n "sonde"  teen sy ware natuur.

  • Melléta Louw

    Pieter, ek ken nie hedendaagse professionele siekundiges en psigiaters wat nie gaywees as volkome normaal op die kontinuum van seksualiteit beskou nie. Diegene van wie jy praat, kom dalk nog uit die ark uit en hul professionaliteit is verdag.  Baie dankie vir hierdie boek. 

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Melléta,

    Baie dankie vir die inligting dat daar professionele sielkundiges en psigiaters vandag in Suid-Afrika is wat so 'n "verligte" standhouding inneem. Die "kontinuum van seksualiteit" is 'n pragtige paradigma en korrespondeer met die werklikheid.

    As jy die afgelope 9 jaar die gesprekke oor homoseksualiteit op LitNet gevolg het, en Kobus de Klerk se insette gelees het, sou jy inderdaad die indruk gekry het dat daar wel professionele persone is wat oor mekaar se voete sou val om homoseksuele te "genees", of liewer te "bekeer". Volgens De Klerk is hulle besonder suksesvol in hulle stryd!

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys 

  • Dr Niel le Roux

    Ek stel graag aan ouers van gay kinders voor om Dina Joubert se ONLOGIESE LIEFDE - OP PAD MET MY GAY SEUN te lees as 'n boek wat ek al aan verskeie ouers gegee het wat met hul kind se gaywees worstel en daarna nie genoeg hul dankbaarheid kon uiter vir hierdie insiggewende boek wat hulle gehelp het om te begryp en te aanvaar.  Geen verwysing na gay as n "siekte" nie!

  • Baie dankie, Niel. Ek vind ook die chromosoom-afwyking-teorie aanstootlik, alhoewel ek kan insien dat dit die kwessie van gayskap sekerlik vir buitestaanders makliker aanvaarbaar maak. Ek het totale vrede met my 17-jarige seun se gaywees. Hy is skrander, talentvol, wys vir sy ouderdom, gewild onder sy klasmaats en baie dapper - hy het in 'n brief aan sy klasmaats sy status bekendgemaak en selfs vraelyste vir 'n navorsingsprojek oor die onderwerp saamgestel, wat hom in groot moeilikheid by sy skoolhoof laat beland het (!) Hy toon geen van die stereotiperende "tekens" nie en ek was stomgeslaan toe hy op 14 met my daaroor kom praat het. My probleem is hoegenaamd nie die kwessie van aanvaarding nie, maar wel my seun se uitgesprokenheid. My vrees is dat hy homself blootstel aan veel meer as net kritiek!  Dis iets waaroor ons leiding nodig het. Word dit dalk in die genoemde boeke aangespreek?

  • Jenny, in Onlogiese liefde kom die sterk gay selfbeeld na vore, omdat die skryfster se seun drama studeer het en baie selfvertroue het.  Ekself het sterk menings en selfvertroue juis omdat ons as gays weens die verwerping, bespotting en minagtig, veral op skool, ons dwing om selfgeldend te wees, wat eintlik 'n positiewe eienskap van gay wees is.  Nie dat ek meen alle gays so is nie, maar uit my ondervinding die meerderheid wel.
     

  • Ek dink dat hierdie boek 'n groot gaping in die mark vul.

    Daar is mense wat regverdiging uit die Bybel soek voordat hull 'n gay kind kan aanvaar. Ek het die boek gelees en stem nie noodwendig saam met hulle sienswyse oor die Bybelverse nie, maar ek glo dat daar baie ouers is wat daardeur berusting sal vind.
     
    Ek is die skrywer van die boek Jy bly my kind.
  • Deurmekaar lewe

    Ek is 45jr en ek is van kindbeen gay lewe. Maar omdat my ouers teen gay lewe is is ek getroud met ’n vrou en het ’n baie baie swaar lewe gehad. Ek het 2 kinders. Vandag wil ek nie meer lewe nie. Ek kan nie meer nog leuens lewe nie. Ek is moeg om nog te lewe in leuens. As iemand soos die firks van Pray for Bobby, voel ek soos Bobby. Ek wil ook van die burg afspring en klaar kry. Ek wens ek kan as man staan en die regte besluit van die begin af gedoen het sou ek nie vandag die simpel lewe en gemors gehad het nie.

  • Wilma Olinsky

    My kind is gay, ek sou nie 'n ander kind in sy plek wou hê nie. Elke vrou op aarde se droomman. Mens verwar soms gay wees met spring van een man na die ander, wat van die mans wat elke dag hul eggenote verneuk? En dit soms met 'n man want niemand wou hul aanvaar wie hul is nie, nou moet hul dit na 'n paar kinders wat reeds uit die huwelik gebore is, openlik maak. Weet u watse hartseer jy as pa of ma nou veroorsaak het, want nou het jy eintlik 'n hele paar mense se lewens verwoes. Hoeveel kinders het nie al selfdood gepleeg oor hul ouers hul nie so aanvaar nie, en hoekom aanvaar jy nie jou dierbare kind nie? Is dit oor jy bang is wat die wêreld van jou gaan sê, jy het eintlik nie 'n saak met jou kind se stryd wat hy vir jare moes hê om hierdie Geheim vir homself te moet hou, net die selfsugtigheid en wat ander van my gaan dink kom na vore. Waarom gaan gay mense nie kerk toe nie? Oor hul bang is vir die veroordeling van ander mense wat in die kerke sit met hoeveel geraamtes in hul kas, maar gelukkig vir hulle kan hul daarmee graf toe gaan. Ds Cassie Aucamp het paar jaar gelede 'n insiggewende praatjie gehad oor gay wees. Hy sê ouers moet hul kinders aanvaar soos enige ander kind in die huis en lief wees vir hulle, want hul is ook deur God geskape.

  • Ek is ook getroud met 2 kids en ja, ek is ook spyt ek was nooit eerlik teenoor myself en my vrou nie want dan het ek haar nie so seergemaak nie. Sy weet van my. Ek was moeg om ’n leuen te lewe, dit vreet aan jou mense wat nie in dieselfde bootjie is nie. Hulle sal nie verstaan nie en oordeel sommer gou.

  • Ek vermoed my kleinseun wat ek van 2-jarige ouderdom grootmaak, is gay. Hy is nou amper 17 jaar. Hy sonder homself heeltemal af in sy kamer. Ek het uitgevind hy sny homself. Hy gaan nie uit soos ander tieners nie. As hy iewers heengaan, miskien 1 keer in 2 maande, is dit na sy een vriend toe. Ek het hom gisteraand reguit gevra of hy gay is toe sê hy vir my hy is nog nie seker nie. Ek het hom verseker van my liefde en aanvaarding, watter kant toe hy ook al gaan. Ek hoop nie ek het ’n fout gemaak nie. Ek glo ook gay mense kies nie om so te wees nie.

  • Roeline Snyders

    Ek is n skrywer en my boek In die Holte van Sy Hand beeld uit n pa wat nooit sy gay seun wou aanvaar nie. Sy weiering om te aanvaar het byna sy huwelik en sy lewe gekos. Sy spyt agterna oor hy soveel jare verloor het in sy kind se lewe, en die heel word van hierdie gesin. Kontak my as daar iemand is wat dit graag sal wil lees.
    Roeline Snyders-Ruiter 0748278782

  • Ek wil graag weet: is Die Woord van God nie bo wetenskap nie? In Sy woord sê Hy dat homoseksualiteit nie reg is nie, so hoe aanvaar mens dit dan anders? God verander mos nie? Ek oordeel nie, ek worstel met aanvaarding.

  • Andries Harrington

    My naam is Andries. Ek is gay. My pa weet nie dat ek gay is nie. Ek wil vir hom sê dat ek gay is, maar ek is baie bekommerd daaroor. Wie kan my help daarmee, asseblief?

  • Barend van der Merwe

    Johanna, die antwoord is nee, die bybel is nie verhewe bo gesonde verstand nie. Die bybel is geskryf in en deur en vir die antieke wereld, en jy sal natuurlik van my verskil, maar die bybel is verkeerd as dit wel homoseksualiteit verbied. Daar is wel ook argumente dat die bybel verkeerd vertaal is, iets wat ek ook al meer en meer van oortuig begin word, maar selfs al is die vertaling korrek, is dit die beginsel dan verkeerd, aangesien homoseksualiteit normaal en baie algemeen is, en beslis nie beperk tot die mens, soos wat sommiges beweer nie. Dit kom by baie spesies voor en die enigste rede hoekom die mens dink dis verkeerd is omdat homoseksualiteit bots met die patriargie. Dit is eerder immoreel om mense te verwerp omdat hulle gay is. Dit is onmenslik en misdadig.

  • Barend van der Merwe, mense sal nooit oor hierdie onderwerp saamstem nie! Vir my is die woord van God wet en nie net in die antieke tyd nie, dan kan ander sondes ook mos gesien word as reg want dis vir die antieke tyd geskryf???? Maar, ja die wêreld het baie verander en baie dinge is nou aanvaarbaar en toelaatbaar, en oor een ding stem ek saam, dat verwerping van gays verkeerd is, mens het jou kind lief ongeag, maar ... my kind moet ook my siening respekteer en dit nie op my afdwing om maar net te "cope" nie, ek het steeds my reg op privaatheid en het nie nodig en lus om almal se vrae te antwoord nie, en my siening, as hy gay is great, mar respekteer my as ouer ook steeds al verskil ek van jou, ook, so baie jong mense eksperimenteer, verpletter ouers net om dan 'n jaar later te sê o nee, ek is nou nie meer nie!!!

  • Ek maak my kleinseun groot van geboorte af. Hy het gister 17 geword. Mooiste seun met soveel potensiaal. Hy het báie vriendinne en hul kuier heeldag oor en weer, maar met 'n skok moes ek uitvind hy is gay. Ek het nie 'n idee hoe om dit te hanteer of hoe om dit aan sy ouers (wat nooit getroud is nie en ook nie saam is nie) oor te dra nie. Ek weet nie wat om daarvan te dink nie. Is dit net 'n stadium?
    Iemand help my, asb? Hoe en waar begin ek? Hoe aanvaar ek dit? Ja, my hart is seer. Hy is sy ouers se enigste kind, nie een van hul kan meer kinders hê nie. Ek oordeel nie, ek voel net 'n man is 'n man en 'n vrou is 'n vrou. Waarom dan man gebore word maar wil 'n vrou wees?

  • Aan die mense wat steeds aan die oertyd kleef en alles uit in 'n voorwetenskaplike eeu glo: Die Bybel is slegs 'n versameling van boeke waarin diesulkes hul ervarings neergepen het. Die ouwêreldmense het geglo dat wanneer 'n man seks met 'n vrou het, spuit hy melk in haar. Die melk word in haar buik bewaar, wat met tyd dikmelk word en dan later in kaas en dit word dan mens. Job 10:10, 1953-vertaling. Van seksualiteit het hulle niks geweet nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top