An unwitting assassin deur Susie Cazenove: ’n lesersindruk

  • 1

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het.

Titel: An unwitting assassin
Skrywer: Susie Cazenove
Uitgewer: Rainbird
ISBN: 9781928333128

Die tweede uitgawe van An unwitting assassin het pas verskyn. Susie Cazenove (née Susan Pratt), die dogter van David Pratt wat in 1960 ’n onsuksesvolle sluipmoordpoging op HF Verwoerd uitgevoer het, skryf oor die wel en wee van die Pratt-gesin, veral met die fokus op haar pa se waardes, sienings, houdings, verhoudings en sy uiteindelike aanslag op die lewe van die destydse eerste minister.

Die boek word uitgee deur Rainbird. Dit is ingedeel in 13 hoofstukke en beslaan 216 bladsye. ’n Kort biografie oor Verwoerd word in die vorm van ’n bylae aan die einde verskaf.

Dit is Cazenove se tweede boekpublikasie. Die ander is Legendary safari guides wat in 2005 verskyn het.

Die presiese onderliggende betekenis wat Cazenove met die titel van haar boek wil oordra, bly oop vir interpretasie. Wou sy daarmee sê dat David Pratt op ’n onnadenkende, onbedoelde, onwillekeurige, onbeplande wyse die sluipmoordpoging uitgevoer het? Is dit ’n vorm van versagting of rasionalisering van haar vader se gedrag wat sy in die vertolking van die titel aanvoer? So ’n vertrekpunt neig egter na die konsep van nalatigheid, wat ’n regsargument is. Tydens die Pratt-hofsaak in 1960 was die versari in re illicita-leerstuk (Pienaar 2012) steeds van toepassing. Dié regsreël het bepaal het dat die dader vir alle gevolge van sy onwettige bedrywighede aanspreeklik is, al het hy nie die gevolge van sy dade voorsien nie. Die scenario wat egter deur die hof na hierdie sluipmoordpoging aanvaar is (Wolf 2012), was dat Pratt ontoerekeningsvatbaar was en op die ingewing van die oomblik gehandel het. Dat hy bipolêre versteuring onder lede gehad het en aan ’n psigotiese verlossersindroom gely het.

Dit mag ook wees dat die titel toevallig oorgeneem is van Rick D Cleland se boek wat in 2010 verskyn het, oor die suksevolle sluipmoordaanval op John F Kennedy: The unwitting assassin: The murder of JFK. Kopiereg- en handelsmerkkwessies is gelukkig nie op boektitels van toepassing nie (behalwe in die geval van ’n reeks boeke).

Die boek is keurig versorg; dit is ’n nuttige verwysingsbron, en kan in ’n historiese sin as ’n versamelaarsitem beskou word. Daar is 51 foto’s wat die teks uitstekend illustreer, asook ’n reeks verbatim briewe en oorspronklike koerantberigte oor die sluipmoordaanval. Die Pratt-familiestamboom word op ble 8 en 9 weergee, wat vir die leser ’n nuttige instrument is om die gesinskonteks beter te verstaan. Indien meer geboortedatums en sterfdatums (indien van toepassing) voorsien is, sou dit die dokument se nuttigheidswaarde en volledigheid beslis verbeter het.

Die hoofstukke is logies en sinvol ingedeel. Die boek skop af met ’n beskrywing van die kritieke dag toe die sluipmoordpoging by die Randse Skouterrein uitgevoer is, en die diepgaande emosies en intense angs wat deur die Pratt-gesin ervaar is. Daarna volg hoofstukke oor die vroeë stedelike ontwikkeling van Johannesburg as die wêreldbekende goudstad, en die koloniale leefstyl wat daarmee gepaardgegaan het. David Pratt se kinderjare word geskets, sowel as die alledaagse lewe op sy Magaliesbergse plaas en die interaksie met sy dogter. Daarna volg ’n uiteensetting van die politieke klimaat in Suid-Afrika gedurende die sestigerjare. Die spanningslyn bou op tot die sluipmoord in April 1960, die daaropvolgende hofsaak, die regsuitspraak en die lewe van Pratt in Die Fort, ’n psigiatriese hospitaal in Bloemfontein.

Cazenove het self die voorwoord van haar boek geskryf. Sy sou egter verkies het dat David Rattray dit doen, maar sy bespreek die redes waarom dit onmoontlik was. Herhaling kom wel in die teks voor, soos op ble 66 en 106, waar die vlug van Cazenove se ouma in 1952 met ’n De Havilland Comet (die eerste straalpassasiersvliegtuig in die wêreld) van Londen na Johannesburg beskryf word. Hier en daar kom subjektiwiteit in die teks voor (soos seker verwag kan word wanneer ’n dogter ’n verhaal oor haar pa skryf). Die skrywer is eerlik en erken op ’n paar plekke dat daar ontbrekende inligting in die biografiese verhaal is wat sy nie tot haar beskikking het nie.

Daar word ook verwys na die rol en impak wat ’n psigiater (Werner Leigh) op David Pratt se persepsies en beskouings sou kon gehad het, maar hierdie soort subjektiewe suggesties sou waarskynlik uit ’n regsoogpunt as lekespekulasie afgemaak word.

Samevattend kan gesê word dat ’n baie persoonlike en terapeutiese reis hier beskryf word. Daarvoor het ’n mens respek en begrip. Die Pratt-familie is waarskynlik aan uiterste stres en trauma blootgestel deur die  optrede van David Pratt. Moontlik is ’n lewenslange etiket deur sy optrede om sy dogter se nek gehang.

Cazenove is steeds besig met ’n proses van transendering, maw om uit te styg bo hierdie netelige kwessie in haar lewe. Wat die proses baie waardevol vir die leser maak, is dat daar in die boek nooit sprake is van ’n eksterne lokus van kontrole wat tydens die verwerking van haar trauma na vore kom nie. Haar uitgangspunte is logies, objektief en soms selfs humoristies van aard. Wel gedaan.

 

Bronne

Cazenove, S. 2019. An unwitting assassin. Johannesburg: Rainbird.

Cleland, RD. 2010. The unwitting assassin: The murder of JFK. Victoria, Kanada: Trafford.

Egnew, TR. 2005. The meaning of healing: Transcending suffering. Annals of Family Medicine, 3(3):255–62. Doi: 10.1370/afm.313.

Pienaar, G. 2012. In die hofsaal het dit niks met apartheid te doen gehad nie. LitNet, 25 September.

Wolf, L. 2012. David Beresford Pratt: Die mens agter die sluipmoordpoging. LitNet, 4 Desember.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top