Die volgende tweejaarlikse kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV) vind van 25-27 September 2012 op die Sunnyside-kampus van die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria plaas. Die kongres word onder die titel Peilings van die diskoerse oor Afrika deur die letterkunde-afdeling van die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap aangebied.
Justin Fox beweer in sy bydrae “On the road” (in Nuttall, S & Michael, L, Senses of culture, 2000) dat die grootpad ’n omvangryke impak op Suid-Afrika se geskiedenis en kultuur gehad het. Hy meen dat die pad ’n neutrale spasie is wat as metafoor kan dien vir vryheid, ontsnapping, reisfantasieë en opwinding; dat reis selfs beskou kan word as versetdaad waar die reisiger eienaarskap van sy bestemming kan neem. Die mite van die Trekker (as konstruk en/as metafoor) wat die ongetemde binneland invaar, word aggressief bemark in die nuwe millennium en lei tot ’n lewendige mark vir avonturiers wat die kontoere van Suid-Afrika en Afrika opnuut wil verken - dikwels op die voetspore van vroeë reisigers. Die konsep van reis sluit ook gemaklik aan by geografiese en historiese interpretasiemoontlikhede.
Kongresbydraes oor die volgende verbandhoudende onderwerpe soos wat dit neerslag vind in die Afrikaanse letterkunde, word ingewag:
- Van Suid na Noord: kritiese besinnings oor die idee van Afrika in sendelingnarratiewe, jagverhale, koloniale en postkoloniale reisbeskrywings asook kontemporêre Afrikaanse literêre tekste
- Voetspore, migrasies en verkennings in die Afrikaanse letterkunde
- Literêre niefiksie: reisliteratuur, biografie en outobiografie, essays, briewe, memoirs, dagboeke, ooggetuieverslae
- Die fiksionele konstruksie van reis in narratiewe tekste
- Kaart en transport: oor besitters, bywoners en besetters in Afrika
- Die pornografie van armoede
- Plek, geheue en identiteit: kulturele geheue, kollektiewe identiteit, nostalgie, verlies
- Geweld, distopie en desillusie in die Afrikaanse letterkunde
- Herbesoeke aan ikoniese momente: Anglo-Boereoorlog, Rebellie, 1922-staking, skeuring, smelting en sosiale kohesie, Sestig 50 jaar later, grensoorlog, apartheid ...
- Ongekarteerde identiteite: rasse-identiteit, witheid, etnisiteit, seksuele identiteite (maskuliniteit/e, feminisme/s, homoërotiek)
- Die plant en dier as “Ander”
- Interdissiplinêre/teoretiese verkennings: letterkunde en wetenskap, letterkunde en religie, reg en letterkunde, letterkunde en ekologie, letterkunde en geografie, letterkunde en geskiedenis
- Die Afrikaanse skrywer as openbare intellektueel
Bydraes oor die onderstaande onderwerpe sal eweneens verwelkom word:
- Nuwe Afrikaanse digters
- Mineurstemme: hiate in Afrikaanse literatuuropvattings en -geskiedskrywing
- Teks en beeld: die Afrikaanse film- en teaterbedryf
- Die ander kant: gesigte van die bonatuurlike in Afrikaanse literêre tekste
- Literêre vertalings
- Afrikaanse boekgeskiedenis en teksregie in ’n tegnologiese era
- Blink Afrikaans, of nie? Die stand van literatuuronderrig aan Suid-Afrikaanse tersiêre instellings
Die nuwe sluitingsdatum vir referaatvoorstelle is 31 Mei 2012. Voornemende referente moet hul voorstelle van ’n titel en opsomming voorsien. Die lengte kan van 300 tot 500 woorde wissel. Twintig minute sal vir die voordrag van die referaat toegelaat word, gevolg deur vraetyd van tien minute.
Dui die volgende inligting duidelik op u referaatvoorstel aan:
- Titel van die referaat
- Titel en naam van bydraer
- Affiliasie met ’n instansie/universiteit
- E-posadres van bydraer
Alle belangstellendes is welkom om referaatvoorstelle voor te lê of om die kongres by te woon en na van die referate te kom luister. Naas enkele sosiale geleenthede, vind die tweejaarlikse ledevergadering van die vereniging ook plaas, waartydens die bestuur vir die volgende termyn deur die lede van die vereniging verkies sal word.
Vind inligting in verband met die kongrestema, die voorlegging van ’n referaattitel en -samevatting, die tydsduur van ’n referaat en die persone aan wie referaatvoorstelle gerig kan word by www.unisa.ac.za/alv2012/.
Skakel 012 429 6308 vir verdere navrae.
Lees Naomi Meyer se onderhoud met Neil Cochrane oor die ALV se kongres.

