Peiling van diskoerse oor Afrika: Gesprek oor die ALV se tweejaarlikse kongres

  • 0

Die volgende tweejaarlikse kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV) vind 25–27 September 2012 op die Sunnyside-kampus van die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria plaas. Die kongres word onder die titel Peiling van die diskoerse oor Afrika deur die letterkunde-afdeling van die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap aangebied.

Alle belangstellendes is welkom om referaatvoorstelle voor te lê of om die kongres by te woon en na van die referate te kom luister. Naas enkele sosiale geleenthede vind die tweejaarlikse ledevergadering van die vereniging ook plaas, waartydens die bestuur vir die volgende termyn deur die lede van die vereniging verkies sal word.

Naomi Meyer het Neil Cochrane van Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap by UNISA oor die kongres uitgevra.

Hallo Neil, en dankie vir die geleentheid tot gesprek. Ek sien die Afrikaanse Letterkundevereniging se tweejaarlikse kongres vind in September vanjaar plaas. Vertel asseblief vir ons lesers wat die kongres behels.

Die tweejaarlikse kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging is ’n wonderlike geleentheid vir navorsers, vakkollegas, studente en belangstellendes om oor die Afrikaanse letterkunde te gesels. Verder verteenwoordig die ALV-kongres ’n tradisie van samehorigheid, die kreatiewe uitwisseling van idees en ’n verdraagsaamheid vir uiteenlopende standpunte. As vanjaar se gasheer wil die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap aan UNISA graag dié tradisie voortsit.

Jul kongrestema is Peiling van die diskoerse oor Afrika. Hoe het julle hierdie tema bepaal? Watter aspek van die tema interesseer jou persoonlik?

Ons uitgangspunt was van die begin af dat die tema ’n ruim visie op die Afrikaanse letterkunde moet bied. Daarom het ons besluit om nie die kongres aan byvoorbeeld ’n spesifieke skrywer se werk te wy nie. Die oorhoofse tema bied ’n roetekaart om na bekende en minder bekende bestemmings te reis. Dit is juis dié onontdekte bestemmings in die Afrikaanse letterkunde wat my die meeste interesseer.

Lyk jul oogmerke verskillend van jaar tot jaar en wat beoog jul met vanjaar se kongres?

Ja, benaderings en perspektiewe verskil van kongres tot kongres – die Afrikaanse letterkunde is ’n ruim kasteel met baie vertrekke. Ons beoog egter om met vanjaar se kongres groter aandag te gee aan hoe uiteenlopende gesprekke oor Afrika in die Afrikaanse letterkunde gevoer word.

Kan enigeen wat hier lees, bydraes lewer, en hoe gaan hulle te werk?

Enige persoon is welkom om ’n referaat te lewer wat by die oorhoofse kongrestema (of subtemas) aansluit. Al wat jy moet doen is om ’n referaatvoorstel van 300–500 woorde per e-pos voor of op 31 Mei 2012 aan een van die kontakpersone te stuur. Elke deelnemer het 20 minute om ’n referaat te lewer. Ons verwelkom ook graag bydraes van studente. Jy hoef egter nie ’n referaat te lewer nie – enige persoon wat in die Afrikaanse letterkunde belangstel, kan die kongres bywoon en uitsien na interessante voordragte.

Vind inligting in verband met die kongrestema, die voorlegging van ’n referaattitel en
-samevatting, die tydsduur van ’n referaat en die persone aan wie referaatvoorstelle gerig kan word, by www.unisa.ac.za/alv2012.

Skakel 012 429 6308 vir verdere navrae.

Lees nog oor die ALV se kongres.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top