LitNet se Stemme is ’n reeks van 10 kort, kragtige monoloë, geskryf deur gevestigde en opkomende dramaturge, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, KKNK en NATi.
In Alles lê in die lengte van jou hare lewer Liandé Valentyn ’n dramatiese voorlesing van Stephren Saayman se monoloog wat handel oor ’n vrou wat afreken met traumatiese gebeure in haar kinderjare sodat sy verantwoordelikheid vir haar eie ouerskap kan neem. Saayman het self die regie behartig.
Hier vertel Stephren Saayman en Liandé Valentyn hoe hulle die produksie benader het.
Alles lê in die lengte van jou hare
’n Ode aan almal wat hul trauma eers moet neerpen voor hulle oor dit kan praat
“Alles lê in die lengte van jou hare,” was mammie se presiese woorde toe ek met my droë snotneus en deurmekaar vlegsels in die huis ingehardloop het. ’n Huis waar die mure maar krakerig en verouderd was. Waar alles behalwe my ma se fondasie wankelrig was.
Nou, Mammie was van daardie streng soort. Die soort wat glad nie nonsens gevat het nie en groot bohaai sou maak as dit by haar Tupperware-bakkies kom.
Sy het eintlik nooit aan my gevat nie. Nooit vir my gesê dat ek, haar enigste dogter, haar oogappel is nie. Selfs nie eers op haar sterfbed nie … Ek wou so graag net hê dat sy die verlange na ’n kosbare ma-en-dogter-verhouding in die hoeke van my oë moes raaksien. Ag, ek kan haar seker nie blameer nie, want sy kon my skaars vir langer as drie sekondes in die oë kyk. Sy was maar hardgebak omdat sy vrou-alleen vir ons twee aan die lewe moes hou. Daddy het mos werk gekry by die kaasfabriek en ons het nooit weer van hom gesien of gehoor nie.
Die meeste aande het ons gebid, en net voordat ons elke keer sou “amen” sê, het ek altyd my oë so skelpmies oopgemaak, want dis die enigste tyd wanneer sy ooit kwesbaar was. Haar kwesbaarheid het teen die gordyne van haar ooglede afgevloei en aan haar biddende hande vasgekleef soos ’n klein dogtertjie aan haar moeder by geboorte. Vir my was dit ’n riem onder die hart om daardie kant van Mammie ook te kon sien …
Andersins was sy maar baie presies, en as sy iets wou hê, dan moes dit net só wees – veral as dit by my kroon gekom het.
Sy het my altyd in hierdie perfekte Raponsie verander, en ek het dit toegelaat. Ek het toegelaat dat sy elke dag om vyfuur ná my speeltyd die GHD uithaal en vir my sê: “Leticia, kom sit. Dis tyd.” Mammie het geglo dat ’n vrou se kroon haar alles is. Soms sou sy haar eie kroon ‘n bietjie afskeep om seker te maak dat myne blink. Elke dag moes ek net gaan sit en die hitte teen my kopvel aanvoel. Ek kon sien hoe haar oë skitter soos haar hande deur die wortels van my kroon beweeg. Dan het sy die swirlkous so vinnig, maar tog versigtig, opgesit om my kroon te beskerm. Die gekners van my tande het ek so saggies as moontlik probeer hou, want ek wou nie Mammie teleurstel nie.
Vir sestien jaar het dit so aangegaan, tot op die dag toe ek hom gevind het. My vriend met wie ek alles kon deel. Alles wat te swaar was vir Mammie se ore om in te neem. Ja, dit was seker kalwerliefde, maar dit het my krakerige huisie op daardie oomblik gevul. Ek het uiteindelik vir Mammie vertel van hom en sy was net doodstil. Sy het my weer om vyfuur geroep en gesê: “Leticia, kom sit. Dis tyd.”
Terwyl sy besig was om my kroon te bewerk, het haar hande tot stilstand gekom. Vir die eerste keer het sy my vir langer as drie sekondes in die oë gekyk en gesê ek moet kies. Dis óf my hare óf my hart. Ek kon sien hoe die teleurstelling in haar ooglede wegkruip toe ek die heel eerste keer, op die ouderdom van 17, vir haar sê dat my kopvel nie meer die hitte kan vat nie … Sy het net dadelik opgestaan en haar Tupperware gaan uitsorteer.
Sonder enige koebaai het ek Mammie se huis verlaat en na hom toe gegaan. Hy het my vasgehou en my verseker dat alles oukei gaan wees. Ek het hom net gekyk en hy het geweet dat ek my huisie se deure wou oopmaak sodat hy sy liefde binne in my kon manifesteer. Toe kry ek Kaylatjie …
Na ’n paar maande toe vat hy ook die pad, want nes my pa het hy ook glo ’n werk by die kaasfabriek gekry en ek het nooit weer van hom gesien of gehoor nie.
Nou verstaan ek hoekom my ma so hard op my was. Hoekom sy my, soos Raponsie, vir haarself wou hê. “Alles lê in die lengte van jou hare” vloei nou nog deur die bloed in my are, tot op Kaylatjie se hare, en ek weet nie hoe om aan hierdie siklus te ontsnap nie.
***
Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.
Al die Stemme-monoloë word in die volgende weke op hierdie blad vrygestel:
Lees hier meer oor die Stemme-projek:
Stemme: LitNet se monoloogprojek met Suidoosterfees, KKNK en NATi