Al wat oorbly deur Santie van der Merwe: ’n lesersindruk

  • 0

Al wat oorbly
Santie van der Merwe

LAPA
ISBN: 9780799390322

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

“Al wat oorbly, is die liefde.” (303)

In Santie van Der Merwe se roman Al wat oorbly (2018) speel die temas van ouerskap, egskeidings en tweede huwelike ’n prominente rol. Dit skep vrae oor hoe die nuwe huwelik die ou gesin se dinamika beïnvloed. Roetines en gewoontes wat verander; en nuwe reëls wat deur die nuwe persoon in die gesin geskep word.

’n Voorbeeld hiervan is hoe Julia se stiefma, Nella, die huishouding bestuur het. Sy het alles van Julia se ma, Amelia, uit die huis verwyder. Foto’s van haar, haar klere, musiekplate en selfs haar naaldwerkmasjien. Die vryheid wat Julia as ’n kind gehad het, is vervang met streng en byna onbuigbare reëls. Die kombuiskaste was gesluit omdat daar net op sekere tye geëet mag word. Daar was ook geen keuse wִát geëet sou word nie. Julia het byvoorbeeld altyd ’n vistoebroodjie na skool gekry of sy daarvan gehou het of nie. Verder mag sy nie by haar ouer sussie gaan kuier het nie en sy mag ook nie in haar kamer gespeel of huiswerk gedoen het nie. 'n Mens se kamer moes altyd aan die kant gebly het (40, 59, 76–7, 100–2, 118, 178–82, 216–8).

Sy het haar stiefma se voorskrifte gelate gevolg. Sy het nooit meer in haar kamer gespeel nie, want die kamer was vir Bybel lees en bid voor slaaptyd en vir slaap. Sy is toegelaat om buite onder die appelkoosboom te speel of, as dit gereën het, op die voorstoep. Die sitkamer was vir grootmense, nie kinders nie. Dit alles was 'n groot aanpassing. (178)

Hierdie nuwe vrou in Julia se lewe het ’n negatiewe uitwerking op haar en haar sibbe gehad. Dit is duidelik sigbaar in hulle dialoog en byname vir die stiefma:

“So, wanneer laas het jy haar gesien?” wil Michelle weet.
“Wie?”
“Die dierasie. Die draak. Die heks. Jy weet wie.” (8)

“Ek en Hansie was by die prokureur.”
“Het jy wragtig begrafnis toe gegaan?”
“Ding-dong,” kom dit van Schalk. “The witch is dead.” (31)

Van der Merwe skryf egter ook oor die ander kant van die tweede huwelik. Wanneer ’n vreemdeling deel word van ’n reeds bestaande gesin. Hierdie persoon kan dit ook op ’n positiewe of negatiewe manier ervaar. Jy word belaai met die verantwoordelikheid om na iemand anders se kinders om te sien, of hulle van jou hou of nie. Soms moet jy aanhoudend met die vorige persoon kompeteer soos almal jou konstant met die vorige vrou of man vergelyk. Dit is dan asof die tweede vrou of man “saam met” die eks lewe (188–9, 267).

’n Goeie voorbeeld hiervan uit hierdie roman is Johan se tweede vrou, Esa. Nadat sy en Johan getroud is, het die huis onverandered gebly. Die hele huis was deurtrek met foto’s van sy eksvrou, Elaine. Sy kinders was luidig gekant teen haar. Verder het Elaine dit ook nie maklik vir Esa gemaak nie en haar kinders net nog meer teen Esa opgestook (62, 142, 132, 219, 232, 276).

Dit verklaar waarom die hoofkarakter, Julia, versigtig is om betrokke te raak in ’n verhouding met ’n man wat kinders uit ’n vorige huwelik het. Sy is bang dat sy, soos Esa, nie gaan inpas nie. Of dat sy soos haar stiefma die kinders se herinnering van hul biologiese ma sal vernietig.

Sy doen nie kinders nie, het sy gesê. Sy wil nooit 'n ma wees nie en weier om tussen 'n pa en sy kinders te kom. (61)

Nog 'n geval van joune, myne en ons s’n, dink Julia. Dit is waarom sy en Wynand nie kan werk nie. Sy kinders is verbind aan ander kinders en dit sal onmoontlik wees om almal te vermy. Daar is tog groot geleenthede wat almal moet bywoon ... En woon sy dit saam met hom by, dan raak sy verstrengel in al die familiepolitiek; sê sy hy moet alleen gaan, is sy nie ondersteunend genoeg nie. (71)

“Hoor my nou eens en vir altyd. Ek gaan nie jou kinders se stiefma wees nie. Ek gaan nie hulle lewens verder opdonner nie.”
“Maar jy hoef nie. Jy het vandag goed oor die weg gekom met Maya.”
“Ja, want ek is die gawe tannie langsaan, met die fluffy wit kat. Ek is nie haar stiefma nie.”
“Maar wat gaan verander as jy haar stiefma is?” (76)

Hierdie is komplekse temas waaroor Van der Merwe skryf. Die verteltrant is egter te lig om hierdie temas te bespreek, en die taalgebruik is heel eenvoudig. Dit is ook redelik met emosie en drama belaai, wat dit selfs ook effens soos ’n sepie kan laat voorkom. Hierdie tipe verteltrant veroorsaak dan dat die erns van die verskillende situasies minder kragtig is, byvoorbeeld:

Agter hom blits en donder dit, in hom jubel dit.
Sy trek hom in, maak die deur toe. Lei hom na haar kamer. Sy sit nie die lig aan nie, begin sy hemp losmaak. “Nog een keer,” vra sy, haar lippe onder syne. “Vir oulaas.”
“Julia,” kreun hy. Hy pluk sy hemp ongeduldig oor sy kop. “Hoekom moet dit vir oulaas wees?”
Sy sit 'n vinger oor sy lippe. “Nie nou nie, Wynand, wees net nog een keer lief vir my.” (58)

Sy trek preuts die laken oor haar. “Nee. Wynand, jy moet gaan.”
“Jaag jy my weg? You had your wicked way with me en nou moet ek die walk of shame doen terug na my huis toe?”
“Dis nie 'n grap nie, Wynand.”
“So, jy het my gebruik. Nou voel jy beter en ek is oorbodig.” Dis half 'n grap, half ernstig.
Sy bars in trane uit. “Ek voel nie beter nie. Ek voel aaklig. Maar ek het jou gesê dis die laaste.” (62)

“Hoekom wil jy trek?”
“Oor Wynand, Michelle, dit gaan nie werk met hom hier langsaan nie.”
Michelle lig haar wenkbrou. “Wat het jou so laat besluit?”
“Dis net te ingewikkeld. En ek is werklik useless met kinders, ousus. Anderdag het ek Maya nie gevoer nie. Eergister het Delilah haar gekrap en ek het nie eens 'n pleister in my huis nie. Ek is nie gebou vir kinders nie.” (158–9)

Ook die tipe vertellers dra tot hierdie gevoel by. In die roman is daar 'n derde- en 'n eerstepersoonsverteller aan die woord. Die verskillende tipes vertellers verdeel die roman in twee wêrelde. Julia se verhaal word hoofsaaklik deur die derdepersoonsverteller aan die leser oorgedra, terwyl die oorlede ma se storie, wat soos ‘n spook nog rondhang, deur die eerstepersoonsverteller uiteengesit word. Dit is hierdie eerste persoonsverteller wat die verhaal effens kinderlik en lig aan die leser oordra.

Jy weet nou ek is nie meer in die land van die lewendes nie. Maar hoekom is ek nog hier? Hoekom kan ek nog my storie vertel? Wat hou my hier? En wat is ek? ... Al wat ek wil hê is dat my Julia gelukkig moet wees ... My ander kinders. Ek het my bes gedoen vir hulle. Die beste gedoen wat ek geweet het om te doen. Dit wat ek gehad het om hulle te bied, het ek. Ek het hulle op hulle eie voete leer staan ... Maar Julia. Julia. (27–9)

Alles is wel. Dit is volbring. Uiteindelik het ek my ontoereikendheid, my tekortkominge, my bedenkinge laat gaan. Al wat oorbly, is liefde. Ek is Amelia en dis tyd vir my om te gaan. (303)

Die verskillende vertellers word tussen die verskillende hoofstukke deur ingeweef en onderskei deur opskrifte wat in kursief getik is. Die uiteensetting is goed en maklik om te volg. Dit was wel moeilik om aan die begin van die roman nie deurmekaar te word nie. Die skrywer het 'n magdom karakters aan die leser voorgestel, wat verwarring kan veroorsaak. Dit is eers later in die roman dat die leser die karakters dalk beter van mekaar sal kan onderskei.

‘n Ander tema wat ook sterk in die roman bespreek word, is kinders se verskillende herinneringe aan hul oorlede ouers. Dikwels as kinders onthou mens net sekere goed. Dit kan veroorsaak dat mens soms ’n wanindruk oor mense vorm, byvoorbeeld Julia wat onder die indruk was dat haar stiefma haar blommemeisierok weggegooi het. Dit was toe al die tyd haar sussie, Michelle, gewees. Sy het dit weggegooi omdat hulle ma die blommemeisierok skeef en ondraagbaar gemaak het. ’n Ander voorbeeld is ook Julia se onkunde oor haar ma se gerokery. Dit beklemtoon hoe kinders dikwels van hul ouers helde maak, terwyl hulle ook maar net mense met foute is (81–9, 103–5, 119–20, 191–203, 234–7).

Dit word verder beklemtoon soos Julia soms erken dat haar stiefma op tye seker goeie bedoelings gehad het. Julia reken dat as dit nie vir haar stiefma was nie, sou sy nie so ‘n netjiese mens gewees het nie. Hiermee word die tweede kant van die muntstuk ook duidelik. Die lewe en verantwoordelikheid van die stiefma. Gielie, Julia se stiefskoonsussie, het aan haar erken dat haar stiefma dit moeilik ervaar het om haar groot te maak omdat almal dikwels vingers gewys het. Sy was heeltyd versigtig dat iemand haar sou beskuldig dat sy Julia nie ordentlik grootmaak nie (174, 247–8, 267).

“Mammie het my vertel hoe bang sy was jy kom iets oor. Jy was so 'n opgepiepte ou dogtertjie, met respek gesê. Sy wou nie eens dat jy vir jouself koffie of tee maak nie, so bang was sy jy brand. Dis 'n groot verantwoordelikheid, 'n ander vrou se kind ... daar was altyd iemand wat oor haar skouer geloer het hoe sy jou grootmaak.” (267)

Ten slotte is Santie van der Merwe se roman 'n eenvoudige, maar tog betekenisvolle verhaal oor familie, verhoudings, verantwoordelikhede en die lewe. Ek sal dit aan enigiemand aanbeveel wat lus is vir 'n ligte stuk leesstof; maar aan lesers wat gewoonlik iets swaarder lees: hou dalk eerder verby.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top