“Al die voëls het neste begin” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Al die voëls het neste begin
Die lig in Killarney, eens gesogte woonstelbuurt in Johannesburg maar deesdae stowwerig en nederig, was dié dag, soos gewoonlik, oranje van al die siersteenfasades gebou in die vyftigerjare.
Dis hier waar Stephen Gray, biograaf van die letterkunde en versamelaar van historiese anekdotes, in Brentwood Mansions gewoon het. Hy het meestal die Engelse lettere bedien maar ook veel van Afrikaans geweet. Hy was ’n goeie hoewel soms grimmige vriend, voordat hy in Oktober 2020 skielik oorlede is.
Dis hier in sy woonstel waar hy my “die werklikwaar vreemdste storie” vertel het. “Eugène Marais would not have passed up on this one.”
“Miskien sou dokter Roubaix die bron daarvan gewees het,” sê ek met ’n ondertoon. Stephen grinnik ewe onderlangs. “Ja, maar bly nou stil, laat ek jou vertel. Ek het die storie tydens ’n reis na Bali gehoor. Dit klink na ’n fabel maar het sy eie strakke werklikheid. Die waarheid is vreemder as fiksie.”
Die gebeure vind rondom 1855 in Soerabaja op Java plaas, ’n handelstad geleë aan ’n delta – omring deur half-rivier en half-see. Die kultuur van Soerabaja bevat onder meer Moslem en Nederlandse elemente. Die Fez en Oranje het Soerabaja opeenvolgend gekoloniseer. Die inheemse Javane op hul beurt is baie trots op hul kultuur van sierdolke. Dit is ’n pragtige ou kunsvorm wat sy weg na vele Nederlandse harte gevind het, dikwels op ’n letterlike wyse.
Die stad was in die tyd van ons storie ’n konkoksie boustyle. Konkawe Chinese dakke, Hollands-koloniale herehuise, pakhuise op die rivier met imposante Indiese boogingange. Kaaie, tentmarkte, gragte.
Die koloniale huise had breë voorstoepe wat met suile spog en was soms bedek met ’n ewe groot veranda op die tweede verdieping – soos ’n koek met twee lae. ’n Uitspattige rylaan loop soms met ’n boog tot voor die groot huis asof dit vlerksleep.
In só ’n rykmanshuis het die tienerdogter Zoekija Middel-Delta Soeraprama, wat pas sewentien geword het, saam met haar ouers en broer gewoon. (Die name van die tyd het dikwels ’n geografiese aanwyser gehad vandaar die “Delta”.)
Die pa Marthinus Soeraprama was ’n suksesvolle nyweraar en half-Javaans. Hy was egter suiwer Nederlands wat ambisie, persoonlike styl en oortuigings betref. Sy koestering van Nederlands het hy van sy Laelandse moeder ontvang. Sy het al haar gesogte kantklere aan Delta se ma, Mega (“die vrou wat van wolke hou”), nagelaat.
Delta was ’n koppige skoolmeisie wat ’n flirtasie met ’n jongman benede haar stand, ene Hartoko, aangeknoop het. Hy was ’n venter van tradisionele fluite en een naweekmiddag toe sy gaan flaneer, het sy ’n fluit by hom gekoop. Hulle het gesels. Hy wou graag behoorlike Nederlands by haar leer. Op haar beurt het sy geflikflooi: “Hoe kan ek ’n fluit leer bespeel sonder jou vingers?”
Sy het gehou van die donker seuns; sy was immers op skool saam met hulle, maar haar ouers het haar belet om Hartoko weer te sien. Laat hom met ’n Javaanse weefstertjie trou, het moeder Mega gesê. Vandaar was dit afdraand tussen Middel-Delta en haar gesiene gesin. Haar broer Lodewikus Pesawahan het Hartoko met rottangslae gedreig as hy dit naby hul huis sou waag.
Meneer Soeraprama het sogenaamde voëlnessop, ’n soort fynkos, vervaardig. Dit is tot vandag toe ’n groot nywerheid in vele dele van Asië. Hy het verskeie “voëlneshuise” in Soerabaja, sowel as op ander plekke in Indonesië besit.
In hierdie huise sou ’n gesogte soort trekswael op roterende basis in verskillende streke in die land neste bou, wat dan geoes word om sop van te maak. Die sop word ten duurste in hotelle en ander eetplekke van aansien voorgesit en ook in blikkies aan die elite-stand verkoop.
Die proteïnryke neste bestaan meestal uit die speeksel van die manlike swael wat opteldeeltjies saamvoeg om die nes te bou voordat die wyfie haar intrek neem om die volgende siklus eiers daarin te lê. Let wel, dit is nie die eiers of die voëls nie, maar die neste wat geoes word, ’n klein handgrootte “kommetjie” so hard soos sement wanneer dit gestol het – ontelbare bleek “skulpe” wat teen die voëlhuise se binnemure pryk. Amper soos perdebyneste.
In gewyde stilte en halfdonker. Stilte – behalwe vir die swaels se getwieter. Halfdonker – behalwe wanneer die oesvolk hul flitsligte op die vreedsame nessies kom skyn.
In die platteland word die swaelneste uit diep grotte geoes, maar in stede is dit versaakte óf nuut-opgerigte “huise” wat lyk na apokaliptiese bomskuilings.
Delta was nie lank uit die skool nie of sy verklaar aan haar ouers dat sy verlief geraak het op ’n swael. Sy het daarna selfs ’n dagboek gehou van haar beweerde liefdesverhouding.
“Hoe bedoel jy? Verlief op een van die voëls wat ons die neste vir sop gee?” wou haar ma weet.
“Ja. Sy naam is Boediwati die wyse. Hy blink soos oniks,” het sy aan tafel laat hoor. Die gesin was juis besig om ’n voorgereg van voëlnessop te nuttig. Hulle het Delta met verbystering aangehoor maar teen dié tyd ook geweet dat sy “anders” is.
Die sage rondom Delta Soeraprama is opgeteken deur dokter Doekoet Brahma Widodo, ’n beroemde natuurkundige van die era. Hy was ’n gewilde filosoof wat die natuurkunde met Hindoe-elemente versoen het. Die welgestelde ouers het Widodo uit Djakarta laat kom om vas te stel of dit moontlik is dat hul dogter op ’n swael verlief kan wees. ’n Westerse dokter sou nutteloos in hierdie saak wees. Daar is immers baie dinge onder die son. Widodo het vasgestel dat dit inderdaad moontlik is. Die ouers was verlig Delta is nie van haar sinne beroof nie. Goeiste, wat sou die mense van die Buiteklub dán moes dink?
Widodo het verskeie konsultasies met Delta in haar ouerhuis kom voer. Die ouers het die beroemde dokter met hul dogter agter toe deure vertrou. “Ek dink u moet my ondersoek, dokter,” het Delta hom egter sonder skroom op hul eerste konsultasie aangeraai. “Daar is iets wat u moet weet.”
Voor hy kon antwoord of kapsie maak, was sy uit haar klere én haar onderklere, en Widodo het in pynlik hoflike terme opgeteken dat sy ’n asemrowende skoonheid is. Sy het fier voor hom gestaan met die dowwe frommel van ’n sarong by haar voete, en haar groen oë het hom straalreguit aangekyk. Haar borskas met die klein en vol borste het ritmies gedein. Hy het die doelgerigtheid van haar gees in daardie asemhaling bespeur. Sy het haar arms bo haar kop uitgestrek en haar oë het hom aangesê: “Sien jy?”
In haar oksels was ’n digtheid donsvere pleks van hare. Van die groter donse het al soos gryserige vere begin lyk. Dokter Widodo skryf hy het dadelik geweet hy kyk nou na die heilige graal van sy loopbaan, na ’n verskyning van die verlore skakel. Mens en dier is een geheel, selfs die voëls is deel van “ons liggaam”. Ag, die dierbare veelkoppige monster wat ons tesame met ons baie pote en voete is, die Hindoe-godinne had gelyk!
Sy blik het op haar pubiese driehoek vasgesteek. Donse, donsveertjies, en enkele groter vere het haar mikvlek bedek. Hy het nader gestaan en sagkens aan die veertjies gevat; hulle was olierig soos dit hoort. “Pluk maar een,” het Delta in ’n fyn stem gesê. Sy het haar oë toegemaak en haar kop weggedraai. Die veertjie het met ’n sug losgekom en dokter Widodo het dit later aan ’n museum in Djakarta bemaak.
Die hare op haar kop was “normaal” – steil en swart en in ’n reguit lyn net bo haar norra gekap. Slegs haar skaduweeplekke was anders. Hy het haar gevra of hy met ’n fotomaker mag terugkeer? Natuurlik, was haar antwoord. Widodo moes bontstaan om die ouers hiervan te oortuig.
Dit is jammer die plate het nie bewaar gebly het nie. Dit was nog nie die moderne proses nie. Widodo het dit egter háárfyn (as’t ware) beskryf: die blootstellings aan die kamera wat minute lank elke keer geduur het, onder die gewyde swiepgeluid van die dakwaaier, en die vaslê op koperplate “van ’n mens wat vere groei soos wat dit eerstehands in die natuur voorkom”.
Delta se voorwaarde in ruil vir die plategenemery was dat die dokter haar ouers moet oortuig van die noodsaak dat sy “in een van hul voëlhuise gaan bly”; sy sal die spesifieke huis aanwys, om naby haar geliefde te wees.
Sy was “immers duidelik ’n voëlmeisie, ’n wese wat ook tegelyk ’n lid van die voëlspesie is,” het dokter Widodo betoog. Die Soerapramas het soos sagte hout in die reëntyd ingegee. Widodo se invloed was onontkombaar.
Die dokter se teorie was alle lewende wesens op aarde is dieselfde lewensvorm. Soms duik daar ’n lid van ’n spesie op wat eienskappe van ’n ander spesie toon, wat maar net klinkklaar bewys dat “spesies” oppervlakkige kategorieë van ’n dieper waarheid is. Widodo het byvoorbeeld geskryf oor die vrou met beenhare soos ’n leeu se maanhare. Lang goue hare wat sy elke dag moes borsel! Die “leeuvrou” het in Kenia gaan woon – sy was aanvanklik Brits – om haar pelsbene vrye teuels te kan gee. Daar was ook die oorbekende geval van die jongman wie se hele lyf met hare bedek was, soos ’n lid van ’n aapspesie, maar eintlik was hy mens. En dan die tweeling, ’n seun en ’n meisie wat verkies het om soos slange te seil al kon hulle soos ander mense loop. Hulle het lateraan skubbevel op hul mae gegroei. Die sibbe kon oral in hul dorpie in Indië gesien word, hoe hulle in die strate seil. Die geval van die meisie Delta is in dieselfde klas, het Widodo aangevoer.
Ongelukkig vir dokter Widodo het die publikasie in 1859 van Charles Darwin se boek oor evolusie, Oor die oorsprong van die spesies, sy beroemde teorieë tweede viool laat speel. Weer eens het “die spesies” as indeling belangrik geword, belangriker as tevore. Dié groot verskil tussen die twee denkers was daar ondanks albei se geloof in die gemeenskaplike afkoms van leefvorme. Vir Darwin was dit die vroegste sellulêre leefvorms; vir Widodo “die Hindoe-gode wat in hul alwysheid mense en diere aan dieselfde tepels laat drink”.
Anders as by Darwin, het Widodo se wetenskap ’n esoteriese kant gehad. Beïnvloed soos hy was deur die Hindoeïsme en deur die reïnkarnasie-idees van die Boeddhisme, het hy gepostuleer dat die mens kontak met diere kan maak “in die taal van daardie diere en ook in die taal van voëls”.
“Ons ervaar die wêreld deur middel van syn,” het Widodo geskryf. (En hierin het die groot man ’n geleerdheid van die Westerse filosofie getoon.) “Die mens se ervaring van syn word deur verbeelding moontlik gemaak, en dus kan ’n mens met toewyding die syn van ’n ander leefvorm binnegaan as jy hard genoeg probeer. My gevallestudie van Zoekija Middel-Delta Soeraprama dien as bewys.”
Delta Soeraprama is toegelaat om een van haar pa se voëlhuise te betrek.
Dit was ’n verlate voormalige herehuis en ’n horde swaels het in al die vertrekke teen die mure neste gemaak. Behalwe in die hoofslaapkamer. Hier het Delta saam met haar minnaar (“haar man”, soos sy hom genoem het) wanneer hy in sy mens-gedaante verkeer, gewoon. Ander kere het sy in die gedaante van ’n swael by hom in sy snoesige nessie ingetrek. Dan het hy haar in sy swart vlerke toegevou en sy warm krop teen haar holtes gedruk.
Op haar beurt het sy die swael in albei hande na haar bed gedra waar sy hom tot lewensgrootte man gestreel het. Sy het meeste oggende wakker geword met ’n swael wat liefderik op haar borsbeen sit en dut. “Ek weet wat jy wil hê,” het sy hom dan gegroet. “Koffie!”
“Hulle het mekaar dus as beide voëls én mense geken,” skryf Widodo. “Dit was baie spesiaal, en eendag sal die mens ook God in Sy eie taal verstaan want ons sal tegelyk God én mens kan wees.”
Haar moeder of haar pa het sommige dae vir haar en die swael-man Boediwati kos in bakkies gebring, en soms het die tweetjies hul eie aandetes in die klein kombuisie langs die hoofslaapkamer, met sy groot vensters wat op die Soerabaja afkyk, berei.
Die res van die huis was natuurlik donker, want enige vensters en deure is toegemessel om meer muurruimte vir kwetterende neste moontlik te maak. Die swaels het deur rye en rye ontelbaar klein openings die voëlhuis binnegetrappel. As hulle eers binne is, gaan hul vliegkunde soos sambrele oop en wedywer hulle vir nesmaak-plekkies teen die mure.
Toe haar ma op ’n dag die slaapkamer instap, sien sy ’n glinsterende donker mansliggaam bo-op haar dogter. Moenie kommer nie, Mamma, het Delta haar later getroos, jy het maar net ’n swaeltjie vir ’n man aangesien. Dit is waar, het die ma baie gewillig saamgestem, dis mos hoe jy dit aan ons verduidelik het, dankie my dogter, vir jou trooswoorde.
Dit was Widodo wat Delta se dagboeke bekom het. Daarin het sy gebeure soos die volgende aangeteken. Eendag toe haar pa se arbeiders die neste kom oes, word sy ontydig met die gevleuelde Boediwati in haar hande betrap. Sy pikswart swaelvlerke het soos manelpante uit die “toebroodjie van haar hande” gesteek. Sy het hom dadelik onder haar rok ingedruk, en daar het hy rondgefladder en polsend getjilp terwyl sy noodgedwonge groetwoorde met die onbekende mans maak en hom in een plek probeer hou.
“Ek het rondgetrap soos iemand wat ’n nood het, want Boediwati het oral teen my lyf gekriewel. Ek het daardie middag Boediwati se voël-humorsin weldeeglik begryp.”
“Wanneer ek myself klein maak in my gedagtes om Boediwati te ontmoet, kan ek sien hoe hy terselfdertyd voor my groter word. Uiteindelik staan hy voor my in sy swart vlieënierspak met daardie gevoelvolle horison-oë van hom.
“Dit is soos om deur die nek van ’n bottel te glip. As ek eers binne is, kan ek nie weer uit nie! Boediwati se wêreld sluk jou in. Ek moet eers weer aan die slaap raak soos ’n mens dit doen om myself in die gewone wêreld terug te vind.”
“En ander kere weer het Boediwati op sy voëlpote my kamer binnegekom. Hy het my met sy oë nadergeroep; hy was so klein daar op die vloer maar het gerys totdat sy skaduwee die hele bed oorgeneem het. Sy stem was soos die wind en ons het wild op die groot boom buite die venster se takke gery soos wat dit in die maanlig binne-in die kamer weerspieël.
Die dagboek was getrou aan Middel-Delta se vrypostige houding teenoor maatskaplike norme. Sommige inskrywings het vertel hoe sy na naburige dorpe met “haar man” reis vir sy saketransaksies.
Hulle sou in hotelle oorbly, onder die nokke of oorhange, maar net in die beste kamers. Of hulle sou eersteklas bootry, met die wind in hul vlerke daar op die brug.
Toe hoor Stephen iets wat die sage ’n Suid-Afrikaanse skakel gee. Professor Gray het gevolglik, in 2002, die werk van Widodo in ’n argief in Djakarta gaan opsoek.
As agtergrond: ’n Koerant in Soerabaja het snuf in die neus gekry circa 1860. Die Hollandse redakteur was krities oor Widodo se “inboorling-natuurkunde”. Die swaeltjie-storie is net ’n manier van ’n onbesonne meisie uit die hoë burgerstand om ’n afkeurenswaardige verhouding met ’n lid van die gepeupel aan te gaan, en dit onder die neus van die stadsvaders! So het die koerant in Nederlands geraas. Die koerant het ’n onderhoud met Delta en haar geliefde gaan voer waar hulle nou in hul eie huis teen die rivier gewoon het. Delta was nou in haar middel-tot-laat-twintigs. Sy moes lankal “getroud gewees het!” (volgens die koerant).
“Jy sê jou geliefde is eintlik ’n swael?” is sy deur die grinnikende verslaggewer ondervra.
“Ja,” het Delta doodluiters geantwoord.
Die Soerapramas se reputasie was nou onder sterk verdenking. Die ouers het ’n verduideliking van Delta en haar vriend gevra. “U lyk nie vir my soos ’n swael nie,” het Marthinus vir Boediwati op sy stoep begroet.
“Ons leef in meer as een leefvorm gelyktydig, Meneer,” het Boediwati hom geantwoord. “U ook. Dit is iets wat die Kerk waaraan u behoort nog moet leer om te begryp.”
Die verslae egpaar het met die jonger paar tot ’n vergelyk gekom. Hulle sou baie ver weggaan. Op dié manier sou die skadelike gerugte ’n natuurlike dood sterf. Delta en Boediwati het besluit om na die verre Suid-Afrika te gaan.
In haar gehawende “Kaapse dagboek”, wat sy as ouer dame net voor die eeuwending per pos na Djakarta gestuur het vir bewaring deur wyle dokter Widodo se opvolgers, en wat Stephen tydens sy navorsingsbesoek in Widodo se boekery aangetref het, staan in ’n vroeë inskrywing (deur Stephen uit Javaans laat vertaal):
“Ons het weswaarts, en bo die storms uit, gevlieg. As jy bo ’n storm vlieg, sien jy dat om kant te kies in ’n storm vergeefs is. ’n Storm is rond.”
Daar is geen historiese bewyse dat die twee amptelik Suid-Afrika binnegekom het nie.
“Daar is wel ’n latere administratiewe toegewing dat hul dokumente moes weggeraak het,” het Stephen vertel. “Hulle is as nasate van vryslawe gedokumenteer. Die nuwe dokumente het glo nou ’n huweliksertifikaat ingesluit.”
Delta en Boediwati het ’n dogter gehad. Die naam van die dogter, wat my nou ontgaan, is deur Delta in haar laaste skrywe aan Widodo se argief bekendgemaak. Dié naam het aan Stephen sy finale leidraad besorg.
“Dit is Delta se agterkleindogter wat haar en Boediwati se nederige dubbelgraf in Atlantis, waar hul herbegrawe is ná die platvee van Distrik Ses, aan my gaan wys het,” het Stephen gesê. “Die familie was Afrikaanssprekend.”
Op die steen het gestaan: “Delta en Boediwati Poeloekadang. Kyk hoe ver het ons gekom.” (Ek gebruik die fonetiese spelling van name.)
Die jaar was 2010.
“Is dit waar ... dat vere ... op jou voormoeder gegroei het?” wou Stephen weet. Haar naam was Sherly, “die brandende grasveld” in Indonesies, so het sy hom trots meegedeel.
“O, nie die Suid-Afrikaanse ‘Shirley’ nie?!”
“Hare ... vere ... gras ....? Is dit nie baie dieselfde nie?” het Sherly beide vrae gelyk geantwoord. “Ons is maar alles hier.”
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie
Kommentaar
Veels geluk, Charl-Pierre! Wat 'n pragtige, magiese verhaal.