Aktiewe burgery skep eersterangse stede en dorpe

  • 0

“Hierdie stad is wat dit is omdat ons burgers is wat hulle is.” 

Hierdie beroemde woorde, gespreek deur Plato, die wêreld se invloedrykste filosoof, wat tussen 428 vC en 348 vC geleef het, is vandag nog steeds relevant.  In ’n neutedop impliseer dit dat die lewensomstandighede in ’n stad, dorp, woongebied, landelike gebied of enige ander plek waar mense bly, goed of sleg kan wees afhangende van die vlak van aktiewe burgery óf gebrek daaraan deur die inwoners.

Dit is deur aktiewe burgery dat belanghebbendes in ’n dorp, byvoorbeeld die munisipale amptenare, sakekamers, gemeenskapsorganisasies, ensovoorts, ’n gemeenskaplike begrip van ’n dorp se probleme, uitdagings, geleenthede en sterk punte vorm.  Aktiewe burgery skep ook ’n gedeelde begrip vir die dorp en al sy mense en hou diegene wat verantwoordelik is vir die bestuur van die dorp op hul tone.  Hulle weet dat die dorp se mense verenig is in hul pogings om ’n eersterangse dorp te skep en sal alles moontlik doen om hierdie ideaal te bereik.

Aan die ander kant skep apatie of belangeloosheid van burgers ’n vrugbare teelaarde vir swak dienslewering deur munisipaliteite, verbrokkelende infrastruktuur, korrupsie en flagrante verontagsaming van goeie bestuurspraktyke, byvoorbeeld wat betref finansiële bestuur deur munisipaliteitsamptenare.  Die toestand van finansies en wanadministrasie binne baie munisipaliteite dien as voorbeeld hiervan.

Verslae van die Ouditeur-Generaal dui daarop dat sommige munisipaliteite wel goeie en “skoon” administrasie handhaaf.  Swak dienslewering en beheer bly egter ’n ernstige uitdaging in die meeste munisipaliteite.  Wat swak beheer betref, is dit so dat nóg die munisipale bestuur nóg die aangestelde konsultante in die meeste munisipaliteite sorg dra dat vrugtelose en verkwistende besteding voorkom word. Erger nog: Hulle slaag ook nie daarin om akkurate finansiële state voor te berei nie.

In ander gevalle het die rekenpligtige beamptes nie net daarin gefaal om die betrokke munisipaliteit se bestuurs-, rekeningkundige en inligtingstelsel te ontwikkel nie, maar kon hulle ook nie verslag doen van die munisipaliteit se bates soos deur die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur bepaal word nie.  Finansiële state wat vir ouditprosesse ingedien is, was ook nie volledig nie as gevolg van ’n gebrek aan genoegsame assessering deur die bestuur en te veel afhanklikheid van konsultante wat aangestel is om met die voorbereiding van finansiële state behulpsaam te wees.

Meer skokkend egter is die feit dat die personeel van die Ouditeur-Generaal finansiële state weer ’n paar maal moes ouditeer om ’n redelike voorstelling te verseker, ondanks die aanstelling van konsultante. Hoe is dit moontlik?  Nie die rekenpligtige beamptes óf die konsultante was in staat om take waarvoor hulle aangestel is, kundig en pligsgetrou uit te voer nie.

Sou ’n situasie soos dié wat hierbo uiteengesit is, vermy kon word?  Ja, dit kon, as mense met die vereiste kundigheid aangestel is en behoorlike moniteringstelsels in plek was ten einde afwykings te bespeur sodra dit voorgekom het sodat hulle dit kon regstel.

’n Groter bekommernis is egter dat die voorafgaande situasie ’n ernstiger probleem blootlê.  Dit is ’n gebrek aan aktiewe burgery en selfs ’n gebrek aan begrip van wat die doelwitte van plaaslike regering behels.  Hierdie doelwitte is om demokratiese en verantwoordbare bestuur van plaaslike gemeenskappe te bied, om te verseker dat dienste op volhoubare wyse aan gemeenskappe gebied word, om maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling te bevorder, om ’n veilige en gesonde omgewing te bevorder en om die betrokkenheid van gemeenskapsorganisasies in sake rakende plaaslike bestuur aan te moedig.

Edele doelwitte inderdaad!  Dit sal egter slegs ’n hersenskim bly in die afwesigheid van aktiewe burgery. Dit is  belangegroepe wat verenig is agter ’n gemeenskaplike visie om ’n eersterangse dorp te skep en wat bereid is om doelgerig saam te werk om hierdie visie te realiseer.

In hierdie verband het die AHi as ’n georganiseerde sakekamerbeweging hom tot aktiewe burgery verbind en sy meer as 100 sakekamers gemobiliseer om hulself as sleutelrolspelers binne die munisipale regeringsruimte te posisioneer en spesifiek te fokus op vennootskappe met munisipaliteite, spesifiek met betrekking tot plaaslike ekonomiese ontwikkeling.  Die rede hiervoor is om die ekonomie te stimuleer, omstandighede te skep wat bevorderlik is vir die sakesektor om hul handelsaktiwiteite te optimaliseer, nuwe beleggings in die dorp aan  te moedig, werk te skep en die munisipaliteit se inkomstestroom te vergroot.

Derhalwe is ’n reeks vennootskapsprojekte tussen die munisipaliteite en die AHi tans aan die gang.  Dit behels die Business adopts Municipalities-projek wat gemik is op die uitruil van kundigheid, byvoorbeeld finansiële of ingenieurskundigheid, tussen sakeondernemings en munisipaliteite.  Die AHi werk ook saam met groot korporatiewe instellings soos Santam en SALGA om plaaslike amptenare in rampbestuur (met die fokus op hul onderskeie dorpe) op te lei.

’n Vennootskap is ook gevorm met GIZ (’n Duitse vereniging vir internasionale samewerking), wat gerig is op die ontwikkeling van klein dorpies en die bereiking van konsensus tussen belangegroepe ten opsigte van die beste ontwikkelingstrategieë vir spesifieke dorpe.  Sedert 2012 het die AHi-gedrewe PEO-komitee meer as 100 munisipale raadslede, senior amptenare en sakeleiers in PEO-leierskap en -bestuur opgelei. Dit het ten doel om samewerking tussen raadslede, munisipale amptenare en die sakesektor te bevorder en gedeelde verantwoordelikheid vir die dorp se ekonomie te verseker.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat al die bogenoemde aktiwiteite voorafgegaan word deur die bou van verhoudings tussen sakekamers en munisipaliteite.  Die AHi-leierskap speel ’n leidende rol in hierdie verband en fasiliteer jaarliks ’n aantal van hierdie vergaderings tussen  plaaslike sakekamers en munisipaliteite. Wanopvattings en baie ander struikelblokke word tydens sulke interaksies uitgeklaar, maar daar is steeds baie uitdagings.

Aktiewe burgery op plaaslike sakekamervlak en munisipaliteitsvlak is, soos Plato gesê het, egter die enigste manier om uitdagings te oorkom en’n blinker toekoms vir alle Suid-Afrikaanse burgers moontlik te maak.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top