Akkedis: "Nog vele albums en mal aande"

  • 0

Die legendariese rockgroep Akkedis het pas ’n nuwe album uitgereik – hul eerste in ’n lang tyd. Arthur Dennis, kitaarspeler en sanger van Akkedis, beantwoord ’n paar vrae.

akkedis1grootweb
Foto: Louise Pieterse

Baie geluk met die uitreiking van Akkedis se nuwe album, Onder ou Tafelberg. Dit is ’n goeie sewe jaar sedert die band se vorige album? Wat is die redes vir die relatief lang tydperk om die album te voltooi, en op watter maniere sou jy sê vertoon die waarde van dié tydsame benadering op die album?

Ons het intussen twee albums saam met die Lyzyrd Kyngs (Piet Botha en Akkedis) gemaak en die suide van Afrika en Duitsland daarmee getoer. Die heeltyd was daar idees vir ’n Akkedis-album, wat ek maar gebank het tot ons geleentheid gekry het.

Dis interessant (en lekker) dat die album afskop met ’n aangepaste weergawe van "Anderkant die berg". Waarom het julle besluit om hom te herskryf vir hierdie album? Watter spesifieke veranderinge wou julle by die lirieke inbring, en wat was jul visie met die veranderende musikale elemente? Hoe dink jy dien die veranderinge dié legendariese tune? Gaan julle hom voorts so perform?

’n Song kry ’n lewe van sy eie so deur die jare. Jy het partykeer nie beheer daaroor nie. Die song is 20 jaar oud, en die woorde het so nou en dan bygekom. Peter Pearlson (ons vervaardiger) het die struktuur verander en meer soos hedendaagse rock laat klink.

Ons doen die nuwe weergawe by shows, maar die oue maak darem sy opwagting hier en daar.

Gepraat van die verwerkings – daar is ’n swetterjoel uiteenlopende instrumente te hoor op die album. In "Anderkant die berg" is die mandolien ’n heerlike verrassing, en op talle ander snitte – soos "Ode aan Ouma Grietjie Adams" – duik als van die banjo tot die driehoekie op. Wat was vir jou die lekkerste aan die proses van arrangements uitwerk en opneem? Wat was moeilik of minder lekker daaraan? Was daar deurlopend konsensus onder die lede oor hoe ver julle daarmee wou gaan, of is dit maar ’n geval van kompromie-tot-almal-gelukkig-is?

Dit was heavy lekker om met nuwe instrumente te eksperimenteer. Met die mandolien het ek my eie tunings uitgewerk en my eie chords ontwerp. Die banjo was ’n groot verrassing toe ons dit neerlê. Dit was ’n 6-snaar – so maklik. Daar is Riku Lätti met trekklavier en Rudi op melodica en penniefluitjie en Piet Botha en Sharon Pearlson het keyboards opgesit. Kazoo, potte, driehoekies, ens was vir die fun. Ons het gelukkig tyd gehad om alles te op neem.

Daar's ’n deurlopende soort huldeblyk, of dalk eerder intense terugkyk, na Distrik Ses in Kaapstad en als wat daarmee saamgaan ... Die albumtitel is ’n verwysing na Distrik Ses, en veral in die lied "Musiek van Hanoverstraat" is die tema duidelik. Wat het jou en julle genoop om hierdie stories en elemente te bekyk vir die album? Daar's natuurlik die soort kritici wat onmiddellik sal vasskop teen die idee van ’n band wat uit drie wit ouens bestaan wat sing oor die moeilikheid in Distrik Ses. Wat sal jy vir twyfelaars soos dié wil sê?

Ons het die album in Kaapstad opgeneem, en die heeltyd deur ou Distrik 6 geloop met die ou strate wat nog net so lê. Dit was die laaste song wat geskryf is vir die album. Ek het stories by mense geluister oor die ou dae daar en het die happy herinneringe neergelê. Hoe mense gepraat het van die omgewing gaan nou verlore, en ek wou van dit vaslê. Dit is maar net ’n stukkie geskiedenis, waarvan ons almal deel is in die Kaap.

Jy en Akkedis is intiem bekend met die Afrikaanse musiek- en rocktoneel oor die afgelope twee dekades (en meer). Hoe beskou jy die toestand van Afrikaanse rock en als wat daarmee saamgaan deesdae? Wat is kief, en wat suig? Hoe sal jy dit graag wil sien verander oor die volgende paar jaar, en hoe dink jy kan dit gebeur? Of is dit ’n geval van elkeen wat sy eie potjie hoort te krap en wat sal gebeur, sal gebeur?

Die ding het ontplof oor die laaste paar jare. MK was grotendeels die rede daarvoor. Ons het daai trein gemis, want ons was te "volwasse kontemporêr" (yesterday's heroes). Die musiekbedryf het intussen grootgeword en ’n klomp kategorieë het ontwikkel. Die internet gee almal toegang om nuwe songs uit te kry ... wat goed en sleg is.

Akkedis is een van die mees ervare rockgroepe in Suid-Afrika (en die wêreld!). As jy nou staan en oor die skouer terugkyk, watter gigs of gebeure staan vir jou uit as hoogtepunte? Watter oomblikke sal jy eerder wil vergeet? Enige agter-die-skerms-gebeure te absurd om waar te wees?

Die middel-’90’s, toe ons met Valiant Swart en Koos Kombuis gespeel het, kombi's gerol het, uit karre uit geval het, die ou Wingerdstok-feeste met Dirk Uys, shows in Engeland saam met Piet en Valiant, Strab Mosambiek, ou Oppikoppi, en klein dorpies waar niemand nog gespeel het nie.

Wat hou die nabye toekoms in vir Arthur Dennis en vir Akkedis?

Ons mik vir weer oorsee toer. Nog vele albums, mal aande, en die gospel by nuwe gehore uitkry.

Wat is die sin van die lewe?

Die einde is nooit by die einde nie.

akkedis2grootweb
Albumkunswerk: Rudi Dennis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top