
Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs die wenners van die gesogte Akademiebekronings vir 2023 aangekondig. Die pryse word by twee bekroningsplegtighede in September vanjaar oorhandig. Lees Matilda Burden se huldigingswoord hier onder.
Indien enigiemand dalk sou dink dat koskultuur en ’n resepteboekmanuskrip nie materiaal vir ’n nagraadse ondersoek is nie, kan ek u verseker dat hierdie magisterverhandeling, "Die koskultuur en geskiedenis van die Westpalm-reseptemanuskrip (Manuskrip SB 522), circa 1719–1888" ’n hoogs wetenskaplike studie is en waarskynlik een van die heel bestes wat in baie jare op die vakgebied kultuurgeskiedenis voltooi is. ’n Hele aantal faktore het tot die uitnemendheid van die studie bygedra: die keuse van onderwerp; die transkripsie van die manuskrip; genealogiese navorsing om die skeppers van die manuskrip te identifiseer; ’n studie van paleografie om die ontwikkeling van handskrifte te bestudeer, wat uiteindelik moes help met die datering van die manuskrip; die ontleding van die resepte ten opsigte van bestanddele, metodes en ontwikkeling van smaakprofiele; die ontwikkeling van kombuistoerusting en gaarmaakmetodes; die rol van kruie en speserye in die Kaapse kookkuns; en ’n studie van die ontwikkeling van en veranderings in mate, gewigte en geldeenhede aan die Kaap wat ook tot datering sou bydra.
Die manuskrip wat vir die doel van hierdie ondersoek ontleed is, is geskep deur hoofsaaklik drie Kaapse vroue oor ’n tydperk van ongeveer 170 jaar. Diepgaande genealogiese navorsing is gedoen om hulle identiteite te bepaal en terselfdertyd hulle verwantskappe of verbande met mekaar bloot te lê. Omdat die manuskrip in Nederlands begin, geleidelik oorgaan in Nederlands-Afrikaans en later Engelse woorde insluit, is dit ook ’n diachroniese dokumentasie van taalontwikkeling aan die Kaap. Die verskillende handskrifte het genoodsaak dat die hele dokument noukeurig getranskribeer moes word om dit leesbaar en verstaanbaar te maak. Selfs die historiese en sosiale konteks waarbinne die manuskrip ontstaan het, is nagevors. Die navorsingsvrae wat by die aanvang van so ’n studie gestel word om die pad wat die ondersoek moet loop te rig, is knap beantwoord, sodat die bevindings uiteindelik tot ’n oorspronklike en buitengewone bydrae tot die vakgebied lei.
Die kandidaat het soveel lof van die eksaminatore ontvang dat dit onmoontlik is om alles hier te herhaal. Opgesom loof hulle haar noukeurigheid, uitstekende navorsing, ’n uiters indrukwekkende bronnelys – nie slegs wat aantal bronne betref nie, maar veral die verskeidenheid en kwaliteit van bronne, uitsonderlike argumentasievermoë, voortreflike en foutlose gebruik van Afrikaans (waarvoor die taalversorger, Marlene Cloete, ook ’n pluimpie moet kry), puik tegniese versorging en ’n insig in die onderwerp wat ver bo die gemiddelde standaard op magistervlak uitstaan.
Hetta van Deventer-Terblanche is ’n waardige ontvanger van die Protea Boekhuistoekenning. Mevrou die Ondervoorsitter, ek versoek u om die Protea Boekhuistoekenning aan haar te oorhandig.
Stellenbosch
1 September 2023
Lees ook:


Kommentaar
Uitstekende huldigingstoespraak. Briljante student.
Dankie, Matilda Burden. Werk van ‘n uitsonderlike mens.