Akademiepryse 2023: Poortprys vir Prosa – Mila van Niekerk

  • 0

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs die wenners van die gesogte Akademiebekronings vir 2023 aangekondig. Die pryse word by twee bekroningsplegtighede in September vanjaar oorhandig. Lees Thys Human se huldigingswoord hier onder.

Die trefkrag van Mila van Niekerk se weninskrywing “My grootste vrees” lê in die eenvoud, eerlikheid en uiters gefokuste opbou daarvan. Op tematiese vlak waag Van Niekerk dit om woorde te gee aan gedagtes wat gewoonlik op ’n eerbiedige afstand gehou, óf heeltemal verswyg word.

As jong skrywer slaag sy daarin om haarself – veral aan die hand van ’n besonder fyn waarnemingsvermoë – op gevoelvolle en empatiese wyse in die posisie van ánder te plaas en haar indrukke op só ’n wyse te verwoord dat nie net haar eie emosionele reaksie op die gebeure trefseker blyk nie, maar terselfdertyd ook tekenend met dié van sommige van haar leeftydgenote gekontrasteer word.

Een van die grootste verdienstes van Van Niekerk se essay is die genuanseerde wyse waarop sy haar “grootste vrees” onder woorde bring: Wat so maklik ’n eendimensionele uitbeelding van ouderdomsfobie kon wees, word eerder ’n subtiele (en meer algemene) besinning oor die onvermydelikheid van menslike verganklikheid en die slopende gang van die tyd.

Tog maak sy haar nooit aan maklike veralgemenings skuldig nie. Haar taalgebruik is deurgaans sober, gestroop en funksioneel. En uiteindelik dwing haar treffende slotinsig die leser om nie net die essaytitel nie, maar ook elkeen van haar goed gekose karakterbeskrywings in ’n nuwe lig te beskou.

“My grootste vrees” is ’n waardige wenner van die prosa-afdeling van die POORT-skryfkompetisie. Mevrou die Ondervoorsitter, ek versoek u om die Poortprys vir Prosa aan Mila van Niekerk te oorhandig. 

Stellenbosch

1 September 2023

Lees ook:

Aankondiging: Wenners van die SA Akademiepryse 2023

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top