Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs die wenners van die gesogte Akademiebekronings vir 2023 aangekondig. Die pryse word by twee bekroningsplegtighede in September vanjaar oorhandig. Lees Marius Crous se huldigingswoord hier onder.
Die stimulus vir hierdie omvattende studie was ’n opmerking deur Robert Shell en spesifiek sy verwysing na die Kaapse slawe en hul kreoolse kultuur, wat tot op daardie tydstip nog nie behoorlik ondersoek is nie. Die Kaapse slawe het inderdaad ’n deurslaggewende rol gespeel in die sosio-ekonomiese en kultuurlewe van die Kaap en het ’n sterk invloed gehad op feitlik alle terreine van die samelewing. Baie van ons ken die slawe se nalatenskap in die geurige Kaapse kookkunstradisie, maar die slawe se invloed strek veel verder: Hulle is medegrondleggers van die Afrikaanse taal, medeskeppers van die Kaapse boukuns en ’n eiesoortige meubelkuns, en die grondleggers van ’n uitbundige musiekkultuur in die Kaap.
Maar hulle was ook die ruggraat van die koloniale projek aan die Kaap, want hulle moes, soos Van Riebeeck dit gestel het, “het vuijlste ende swaerste werck in plaetse van de Nederlanders” doen.
Die skrywer huiwer nie om die pyn en lyding wat met slawerny gepaard gaan, toe te lig nie, maar is veral verwonderd oor die geestesgoedere wat uit hierdie onmenslikheid voortgespuit het. Sy gebruik die metafoor van die feniks wat uit die as verrys en kom tot dié gevolgtrekking:
Uit die pynlike en onmenslike stelsel van slawerny het wel iets goeds vir die Suid-Afrikaanse nasie voortgekom; het ’n feniks inderdaad triomfantlik uit die as herrys om die simbool te word van die mens as kultuurdraer en -skepper te midde van onderdrukking en stryd in ’n onbekende, selfs onvriendelike, multikulturele sosiale milieu en om as bewys te dien dat die dinamika van kultuur as menslike attribuut onstuitbaar en onvernietigbaar is.
Hierdie studie is vir my meer as ’n poging tot regstelling van ons Eurosentriese kultuurhistoriese verlede.
Ons moet in gedagte hou dat hierdie toekenning nie vir ’n historiese studie gemaak word nie, maar vir niefiksie, en dan meer spesifiek literêre niefiksie. Vir my is die ineenwewing van die verskillende stemme in die boek, hetsy uit Nederlandse dagboeke, woordelyste van Kaaps Maleise woorde of die stem van die ondersoeker, ’n aanwins.
Mevrou die Ondervoorsitter, ek versoek u nou om die LW Hiemstraprys vir Niefiksie aan Eunice Visser te oorhandig vir haar boek Die Kaapse slawe 1652–1838 – ’n kultuurhistoriese perspektief.
Stellenbosch
1 September 2023
Lees ook:
Die Kaapse slawe, 1652–1838: ’n Kultuurhistoriese perspektief by Eunice Bauermeester: book review