Akademiepryse 2023: Havengaprys vir Lewenswetenskappe – GM Wolfaardt

  • 0

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs die wenners van die gesogte Akademiebekronings vir 2023 aangekondig. Die pryse word by twee bekroningsplegtighede in September vanjaar oorhandig. Lees Alf Botha se huldigingswoord hier onder.

Gideon Marius Wolfaardt is ’n plaaskind, wat in die boendoes van KwaZulu-Natal (sy eie woorde) grootgeword het. Die natuur is sy lewensbloed, en al sou dié kaalvoet Natallertjie hom sy lewenspad nie in sy wildste drome kon voorgestel het nie, het daardie einste paar stowwerige pootjies diep spore in die akademiese wêreld getrap.

Gideon Wolfaardt is internasionaal bekend as ’n mikrobioloog. By ons, by die Universiteit Stellenbosch, is hy die direkteur van die Universiteit Stellenbosch Waterinstituut (SUWI); beklee hy die Rand Water Navorsingsleerstoel in Openbare Gesondheid en ook die ERWAT Navorsingsleerstoel in Afvalwaterbestuur in die Departement Mikrobiologie. Hierbenewens het hy ’n gesamentlike aanstelling as professor in omgewingsmikrobiologie by Ryerson Universiteit in Toronto, Kanada, en is hy medeprofessor in Ryerson se Departement Toegepaste Chemie en Chemiese Ingenieurswese.

Hy is ’n besige man, wat ten spyte van meer as 100 ewekniebeoordeelde artikels en hoofstukke in boeke, en agt patente agter sy naam, steeds tyd vind om gereeld wêreldwyd as genooide spreker op te tree.

Sy navorsing fokus hoofsaaklik op die behandeling en bestuur van water, die voorkoms en impak van mikrobesoedelingstowwe, infeksiebeheer, die mikrobiese omskakeling van biomassa, die bestuur van mynuitskothope en kernafval, en die voorkoms en gedrag van mikroörganismes in die omgewing.

Wat belangriker is, is dat sy navorsing dringende omgewingskwessies aanspreek. Sy span ondersoek vraagstukke soos die kommerwekkende toename in kontaminante in afvalwaterafloop; die voorkoming van grondwaterkontaminasie in die konteks van klimaatsverandering; en die verhoging van die biogebaseerde industriële voermateriaal op marginale grond. Hierby bestuur hy ook ’n Suider-Afrika-Duitse samewerkingsprojek op die gebied van watersekerheid in Afrika.

Sy navorsingspan is ook die eerste groep uit Afrika wat deelneem aan die sogenaamde Sewage Analysis CORe Group Europe- (Score-) projek, wat afvalwaterdeur middel van menslike biomerkers monitor. As sodanig was sy groep tydens die COVID-19-pandemie betrokke by die monitering van afvalwater vir die teenwoordigheid en toename van SARS-Cov-2 in bepaalde gebiede, wat as ’n vroeë waarskuwingstelsel gedien het.

Gideon is ’n passievolle, plat-op-die-aarde navorser met ’n byna bomenslike werksetiek. Hy is vrygewig met sy kundigheid, en skroom nie om boere te help om hul waterprobleme op te los, sonder om enigiets terug te verwag nie.

Sy bydrae tot die wetenskap, sy kundigheid en vernuwing, sy leierskap, wetenskaplike vrygewigheid en die uitmuntende voorbeeld wat hy aan ’n nuwe generasie wetenskaplikes stel, maak hom ’n waardige ontvanger van die Havengaprys vir Lewenswetenskappe.

Mevrou die Ondervoorsitter, ek versoek u om hierdie gesogte prys aan my vriend en kollega, Gideon Wolfaardt, te oorhandig.

Stellenbosch
1 September 2023

Lees ook:

Aankondiging: Wenners van die SA Akademiepryse 2023

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top