Akademici in Afrikaans

  • 1

Die jaar 2015 kan in die geskiedenisboeke van universiteite in Suid-Afrika  opgeskryf staan as die jaar van taalstryde, met US, UV en UNW wat die opskrifte haal. Sekere geskiedenisboeke sal in besonderhede die taalstryd om Afrikaans dokumenteer, terwyl ander verwysings sal insluit na die groei in Engels en die afwesigheid van enige vordering met die groei van ons ander nege amptelike tale as tale van hoër onderwys. Verengelsing is die nuwe hoofstroom. Die geskiedenis sal ook seker opmerk watter debatte nie gevoer is nie, en hoe sommige stemme eerder agter die skerms werk as in die openbaar. 

2015 is natuurlik nie noodwendig ’n waterskeidingsjaar nie. Die waterskeiding van besluite oor die taalmedium van hoër onderwys, kom nog. Hierdie is ’n jaar waarvan die mylpale in die groei van veeltaligheid van universiteite of gebrek daaraan, nog benoem gaan word.

Dit blyk dat universiteite ooglopend baie verantwoordelik optree wanneer dit kom by taalbeleide, en almal doen die polities-korrekte ding – gee voor dat hulle veeltalig is, ten minste op papier. Inrigtings volg die regte prosesse: ondersoeke word gedoen oor die taallandskap van die inrigting, konsultasies met belangegroepe word gehou, ontleding van regeringsvoorskrifte word gedoen, taalkomitees en taaldienste word tot stand gebring, taalbeleide word geformuleer, en goedkeuring word verkry deur al die strukture van die universiteit, wat personeelvergaderings, die senaat en die raad insluit. Die resultaat is op elke inrigting se intranet te sien, in die vorm van taalbeleide en -strategieë, met duidelike uitnodigings om die beleidsimplementering te monitor en te evalueer.

Die UJ is ’n goeie voorbeeld. Die institusionele prosesse is voltooi tot op die punt van uitnodigings om kommentaar op die strategie en implementering van die viertaalbeleid te lewer. Op skrif (Times New Roman 12, reg vir uitdruk in swart op skoon of gebruikte wit papier) is alles onder beheer – die universiteit gaan die vier tale Engels, Zoeloe, SeSotho sa Leboa en Afrikaans gebruik. Dosente het hulle laaste klasse in Afrikaans alreeds ses jaar gelede aangebied, maar daar is geen nuwe klasse in Zoeloe en Sotho nie – steeds nie. Die aanbod dat ander tale wel ruimte het, bestaan net op papier. Die situasie by die meeste ander universiteite is soortgelyk, soos in die geval van US en UNW en UV, waar prosesse van vordering na meertaligheid nog in die media bespreek word.

Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding kan bevestig wat die frekwensie is van voertaal per kursus aan al die land se universiteite. My raaiskoot (en ek staan onder korreksie): vir elke 100 kursusse wat aan al die Suid-Afrikaanse universiteite aangebied word, is gemiddeld 95 in Engels, 4 in Afrikaans en 1 in enige van die ander amptelike tale, taalkursusse uitgesluit. In sekere vakrigtings, soos ingenieurswese en medies, is die voertaal 100% Engels.

Indien dit waar is, dan is hier ’n kritieke agendapunt, ’n dringende een, vir beleidmakers. Waar/wat is die taalbeplanning? Wat is die regstellende aksie wat nodig is? Waar is die transformasieplanne om geregtigheid in taalvoorkeur en -groei te bewerkstellig?

Mens wil dit nie graag sê nie, maar dis asof die institusionele prosesse by die stoele bly rondskuif terwyl die titaniese “taalskip” sink. Die grootste reddingsboot is die een vir Engels, terwyl die een vir Afrikaans vol gate is. Die reddingsbote vir die ander tale is onklaar; by voorbaat so gelaai op die taalskip.

Dit gaan dalk help om te vra waar is elke taal se akademici op hierdie taalskip. Diegene wat van meet af Engels hulle kennisontwikkelingstaal gemaak het, is in die groot banketsaal net onder die dek. Met vol eetsaal, kos, musiek, loofsprekers en deftig-geklede medetaalsprekers.

Waar is die akademici wat Sotho sa Leboa, Sotho, Tswana, Zoeloe, Ndebele, Xhosa, Tsonga, Venda, Siswati as hulle taal gekies het, of wil kies, en as akademiese taal laat groei? Hulle is oënskynlik nie op die taalskip nie?

En: waar is die akademici wat in Afrikaans werk of gewerk het? Watter rol speel hulle in die sinkende taalskip van Suid-Afrika wat net op die reddingsboot Engels plek het?

Hulle is sekerlik ’n baie gemengde groep. Daar is die tradisionele Afrikaans-nasionales – die patriotte van eksklusiwiteit wat so suksesvol bygedra het tot die bou van die algemeen-beskaafde Afrikaans. Hiervan getuig die akademiese handboeke vol nuutskeppings wat op die Amerikaanse-Engelse standaard verbeter het.

Hierdie Afrikaanssprekende akademici werk nou in Engels. Hulle bondgenote is die akademici wat in Engels werk en die Amerikaans-Europese kennistradisies ondersteun. Van huis uit praat sommiges Afrikaans, dink in Afrikaans, maar skryf net in Engels. Laasgenoemde is die groep vol skuldgevoelens oor hulle lang storie van uitsluiting, ontkenning, miskenning van anderstalige intellektuele. Hulle was geokkupeer deur en verdwaal in die Europese debatte oor wat goeie wetenskap is. Die akademiese woorde wat hulle in Afrikaans geskep het, is in onbruik, en aan die wegraak. Niemand gebruik dit meer nie. Niemand bou daarop voort nie. Enkeles skryf wel nog hulle beste werk in Afrikaans, in tydskrifte soos LitNet Akademies, maar dan is daar diegene wat hulle beste werk vertaal en in Engels publiseer. Die huidige stelsel van die onderwysdepartement en die inrigting beloon hierdie praktyk met geld.

Dan is daar die groot groep wat nie deel was van die genoemde stroom van eksklusiwiteit nie. Dis die struggle-akademici wat Afrikaans gepraat het by UWK en elders, maar hulle nou beywer vir Engels. Hierdie is die geslag van Afrikaanssprekendes wat met reg vanweë ervarings van diskriminasie geen emosionele verbintenis het met die moontlikheid dat Afrikaans ’n akademiese taal is nie. Hulle het ook geen kennis en vaardigheid om eg Afrikaïes in ons plaaslike tale hulle akademiese merk te maak nie, want hulle het in Afrikaans grootgeword. Daarom is die enigste opsie Engels, wat in effek beteken dat Engels die voorkeurtaal vir die meerderheid Afrikaanssprekende akademici in Suid-Afrika  is. Dit sluit in kollegas wat van huis uit Afrikaans praat, maar sosiaal eerder die Engels doen.

Taalsosioloë het al die kompleksiteit van taalhoudings uitgewys – hoe mense op grond van negatiewe geleefde ervarings van miskenning van hulle menswees hulle taalvoorkeure stel en uitleef. Houdingsveranderings is onbegonne, soos die geskiedenis al uitgewys het.

Daar is egter die groter prentjie: universiteite leef in ons huidige tydsgewrig, volgens Achille Mbembe van Wits, in die tyd waar tersiêre inrigtings gedekoloniseer moet word, verby die plaaslike debatte oor Rhodes. Dekolonisering behels ’n wegbreek van Westerse kennisdominasie, die Westerse manier van doen, ook in Engels. Universiteite leef met die uitdaging van kennistransformasie, ’n era van kennis in al ons tale geformuleer. Dis die era waar universiteite in die volle sin van die woord meertalig is en die dieper geskiedenis van menswees ondersoek, die gemeenskaplike “human mutuality”, die nierassistiese era van epistemiese diversiteit in wat Mbembe die “pluriversity” noem.

Hier is ruimtes vir ware meertaligheid, op nuutgeskepte wyses wat nuwe beleide en houdings en samewerking nodig het. Die dimensies, moontlikhede en waarde van meertaligheid moet nog ontgin word. Hiervoor hoef mense nie almal op die reddingsboot Engels klim nie, maar kan eerder plek maak vir al die tale op die taalskip van die land se universiteite.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    'n Uitstekende en tydige artikel. Die enigste ander plek waar soortgelyke voorbrand vir Afrikaans as akademiese taal gemaak word, is Praag; veral sommige van Leon Lemmer se rubrieke. Een van die groot misteries is waarom Afrikaansdosente hulle nie verwerdig om vir Afrikaans in die bres te tree nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top