Akademici gesels ’n hond uit ’n bos

  • 0

Wat lê op die loer met die kongres oor honde in die literatuur van Suider-Afrika, Universiteit Stellenbosch, 11–12 April 2017?

Andries Visagie

Kort voor die Paasnaweek kom ’n groep van sowat 20 navorsers wat op die terrein van mens-dier-studie werksaam is by die Universiteit Stellenbosch (US) byeen om hul jongste navorsingsresultate oor honde in die Suider-Afrikaanse literatuur voor te lê. Die kongres is ’n voortsetting van die kongresse wat Wendy Woodward jaarliks by die Universiteit van Wes-Kaapland oor mens-dier-studie gereël het. Referate in Afrikaans en Engels sal gelewer word. In 2017 is Andries Visagie en Joan-Mari Barendse van die Departement Afrikaans en Nederlands by die US met die samewerking van Dan Wylie en Sam Naidu van die Departement Engels by Rhodes-universiteit vir die organisasie van die kongres verantwoordelik. Weens die beperkte aantal sitplekke in die kongreslokaal is die kongres nie oop vir die breë publiek nie. In die aanloop tot die kongres is daar egter ’n oop geleentheid waar belangstellendes meer te wete kan kom oor die fassinerende rol van honde in die literatuur en in ons ervaring van ons bestaan op aarde. Op 6 April om 13:00 in die Lettere en Sosiale Wetenskappegebou (kamer 693) op die US-kampus tree Andries Visagie naamlik in gesprek met Karla Armbruster oor haar werk met die titel Walking with wildness: Dogs and what they can teach us about living on an endangered earth.

Die hoofspreker is eweneens Karla Armbruster van die Webster-universiteit in St Louis, Missouri. Haar referaat “Dog stories, domestication, and our feral future” sal kwessies oor domestisering en verwildering wat op sowel menslike as niemenslike diere van toepassing is, verken. Volgens Armbruster is dit nodig dat mense, in die lig van die uitdagings wat die Antroposeen bied, besin oor wat dit mag beteken om weg te beweeg van domestisering. Sy sal aandag skenk aan literêre representasies van ons oudste makgemaakte metgesel, die hond, om na te gaan hoe hondeverhale ons kan help om insig te verwerf in die waardes wat die stoomrollereffek van domestisering voorgedryf en versterk het. Verder sal sy in haar fokus op Eva Hornung se roman Dog boy aandag skenk aan ’n toekoms van groter verwildering waarop ons êrens binne die onsuiwer grensgebied tussen beskawing en wildheid mag besluit as ’n moontlike oplossing vir ons bestaan op ’n vernielde planeet.

Die kwessie van honde en onsuiwere grense sal ook vir Henrietta Mondry van die Universiteit van Canterbury in Nieu-Seeland van belang wees in haar referaat “‘We are all souls’: Dogs, dog-wo/men and borderlands in Disgrace and Tyulkin’s Not about dogs”. Sy sal in haar aanbieding fokus op die grensgebiede in postapartheid Suid-Afrika en in Kazakstan ná die beëindiging van die Sowjetperiode. Sy sal aanvoer dat die werk van beide JM Coetzee en Tyulkin mens-dier-korrelasies benut om die vraag na die ontologiese status van die hond ten opsigte van mense te ondersoek soos dit uitgelok word deur die noodsaaklikheid daarvan om te herbesin oor wat dit beteken om mens te wees in samelewings wat traumatiese verandering ondergaan. Sy sal haar referaat met opmerkings oor honde as ’n grensspesie afsluit, ’n onderwerp wat ook in die referaat van Andries Visagie sal figureer.

In sy referaat “Honde en (de)territorialisering in Willem Anker se grensroman Buys” sal Andries Visagie op die spoor gaan van Willem Anker se unieke ondersoek na die belang van grondgebiede en grense in die ontstaansgeskiedenis van Suid-Afrika. Anker se uitbeelding van die dissidente Voortrekker Coenraad de Buys, wat in die vroeë 19de eeu vir sy aandeel aan die Oos-Kaapse grensoorloë tussen wit setlaars en Xhosagroepe berug geword het, is nou verbonde aan sy fiksionele uitbeelding van ’n trop verwilderde honde wat Buys in sy tog van oorname en vernietiging vergesel. Visagie se referaat sal kortliks stilstaan by die die troop van die hond in verhale oor oorname en (de)territorialisering in die Suid-Afrikaanse literatuur, gevolg deur ’n verkenning van Anker se siening in Buys van die voortgesette roofdieragtigheid wat die prestasies van die beskawing in Suid-Afrika kenmerk.

Die gevierde skrywer en vertaler Michiel Heyns sal as gas by die kongres gedeeltes uit sy Engelse vertaling van Buys met die werkstitel Red Dog voorlees. Sy opmerkings oor enkele van die uitdagings waarmee hy te kampe het in die vertaling van die Buys-honde se name sal na verwagting ’n lewendige bespreking tot gevolg hê.

Michiel Heyns

Dan Wylie se “‘Aunty Marsha, they killed the dogs!’: Land, literature and canines in post-2000 Zimbabwe” sal ook op die verstrengeling van honde, grond en gebiedsgeskille in Suider-Afrika fokus. In sy studie van romans en niefiksionele verslae oor grondoornames in Zimbabwe sal Wylie lig op die ervaring van diere tydens grondhervorming werp. Hy sal aantoon dat in hierdie tekste vee, wild en mak diere dikwels in die middelpunt van die gebeure staan – onontbeerlik vir die oorlewing van mense en ten nouste deel van hul emosionele verbintenisse. Sy referaat sal fokus op die tasbare, maar tot dusver onopgemerkte, aanwesigheid van honde in tekste oor grondhervorming.

’n Eietydse Afrikaanse roman wat ’n aansienlike hoeveelheid aandag sal geniet, is Op ’n dag, ’n hond van John Miles. Adéle Nel van Noordwes-Universiteit sal kyk na die implisiete verband wat in die roman tussen mense, honde en die dood tot stand kom. Dit lei tot ’n posthumanistiese lesing waarin die beliggaamde gemeenskaplikhede van mens en dier (hond) beklemtoon word. In haar referaat “Die politiek van die mens-hond-verhouding in Op ’n dag, ’n hond van John Miles” sal sy aanvoer dat ondanks die verskille tussen menslike en niemenslike diere, dit in die roman moontlik word om op grond van gedeelde liggaamlike mortaliteit, verbintenis of relasionaliteit te konstitueer. In ’n ander referaat, “Dogs as guides and witnesses in contemporary fiction with specific reference to John Miles and Michel Houellebecq”, sal Catherine du Toit van die US ’n vergelykende studie tussen Op ’n dag, ’n hond en La possibilité d’une île (Die moontlikheid van ’n eiland) deur Michel Houellebecq onderneem.

Minder bekende of vergete boeke sal opgediep word om vars, kritiese aandag vanuit die mens-dier-studie te geniet. Een voorbeeld hiervan is Joan-Mari Barendse se referaat “Oswald Pirow’s Ashambeni (1955): a tale of dogs, humans and werewolves”. In haar referaat sal sy ondersoek instel na die rol van die hond Ashambeni in Pirow se uitbeelding van ’n wêreld waar die ineenstrengeling van diere, mense en die bonatuurlike nie as buitengewoon nie, maar as vanselfsprekend voorgestel word. Ná die dood van sy eienaar en sy ma word Ashambeni deur Maskakatsi, ’n jong Maluleke-hoofman, gevind en aangeneem. Maskakatse en Ashambeni jag, veg en oorleef tesame. Een van hulle oorlewingstrategieë word Ashambeni se nabootsing van die baloyi (’n soort weerwolf) waardeur hulle vyandige elemente verwilder.

Die kongres sal afsluit met ’n referaat deur die historikus Sandra Scott Swart van die US wat met Lance van Sittert as mederedakteur die boek Canis Africanis: a dog history of Southern Africa (2008) saamgestel het. In haar referaat “Rex vs Rex – the sate, the dog, and the nature of evidence” sal Swart die lang en omstrede geskiedenis van honde in wetstoepassing in Suid-Africa nagaan. Haar aanbieding sal die lewensverhale van enkele honde (Sauer, Maxim en Bosco) insluit ter illustrasie van die verskillende maniere waarop honde in Suid-Afrika met die verloop van tyd vir uiteenlopende doeleindes opgelei is. Haar referaat sal vrae oor die veranderlike rol van honde in forensiese opsporing opper en sy is van voorneme om aan opvattings oor die werksaamheid van honde oor die afgelope eeu aandag te skenk.

Hierdie referate is slegs ’n hand vol van die talle interessante aanbiedings by die kongres.

In sy “Forschungen eines Hundes” (“Navorsing van ’n hond”) skryf Franz Kafka: “Alle kennis, die totaliteit van alle vrae en antwoorde, is opgesluit in die hond.” Dit mag na ’n oordrewe stelling klink, maar hierdie kongres sal vermoedelik sommige van die geheimenisse wat in die hond opgesluit is en gereeld die inspirasie vir skrywers in Suider-Afrika is, begin ontrafel.

Foto's: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top