AKA 2016: My indrukke van die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam

  • 1

So elke dan en wan pak die moedeloosheid oor die stand van Afrikaans, en die dikwels onnadenkende maniere hoedat Afrikaanssprekendes mekaar vertrap, my, sodat ek half moedswillig vir ’n dag of twee net in Engels wil kommunikeer.

Dis egter wanneer ek tussen ’n groep ekspats beland, en kyk hoe hongerig hulle als wat Afrikaans is verorber, dat ek my eie bevoorregte situasie verstaan. Ja, hulle verdien in euro’s en hulle hoef nie hulle kop in skaamte te laat sak elke keer wanneer die president sy mond oopmaak nie. Die prys wat hulle betaal, in terme van taal en identiteit, is egter duur.

Dit het ek weer hierdie afgelope paar dae in Amsterdam besef. Suid-Afrikaners vanuit Spanje, België, Engeland en Frankryk, en natuurlik dwarsoor Nederland, het bymekaar gekom vir die Afrikaanse Kultuurfees. Hulle het bymekaar gekom om als wat uitstekend is omtrent hierdie omstrede taal van ons te vier. Plus, natuurlik, om te eet. Die biltong en droëwors wat in die gebou langs die Compagnieteater gemaak word, hoef nie terug te staan vir eniges wat in Suid-Afrika gemaak word nie. Hulle kan egter hulle ou skoene agterna gooi vir regte, egte Kaapse samoesas.

Dis ongelooflik wat ’n groep vrywilligers kon regkry, als vir die liefde van die saak. Nie een van hulle word betaal nie, en ek weet hulle het hard gewerk. My kamermaat, Aurelia Nell, is ’n regsadviseur by een van die groot banke in Nederland. Sy het verlof geneem om te kon uithelp by die fees. Johan Sloet De Villiers was altyd gereed en bereid om te vervoer, te help, alles makliker te maak vir ons kunstenaars. Hy bestuur in sy ander lewe ’n supermark. Een Nederlander, Maurice Jorissen, het sy boot beskikbaar gestel om ons Amsterdam vanaf die water te wys. Arme Maurice het my ook een aand agterop sy fiets gelaai en deur Amsterdam se strate gery, maar dis ’n verhaal vir ’n ander dag! Carina Claassens het omtrent nie grond gevat soos sy oral gelyk probeer wees het nie, maar altyd met ’n glimlag. Vir ons skrywers was Annemarie van Niekerk die persoon wat in ’n oogwink als kon regkry.

Die kunstenaars was ook van absoluut uitstaande gehalte. Op die vlug van Johannesburg na Doha het ek langs Nicola Hanekom en Stian Bam gesit, en geluister hoe hulle repeteer aan Trippie. Ook maar goed so, want ek kon nie een enkele vertoning bywoon nie – dit het elke keer met my eie besprekings oorvleuel.

Die Kaapse Maleierkoor het op Schiphol-lughawe die Nederlanders in vervoering gehad met hulle weergawe van “Daar kom die Alibama”, en elke dag daarna het hulle een of ander liedjie buite die teater gesing. Ek het een oggend verdwaal tussen al die gragte. Toe ek stilstaan om my te probeer oriënteer, hoor ek net manstemme in Afrikaans sing, met ’n banjo teenaan. Ek kon net al agter die klank aanloop tot ek die manne in hulle rooi baadjies voor die teater sien staan het. Klanke uit Afrika wat my begelei in die vreemde.

Die Kaapse Maleierkoor sing spontaan op Schiphol-lughawe. Foto: Bettina Wyngaard

Daar was veel te kus en te keur, en al die aanbiedinge was van hoogstaande gehalte. Dit was bloot onmoontlik om alles by te woon wat ek wou bywoon, want op enige gegewe moment was daar drie produksies gelyktydig aan die gang in die Compagnieteater. Dis nou bo en behalwe die produksies by Melkweg en Zuid-Afrikahuis.

Ingrid Winterbach en Ena Jansen het fassinerende onderhoude met mekaar gevoer, onderskeidelik oor Vlakwater en Soos familie. Die voordragte deur Antjie Krog en Tom Lanoye was ’n kragtoer wat my nou nog, by die blote gedagte daaraan, in hoendervleis laat uitslaan. Marita van der Vyver wat kletsrym was ’n sonderlinge plesier. So ook haar voorlesing uit Die blou van onthou.

Sink was die enigste fliek wat ek gekyk het. Ek kon eenvoudig nie enigiets anders kyk nie. Toe ek uit daardie teater stap, het ek gevoel asof ek aan bomskok ly. Met gehalteflieks soos daardie hoef ons geen enkele aks vir Hollywood terug te staan nie.

Ook die paneelbesprekings was van hoogstaande gehalte. Ek het aan twee panele deelgeneem. Die eerste een het gehandel oor my eie skryfwerk, en die paneel het bestaan uit die Nederlanders Bart Luirink, ’n menseregte aktivis, die akademikus Kees Neefjes, die Suid-Afrikaanse diplomaat Lindsay Louis en ek self.

Die tweede paneel, wat oor die stand van Afrikaans, veral by universiteite, gehandel het, was in die uiters bekwame hande van Michael le Cordeur (US), Anne-Marie Beukes (UJ) en Harry Wels, onder die leiding van Eep Francken. Laasgenoemde twee is gerekende Nederlandse akademici. Dit het my telkemale opgeval hoe goed ingelig die Nederlanders oor Suid-Afrika is, in sommige opsigte selfs meer as die gemiddelde Suid-Afrikaner.

Untitled-2

Eep Francken, Michael le Cordeur en Bettina Wyngaard. Foto: Elize Zorgman. Klik hier vir nog van haar feesfoto's.

Dan was daar die musiek. O, die musiek.

HemelBesem. Les Javan. Tribal Echo, ’n groep wat nog diep spore gaan trap, wat mense in die gange laat dans het. Yoma wat ontstig en ontroer het met haar digkuns. Jack Parow. Emo Adams. Francois van Coke. Majozi. Die Kaapse Maleierkoor.

Sensoriese oorlading.

Die gehalte was regtig uitsonderlik hoog. Hierdie was maar ’n klein proeseltjie van alles wat aangebied was. Die fees was soos ’n sewegangmaal waarvan ek net hier en daar kon proe, maar in die wete dat daar belofte van veel meer is.

"Onner Afrika Son": Tribal Echo het die gehoor op hul voete gehad. Bettina Wyngaard het opgestaan om saam te jive. Foto: Imke van Heerden. Klik hier vir Imke van Heerden se feesalbum.

Dit was natuurlik nie net alles werk nie, in soverre as wat dit werk kan wees om jou te vergryp aan kuns in al sy vorme.

Die Compagnieteater is op die drumpel van die rooilig distrik. Sekswerkers in hulle raampies. Coffeeshops en die soet walms wat jou alreeds op die sypaadjie begroet. Fietse wat doodsveragtend oral jaag. Tulpe en ander bolplante in die daktuine. Huisbote. Die smal, hoë trappies in geboue. Bote op die gragte. Die biblioteke. Die museums. Dit alles maak van Amsterdam die vreemde en uitsonderlike plek wat dit is.

’n Persoonlike hoogtepunt was die ete saam met Ingrid Winterbach, Antjie Krog en Ena Jansen enkele ure voordat Ena gehoor het sy’t die UJ-prys gewen vir Soos familie.

Dit was die perfekte triomfantelike afsluiting van ’n bielie van ’n fees.

Tot volgende keer.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    pearl van der walt

    Baie lekker gekuier met Bettina by Maurice na die boottog ... ons het haar gekaap. En die fietsryery ... geniet nog daarvan. Maurice is 'n fantastiese gasheer. Die fees was fantasties en kunstenaars uit die boonste rak ... kan nie wag vir die volgende fees nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top