- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
In ’n houtskooltekening deur William Kentridge lê ’n verwoeste landskap – die oorblyfsels van oorlog is in vae grys en swart uitgewerk. Tussen die puin loer ’n afgekapte kop uit, geleen by Géricault se Guillotined heads, soos ’n groteske monument. Onderaan verskyn die woorde “This is a fair idea of progress” – onmisbaar ironies. Hier beteken vooruitgang nie groei of vernuwing nie, maar vernietiging. Kentridge ondersoek dikwels koloniale en apartheidsgeskiedenisse in sy werk en wys hier hoe maklik “vooruitgang” eintlik brutaliteit kan verdoesel. Die Kaboom!-reeks, waaruit hierdie tekening kom, is rondom die honderdjarige herdenking van die Eerste Wêreldoorlog gemaak en dit belig die oorlog se vergete Afrika-slagoffers en spot met Europa se sogenaamde beskawingsmissie.
Die ironiese toon van “This is a fair idea of progress” word dikwels aangetref in Suid-Afrikaanse kuns en letterkunde. Kunstenaars wys op mislukkings uit die verlede én die hede. Vooruitgang is in hierdie kulturele wêreld iets wat bevraagteken, ontleed en selfs bespot word – selde iets wat met hoop verbeel word.
Hierdie kritiese ingesteldheid het diep wortels. Koloniale onteiening en apartheid het gelei tot ’n kunstradisie wat skerp, satiries en wantrouig is teenoor groot beloftes. Skilderkuns, beeldhouwerk, drama en romans is wapens om onreg en morele verval bloot te lê. Hierdie tipe eerlikheid het beslis sy plek, maar dit kan ook ’n beperking word wanneer verbeelding nodig is. Ná ons land se politieke bevryding is die vraag nou: Hoe droom ’n samelewing van materiële vooruitgang? Wie verbeel(d) ’n toekoms wat werklik voorspoedig is?
Suid-Afrika het al internasionaal bekroonde skrywers opgelewer, van Nobelpryswenners tot grensverskuiwende wetenskapsfiksie-outeurs. Wat hierdie skrywers gemeen het, is ’n fokus op ons gebroke geskiedenis, morele mislukkings en dreigende verval, eerder as op hoe die land wérklik vorentoe kan beweeg.
JM Coetzee se romans is ’n goeie voorbeeld. In werk ná werk beeld hy samelewings uit wat vasgevang is in etiese doodlope of stadige verval, eerder as op pad na herlewing. Waiting for the barbarians (1980), Life & times of Michael K (1983) en Disgrace (1999) wys elkeen op hul eie manier hoe vooruitgang – polities, ekonomies of moreel – telkens buite bereik bly. In hierdie wêrelde is verbetering vlugtig of misleidend; die toekoms is iets om te verduur, nie iets om doelbewus te vorm nie.
Ander groot skrywers deel hierdie kritiese ingesteldheid. Zakes Mda plaas byvoorbeeld vooruitgang en tradisie direk teenoor mekaar in The heart of redness (2000). ’n Landelike Xhosa-gemeenskap word verdeel oor ’n voorgestelde casino en toeristeoord. Die “ongelowiges” sien werkskepping en moderne geriewe; die “gelowiges” vrees die verlies van kultuur en ’n toekoms van ondergeskikte dienswerk. Die roman trek ’n duidelike parallel met die beesslagting van 1856, toe ’n belofte van verlossing op massaverhongering uitgeloop het. Waar mense destyds hul beeste prysgegee het in ’n rampspoedige weddenskap op bevryding, wil hulle nou grond en tradisie opoffer vir glinsterende “vooruitgang”.
Distopiese fiksie en donker allegorieë word dikwels geassosieer met skrywers wat hulle aan spekulatiewe fiksie of satire waag. In Moxyland (2008) deur Lauren Beukes word ’n Kaapstad verbeel wat oorheers word deur alomteenwoordige korporatiewe toesig en biotegnologie wat bestaande ongelykhede net verder verdiep. Ivan Vladislavić, bekend vir sy kreatiewe blik op Johannesburg, werk met herinnering, fragmentasie en die absurditeite van oorgang: Karakters katalogiseer die rommel van stedelike hernuwing of sukkel om betekenis te vind in die postapartheidse warboel.
By Damon Galgut word ’n afgeleë plattelandse hospitaal in The good doctor (2003) ’n simbool van postapartheidse teleurstelling, ’n tema wat in The promise (2021) voortduur – ’n titel wat ’n beter lewe beloof, maar dit oor dekades laat wegdryf. Vladislavić vermy eweneens geïdealiseerde toekomsbeelde. Galgut gebruik in The good doctor ’n afgeleë plattelandse hospitaal om die teleurstellings van die postapartheid te wys; in The promise (2021) word daardie belofte van ’n beter lewe weer gemaak, en weer nie nagekom nie.
Selfs niefiksie is selde optimisties. Onlangse boeke oor staatskaping, korrupsie en fluitjieblasers is, vanselfsprekend, verhale oor hoe naby die land aan die afgrond gekom het. Jonny Steinberg het ’n loopbaan gemaak daarvan om Suid-Afrika se postapartheidse werklikhede, soos misdaad, armoede, Vigs, xenofobie, deur verhalende niefiksie te ontleed. Werke soos Midlands, The number, Three-letter plague en A man of good hope is meesleurend en menslik, maar rig hul soeklig op huidige sosiale kwale eerder as op toekomstige oplossings. Klein brokkies hoop lê hier in individuele veerkragtigheid – nie in ’n groter visie van nasionale vooruitgang nie.
Sedert die dae van protesliteratuur is die skrywer se taak, meen Nadine Gordimer, om “’n situasie só eerlik te beskryf dat die leser dit nie meer kan ontwyk nie”. Hierdie etiese verbintenis tot realisme, saam met ’n wantroue in groot, oorhoofse, nasionale narratiewe, het ’n literêre kultuur opgelewer wat uitblink in morele en sosiale kritiek, maar sukkel om grootskaalse, positiewe verandering te verbeel. Elleke Boehmer beskryf dit as ’n “kompulsiewe besinning oor pyn, en nóg meer pyn”.
Min skrywers waag dit om ’n beeld te skets van vooruitgang. Min droom hardop oor hoe ’n florerende Suid-Afrika sou kon lyk – waar mense armoede oorwin en meer voorspoedig, vry, of innoverend kan leef. Die verbeelding word eerder bestee aan waarskuwingsverhale en anti-utopieë. Fiksie vra meestal: “Wat as alles skeefloop?”, eerder as: “Wat as ons dit regkry?”
Hierdie kritiese refleks is wel nie uniek aan Suid-Afrika nie. Oor die twintigste eeu heen het distopiese fiksie toenemend bepaal hoe die toekoms voorgestel word. Margaret Atwood skryf dit toe aan die opeenvolgende mislukking van die een “utopie” ná die ander, wat dit “moeilik maak om geloof te heg aan die konstruksie van utopieë, literêr of andersins”.
In vroeër eeue was kuns wel vol utopiese beelde. Nie elke droom het uitgewerk nie, maar deur vooruitgang te verbeel, is mense se begrip van wat moontlik is, verskuif. Só is ruimte geskep vir werklike vooruitgang. ’n Treffende historiese voorbeeld kom uit ’n onwaarskynlike bron: ’n reeks gravures wat reeds in 1588 verskyn het. Virginia Postrel wys dat die Renaissance-boek Nova Reperta, met 19 beelde van onlangse uitvindings soos die kompas, die drukpers en wind- en waterkrag, die saak vir vooruitgang gemaak het deur te wys en nie te vertel nie.

Nova Reperta deur Jan Collaert I, MET.
Die titelblad is vol simboliek: Die figuur van die toekoms wys na die Amerikas, terwyl die verlede wegdraai; tussen hulle staan moderne uitvindings soos ’n drukpers en ’n kanon. Wat opval, is die toon. Johannes Stradanus (die kunstenaar) beeld ’n wêreld uit waar mense saamwerk en tasbare welvaart ervaar, waar ambagslui en arbeiders die dryfkrag van vooruitgang is. Kuns is hier nie krities of satiries nie, maar stel vernuwing en innovasie op prys.
’n Onlangse studie dui daarop dat ons woorde ook ’n dryfkrag van vooruitgang kan wees. In ’n 2025-artikel vra Hassan Almelhem en medewerkers in die Quarterly Journal of Economics of Britse kultuur reeds vóór die Industriële Revolusie tekens van ’n geloof in vooruitgang getoon het? Hulle ontleed sowat 264 443 boeke wat tussen 1500 en 1900 in Engeland verskyn het en volg hoe die taal van wetenskap, godsdiens, politieke ekonomie en “vooruitgang” (verbetering, vooruitgang en verwante begrippe) oor tyd verander.
Die bevindings is opvallend. Teen die middel van die agttiende eeu begin die taal van wetenskap en godsdiens uitmekaar beweeg – wetenskaplike skryfwerk raak minder godsdienstig en meer toekomsgerig. Tydens die Verligting raak boeke oor wetenskap en politieke ekonomie al hoe meer gefokus op groei en ontwikkeling. Selfs nywerheidstekste, veral waar dit met toegepaste wetenskap en ekonomiese denke saamloop, begin ’n vooruitgang-georiënteerde woordeskat insluit. Dít dui daarop dat idees oor vooruitgang nie net in elitekringe gebly het nie, maar ook deel geword het van praktiese tekste vir gewone, werkende mense.
Die studie is kwantitatief en werk met breë kwashale – individuele kunswerke of romans word nie ondersoek nie en dit maak geen aanspraak dat kuns of letterkunde ekonomiese groei veroorsaak nie. Tog is die gevolgtrekking veelseggend: Voordat mense hul wêreld verander, verander hulle dikwels eers hul woorde. ’n Samelewing wat gereeld oor verbetering, uitvinding en vooruitgang praat, skep ruimte vir materiële verandering; waar daardie taal ontbreek, kan dit ’n kulturele rem word.
Kultuur wys ons dus nie net hoe die wêreld lyk nie; dit kan ook die verandering dryf. In haar werk oor die opkoms van die kommersiële samelewing, en spesifiek in ’n essay oor Shakespeare, beklemtoon Deirdre McCloskey hierdie punt. Sy voer aan dat kuns en (literêre) kultuur gehelp het om handel, vernuwing en die strewe na verbetering te legitimeer, omdat romans, toneelstukke en gedigte mense wys hoe en in staat stel om nuwe norme aan te leer.
Hierdie gedagte werp nuwe lig op die Suid-Afrikaanse probleem. As die letterkunde ’n samelewing kan leer om vooruitgang te omarm, kan ’n kanon wat oorheers word deur ironie en wanhoop, onbedoeld die teenoorgestelde effek hê. Deur aanhoudend korrupsie en mislukking te beklemtoon, kan kuns en letterkunde die indruk skep dat grootskaalse verbetering nutteloos en onhaalbaar is.
My punt is nie om propaganda te eis of te maak asof vooruitgang pynloos is nie, maar om te argumenteer dat verbeelding saak maak. ’n Samelewing kry dikwels die toekoms wat sy storievertellers kan indink, en dit is moeilik om te bou wat nie eers voorgestel kan word nie. Dit beteken natuurlik nie dat Suid-Afrikaanse kunstenaars verantwoordelik is vir ekonomiese uitkomste, óf dat hulle naïewe utopieë moet begin produseer nie. ’n Kritiese blik op verlede en hede bly noodsaaklik, dit hou ’n samelewing eerlik oor mislukkings, maar kulturele verbeelding het óók ’n rol: om die horison van moontlikhede oop te stoot en hoop te legitimeer. Net soos Nova Reperta Europeërs die vrymoedigheid gegee het om te sê: Ons is uitvinders in ’n nuwe era, het Suid-Afrika dalk stemme nodig wat durf sê: Ons kán beter daaraan toe wees – en só kan dit lyk.
Een goeie voorbeeld is een van Antjie Krog se eerste gedigte, geskryf toe sy nog op skool was. Dit het destyds groot opspraak gemaak en is selfs op Robbeneiland gelees.
Kyk, ek bou vir my ’n land
Waar ’n vel niks tel nie,
net jou verstand.
Waar geen bokgesig in ’n parlement
kan spook om dinge permanent
verkramp te hou nie.
Waar ek jou kan liefhê
langs jou in die gras kan lê
sonder om in ’n kerk “ja” te sê.
Waar ons snags met kitare sing
en vir mekaar wit jasmyne bring.
Waar ek jou nie gif hoef te voer
as ’n vreemde duif in my hare koer.
Waar geen skeihof
my kinders se oë sal verdof
Waar swart en wit hand aan hand
vrede en liefde kan bring
in my mooi land
Dit lei tot ’n volgende vraag: Wie vorm vandag Suid-Afrika se kulturele verbeelding en watter idees oor die toekoms dra hulle oor? In ’n tyd waarin ons land streef na voorspoed vir almal, is daar myns insiens plek vir ’n nuwe soort kulturele figuur – die kunstenaar as argitek van moontlikhede, die storieverteller as bouer van hoop. Suid-Afrika het skilderye nodig wat florerende skole, moderne infrastruktuur en veilige gemeenskappe kan uitbeeld – nie as propaganda nie, maar as eerlike verbeeldings van ’n beter werklikheid. Dit het drama en film nodig wat die morele dubbelsinnighede van verandering erken, terwyl dit steeds bevestig dat verandering soms noodsaaklik en, ja, selfs goed kan wees. Soos JC Hallman dit in sy verdediging van utopie stel, is die feit dat utopie onbereikbaar is, nié ’n verskoning om niks te probeer nie.
Suid-Afrika se volgende hoofstuk sal nie net in wette en begrotings geskryf word nie, maar in die harte en verbeelding van sy mense. Ons lang pad na vryheid sal eers voltooi wees wanneer dit ook ’n lang pad na voorspoed word. En daar sal ons net kan uitkom as ons dit eers kan droom.

