Agterstories: ’n Troon vir almal

  • 0
  • Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse. 

As ek nie ’n prins was nie, sou ek graag ’n loodgieter wou wees. het die toekomstige koning Edward VII, of Bertie soos sy vriende hom genoem het, glo gesê.

Dis 1871 en Bertie is aan die herstel van ’n ernstige tifusinfeksie. Koerante soos The Lancet berig daagliks oor sy toestand – hulle speurwerk om vas te stel wat die oorsaak van die prins se siekte is, veroorsaak ’n openbare opskudding. Die negentiende-eeuse sanitasie-ingenieur Samuel Stevens Hellyer het later gesê dat dié voorval die “grootste enkele dryfveer vir die beginsels van higiëniese loodgietery” in Brittanje is. Soos dikwels die geval, vind wesenlike verandering eers plaas ná ’n ernstige siekte-uitbraak.

Teen die einde van die negentiende eeu staan Brittanje saam met die res van die wêreld aan die vooraand van ’n revolusie. Binnekort sou toilette, gekoppel aan pype wat skoon water aanvoer en gevaarlike afval vinnig en veilig wegspoel, binne-in mense se huise wees. Dit is ’n ingenieursprestasie wat ontelbare lewens red. Dis die soort triomf wat selfs ’n toekomstige koning laat droom daarvan om ’n loodgieter te wees.

In die laat 1800’s begin kindersterftes wêreldwyd skerp daal. Vir die grootste deel van ons geskiedenis sterf een uit elke twee kinders vóór hul vyfde verjaarsdag. Vandag is die wêreldgemiddelde een uit 37. Volgens sommige ramings is tot ’n derde van daardie verbetering aan beter sanitasie te danke.

Tog bly die sanitasierevolusie halfgespoel. Sowat twee uit elke vyf mense leef steeds sonder veilige sanitasie, met die gevolg dat kindersterftes steeds drasties van land tot land verskil. Juis daarom stel die World Toilet Organisation op 19 November 2001 World Toilet Day in – om toilette te vier en bewusmaking te skep van die miljoene mense wat nog altyd sonder veilige rioolstelsels leef. Om te verstaan hoekom sanitasie só ’n verskil maak, moet ons kyk hoe mense deur die eeue hul afval bestuur en wat gebeur wanneer hulle dit regkry.

Die mees basiese vorm van menslike afvalverwydering is ’n eenvoudige gat in die grond. ’n Skuiling, of kleinhuisie soos dit in die volksmond bekend staan, word rondom die gat aangebring, soms selfs met ’n verhoogde sitplek vir gemak. Kenners noem dit “plaaslike sanitasie”. Soms sluit stelsels by primitiewe afvoerslote of kanale aan, maar gewoonlik moet die putte snags deur die sogenaamde nagwa gediens word. Ons laat dit liefs daar. Namate dorpe en nedersettings groei, raak die gevaar van onbehoorlike afvalverwydering dodelik. Siektes soos tifus, cholera en disenterie versprei vinnig deur besmette water en eis lewens.

Ironies genoeg, bestaan afvoerpype, of rioolpype, lank voor rioolstelsels. Soos Rose George in The big necessity skryf: “Afvoerpype was nog altyd ’n draer van vuil water, maar die aard en hoeveelheid van daardie vuil water het oor tyd verander.” Die groeiende gewildheid van die toilet in die mid-negentiende eeu vererger Londen se afvalprobleme aansienlik. Met industrialisasie en verstedeliking verhoog die vraag na drinkwater – en daarmee saam die idee van ’n wateraangedrewe afvalverwyderingstelsel. Hiérvoor kan ons vir Edwin Chadwick bedank.

In dieselfde jaar as Bertie se doop, publiseer Chadwick sy beroemde Report on the sanitary condition of the labouring population of Great Britain, waarin hy die somber werklikheid van die lewe in die stad deel. Chadwick en sy tydgenote – John Snow, Henry Whitehead en Joseph Bazalgette – verander die geskiedenis van sanitasie, epidemiologie en openbare gesondheid in Brittanje. Londen se rioolstelsel het waarskynlik meer lewens gered as enige ander openbare werksprojek – en vier vanjaar sy 160ste bestaansjaar.

Die spoeltoilet is egter nie ’n moderne uitvinding nie. Die oudste voorbeeld dateer uit die tweede millennium vC, in die paleis van Knossos op Kreta. In sy moderne gedaante verskyn die spoeltoilet eers in die negentiende eeu. ’n Handjievol innoveerders speel hier ’n sleutelrol: Alexander Cummings, Joseph Bramah, George Jennings, Thomas Crapper en Thomas Twyford – almal verbeter elemente van ’n toestel wat tot vandag toe byna onveranderd bly. Soos Rose George opmerk: “Die moderne toilet sou vir Joseph Bramah steeds herkenbaar wees. Hy sou dit waarskynlik kon regmaak.”

Op tuisbodem is dit die entrepreneur en beskermheilige van Suid-Afrikaanse krieket, James “Jimmy” Logan, wat glo die eerste spoeltoilet in Suid-Afrika gehad het. Ongelukkig is die bronne vaag en die datums onseker. Matjiesfontein, waar Logan sy ryk vestig, beweer dat dit die eerste wateraangedrewe rioolstelsel in die land het te danke aan sy vindingryke idee om boorgate in die dorre landskap te sink.

Dit is moeilik om met sekerheid te sê watter dorp of stad wel die eerste wateraangedrewe rioolstelsel in Suid-Afrika het. Beperkte watervoorsienings- en dreineringstelsels sou gebou, uitgebrei en mettertyd weer oorgebou word soos wat ontwikkeling toeneem. Die Moederstad lê vroeg waterstelsels aan, maar begin eers in die 1890’s met ’n ernstige poging om ’n dreineringstelsel te ontwikkel. Dié stelsel word omstreeks 1904 voltooi – kort ná Bloemfontein, wat vroeër daardie jaar die eerste stad in Suid-Afrika word met ’n volwaardige sanitasiestelsel, insluitend ’n rioolaanleg.

Maar hoe lyk die rioolrevolusie op voetsoolvlak? In nuwe navorsing volg ek, Kelsey Lemon en Jan-Hendrik Pretorius die Paarl se ontwikkeling oor die drie deurslaggewende dekades rondom 1900 om te sien hoe vroeë sanitasiewerke babas se oorlewing in die eerste lewensjaar verander, en vir wie. Ons digitaliseer elke geregistreerde dood van kinders jonger as een jaar, koppel elke geval aan die straat waar die kind gewoon het en gebruik dit saam met jaarlikse geboortes om vir 83 strate in die Paarl meer spesifieke kindersterftesyfers te bereken. Ons volg ook die munisipale dreineringsprogram wat tussen 1905 en 1907 straat vir straat ingestel word. Ons vergelyk die situasie voor en ná hierdie opgraderings en vergelyk strate wat verbeter is en dié wat nog wag vir ’n rioolstelsel. Ons doen dit afsonderlik vir wit en vir bruin huishoudings om rassespesifieke data te ontsluit. Ons probeer vasstel of hierdie eenvoudige belegging in sanitasie en die sluiting van die vuil, oop slote waarin huishoudings hul afval gooi, babas se lewens red, en of hierdie voordele deur almal geniet word.

Die resultaat verras ons. Soos verwag, lei beter dreinering tot minder sterftes aan siektes wat deur besmette water en kos versprei. Maar dié positiewe effek word nie oral in die populasie waargeneem nie. Ons ramings wys op ’n onmiddellike én volgehoue daling onder wit babas, met ongeveer ’n 35 persent afname in kindersterftes op strate wat verbeter is, terwyl daar vir bruin babas min, indien enige, soortgelyke verbetering is. Gegewens oor die duur van siekte en oor die dorp se topografie wys waarom. Dreinering begin bo, in die hoërliggende woonbuurte, waar afvoerpype besmette water afdra teen die helling en die risiko’s laat ophoop in die laagliggende, oorvol woonkwartiere waar baie bruin gesinne woon. Infrastruktuur maak dus ’n groot verskil vir oorlewing in die eerste lewensjaar – maar die voordele hang steeds af van waar die pype lê en wie toegang het tot skoner aansluitings.

Hierdie bevindings wys dat die sanitasierevolusie terselfdertyd ’n triomf én ’n tragedie is. Dis ’n tegnologie wat lewens op groot skaal kan red, maar wanneer dit ongelyk en onvolledig geïmplementeer word, kan dit die kwesbaarstes verder weerloos maak. In ’n tyd vóór formele segregasie, toe sosiale, ekonomiese en politieke ongelykhede in die Paarl begin posvat, help hierdie sanitasieverbeterings ongelukkig om daardie skeidslyne verder te verstewig.

Selfs vandag red toilettegnologie lewens op ongelyke maniere. Dit verander lewensomstandighede vir sommiges, terwyl miljoene steeds wag dat die belofte van waardige sanitasie hulle ook bereik. Soos Suid-Afrika aan die begin van die twintigste eeu, staan baie Afrikalande nou aan die vooraand van vinnige verstedeliking. In die volgende paar dekades behoort plaaslike owerhede regoor die vasteland sanitasiegeriewe wat die kwesbaarstes bevoordeel, bo-aan hul prioriteitslys te plaas. Bertie herstel uiteindelik van sy tifus en bestyg later die troon, maar miljoene wag steeds op húl eie troon.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top