- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
Wanneer presies het die nywerheidsomwenteling begin? Dit is ’n moeilike vraag om te antwoord juis omdat dit so bitter belangrik is. Sou ons kon verstaan wat die verandering van ons lewens van bestaansboere na aanlyn bloggers, byvoorbeeld, aangevuur het, sou ons per implikasie ook die faktore wat ekonomiese groei aandryf, identifiseer. Ons kan dan daardie lesse vandag toepas tot voordeel van almal.
Skoolboeke – dié wat steeds die Industriële Revolusie in hul leerplan insluit, ten minste – benadruk die agttiende-eeuse uitvindings van die jenny spinner en die stoomlokomotief as die belangrikste bydraende faktore. (Ek moet bieg dat ek self hierdie patroon volg in Skatryk.) Ander, soos die onlangse Nobelpryswenners Daron Acemoglu en James Robinson, benadruk weer die Glorieryke Revolusie van 1688 en die gepaardgaande institusionele veranderings wat eiendomsregte versterk het, die mag van die monargie beperk het en ’n meer verantwoordbare regering geskep het. Hierdie hervormings, redeneer hulle, het beleggings, tegnologiese innovasie en markuitbreiding aangemoedig en sodoende die grondslag vir volgehoue ekonomiese groei gelê.
As dit maar net so eenvoudig was. Vir minstens die laaste eeu het ’n klein groepie ekonomiese historici die oorsake van die nywerheidsomwenteling vroeër gaan soek: in die sewentiende en selfs die laat sestiende eeu. In 1934 het die ekonomiese historikus John Nef gewys op ontwikkelinge in mynbou, metaalbewerking en tekstiele in die vroeë sewentiende eeu, sowel as die ontbinding van kloosters en die uitbreiding van steenkoolmynbou en glasproduksie in die sestiende eeu, om ’n meer geleidelike evolusie van nywerheidskapitalisme voor te stel. Teen die 1970’s het Fernand Braudel aangevoer dat Engeland se industriële opbloei in die laat sestiende eeu gekenmerk is deur die vinnige uitbreiding van nywerhede, wat die vroeëre industriële ontwikkelinge in Italië, Duitsland en Nederland oortref het. Terwyl sleutelinnovasies soos die hoogoond en gevorderde mynmasjinerie uit meer tegnologies gevorderde streke ingevoer is, het Engeland hierdie tegnieke aangepas en op ’n ongekende skaal uitgebrei. Nuwe nywerhede soos papiermeule, suikerraffinaderye en kanongieterye met groter ondernemings, groter geboue en ’n vinnig groeiende arbeidsmag het ontstaan lánk voor die konvensionele nywerheidsomwenteling grootskaalse verandering teweeg sou bring.
’n Nuwe QJE-artikel dui ook die sewentiende eeu as die begin van Engeland se transformasie aan. Met behulp van nuwe ramings van produktiwiteitsgroei vanaf 1250 tot 1870 en gesofistikeerde metodes om Malthusiaanse dinamika in ag te neem, voer die outeurs aan dat volgehoue produktiwiteitsgroei in Engeland omstreeks 1600 begin het – amper ’n eeu voor die reedsgenoemde Glorieryke Revolusie en lank voor die uitvinding van die spinmasjien óf stoomlokomotief.
Dit laat die vraag dus ontstaan: Wat omtrent die sewentiende-eeuse Engeland het dan die moderne wêreld moontlik gemaak?
Hier is my teorie: KOFFIE. (En ja, ek skryf dit terwyl ek aan ’n Plato flat white teug.)
Soos Joel Mokyr en verskeie ander aangevoer het, is die kern kenmerk van hierdie tydperk van industriële transformasie die toepassing van nuwe kennis – daar was ’n diepgaande kulturele skuif waar kennis, leer en wetenskaplike ondersoek as prioriteite in Engeland verhoog is. Entrepreneurs van alle vlakke van die samelewing kon eksperimenteer met nuwe idees en innovasies, wat produktiwiteit aangehelp het.
Hóé en wáár hierdie kennis gedeel is, is ’n belangrike deel van die verhaal. Informele netwerke soos die Vrymesselary, sosiale organisasies, biblioteke en boekverkopers het ’n belangrike rol gespeel. In ’n 2023-artikel in Social Science History toon die ekonomiese historikus Gregori Galofré-Vilà aan dat omgewings met hoër konsentrasies van hierdie informele netwerke groter innovasie ervaar het. Hy meet dit aan patentaktiwiteite en deelname aan die 1851 Crystal Palace Wêreldtentoonstelling. Een standaardafwyking-toename in hierdie netwerke is geassosieer met ’n beduidende toename in sowel nuwe patente as deelname aan uitstallings, wat dus ’n kousale verband tussen sosiale verbintenisse en tegnologiese vooruitgang voorstel.
Die Britte het wel nie net uitgevind nie – hulle het bepaald strategies uitgevind. ’n Nuwe NBER-werkstuk deur Lukas Rosenberger, Walker Hanlon en Carl Hallmann toon dat Britse uitvinders uitgeblink het in die ontwikkeling van sentraliserende tegnologieë met groter impak en reikwydte, soos stoommasjiene en masjiengereedskap, terwyl hul Franse eweknieë weer meer gefokus het op ander velde soos glas- en papiermaak.
Hierdie bevindings dui op die belang van ruimtes waar idees vrylik uitgeruil kon word. Koffiehuise het, byvoorbeeld, gewilde bymekaarkomplekke geword waar entrepreneurs, uitvinders en beleggers kon ontmoet, idees kon deel en samewerkingsooreenkomste kon vorm. Soos Galofré-Vilà verduidelik, het hierdie ruimtes die inligtingsnetwerke van daardie tyd verteenwoordig, waar mense ingekom het om ’n koffie of ’n drankie te geniet, idees te deel en in kontak te kom met mense uit verskillende omgewings en dissiplines.
Dit is waarom ek die ontstaan van die nywerheidsomwenteling in Engeland sou korreleer met die aankoms van Londen se eerste koffiehuis, wat in 1652 deur Pasqua Rosée gevestig is. Al het dit begin as ’n beskeie koffiestalletjie naby die Royal Exchange in St Michael’s Alley, ’n sleutelpunt vir handelaars, het dit gou uitgebrei na ’n permanente en prominente ruimte wat ’n diverse kliëntebasis van handelaars, prokureurs en intellektuele gelok het. Toe dit eers gevestig is, het die konsep van die koffiehuis vinnig versprei. Teen 1663 is daar reeds 83 koffiehuise regoor Londen aangeteken en dit is interessant genoeg hoofsaaklik besoek deur mense wat betrokke was by handel met die Levantse en Baltiese streke. Teen die vroeë agttiende eeu, slegs 50 jaar nadat Pasqua Rosée sy eerste winkel geopen het, het Londen reeds ongeveer 500–600 koffiehuise gehad, wat hul rol as sentrale ruimtes vir die saamvloei van idees, besigheid en nuus gevestig het.
Laat ek ’n uitdagende stelling waag: Koffie is steeds die katalisator van innovasie vandag. Om dit te bewys, het ek die aantal plekke wat as “koffiewinkels” geklassifiseer is in verskeie Suid-Afrikaanse dorpe (groen) en ’n paar internasionale stede (oranje) getel. Om hulle vergelykbaar te maak, het ek slegs dorpe met tussen 100 000 en 300 000 inwoners oorweeg. Ek deel toe daardie getal deur die bevolking om ’n koffiewinkel-per-kapita-syfer te kry (in hierdie geval, per 1 000 mense). Die grafiek hier onder wys die resultate.
Die mees innoverende dorp in Suid-Afrika is hiervolgens Stellenbosch. Toegegee, Stellenbosch lok wel toeriste, maar George is ook ’n bekende toeristedorp en dit het net die helfte soveel koffiewinkels per 1 000 mense. Stellenbosch oortref ook ’n paar internasionale stede op die lys, soos Innsbruck en Pisa. Dit vaar egter swak teenoor die groot sentra van innovasie, soos Berkeley en Cambridge (VK). Miskien is daar tog wel iets te sê oor Fourie se koffiewinkel-innovasie-indeks?
“Dit het alles in 1652 begin” is woorde wat aan baie Suid-Afrikaners bekend is. Miskien verdien daardie jaar om nie net onthou te word vir sy koloniale geskiedenis nie, maar ook vir die stigting van Londen se eerste koffiehuis – die soort plek waar revolusies, van beide industriële en intellektuele aard, stilweg gebrou is.
Lees ook:
Londen se koffiefees sit dié stad se kafeïen terug waar dit hoort