- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
“Sake op die Johannesburgse Aandelebeurs is só saai,” berig The Port Elizabeth Telegraph op 19 Desember 1889, net twee jaar ná die beurs se opening, “dat die skare makelaars hul tyd verwyl deur koorliedjies te sing.”
Bykans 140 jaar later is die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) alles behalwe saai. Verlede maand het dit die 100 000-punt kerf oorskry – ’n historiese oomblik wat dalk nie die voorbladnuus gehaal het nie, maar darem in die sakeblaaie verskyn het. Dié reusemylpaal spreek boekdele, en nie net oor die JSE nie, maar oor aandelebeurse in die algemeen. Wat vroeër ’n vervelige kuierplek vir singende makelaars was, is nou Afrika se grootste en mees dinamiese aandelebeurs – ’n gesofistikeerde markplein en spilpunt van die kontinent se ekonomiese landskap.
Vandag huisves die JSE meer as 120 genoteerde maatskappye, met ’n gesamentlike markkapitalisasie van meer as R20 triljoen. As Afrika se oudste en grootste beurs het dit ver gevorder sedert sy nederige ontstaan op die Johannesburgse goudvelde ’n jaar ná die ontdekking van goud in 1886. Vandag is dit onder die 20 grootste beurse ter wêreld, en dit bly ’n aantreklike teiken vir internasionale beleggers.
Waarom moet ons omgee oor aandelebeurse soos die JSE? Ekonomiese teorie gee ’n paar goeie redes: Beurse help om spaargeld in produktiewe beleggings te kanaliseer, kapitaal doeltreffend toe te wys, risiko’s te versprei en maatskappybestuur aanspreeklik te hou. Invloedryke navorsing bevestig dié voordele en wys hoe likiede aandelebeurse, waar dit maklik is om aandele te koop en te verkoop, meer individue en instellings aanmoedig om hul spaargeld te belê, omdat hulle sodoende hul risiko’s kan versprei. Die studies lewer ook sterk empiriese bewyse dat marklikiditeit verband hou met langtermyn- ekonomiese groei. Vanuit dié perspektief is aandelebeurse aktiewe drywers van ekonomiese groei.
Ten spyte van die voor die hand liggende teoretiese voordele, bly die verhouding tussen aandelebeurse en ekonomiese vooruitgang in die regte wêreld maar onseker. Ekonome debatteer al lank of aandelebeurse werklik groei dryf of net die onderliggende gesondheid van ’n ekonomie weerspieël. Robert Lucas, Nobelpryswenner, is bekend vir sy skeptiese blik op die rol wat finansiële markte regtig speel en hy wys graag daarop hoe moeilik dit is om werklike kousale verbande vas te stel.
’n Onlangse studie deur Antonio Afonso en Max Reimers in die Journal of Comparative Economics bring nuwe insigte. Hulle het gekyk na die impak van aandelebeurse wat dwarsoor Afrika ontstaan het. Aanvanklik het dié beurse indrukwekkende resultate getoon: BBP per capita het binne vyf jaar met tot 40% gestyg. Maar dié hupstoot het vinnig vervaag en die impak het ’n omgekeerde U-vorm gevolg. Met ander woorde, daar was aanvanklike opwinding, maar die langtermynbydrae van Afrika-beurse was minder seker.
Dié bevinding laat ’n mens dink aan die gespanne beginjare van die JSE, veral tussen Johannesburg en Kaapstad. Een eietydse verslag uit die 1890’s het dit só beskryf:
By die opening van die Johannesburgse Aandelebeurs onlangs (waar mnr Sauer terloops opgemerk het dat ons in Kaapstad met ons gebruiklike traagheid nie daarin geslaag het om ’n beurs te stig nie), het die sprekers wyd en syd gepronk met Johannesburg se vooruitgang – sy huise, kantore, strate, koerante en ander tekens van ’n jong stad se volwassenheid. Maar niks het só ’n indruk gemaak soos die advertensies van veilings vir erwe myle buite die stad nie.
Die moederstad het, ten spyte van die prominente handelaarsgeskiedenis en ekonomiese potensiaal, nooit haar eie beurs gestig nie. Pretoria wél, en dit het skouspelagtig gefaal. In ’n Our Long Walk-bloginskrywing het ek vertel hoe geskiedkundige Mariusz Lukasiewicz beskryf dat Paul Kruger in Februarie 1889 die Suid-Afrikaanse Aandeel- en Eisbeurs met groot bravade geopen het. Hy was oortuig dat Pretoria die land se finansiële sentrum sou word. Maar ten spyte van al die groot planne en beloftes het dié beurs nooit behoorlik op dreef gekom nie. Teen Maart 1891 is dit stil-stil gesluit; in die stof gelaat deur Johannesburg se vinnige opgang. Dit wys jou net, om ’n beurs te stig is een ding en om dit aan die gang te hou, iets heeltemal anders. Pretoria het nie die skaal, netwerke of momentum gehad wat ’n lewenskragtige mark nodig het om te floreer nie.
Johannesburg het juis uitgeblink omdat dit kleurvolle karakters gelok en breë deelname aangemoedig het. Edward Kennedy, ’n makelaar vars uit Londen, kon sy oë nie glo toe hy in Junie 1889 vir die eerste keer verhandelinge aan die beurs aanskou nie: Geen makelaars in deftige bolhoede en pakke nie, maar wel handelaars “in all kinds of head-gear except the chimney-pot”. Hier is selfs aandele verhandel in jagbroeke en topstewels, kompleet met jagsweepies in die hand en breërandhoede op die kop. Dié informele, maar bruisende atmosfeer was die spreekwoordelike goud werd – dit het vinnig gelei tot ’n oplewing in ledetal én handelsvolumes. Wat as Kaapstad dieselfde entrepreneurskapgees aan die dag gelê het? Sou Suid-Afrika se ekonomiese geografie vandag anders gelyk het? Of sou die Kaapse beurs, soos Pretoria s’n, stilweg van die toneel verdwyn het? Ons sal seker nooit weet nie.
Vandag staar aandelebeurse nuwe uitdagings in die gesig wat hul bydrae tot ekonomiese groei veel meer ingewikkeld maak. Ten spyte van die JSE se onlangse mylpaal, is die aantal genoteerde maatskappye aansienlik minder as 20 jaar gelede. Strenger regulasies en hoër nakomingskoste maak dit moeiliker vir kleiner firmas om te noteer. Daarom wend baie maatskappye hulle tot alternatiewe finansiering, soos waagkapitaal of privaat ekwiteit. Moderne ondernemings, veral tegnologiemaatskappye, het immers aansienlik minder aanvangskapitaal nodig as, sê nou maar, ’n mynbouprojek of ander tradisionele bedrywe. ’n Beursnotering is dus eenvoudig nie meer so aanloklik soos vroeër nie. Die wêreldwye neiging dat ondernemings langer privaat bly, soos ons dit ook in Suid-Afrika sien, spreek ook van ’n dieper bekommernis dat openbare markte se korttermynfokus met hul aanhoudende druk om kwartaalwins te wys dikwels bots met gesonde langtermyn-besigheidstrategieë.
Ant Lester van Willis Towers Watson het hierdie skuiwe raakgevat:
Vandag word beurse minder gebruik om kapitaal in te samel. Waagkapitaal en privaat ekwiteit spreek daardie behoefte aan. Maatskappye bly langer privaat, maar uiteindelik noteer hulle omdat die stigters likiditeit nodig het om hul blootstelling te verminder en ’n markwaarde vir die firma vas te stel.
Ten spyte van al hierdie uitdagings, is nuwe tegnologie besig om die manier waarop aandelebeurse spaarders en beleggers verbind heeltemal te verander. Vir lank het kapitaalmarkte ongelykheid versterk – toegang was beperk tot dié met reeds bestaande rykdom. Maar digitale platforms soos Suid-Afrika se EasyEquities stel Jan en San Alleman met hul kleiner beursies in staat om maklik en goedkoop toegang tot aandelemarkte te kry. Lester onderstreep die belangrikheid hiervan:
Dit is nou vir die gewone mens moontlik om die indeks teen ’n baie lae koste te koop – en dit is ’n uitstekende oplossing, juis omdat bitter min fondsbestuurders die indeks ná koste klop.
Indien platforms soos EasyEquities op groter skaal werk, kan hierdie soort innovasies dalk help om ons land se hardnekkige ongelykheid aan te pak deur meer mense as net die elite in staat te stel om welvaart op te bou.
Maar (en dit is ’n groot maar) tegnologie is nie ’n towerstaffie nie. Sonder goeie regulering en wye finansiële geletterdheid gaan selfs die beste platform nie veel verander nie. En EasyEquities moet nou aandag deel met ander, veel meer riskante alternatiewe soos kripto-geldeenhede en aanlyn sportweddenskappe wat korttermynopwinding bied, maar selde werklike finansiële welvaart bring.
Al is dit maklik om effe sinies te raak in die era van TikTok-beleggingswenke, bied die JSE se merkwaardige reis ’n rede tot optimisme. Dinge kon soveel erger gewees het – en wás ook. In 1889 het The Port Elizabeth Telegraph se joernalis gekla oor die verveelde, singende makelaars, en snedig geskryf:
’n Spotlustige tydgenoot meen daar word ernstig oorweeg om die beurs in ’n musiek- en lesingsaal te omskep, en by die Lord Mayor van Londen aan te klop vir ’n Hulpfonds vir Johannesburg se honger makelaars.
Vandag, amper 140 jaar later, sou daardie joernalis dalk ’n ander deuntjie sing. Die JSE het welvaart geskep wat destyds eenvoudig ondenkbaar was. As dit aanhou om tegnologie te gebruik om spaarders en beleggers te verbind – en daardie sirkel van finansiële deelname te verbreed – kan dit dalk vir nog 140 jaar rykdom bly skep.

