- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
26 Januarie 1926 – Soho, Londen. ’n Groep wetenskaplikes en ’n joernalis van The Times klim die trappe na ’n laboratorium waar hulle ’n demonstrasie deur die Skotse uitvinder John Logie Baird gaan bywoon. Op ’n donker kassie flikker die spookagtige beeld van ’n buikspreker en sy pop. Hierdie kassie noem Baird die “Televisor”. Die beeld is, soos The Times erken, “vaag en dikwels onduidelik”. Wat Baird met sy uitvinding bereik, is egter duidelik: Beelde met skakerings van lig en donker kan via ’n televisie oorgedra word.
Binne ’n generasie word televisiestelle deel van huishoudings regoor Europa en Noord-Amerika. In Suid-Afrika verskyn dit egter eers in 1976 – 50 jaar ná Baird se demonstrasie. Die rede hiervoor is nie ’n tekort aan tegnologie of geld nie. Dit is ook nie, soos Rob Krabill dit stel, ’n “eienaardige glips” of ’n teken van oningeligte Luddisme nie. Dit is ’n politieke besluit, gedryf deur ’n vrees wat vandag nog voortduur – die vrees vir buitelandse invloed.
En dit bring ons by Starlink.
In ’n onlangse Substack-plasing verduidelik die Suid-Afrikaanse LP Songezo Zibi hoekom Elon Musk se satelliet-internetdiens vir hom ’n besliste “nee” is. Sy kommer strek van Musk se rekord met die verspreiding van waninligting op X, tot die risiko dat een individu kritieke infrastruktuur vir politieke doeleindes kan misbruik. Dit gaan ook oor soewereiniteit: oor wie beheer oor ’n land se inligtingsomgewing het – en of dit in die hande van ’n buitelandse miljardêr met onvoorspelbare lojaliteite hoort.
Dit is nie ligte bekommernisse nie. Dit is ook nie nuut nie. Suid-Afrikaanse politici maak al bykans ’n eeu lank variasies van dieselfde argument. En wat laas gebeur het toe televisie die sogenaamde “bedreiging” was, behoort ons tog twee keer te laat dink.
’n Netelige kwessie
Suid-Afrikaners weet van die begin af van televisie. Minder as vier jaar ná Baird se demonstrasie in Londen sien mense hier dit self, tydens openbare vertonings in Kaapstad en Johannesburg. Die tegnologie ontwikkel vinnig. Teen die einde van die dekade wys wetenskaplikes aan weerskante van die Atlantiese Oseaan reeds kleurbeelde, langafstand-uitsendings en selfs transatlantiese oordragte.
Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie word in Augustus 1936 gestig. Vooruitdenkend maak die Uitsaaiwet reeds voorsiening vir ’n televisiediens – sou Suid-Afrika een instel, sou dit onder die SAUK val. Met ander woorde, die land het die institusionele raamwerk lank voordat dit kommersieel of polities werklik haalbaar is. Op daardie stadium dui alles daarop dat ’n diens binnekort sou volg.
Daardie selfde jaar bied Johannesburg die Empire Exhibition aan, die eerste op Afrika-bodem. Een van die trekpleisters is ’n televisie-opstelling waar besoekers voor ’n sender kan sit en hul regstreeks op ses skerms uitgesaai kan sien. Dit is ’n sensasie! Teen die einde van 1936 berig die Rand Daily Mail dat meer as 25 000 mense al so “geteleviseer” is.
En toe gebeur niks – vir vier dekades lank.
Aan die een kant staan die anti-TV-kamp: die Nasionale Party-swaargewigte soos Albert Hertzog, Piet Meyer en Jaap Marais. Vir hulle is televisie ’n besmetting, ’n draer van buitelandse idees en waardes. Hierdie “internasionale imperialisme”, of dit nou Westers of Sowjet is, kapitalisties of kommunisties, bedreig ’n suiwer nasionale identiteit. ’n Televisiediens sou duur wees om op die been te bring en dus afhanklik van buitelandse, veral Amerikaanse, programme. Die gevaar, meen hulle, is blootstelling aan die “melting pot”-ideologie van Amerikaanse kultuur, wat die etniese afsondering waarop afsonderlike ontwikkeling berus, sou ondermyn. Daarby kom nog ’n meer praktiese vrees dat die televisie advertensie-inkomste sou wegrokkel van Afrikaanse koerante en daarmee saam die taal self sou knou.
Aan die ander kant sien die pro-TV-kamp die land se gebrek aan televisie as ’n verleentheid – ’n teken van nasionale agterlikheid. Dit is hoofsaaklik Engelssprekende lede van die Verenigde Party en die Engelse pers, met sterk kulturele bande met Europa. Vir hulle is die verwerping van televisie ook ’n verwerping van moderniteit self. Die kwessie raak só gepolitiseer dat dit deel word van verkiesingsveldtogte: “Wil jy TV hê?” vra die VP. “Stem VP”.
Hiermee word die televisie, in Krabill se woorde, ’n soort barometer van Suid-Afrika se beskawing en vooruitgang. Vir die meeste Suid-Afrikaners is die debat egter grootliks irrelevant. Swart Suid-Afrikaners kan op daardie stadium nie eens stem nie, wat nog te sê van ’n televisiestel bekostig. Hulle bly radioluisteraars.
FOMO
Wat gee uiteindelik die deurslag? ’n Paar dinge. Teen die 1960’s is daar in die NP se binnekring ’n nuwe generasie Afrikanersakemanne met ’n meer internasionale ingesteldheid. Hulle meen ekonomiese groei bied die sterkste waarborg vir voortgesette wit oorheersing, en dít verg nouer integrasie met wêreldmarkte. Televisie bied, in daardie lig, nuwe moontlikhede.
Daar is ook meer praktiese oorwegings: Vooruitgang in satelliettegnologie beteken dat enigiemand met genoeg geld en ’n skottel binnekort in elk geval toegang tot televisie sou hê. Deur ’n nasionale diens op die been te bring, kan die SAUK, soos die Meyer-kommissie dit stel, “die Suid-Afrikaanse lewenswyse beskerm en uitsaai”.
Maar buite ekonomie en politiek is daar tog iets meer alledaags en herkenbaar wat die openbare mening begin skuif. Kom ons skryf dit toe aan FOMO – the fear of missing out.
Terwyl die res van die wêreld in 1969 kyk hoe Neil Armstrong sy eerste tree op die maan gee, sit Suid-Afrikaners, in Rob Nixon se woorde, en “draai knoppies op die radio” om deel te wees van die wêreldgebeurtenis. Teen dié tyd het die meeste lande reeds televisie en die maanlanding wat regstreeks uitgesaai is na sowat 600 miljoen mense, word ’n wêreldgebeurtenis. ’n Reusesprong vir die mensdom. Suid-Afrika mis dit.
In die weke daarna bied die Johannesburgse Planetarium openbare vertonings van die landing aan en sowat 100 000 mense staan tou om dit te sien. Koerantonderhoude wys op ’n interessante reaksie: Mense voel nie net onaangeraak deur hul blootstelling aan Hertzog se “demoniese doos” nie, maar eerder beroof deur hul uitsluiting van die regstreekse oomblik. Daardie jaar stel die regering die Meyer-kommissie aan. In 1971 stem die SAUK in om binne vyf jaar ’n nasionale televisiediens te vestig. Op 5 Januarie 1976, byna 50 jaar op die dag ná Baird se beroemde demonstrasie, is die SAUK uiteindelik op die kassie.
Kyk na die grafiek hier onder. Dit wys in watter jaar elke land televisie ingevoer het, teenoor sy BBP per capita op daardie stadium. Die patroon is duidelik: Ryker lande het vroeër televisies gekry. Suid-Afrika is die goue kol, opvallend regs. Hiervolgens is ons welvarend genoeg om dekades vroeër reeds televisies aan te skaf, maar het dit eenvoudig nie gedoen nie.

Klik hier vir ’n groter weergawe
Kom ons verbeel ons nou dat dinge anders uitgewerk het. Wat as Suid-Afrikaners reeds in die 1950’s toegang tot televisie gehad het, soos mense in ewe ryk lande? Wat as hulle die Amerikaanse burgerregtebeweging regstreeks sien ontvou het – die optogte, die toesprake, die brutaliteit van die staat se weerstand? Wat as beelde van weerstand en dekolonisasie van elders in Afrika hul weg na townshiphuise gevind het? Die apartheidsregering het presies geweet waarom dít nie toegelaat kon word nie. Elke jaar se uitstel is ’n jaar waarin miljoene Suid-Afrikaners van toegang tot inligting, tot onderwys, tot ’n venster op die wêreld weerhou is.
Die argumente teen Starlink is vandag meer gesofistikeerd as Albert Hertzog se stomp vrees vir die “demoniese doos”. Zibi lig geldige kwessies uit: waninligting, die konsentrasie van mag in een individu se hande en soewereiniteit. Dit is alles sake wat ernstige debat verdien. Die onderliggende logika bly egter herkenbaar. ’n Nuwe kommunikasietegnologie stel Suid-Afrikaners bloot aan idees en inligting wat nie volledig beheer kan word nie. Hou dit dus weg.
Toegegee, my analogie is nie perfek nie. Die televisie was ’n uitsaaimedium onder staatsbeheer, terwyl Starlink infrastruktuur is wat duisende dienste moontlik maak. Dit het wel nog een ding gemeen: Die mense wat die hoogste prys vir die uitsteltaktieke betaal, is nie die politici wat in die parlement oor soewereiniteit debatteer nie. Dit is die miljoene Suid-Afrikaners in landelike en onderbediende gebiede sonder betroubare internettoegang. Vir hulle kan Starlink beteken dat ’n kind huiswerk kan doen, ’n kliniek telemedisyne kan gebruik en ’n klein besigheid ’n mark bereik.
As Zibi se verwerping van Starlink daarop gemik is om vals inligting te bekamp, is die alternatief nie ’n suiwerder inligtingsomgewing nie. Dit laat ons bloot met dieselfde ou, beperkte een. Die spektrum wat digitale terrestriële televisie moes vrystel, is 50 jaar nadat die digitale oorskakeling aangekondig is, steeds nie beskikbaar nie. “Die toekoms is digitaal,” het minister Matsepe-Casaburri ons in 2008 belowe. Ons wag nog.
Dit is heeltemal redelik om regulatoriese waarborge, plaaslike eienaarskap en databeskermingsmaatreëls te eis voordat Starlink gelisensieer word. Dit is heeltemal redelik om te vereis dat Musk se maatskappye volgens Suid-Afrikaanse reëls speel. Wat nie redelik is nie, is om hierdie bekommernisse as verskoning te gebruik om miljoene mense weg te hou van ’n tegnologie wat hul lewens kan verander, terwyl die alternatiewe steeds nie werk nie.
Die geskiedenis van televisie in Suid-Afrika is ’n storie van politieke vrees wat as kulturele beskerming vermom word. Vir 50 jaar hou die heersende elite ’n tegnologie buite wat die res van die wêreld lankal aanvaar het – nie omdat dit nie hanteerbaar was nie, maar omdat dit nie heeltemal beheerbaar was nie. Die mense wat die swaarste dra, is dié met die minste sê.
Om televisies uit Suid-Afrikaanse huise te hou keer nie dat mense op die een of ander manier met die idees kennis maak wat die regering wou uithou nie. Dit maak net die medium self ’n politieke speelbal.
As ons aanvaar dat Starlink toegang tot die internet en dus tot inligting gaan uitbrei, raak dit deel van die oplossing, nie die probleem nie. Om Suid-Afrika se inligtingsomgewing te verbeter gaan nie werk deur nuwe tegnologie uit te hou nie, maar deur dit sinvol te reguleer en waninligting teë te werk.
100 jaar ná Baird se demonstrasie sit Suid-Afrika tussen twee toekomste: een wat oud en duur is, en een wat modern is, maar vir miljoene buite bereik bly. Politici sal oor soewereiniteit en invloed stry; dit is hul reg. Maar hulle moet ook onthou wat met die sogenaamde “demoniese doos” gebeur het. Die vrees vir wat Suid-Afrikaners dalk sou sien, hou hulle vir ’n generasie in die donker.
Laat ons nie dieselfde fout weer maak nie.


Kommentaar
Hoe kan dit vir Musk redelik wees om volgens die Suid-Afrikaanse reëls te speel, as ons almal weet dat daardie reëls absurd is en reeds verskeie beleggings in SA verhoed?