- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
’n Maand of wat voor my seun se geboorte, het ek en twee (vroulike) kollegas koffie gedrink. Ek onthou een deel van die gesprek nog goed. Toe hulle vra hoe dit met my vrou se swangerskap gaan, het ek erken ek weet nie mooi hoe die koms van ons baba my produktiwiteit gaan raak nie. “Seker minder tyd vir navorsing,” het ek bespiegel. Hulle het geskok geantwoord: “Nee man, jy gaan baie tyd hê – jy gaan waarskynlik nóg meer navorsing doen.” Ek het vriendelik geglimlag, maar gedink dis nogal ’n seksistiese opmerking. Hoekom sou ek nie net soveel tyd saam met my kind wou deurbring nie? Die ding is, hulle was reg.
Die Grondwethof se onlangse uitspraak in Van Wyk en Andere v Minister of Employment and Labour het my weer aan daardie gesprek herinner. Die hof het bevind dat Suid-Afrika se bestaande kraam- en ouerskapsverlof-bepalings onregverdig onderskei het tussen moeders en vaders, vroue en mans. Dit het die geslagsgebaseerde reëlings afgeskaf en ’n gedeelde model ingestel: As albei ouers formeel by ’n werkgewer in diens is, het hulle nou saam reg op vier maande en 10 dae se ouerskapsverlof wat hulle volgens eie goeddunke tussen hulle kan verdeel.
Dit is amptelik ’n oorwinning vir gelykheid. Mans kry wetlike erkenning as versorgers, en vroue word nie meer outomaties as die enigste verantwoordelike ouer gesien nie. Die nuwe bepaling gee lewe aan die gees van die Grondwet, wat gelyke regte waarborg ongeag geslag of gesinstatus. Gelykheid voor die wet is egter nie dieselfde as gelykheid in uitkoms nie. Die regsuitspraak verleng nie die totale ouerskapsverlof nie – dit verdeel bloot dieselfde tyd tussen twee mense. Ekonomies gesien, is dit ’n afruiling. Op papier klink dit regverdig, maar in die praktyk kan dit beteken dat vroue slegter daaraan toe is as voorheen.
Ekonome het selfs ’n term vir hierdie onbedoelde uitkoms: die child penalty. Ek noem dit sommer die bababoete – die ekonomiese prys van ouerskap. Dit beskryf die duik wat vroue se loopbane neem, in salaris en werksgeleenthede, relatief tot mans s’n ná die geboorte van hul eerste kind. ’n Onlangse wêreldwye studie deur Henrik Kleven en mede-outeurs, The child penalty atlas (2025), karteer hierdie verskynsel oor 134 lande heen. Die bevindinge is opvallend: In bykans elke land volg mans en vroue dieselfde loopbaantrajek tot hul ouers word en dan, skielik, skei hul loopbaanpaaie vir altyd. Suid-Afrika staan loshande uit. Ons bababoete is sowat 28 persent – een van die hoogstes in Afrika, en selfs ter wêreld. Dit beteken dat Suid-Afrikaanse vroue se indiensneming, vergeleke met mans, met meer as ’n kwart daal nadat hulle ’n kind het en dit herstel nooit heeltemal nie.

Bababoete in indiensneming, Suid-Afrika – Kleven et al. 2025. Mans se indiensneming bly stabiel ná die eerste kind; vroue s’n daal met sowat 28 persentasiepunte en herstel nie. Klik hier vir ’n groter weergawe van die grafiek.
Die bababoete gaan oor meer as net verlore inkomste. Dit wys hoe norme, kinderversorgingskoste en werkplekverwagtinge saamwerk sodat moederskap die bepalende faktor in geslagsongelykheid raak. Die ironie is dat die bababoete dikwels groter word namate ekonomieë ontwikkel en meer mense die formele arbeidsmark betree. Bestaansboere kan dalk nog kinders versorg terwyl hulle werk; rekenmeesters en ingenieurs kan nie. Ontwikkeling bring welvaart, maar lei ook tot skerper afruilings tussen formele werk en kindersorg.
Die Grondwethof se uitspraak probeer een deel van daardie afruiling aanspreek, naamlik die ongelyke wetlike behandeling van mans en vroue. Of dit egter Suid-Afrika se bababoete werklik sal verminder, hang heeltemal af van mensegedrag – en spesifiek wié die verlof op die ou end neem.
In ’n radio-onderhoud oor die nuwe wetswysiging het Wessel van den Berg van die organisasie Equimundo, wat geslagsgelykheid bevorder, gesê die sogenaamde “gedeelde model” van ouerskapsverlof “mis die punt”. Omdat die hofuitspraak ouers dwing om die vier maande en 10 dae te deel, verkort dit uiteindelik vroue se kraamverlof, verduidelik Van den Berg. In ’n land met soveel gebroke gesinne, om nie eens van gewelddadige verhoudings te praat nie, kan die besluit oor hoe die verloftyd verdeel word maklik onprakties of selfs gevaarlik raak. In gevalle van mishandeling kan dit as dreigmiddel teen die swanger vrou gebruik word. Soos Nthabi Nhlapo op News24 skryf, kan baie vroue uiteindelik gedwing word om met onwillige of vyandige vaders van hul kinders te onderhandel oor iets wat eintlik beskerming moes bied.
Suid-Afrika is natuurlik nie die enigste land wat dié gedeelde model volg nie. Sedert 2015 kan ouers in die Verenigde Koninkryk tot 50 weke se gedeelde verlof in hul baba se eerste jaar neem. Maar dit werk nie. Patricia Hamilton van die York-Universiteit het dit in 2023 eenvoudig ’n “mislukking” genoem. In die eerste jaar van die program het net een uit elke 100 mans ouerskapsverlof aangevra. En dieselfde patroon speel elders uit. In Pole neem net een persent van mans enige ouerskapsverlof, ten spyte daarvan dat hulle van die beste verlofreëlings in die wêreld het met 32 weke gedeelde verlof en nog 20 weke eksklusiewe kraamverlof teen 80 persent van die salaris.
Swede is die eerste land wat vaderskapverlof ingestel het, al in 1974, maar selfs daar het dit jare lank nie veel verskil gemaak nie. Minder as 6 persent van die mans wat daarop geregtig was, het dit geneem. Dít het eers verander toe die regering in 1995 ’n “pappa-pakket” ingestel het – verlofdae wat uitsluitlik vir vaders beskikbaar is en wat verlore gaan as hulle dit nie gebruik nie.
Sedertdien het lande soos Ysland, Noorweë, Suid-Korea en Japan soortgelyke reëlings ingestel, en dit het wel gehelp om meer mans aan te moedig om verlof te neem. Hierdie hervormings het ongelukkig steeds nie die bababoete laat verdwyn nie. Navorsing deur Andresen en Nix wys hoekom. Hulle het Noorweë bestudeer en gevind dat vroue tipies hul verlof onmiddellik ná die geboorte neem, wanneer daar nog geen formele kindersorg beskikbaar is nie en hul liggame herstel. Mans, daarenteen, neem die verlof wanneer dit vir húlle gerieflik is, soos wanneer die kind reeds in ’n dagsorg is of tydens vakansies, wanneer die ma waarskynlik ook by die huis is. “Hierdie tipe ‘gerieflike verlof’ maak dit natuurlik makliker vir vaders om hul loopbane aan die gang te hou,” skryf hulle. “Dit is beplanbaar en help mans en hul werkgewers om saam die ontwrigting tot ’n minimum te beperk.”
Interessant genoeg toon hul studie dat vaders wat verlof op dieselfde manier as moeders neem – vroeg, lank en intensief – ’n bababoete van sowat 10 persentasiepunte kleiner ervaar. Andresen en Nix se gevolgtrekking is duidelik: As regerings die bababoete of die geslagsloonverskil wil verklein deurdat mans soms meer versorgingsverantwoordelikhede aanvaar, moet vaderskapverlof nié buigsaam wees nie. Dis die vaste, nie-oordraagbare dae wat werklik die verskil maak. Suid-Afrika se nuwe reëling vereis wel dat ouers hul gedeelde verlof binne vier maande ná die geboorte, aanneming of surrogaatskap neem. Dit beperk dus die soort “gerieflike verlof” wat vaders elders verkies, maar dit verplig mans ook nie om enigsins verlof te neem nie.
Ons kan leer uit die internasionale lesse. Geslagsneutrale ouerskapsverlof sonder vaste, nie-oordraagbare dae vir vaders verander min aan gedrag. Wanneer ouers self kan besluit hoe om die tyd te verdeel, neem die een wat minder verdien, gewoonlik die verlof om die finansiële impak op die gesin te versag, en dit is meestal die vrou. Dít bevestig ou rolverdelings waarin vroue as die hoofversorgers gesien word, terwyl mans ononderbroke aanhou werk. Onder Suid-Afrika se nuwe hofbeslissing kom elke dag wat die man wél neem, nou direk uit die vrou se vorige verlof. As albei dus twee maande neem, verloor sy die helfte van die hersteltyd wat sy vroeër gehad het. Dit klink dalk na gelykheid, maar in praktyk kan dit korter borsvoeding, swakker herstel en minder werksekerheid inhou.
Wette wat op papier simmetries lyk, het dikwels asimmetriese gevolge. Soos Nthabi Nhlapo tereg herinner: Mans en vroue se liggame, sosiale verwagtinge en loopbane is nie spieëlbeelde van mekaar nie. Of, soos Alison Davis-Blake van die Michigan-Universiteit dit skerper stel: “Om geboorte te gee is nie ’n geslagsneutrale gebeurtenis nie.” Die hoop dat gedeelde ouerskapsverlof die bababoete sal uitwis, berus dus op ’n groot aanname – dat mans hulle gedrag gaan verander sodra hulle die reg het om dit te doen. Die tendense van regoor die wêreld toon dat dit onwaarskynlik is. Ekonome help om te verstaan waarom. Waar regsgeleerdes oor formele regverdigheid praat soos gelyke behandeling en konsekwente reëls, kyk ekonome na wat mense met daardie reëls dóén. Formeel gesien, is die nuwe beleid regverdig; in die praktyk kan dit ongelykheid verdiep deur vroue se verlof te verkort sonder dat mans se gedrag verander. Gelyke regte lei nie outomaties tot gelyke uitkomste nie.
As ons regtig geslagsgelykheid wil bevorder, moet ons ’n ander rigting inslaan, naamlik nie-oordraagbare verlof vir elke ouer, billike vergoeding tydens daardie verlof en toeganklike, bekostigbare kindersorg. Die Grondwethof se besluit herinner ons daaraan dat sogenaamde regverdigheid soms onregverdig kan uitwerk wanneer dit biologie, gedrag en norme ignoreer. Vroue kan broodnodige tyd verloor vir herstel, mans neem dalk nie veel meer verantwoordelikheid vir die kinders nie en Suid-Afrika se 28 persent bababoete sal waarskynlik onveranderd bly. Ek dink terug aan daardie gesprek voordat ons seun gebore is. My kollegas was reg: My produktiwiteit het gestyg; my vrou s’n het nie. Selfs met gedeelde ideale en simpatieke werkgewers, is die verantwoordelikheid nie gelyk verdeel nie. Sy sit met die herstelproses en die slapelose nagte; ek sit met die skuldgevoel dat ek voordeel trek uit hierdie wanbalans. Dis wat ekonome die bababoete noem – en wat die wet nog nie heeltemal verstaan nie.


Kommentaar
Ja, die bababoete is swaar genoeg en mans se reg op kraamverlof behoort sekondêr te wees.