Agterstories: Clans, korporasies en klone

  • 0
  • Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.

Een van die groot vrae in die ekonomiese geskiedenis is waarom sommige samelewings ryk geword het, terwyl ander ewe gesofistikeerde samelewings nie het nie. In hul onlangse werk stel Avner Greif, Joel Mokyr en Guido Tabellini ’n eenvoudige, maar elegante manier voor om dié vraag te benader. In plaas daarvan om weer na geografie of natuurlike hulpbronne te kyk, ondersoek hulle hoe samelewings hul onderlinge samewerking georganiseer het. Lank voordat moderne state kon sorg vir wet en orde, welsyn of die onderwys, moes mense maniere vind om met mekaar saam te werk. Hóé hulle dit gedoen het, is die deurslaggewende faktor wat oor die eeue heen ’n groot verskil gemaak het.

In China is die antwoord hoofsaaklik die clan. Hierdie familiegroepe is groot, verwantskapsgebaseerde organisasies wat sommer baie rolle gelyktydig vervul het: Hulle het vir mekaar gesorg, geskille opgelos, gedrag gereguleer en tot die opvoedingstaak bygedra. Dié stelsel het gesteun op lojaliteit aan die familie, ’n gedeelde herkoms en respek vir die ouer geslag. Dit werk goed om stabiliteit en orde te handhaaf en pas netjies in by ’n sterk, gesentraliseerde staat.

In Europa het samewerking egter toenemend deur korporasies plaasgevind. Dít is, histories gesproke, doelgemaakte organisasies, soos gildes, stede, kloosters, universiteite en later ook aandelemaatskappye. Lidmaatskap tot hierdie groepe hang nie van bloedverwantskap af nie, maar van reëls. Korporasies is oop vir vreemdelinge, deur formele prosedures bestuur en het mense toegelaat om terselfdertyd deel te wees van meer as een organisasie.

Hierdie verskil het volgens Greif, Mokyr en Tabellini verreikende gevolge. Europese korporasies help om kontraktereg, verteenwoordigende instellings en die gewoonte van samewerking los van familiebande te ontwikkel. Dit moedig ook kennisvervaardiging en eksperimentasie aan, wat uiteindelik gelei het tot die Industriële Revolusie. Chinese clans is weer doeltreffend in plaaslike bestuur, maar koppel samewerking sterker aan verwantskap en hiërargie. Oor eeue heen druk hierdie uiteenlopende maniere waarop samelewings hulself organiseer ’n diep stempel af op politieke instellings, regstelsels en patrone van innovasie.

Volgens hierdie raamwerk gaan welvaart dus oor meer as tegnologie of vae verwysings na kultuur. Dit gaan oor hoe mense samewerking organiseer wanneer onderlinge vertroue in mekaar min is en ooreenkomste nie maklik afdwingbaar is nie. Die volgende vraag ontstaan dan: Wat gebeur wanneer ’n nuwe vorm van samewerking opduik wat buite die bekende strukture van clans en korporasies val?

Greif, Mokyr en Tabellini kyk uiteindelik na wat ’n mens tegnologieë van delegasie kan noem. In enige samelewing word daar gedelegeer. Mense moet vennote kies, besluit wie betroubaar is, leer om saam te werk en optree wanneer iets verkeerd loop. Wanneer markte dun is en ooreenkomste nie maklik afdwingbaar is nie, raak die uitdaging om delegasie op groter skaal uit te voer. Clans hanteer hierdie probleem deur delegasie binne die familie te plaas. Toesig is informeel en as iets skeefloop, tree sosiale sanksies in werking. Korporasies volg ’n ander pad. Hulle plaas delegasie binne reëlgebaseerde organisasies, waar geskrewe prosedures en eksterne kontroles bepaal hoe dinge gedoen word. In albei gevalle kom dit egter op dieselfde neer: om ’n duursame struktuur te skep wat dit goedkoper maak om saam te werk met mense wat jy nie noodwendig ken nie.

Wat gebeur as ’n buiteperd die arena betree? KI-agente verander die speelveld, omdat hulle die aard én die koste van delegasie verander. Al word hulle deur mense ontwerp – soos kontraktereg en korporatiewe statute – verskuif hulle die grense tussen families, organisasies en markte sodra hulle dit goedkoper maak om te soek, te onderhandel en toe te sien dat ooreenkomste nagekom word. Dit maak dit moontlik dat KI-agente as ’n derde manier van delegasie begin funksioneer: ’n manier om samewerking op groot skaal te organiseer, wat bepaal watter organisasies en markte werkbaar is.

Met klone in die titel bedoel ek KI-agente: Sagteware wat inligting kan inneem, besluite kan neem en namens mense kan optree. Hulle doen dit reeds op baie maniere – van produkte soek en pryse vergelyk tot kode skryf en dokumente opstel. Wat hulle onderskei, is hul rol in delegasie. Take wat vroeër vereis het dat jy iemand aanstel en bestuur, kan nou toenemend deur ’n dupliseerbare digitale agent hanteer word.

Neem ’n eenvoudige voorbeeld: aankope vir ’n klein besigheid. Om dinge betroubaar te laat verloop, werk jy óf met verskaffers wat jy reeds ken, óf jy bou ’n interne aankoopstelsel met vaste roetines en kontroles. Met KI-agente lyk dit anders. Jou agent stel die spesifikasie op, soek en vergelyk verskaffers, onderhandel binne voorafbepaalde perke, kontroleer gehalte en hanteer betalings en geskille. Wat vroeër mense en baie koördinering geverg het, kan nou deur een digitale agent gebeur.

Dit maak ekonomies saak, omdat clans en korporasies albei dieselfde probleem probeer oplos. Markte werk, maar dit kos moeite om hulle te gebruik. Clans verlaag daardie koste deur vertroue binne families; korporasies doen dit deur reëls en gesag. KI-agente kan dit verder verlaag deur soektogte, onderhandeling en toesig so goedkoop te maak dat meer transaksies direk en op groter skaal kan plaasvind.

Onlangse werk deur Peyman Shahidi, Gili Rusak, Benjamin Manning, Andrey Fradkin en John Horton wys dat hierdie dinamiek nie net teoreties is nie. Hulle voer aan dat KI-agente as outonome tussengangers in markte kan optree en transaksiekoste drasties kan verlaag deur op groot skaal te soek en te onderhandel. As hulle reg is, begin die klassieke grens tussen firmas en markte, wat Ronald Coase aan transaksiekoste gekoppel het, skuif. Sommige aktiwiteite kan uit organisasies na markte beweeg en nuwe markte kan ontstaan wat hoofsaaklik vir agent-tot-agent-interaksie ontwerp is.

Vanuit hierdie oogpunt verteenwoordig klone ’n derde organiseringsraamwerk vir samewerking: gedelegeerde agentskap wat deur kode bemiddel word. Hulle skaal deur replikasie. Sodra ’n agent ’n taak goed uitvoer, kan dit gekopieer, gespesialiseer en weer ontplooi word teen minimale ekstra koste. Die beperking skuif dan weg van die bestuur van mense na die ontwerp van doelwitte, koppelvlakke en beskermingsmeganismes.

’n Mens sou gevolglik kon wonder of korporasies gaan verdwyn. Dít is onwaarskynlik. Die beheer oor data, rekenkrag en platforms dui eerder op die teendeel en lê steeds grootliks by bestaande organisasies. Wat wel verander, is hoe werk binne en tussen organisasies gereël word. Een persoon kan byvoorbeeld ’n groep gespesialiseerde agente koördineer wat take hanteer wat vroeër oor verskeie afdelings versprei is. Groot organisasies kan selfs nóg groter word as agente interne samewerking vergemaklik en terugvoersiklusse skep waarin produksiedata toekomstige prestasie verbeter. Soos Gillian Hadfield en Andrew Koh uitwys, kan laer koördineringskoste net so maklik tot groter konsentrasie lei as tot meer desentralisering.

Die kloneroete het egter ook duidelike perke. Dink aan die aanstelling van ’n senior bestuurder, ’n skoolhoof of die keuse van ’n langtermyn navorsingsvennoot. Op papier is vaardighede, ervaring en vorige prestasie belangrik. In die praktyk hang dit dikwels af van moeiliker meetbare dinge, soos iemand se oordeel onder druk, die vermoë om ’n situasie aan te voel, morele instinkte, geloofwaardigheid by kollegas en of iemand by ’n span se ongeskrewe norme inpas, of herhalende botsings veroorsaak. Annie Liang se werk oor KI-klone wys hoekom dit belangrik is. Wanneer sulke besluite oor verskeie dimensies gelyktydig geneem moet word, raak KI-voorstellings van mense problematies. Dit werk dikwels beter om ’n paar kandidate persoonlik te ontmoet as om deur duisende KI-profiele te sif – klein foute kan die stelsel oorweldig en die algoritme se “beste” voorstel raak al hoe minder betroubaar.

Hierdie punt geld nie net vir aanstellings nie. Baie belangrike ekonomiese besluite vra oordeel wat nie maklik in reëls vasgevang kan word nie. KI-klone werk die beste waar doelwitte duidelik is en prestasie gemeet kan word – soos om pryse te vergelyk, roetineaansoeke te sif of logistiek te verbeter. Hulle sukkel egter waar besluite afhang van stil kennis, aanvoeling en ’n geheelbeeld. Die toekoms gaan daarom minder oor alles vervang en meer oor werk anders verdeel. Mense stel doelwitte, weeg keuses op en dra verantwoordelikheid; agente doen die soek, die uitvoering en die verkenning, op ’n skaal wat mense alleen nie kan hanteer nie.

Daar is ook verdelingsimplikasies. As KI-stelsels sommige mense meer akkuraat as ander voorstel, byvoorbeeld omdat hulle meer data genereer of makliker deur algoritmes “gelees” kan word, kan hulle meer geleenthede kry. Liang wys dat selfs wanneer groepe andersins identies is, sogenaamde “dataryke” individue meer geneig is om deur KI-bemiddelde prosesse gekies te word. Dit dui op ’n nuwe vorm van ongelykheid, een wat minder oor vaardigheid alleen gaan en meer oor hoe goed ’n mens deur masjiene verstaan word.

Uiteindelik, en miskien die belangrikste, is daar ook ’n institusionele uitdaging. Clans en korporasies was nooit bloot organisatoriese oplossings nie; hulle is ingebed in regs- en politieke raamwerke. In China het clans byvoorbeeld keiserlike gesag aangevul. In Europa het korporasies weer ’n sleutelrol gespeel in die ontwikkeling van kontraktereg, parlemente en grondwetlike perke op mag. ’n Ekonomie van klone sal eweneens sy eie infrastruktuur nodig hê. Wie dra verantwoordelikheid wanneer ’n agent skade berokken? Hoe word agente geïdentifiseer, gemonitor en gereguleer? Moet hulle altyd aan ’n menslike bestuurder gekoppel wees, of kan hulle, soos korporasies destyds, ’n beperkte vorm van regspersoonlikheid ontwikkel? Hadfield en Koh voer aan dat markte met KI-agente sonder nuwe regsgrondslag swak sal funksioneer.

Clans, korporasies en klone is dus verskillende antwoorde op dieselfde probleem: hoe om samewerking te organiseer onder beperkings; en hoe om delegasie te plaas – binne verwantskapsnetwerke, binne reëlgebaseerde organisasies, of binne dupliseerbare agente wat volgens gedeelde protokolle werk. Die opkoms van KI-agente doen meer as om bestaande organisasies net vinniger te laat werk. Dit stel ’n nuwe organiserende logika bekend, gebou op gedelegeerde, skaalbare agentskap. Of dit tot gedeelde welvaart lei, of tot groter konsentrasie en ongelykheid, sal afhang van keuses oor ontwerp en bestuur. Die ekonomiese geskiedenis is hier duidelik: Tegnologie lei tot nuwe moontlikhede, maar menslike instellings bepaal die uitkomste.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top