Agterpaaie

  • 1

Namakwaland se blomme (bron: wikipedia)

Juliana Coetzer het onlangs by die BoekeJol en FilmRol 2016 gesels oor Bloedvreemd wat die verhaal vertel van hoe haar dogter van sewe weens 'n onbekende virus breinskade opgedoen het. Klik hier vir 'n resensie.


Ons ry die agterpaaie, sê ons vir mekaar as ons die pad vat Namakwaland en Namibië toe. Ons weet, want dit was ʼn agterpad wat ons in Namibië by die lekkerste, vetste hamburger gekry het, waar ons duine klim en berge van rooskwarts opspoor en by mense oornag wat hulle gaste met soetpatats en skaapnek bederf en die oorskiet inpak vir die volgende dag se ry. Môre maak jy die lucky packet oop, want jy weet êrens sal jy op gesnyde biltong en droëwors afkom. Die goue opbrengs van die agterpaaie.

In Namakwaland vat jy die agterpaaie om jou by die beste blomme te kry. Nie hierdie kleintjies wat dofgeel staan wat jy orals van die Weskus af kry, die daisy nie, maar die grotes, die blinksoet bottergousblom met vet stamme wat jou klere met oranje stuifmeel vlek. Skilpad, Soebatsfontein, Gamoep, Goegab, af by die Anenouspas op pad Port Nolloth toe.

Dis die agterpaaie wat jou die juwele op ʼn skinkbord aanbied. Maar jy moet gewillig wees om uit te klim en jou kar doer agter jou te los en die veld in te stap sodat jy by die huis nog die reuk van pietsnot, gousblom, sporrie en taaibos aan jou klere inasem. Jy moet kan bang wees dit raak op. Jy moet kruip en die insekte se spoor vat en op die harde grond met ʼn klip klop-klop en wag totdat die toktokkie vir jou met sy agterlyf terugroep. Jy moet jou aan die asem van die natuur oorgee. Die versigtigheid agterlaat. Anderkant toe se weë volg. Weg van die veiligheid en verveling van hoofroetes waar jy net pad voor jou sien en jaag om by die gastehuis te kom voor die son sak en die koedoes spring. En vanaand is jy vroeg in die bed om uit te rus vir die lang hoofroete môre en jy weet nie, jy sien nie, jy trek nie jou vingers deur die sterre wat net bo jou kop hang nie. Jy is onbewus.

Hierdie is ook ʼn agterpad, dink ek op pad na die pensioenfonds se kantore in Pretoria. Sassa word tydelik in die Avbob-gebou in Madibastraat gehuisves. Rondom ons toet die taxi’s en ry onverskrokke oor sypaadjies en rooi ligte. Ek wonder wat Madiba hiervan sou sê? Ons stap deur ʼn nou gangetjie wat soos urine ruik en kom voor ʼn tent te staan. Binne sit ʼn vrou wat met haar kop beduie ons moet na haar toe kom. Sy sit agter ʼn staaltafel met haar arms gevou en bekyk die vorm wat ek aangee van ʼn afstand af. Ek sien op die tafel lê ʼn Bybel oop – by Kolossense. Hoekom spesifiek daar, wonder ek en sien ʼn paar verse is met rooi onderstreep. Ek wens ek het my bril op, dalk is daar ʼn bedekte waarskuwing in die gedeelte. Sy wys met haar kop anderkant toe en prewel “First floor” nog voor ek kan uitmaak wat Kolossense gewaarsku het.

Ons klim die trappe, Anneke agter my met haar pienk polkadot-handsak. Ons is op haar agterpad, die een wat sy ons maak volg. Ek sou hom nie gekies het nie, vir seker nie gedink hy het enigiets te bied nie. Ek wonder wat maak die mense in rolstoele, die mankes, sonder ledemate, blindes en ou mense. Hoe klim hulle die nou trappies?

By die eerste vloer gee ek die vorm vir die veiligheidswag. Hy lees en stap tien treë na die volgende wag. “Kom mammie,” sê hy en stap vooruit, af met die gang, verby ʼn menigte mense wat op stoele in die gang sit en wag vir die bevestiging van die dokter dat hulle nie kan werk nie. Ek kyk nie. Hy vat ons in ʼn groot saal in waar nog meer mense in rye sit en wag. Die personeel sit in klein hokkies, elkeen met ʼn rekenaar voor hulle.

“Next,” hoor ek hulle roep. Dis vuurwarm in die gebou. Mense waai hulleself en hul kinders koel met enigiets van sweetpakbaadjies tot weggooidoeke. Die veiligheidswag vat ons na ʼn hoek in die vertrek waar ses rye van ses groen tuinstoele elk staan. Ons moet daar sit, sê hy. Ons neem plaas in die vierde ry. Ek het ʼn boek gebring om die tyd om te kry, maar gryp my selfoon. Pravin Gordhan is in die nuus en natuurlik ons president ook. Ek begin lees om op hoogte te bly, of is dit om ʼn verslawing in stand te hou, en toe is dit Facebook.

Kyk op, sê iets binne my, kyk waar is jy. Kyk vir die mense. Moenie dat die omgewing ongesiens by jou verbygaan nie. Wees bewus, sien raak.

Ek kyk met oop oë en sien die vrou met die gladde vel en veelkleurige doek om haar kop wat skuins voor my sit. Ingewikkelde metode, dink ek en wonder hoeveel tyd sy daaraan afgestaan het vanoggend. ʼn Ou man langs haar kreun. Sy gee hom water. Die vrou in een van die hokkies roep “Next” en sy staan op. Die ou man is niks van haar nie, sien ek. Hy wag sy beurt af.

Rondom my sit mense met dowwe oë, diep voue in hulle gesig en swaarkryletsels. Vertel iemand ʼn storie, lag almal gie-gie-gie. Ek kan nie saamlag nie, want ek ken nie die taal nie. ʼn Goue oomblik is my verlore. Ek is onbewus.

Ek sien die rooi, geswelde are op sy wange en wonder hoeveel die man met die af been drink. ʼn Kleuter hardloop op stywe beentjies by my verby en ek gryp hom en soen en soen die vet wange. Ek wou dit nog altyd doen. Die ma kyk welbehaaglik toe. Hier gee niemand om nie solank jy bydra om die tyd om te kry.

Drie jong meisies met babas kom die vertrek binne en neem in die agterste ry plaas. Hulle kan nie ouer as twintig wees nie, skat ek. “Ai, die jong kinders wat vir babapensioen kom vra,” praat die middeljarige vrou (soos ek) wat langs my sit in vlot Afrikaans. Ek sien sy het ʼn stok in die hand met ʼn rooi lap bo om die punt gedraai. Om haar skouers hang ʼn lap met ʼn skild en spies op geverf. Ek sit ʼn entjie weg – sê nou maar sy is ʼn sangoma of iets en kan toor – ek het genoeg shit soos dit is.

Iemand roep “Next” en sy stap na die hokkie. Ek bekyk die storie, wil sien hoe sy behandel word, of die vrou agter die lessenaar ook versigtig is. Niks nie, net soos die ander. Hier is nie rang of voorkeur nie. Almal is dieselfde. Hierdie plek is ʼn gelykmaker. Ek glimlag in my binneste vir die grap wat my Namakwalandse skoolvriend Don Theart vertel het van die oom van Garies met die twee hondeopeninge in die kombuisdeur. Toe die jong gas hom vra hoekom hy dan twee daarvan het, sê die oom: “Ek het twee honde en as ek sê hulle moet fokof, moet hulle glyk fokof.” Sassa, die glykmaker.

“Next.” Dis ons beurt. “Haar ongeskiktheidpensioen is gestaak,” sê ek. “Ja, maar jy het nie gekom vir die review nie,” praat sy kwaai met my. Sy is mooi aangetrek met ʼn stywe pruik op die kop, hoëhakskoene en krale om die een enkel. Sy sien ek kyk na die krale en stoot haar bene lank voor haar uit. “Ek was hier, maar hulle het gesê die review is eers volgende jaar.” “Die mense het vir jou verkeerd gesê. Kan sy haar handtekening maak?” “Nee, maar sy kan haar naam skryf.” Anneke skryf haar naam in ronde letters op die vorm soos die sewejarige waar haar brein gaan staan het. Niks ge-“shame, oe en aa” nie. My bril is op my oë en ek sien my kind se vuil hare, maar daar is erger dinge in die lewe en hierdie plek is die bewys daarvan. “Eish, hierdie aircon wat nie werk nie,” kla die vrou en drink water uit ʼn bottel.

Uiteindelik is ons klaar, ek kan nie genoeg dankie sê nie en voel om soos ʼn Chinees voor haar te buig. “Ja, ja, go,” sê sy. “Next.” Ons is nie spesiaal nie. Glyk.

Ons stap die warm vertrek uit waar dieselfde mense steeds op dieselfde plekke in hulle rye sit en wag. Hierdie keer sien ek hoe deel hulle toebroodjies onder mekaar uit en drink koffie uit ʼn fles. Almal sit geduldig en wag. Vrouens voer vetwang kindertjies aan ʼn vol bors langs rasonbewuste mans wat na mekaar se stories luister en ander klou aan hul selfone. Staan opsy, penis envy, die era van selfoon envy is hier.

Ons klim in die motor. Ek sien drie ure is verby.

O, dit is wat hulle bedoel met Afrika-tyd, verstaan ek. Jy kyk met oop oë en wanneer jy regkry om te sien, glip tyd ongesiens verby.

Maar jy moet bereid wees om af te wyk van die veiligheid van die hoofroetes.

En volg die agterpaaie van Afrika waar die juwele wag.

 

  • Juliana Coetzer, psigoterapeut en skrywer van Bloedvreemd
  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Christine Louw

    Juliana jy verstom my elke keer van nuuts af met jou gevoelvolle beskrywings van alledaagse situasies - kan nie wag vir jou volgende boek!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top