Afrique mon désir: ’n musikale reis deur gedigte uit Afrika en Madagaskar, met toonsettings deur Laurinda Hofmeyr
Met die bekendstelling op vanjaar se Woordfees van Afrique mon désir, een van Laurinda Hofmeyr se mees kreatiewe en musikaal mees opwindende CD’s, word daar sommer ook ’n onreg reggestel wat gepleeg is teenoor die digter wat die meeste gedigte tot die CD bygedra het.
Daar is vier van Jean-Jacques Rabearivelo se gedigte1 getoonset en twee van Nimrod, ’n digter uit Tsjaad, terwyl die oorblywende ses digters2 elk deur een gedig verteenwoordig word. Die Malgassiese digter Rabearivelo het nooit sy eiland verlaat nie, hoewel sy droom was om na Frankryk te reis en Madagaskar by die 1937 Universele Uitstalling in Parys te verteenwoordig. Die besluit van die Franse regering om Rabearivelo nie by die afvaardiging in te sluit nie is een van die redes wat aangevoer word vir sy selfdood in 1937.3
Die regstelling het inderwaarheid al in 2010 begin, met die publikasie deur die CNRS4 van Rabearivelo se Versamelde werke, gevolg deur ’n tweede volume in 2012. Die twee lywige volumes5 verenig tekste in verskillende genres deur ’n jong man wat op slegs 36 sy lewe op hoogs teatrale wyse sou neem, en wat deur die gevierde Afrikastudies-kenner Alain Ricard beskryf is as ’n veerman op reis tussen Madagaskar en Frankryk en tussen die Malgassiese en Franse tale. In 2014 inisieer Catherine du Toit van die Universiteit Stellenbosch die meertalige Rabearivelo-poësievertaalprojek; in 2017 word Laurinda Hofmeyr genader om die toonsettings te doen van ’n aantal gedigte deur Afrika-skrywers (wat Afrikaanse digters insluit) as deel van ’n musiekprojek saam met die groep Afrique mon désir. Du Toit was jare vantevore Laurinda se Frans-dosent; sy stel gedigte uit verskillende Afrikalande bekend, vertaal Afrikaanse gedigte in Frans, help om Laurinda se diksie perfek te kry. Die resultaat kan waarskynlik net as ’n soort Gesamtkunstwerk beskryf word, want die CD is ’n kollektiewe meesterstuk.
Die omslagontwerp, wat mooi genoeg is om te raam, is gedoen deur Diek Grobler. Dit vou oop om ’n drieluik te vorm waarop ses van die illustreerder se kunswerke gesien kan word. My gunsteling is die voorblad, waarop ’n boomkano en sy weerkaatsing geruisloos deur goudkleurige water klief en deur die silhoeëet van ’n man, waarin die figuur van ’n dansende vrou vasgevang is: dit is ’n mitiese, kunsgeworde landskap. En dit is wat Afrique mon désir is: ’n stemming, ’n atmosfeer waartoe alle medewerkers bydra. Twee van die groot geeste op hierdie CD is die toonsetter en sangeres Laurinda Hofmeyr en die Malgassiese akkordeonspeler Régis Gizavo, aan wie die CD opgedra is, en wat ’n paar weke na die opnames vir hierdie CD in Parys oorlede is. Sy fyn, atmosferiese spel verseker ’n outentiek Frans-Malgassiese teenwoordigheid in die orkestrasie. Die CD sal later vanjaar ook in Europa bekendgestel word gedurende ’n uitgebreide toer waartydens Du Toit se Franse vertalings van Marais se “Die dans van die reën”, Krog se “Stil maar” en Breytenbach se “26 November 1975” vir die eerste keer in Frans gehoor en gelees sal kan word. Die CD-boekie bevat naamlik Franse, Afrikaanse en Engelse weergawes van al die gedigte (danksy die meertalige vertaaltalente van Catherine du Toit). Die enigste tekste wat net in Frans en Engels in die boekie verskyn, is die twee voorwoorde deur Nico McLachlan van die Kaapstadse Musiekakademie en deur Laurinda Hofmeyr self. Sy noem daarin dat Gizavo op hierdie CD vir die eerste keer ook gesing het, in die opname “26 November 1975”, ’n reël wat vir hom profetiese betekenis sou hê: “want die lewe is ’n asem lank”. Die klanke van sy akkordeon blaas lewe en emosie in elk van die liedgeworde gedigte in, maar in hierdie snit word sy stem in die musieklandskap verewig. Hofmeyr moet gelukgewens word met die kragtoer van toonsettings waarin die verskillende prosodieë van Frans en Afrikaans naatloos inmekaar vloei. Die talentvolle Schalk Joubert is verantwoordelik vir die musiekproduksie.
Die groep musici bestaan eerstens uit Laurinda Hofmeyr, een van die mees begaafde toonsetters van gedigte in ’n land wat name van ander toonsetters soos Herman van den Berg en Chris Chameleon opgelewer het. Die lys van musiekmakers is lank: Schalk Joubert, Régis Gizavo, Kevin Gibson, Kayembe Ilunga, Malako Wekuna Soba, Yamamoto Bonkuta Loyeke, Deodata Kinzunga-Walo en Jürgen von Wechmar. Die musikale diversiteit van die 13 snitte is werklik iets besonders – van die wiegende melodie van “Sous la terre”, wat ook as ’n videosnit gekyk en geniet kan word, tot die uitbundige “Dans van die reën” is die CD ’n musikale reis deur Afrika en na Madagaskar. Luister hoe die elektriese kitaar met ’n pluk van die snare ’n vallende druppel laat klink in “Reflux de la lumière océane” en in gesprek tree met ’n liriese akkordeon, terwyl Hofmeyr se hipnotiserende herhalings van ’n pragtige versreël in dieselfde lied met sy allitererende p’s (“d’innombrables petits poissons” / “ontelbare klein vissies”) jou meevoer na die eiland wat so ’n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het, of hoe die Kongolese trio ’n sterk Wes-Afrikaanse kleur aan sommige van die variasies van ’n musikale tema gee.
Afrique mon désir is meer as ’n CD of ’n opwindende musiekvertoning: dit is ’n reis na ’n ideale, meertalige land waar skeppende kunstenaars en hul publiek ’n gedeelde menswees ontdek deur middel van ’n seleksie van die mooiste gedigte wat nog op die kontinent en sy buureilande geskryf is. Elkeen wat daarna luister, sal ’n persoonlike gunsteling vind: myne is “Sous la terre”, ’n gedig van Rabearivelo, met ’n lieflike klavierinleiding wat vir my soos ’n mantra geword het; maar daar is iets vir elke smaak: die verhaal van die swart koei wat voortleef in die drom wat uit haar vel gemaak is (’n buitengewoon suksesvolle toonsetting – luister hoe effektief Hofmeyr die musikale klem plaas op tendu / oopgespalk). Of miskien ’n meer eietydse aanslag in die toonsetting van Véronique Tadjo se “Voici venue l’heure” (Nou is die tyd) of Hofmeyr se magiese inleiding tot “Au fil de l’eau” (Stroomlangs) wat die luisteraar ontvanklik maak vir Nimrod se gedig; of die meer Wes-Afrikaanse aanslag van “Gens du silence” (Mense van stilte), of die ragfyn orkestrasie van “Stil maar”. Of “En forêt” (In die woud), waar Hofmeyr klankpatrone weef met s-klanke soos swiepende assegaaie van strale wat deur die woud se blaardak val (luister na die mooi refrein van “et coule doucement, doucement, tout doucement du sang” / “en sagkens, saggies, heel sag vloei die bloed”), of die stadige beweging van “Mon pays” (My land: “My land is ’n verborge pêrel/ Soos spore in die sand”), met nostalgiese klanke uit die akkordeon van Gizavo, of die heel laaste snit, die uitbundige dans van ons suster.
Hierdie ongelooflike bydrae tot die liedkanon en die literêre vertaalkuns is die werk van Afrikaanssprekende woordkunstenaars. Selfs wanneer daar gesê word die taal is aan’t kwyn, kom daar inisiatiewe wat ons begrip van die wêreld en die poësie verryk en vernuwe. Hierdie projek is ’n uitvoerproduk om op trots te wees.
Daar is hier bo verwys na die rol wat Catherine du Toit6 in die bekendstelling van Rabearivelo aan ’n Suid-Afrikaanse publiek gespeel het. Lees ’n gesprek met haar hieroor.
Eindnotas
1 “Sous la terre”, “La vache noire”, “Reflux de la lumière océane” en “En forêt”.
2 Véronique Tadjo, Patrice Nganang, Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Ousmane Moussa Diagana en Eugène N Marais.
3 Daar is onsekerheid oor Rabearivelo se geboortedatum – 1901 of 1903.
4 Centre national de la recherche scientifique.
5 Oeuvres complètes, tome I. Le diariste (Les Calepins bleus), l'épistolier, le moraliste. Reds. Serge Meitinger, Liliane Ramarosoa en Claire Riffard. Parys: Éditions du CNRS, 2010. Oeuvres complètes, tome II. Le poète, le narrateur, le dramaturge, le critique, le passeur de langues, l'historien. Reds. Serge Meitinger, Liliane Ramarosoa, Laurence Ink en Claire Riffard. Parys: Éditions du CNRS, 2012.
6 Catherine du Toit is hoof van die Departement Moderne Vreemde Tale aan die Universiteit Stellenbosch.
Lees ook:
https://www.litnet.co.za/n-onderhoud-met-catherine-du-toit-oor-afrique-mon-desir-en-die-rabearivelo-poesievertaalprojek/
https://www.litnet.co.za/afrique-mon-desir-indrukke-van-n-groentjieresensent/
https://www.litnet.co.za/us-woordfees-2018-fotos-afrika-verlange-afrique-mon-desir/