Afrique mon désir: Indrukke van ’n groentjieresensent

  • 0

Feesgangers kon tydens 2018 se Woordfees die veelkantigheid van taal herontdek deur die meertalige avontuur te onderneem wat Afrique mon désir (Afrika, my verlange) is. Dié musikale produksie, wat al sedert 2016 in wording is, bring klank en beeld en weef tale soos Afrikaans, Frans, Lingala en Swahili saam tot ’n kulturele tjalie wat enige Afrikaan met trots kan dra. Die skeppende kragte van onder meer Laurinda Hofmeyr, David Kramer en Diek Grobler het daarvoor gesorg dat die opvoering net so besonders soos die projek self is.

Op die verhoog het die gehoor die werk van verskeie individue vergestalt gesien. Die taak om die gehore wat op 7 en 11 Maart die uitvoerings bygewoon het se verwagtinge én verlangens te sus het egter op die Afrique mon désir-ensemble self berus. Ongelukkig het die enigste poging om die gehoor te betrek – om saam met die musiek hande te klap – skaars dertig sekondes se saamspeel opgelewer. En tog het dit op die verhoog gelééf.

Daar was ’n duidelike konneksie tussen die musikante: Schalk Joubert op die baskitaar en Kayembe Ilunga op die kitaar het met gemak die ander instrumente hul ding laat doen, terwyl Kevin Gibson op die tromme nooit die ander klanke en stemme oordonder het nie. Gibson se beheerstheid is op sigself ’n talent wat erkenning verdien. Verder het Dylan Roman se tegniek op die trekklavier meestal met die musiek gedoen wat die projek in sy geheel met taal regkry – hy woeker met die Franse geur waar dit moet, en gee dan weer vrypas aan die toomlose Afrika-klanke om daarmee die gepaste gevoel van elke lied te dra en oor te dra.

Die stemme het hulself ook goed laat tel. Hofmeyr, wat ook die toonsetting van die gedigte behartig het, se uitspraak van die Franse reëls was in die kol. Sy het veral die op-die-oor-af eenvoudige verse van Jean-Joseph Rabearivelo se “Sous la terre” omtoor in iets wat jou oortuig dat jy sáám met die maan wegkruip daar in sy donker gat. Malako Wekuna Soba, Yamamoto Bonkuta Loyeke en Dea Kinzungu-Walo het hulle as agtergrondsangers goed van hul taak gekwyt. Hulle het aan elke lied die nodige trefkrag verleen en het die algehele klank daarvan bekoorlik afgerond. Malako se hoë note het beïndruk en ten spyte van die gehoor (wat meestal stywer as Hofmeyr se jas was) het hy en Loyeke tog ’n paar voete onwetend met hul danspassies laat bons.

Twee sake moet egter genoem word: Die liedere sou ’n beter tekstuur verkry het indien Dea Kinzungu-Walo – die einste beeld van désir in haar noupassende rooi rok – daardie kragtige stem van haar meer kon laat losloop het. Ook sou die lirieke meer trefkrag gehad het as die stemme nie ietwat gekwyn het sodra al die sangers saam sing nie.

Indien die luisteraar die lirieke wil waardeer, sal hy veel meer daarby baat om die CD aan te skaf. Om na ’n CD te luister is vanselfsprekend ’n ander ervaring, maar dit gee tog die geleentheid vir die luisteraar om meer sin uit die eindproduk te put – sonder die versoekings waarmee ’n lewende vertoning die gewillige gehoor deurlopend verlei. En die lirieke is beslis iets waarvan ’n mens wil kennis neem in ’n projek soos hierdie. Eers as mens die gedigte in Afrikaans, Frans én Engels lees soos dit in die CD-biljet verskyn, word daar werklik besef hoeveel waarde in hierdie projek steek - nie net vir Afrikaans nie, maar ook vir meertaligheid in die algemeen.

Catherine du Toit se vertalings kraak die peule van veeltaligheid oop en maak sodoende alles anders moontlik wat die luisteraar ervaar – hetsy in die gehoor of tuis. Ja, dit gaan hier om twee verskillende maniere om met musiek om te gaan, en Hofmeyr was reg toe sy aan die einde van die aand noem dat daar sekerlik diegene is wat die lirieke graag onder oë sou wou hê. Die genotvolle gedreun waarin die treffende lirieke op die verhoog verlore gaan, kon sekerlik voor vergoed gewees het deur ten minste die Afrikaanse en Franse lirieke op skerms te vertoon.

Die matige gebrek aan deurlopende duidelikheid het die gedigte, oftewel die liedjies, egter nie hulle volle trefkrag ontneem nie. Soos met “Sous la terre” was Hofmeyr ook volkome in beheer van die atmosfeer wat in die stadsaal geheers het toe sy “Mon pays” van Ousmane Moussa Diagana alleen gesing het terwyl die drie agtergrondsangers hul rûe op die gehoor gedraai het. Elke woord van hierdie lied kom lê in jou oor en raak jou aan – selfs al is jy nie Frans magtig nie.

Die plasing van die liedjies is mooi beplan; daar was ’n baie duidelike balans tussen die style te bespeur. Die laaste twee het die salige vreedsaamheid van ’n stil Kalahari-nag opgeroep, ’n gevoel wat by tye nodig was. Sulke liedjies is egter elke keer gou genoeg afgewissel met polsende eweknieë wat op hulle beurt weer die vurige Afrika oproep.

Dan gebeur dit ook dat dié kontras in een liedjie gevind word. ’n Goeie voorbeeld hiervan is “Gens du silence”. Dit is ook nie slegs kalmte en bedrywigheid wat hier saamloop nie. Dit toon ook hoe Franssprekende lande en die res van Afrika deur musiek met mekaar in gesprek kan tree. Die program is verder aangewakker deur liedjies wat deur Malako Wekuna Soba en Yamamoto Bonkuta Loyeke self geskryf en tussendeur opgevoer is. Die meer rustige nommers in die ensemble gryp steeds die gehoor se aandag danksy visuele prikkels waarvan die animasiefilms van Diek Grobler die mees opvallende is.

Laurinda Hofmeyr, Malako Wekuna Soba, Dea Kinzungu-Walo, Yamamoto Bonkuta Loyeke en Kayembe Illunga (Foto: Naomi Bruwer)

Die beelde op die skerm het gewérk. Hulle weerspieël Grobler se fyn ingesteldheid op die emosie wat elke lied probeer oordra. Nie een van die animasiefilms is oorbodig of trek die aandag onnodig af van dit wat elders op die verhoog gebeur nie. Die byna kinderlike beelde vul die liedere op ’n unieke manier aan en elkeen is ’n kunswerk op sy eie. Tydens “Sous la terre” omarm die animasie die tranquillité van die gedig deur die uitbeelding van wit druppels wat op die skerm plons en uitwaaier. Ook treffend is die tientalle gesigte wat presies op die ritme van “Gens du silence” bo die ensemble flits. ’n Aangename verrassing was toe die animasierolprent verdere lewe verleen is tydens “Refux de la lumière océane”: die verhoog is diepsee ingedompel deur die agtergrondsangers wat in die somber lig visse en ’n jellievis met ’n houtvisstok uit ’n koffer opdiep en magies oor die verhoog laat sweef terwyl Hofmeyr sing.

Ondanks ’n handjievol klein jakkalsies in die boord was dit tog ’n suksesvolle vertoning en bewys van die lewenskrag wat daar tussen tale gevind kan word. In sy geheel is die projek ook ’n manifestasie van hoe hierdie krag taal oorgrens om na ander mediums te strek. Jan-Jan Joubert was reg toe hy noem dat Hofmeyr en kie die gehoor vervoer na “’n groot deel van Afrika wat buite baie Suid-Afrikaners se ervaringsveld val”. Elke stem wat by hierdie projek betrokke is, maak sorgvuldig die kamphekke tussen die verskillende tale oop en nooi die gehoor om op hul gemak te wei in velde waarin hulle hulle dalk nie maklik sou bevind nie.

Kyk hier na foto's van die produksie:

US Woordfees 2018: Foto's – Afrika my verlange | Afrique mon désir

Naomi Bruwer
US Woordfees

Afrika my verlange / Afrique mon désir is ’n multimedia-wêreldmusiekproduksie met David Kramer as regisseur, en met musikante Laurinda Hofmeyr, Schalk Joubert en die Afrique mon désir Ensemble. Die produksie word afgerond deur animasie deur Diek Grobler.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top