Afrikaaps is vanjaar ’n sterk element by kykNET Silwerskermfees

  • 0

Foto’s: https://silwerskermfees.co.za/

Maryke Roberts skryf oor vanjaar se kykNET Silwerskermfees wat van Woensdag tot Saterdag by The Bay Hotel in Kampsbaai gehou en ook aanlyn aangebied word. Verskeie kortfilms waarin die dialoog heeltemal of gedeeltelik in Afrikaaps is, speel hier: onder meer Aan/Af, Baber, Bergie, Net ons, My beskermer, Nagvoël en Verstikking. Altesaam 17 nuwe kortfilms is by die fees te sien.

Kortfilmmakers kon deel wees van vanjaar se fees met enige oorspronklike film in enige genre tussen 3 en 30 minute lank. Bergie is die kortste film op die program. As jy die erkenningslys aan die einde buite rekening laat, word dié kragtige storie in slegs 5 minute en 45 sekondes vertel.

Nicola van Niekerk, senior bestuurder: M-Net het by die bekendstelling van die feesprogram gesê: “Die kortfilms in kompetisie is almal uitsonderlik en wat verblydend is, is dat veterane saam met nuwelinge gewerk het om ervaring, mentorskap en kennis oor te dra. Almal wat in elk geval in die laaste twee jaar films gemaak het, verdien ’n trofee!”

Aan/Af

In Aan/Af leer ’n Afrikaanssprekende man boekdele oor homself wanneer hy sy bejaarde, Duitse buurvrou in ’n tyd van nood help, ondanks die taalgrens tussen hulle.

Die storie is losweg gegrond op ’n ware verhaal wat hom in 2017 in Duitsland afgespeel het, toe Christiaan Boonzaier, Aan/Af se draaiboekskrywer, in Leipzig studeer het. Die fliek speel egter nie in enige spesifieke stad of land af nie. Dit het Aletta Bezuidenhout en Marlo Minnaar in die rolverdeling.

Pascale Neuschäfer, Aan/Af se kinematograaf, is die enigste vrouekinematograaf wat een van die 17 nuwe kortprente vir vanjaar se Silwerskermfees geskiet het.

  • Aan/Af première op Vrydag 25 Maart om 15:00.

Baber

Dié grieselrige storie in Afrikaaps speel af in ’n makabere barbierswinkel waar ’n eienaardige barbier en sy koelkop dogter van plan is om meer as net die hare te laat waai. Die gesoute akteur Kevin Smith is die barbier en Monique Rockman is sy dogter, Mynie.

Irshaad Ally van Suidooster-faam vertolk die rol van hul klant Donnie vannie Reeves wat ‘n lang, donker geskiedenis met dié twee het. Beide Monique en Irshaad het Safta-benoemings ontvang vir hul werk in die 2018-Silwerskermfeesrolprent Nommer 37 en Monique speel ook die hoofrol in een van vanjaar se speelfilms, Gaia.

Baber is geskiet in die oudste barbierswinkel in die Kaap, Alfreda Hairdressers, ook bekend as Seven Brothers, wat al vir meer as 80 jaar bestaan.

  • Baber is Donderdag 24 Maart om 10:30 op die Silwerskermfeesprogram.

Bergie

Bergie spreek ’n maatskaplike probleem aan – die lot van hawelose mense. ’n Wetstoepassingsbeampte word met ’n dilemma gekonfronteer wanneer hy moet seker maak dat ’n paar dakloses nie die pad vir ’n 10 km-wedloop versper nie. Sal hy sy loopbaan op die spel plaas om waardigheid aan ’n groep uitgelewerde mense te gee?

Ter voorbereiding vir die teks het die skrywer en regisseur, Dian Weys, met hawelose mense, wetstoepassingsbeamptes, sopkombuiseienaars en gemeenskapswerkers onderhoude gevoer.

Bergie is een van vier films by vanjaar se fees waarvan die Safta-wenner Bathoni Robinson die produksie-ontwerp behartig het. Dit is die eerste keer dat Oscar Petersen en David Isaacs teenoor mekaar in ’n film speel. Hulle was wel meer as 20 jaar gelede saam op die skerm in die TV-reeks Hagenheim: Streng privaat.

  • Bergie is Donderdag 24 Maart om 15:00 te sien op die Silwerskermfeesprogram.

Nagvoël

Nagvoël is ’n Kaapse superheld wat daarvan droom om deel van die Suid-Afrikaanse Superheldeliga te word. Hy kry ’n kans om sy slag te wys wanneer hy ’n beroemde superheld red, maar maak ’n foutjie toe hy ’n video-opname op die internet laai wat die verkeerde mense se aandag trek. Die vervaardigers van dié kortfilm kon nie aan een Afrikaanse superheld dink nie, en só is Nagvoël gebore. Nagvoël se alter ego is ’n ou genaamd Shaun en in die regte lewe is dit Dean John Smith. Dié Suidooster-akteur was voorheen by die fees te sien in die rolprente Liewe Kersfeesvader en Vaselinetjie.

Die kortfilm se twee vervaardigers is ook superhelde. Buiten dat hulle ’n storie geskep het waarby kinders aanklank kan vind, is Wian Klopper en Stefan Erasmus die superheldkarakters op die plakkate in Nagvoël/Shaun se kamer.

  • Nagvoël maak sy debuut op Woensdag 25 Maart om 15:00.

Net ons

Verbeel jou: Afrikaapse vampiere op die Seepunt-promenade. Dis waarom dié ongewone liefdesverhaal draai – Angel en Lorenzo, twee eeue oue vampiere, se verhouding is op ’n einde. Angel sukkel om dit te aanvaar en die eensaamheid van die COVID-19-grendeltyd maak dit net moeiliker. Sy lok Lorenzo na die plek waar hulle twee mekaar lank gelede ontmoet het, om kwansuis sy besittings terug te gee. Maar Lorenzo het dae laas geëet en is sterwenshonger.

Arendsvlei se Crystal Donna Roberts en Cantona James is Angel en Lorenzo, maar anders as hul sepiekarakters is dit ‘n paar vlymskerp slagtande wat hier koning kraai.

Eva du Preez, wat in 2019 die Silwerskermfees-toekenning vir beste regie ontvang het, het die regie van Net ons behartig.

  • Net ons is Vrydag 25 Maart om 15:00 te sien.

My beskermer

In ’n postapokaliptiese Kaap, waar masjiene jag maak op die laaste oorblywende mense, soek die hardkoppige Tink en haar getroue hond, Indy, saam na robotonderdele om haar moedelose suster, Kari, te help om hul “beskermer” klaar te bou. Kari wil nie hê Tink moet haarself in gevaar stel nie, maar Tink steur haar nie daaraan nie en gaan na die skrootwerf om ’n laaste uitstaande onderdeel te soek. Daar val ’n moorddadige masjien haar aan. Sy ontsnap, maar die masjien volg haar huis toe. Sal Tink en Kari betyds hulle halfgeboude beskermerrobot kan regmaak om hul gesin se lewens te red? In die rolverdeling is Jazmine Ryan, Shamilla Miller, Hein de Vries en Christy Morcos.

  • My beskermer is Vrydag 25 Maart om 15:00 te sien. .

Verstikking

Verstikking is een van twee kortfilms waarin Irshaad Ally by vanjaar se fees ’n hoofrol speel. Dié keer is hy die man met die dik beursie. Die eienaar van ’n baie winsgewende tegnologiemaatskappy word beroof deur ’n gewelddadige aanvaller wat hy as ’n voormalige werknemer herken. Hy bel nie die polisie nie, maar spoor sy gewelddoener op om teen betaling dié voorval herhaaldelik vir sy eie plesier te herskep.

Dié psigologiese riller vra indringende vrae oor verdraaide werknemer-werkgewer-verhoudings en die mag van geld. Ayden Croy is die aanvaller wat later ’n slagoffer van sy eie dade word. Ayden is ’n komediant wat in Comedy mixtape siene was. Hy het verlede jaar ’n VN Global-toekenning, wat vermaaklikheidsterre in Afrika vereer, gewen.

  • Verstikking is Vrydag 25 Maart om 10:30 te sien.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top