Afrikaanssprekendes wat buite Suider-Afrika woon: ’n onderhoud

  • 2

.....

“In gevalle waar ’n kind se ouers verskillende moedertale het, is dit verreweg die beste benadering as elke ouer selfs van die kind se babastadium af slegs in sy of haar moedertaal met die kind praat.” 

.....

Wat is in die beste belang van die kinders van Afrikaanssprekende ouers wat in die buiteland grootword? Wat moet so ’n ouer met Afrikaans maak?

Die Facebook-groep “Afrikaanssprekendes wat buite Suider-Afrika woon” het meer as 11 000 lede en ondersoek sedert 2012 die houdings en gebruike van Afrikaanssprekendes wat buite Suider-Afrika woon. Cliffordene Norton gesels met Fanie Pretorius wat die navorsingsprojek geloods het.

Afrikaans regoor die wêreld (Foto: Martin Kozák [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)

Wat het die hierdie navorsingsprojek geïnspireer?

Ek en ek en my vrou het tydens ’n buitelandse reis daarvan bewus geword dat Afrikaanssprekendes wat na ander lande verhuis of wat met ’n anderstalige in die buiteland trou, uiteenlopende benaderings volg wat die blootstelling van hulle kinders aan Afrikaans betref. Dit wissel tussen diegene wat selfs hulle kinders wat buite Suid-Afrika gebore word volledig met Afrikaans as huistaal grootmaak, tot diegene wat poog om hulle huistaal na ’n ander taal te verander – met wisselende grade van sukses.

Die vraag het ontstaan: “Watter benadering is in die beste belang van die kinders? En hoe kan die feite oor die beste benadering aan Afrikaanssprekende ouers van kinders wat buite Suid-Afrika woon, bekendgestel word?”

.....

“Gesprekke in die groep word egter hoegenaamd nie tot ouerskap of taal beperk nie – enige ander emosionele of praktiese kwessies, soos die tipiese vreugdes en uitdagings van Afrikaanssprekendes wat buite Suider-Afrika woon, word aangemoedig.”

.....

’n Wêreldwye internetsoektog na en lees van akademiese artikels oor hierdie onderwerp het basies eenvormige resultate opgelewer, naamlik:

  • Die behoud van hul ouers se moedertaal of -tale as huistaal/-tale hou die meeste voordele vir kinders in – op sosiale, emosionele, kognitiewe en neurologiese terreine. Een rede hiervoor is moontlik dat ’n volwassene (’n ouer) selde die aksent (uitspraak) en die uitgebreide woordeskat van ’n niemoedertaal aanleer – daarom dat die meeste persone wat ’n nuwe taal aanleer, vir lank deur die nuwe taal se sprekers aan hulle uitspraak en woordeskat uitgeken kan word. So ’n Afrikaanse aksent en -woordeskat in ’n nuwe taal word normaalweg deur ouers aan kinders oorgedra. Die Afrikaanse aksent kan op skool, by vriende en met die hulp van die massamedia afgeleer en die woordeskat aangevul word, maar die kind begin waarskynlik met ’n sosiale en emosionele voordeel as hy die nuwe taal slegs of hoofsaaklik by eerstetaalsprekers aanleer. 
  • In gevalle waar ’n kind se ouers verskillende moedertale het, is dit verreweg die beste benadering as elke ouer selfs van die kind se babastadium af slegs in sy of haar moedertaal met die kind praat. Dit geld ook vir oupas, oumas, ander familie, vriende en kinderoppassers. Jong kinders het oor die algemeen ’n verbasende vermoë om etlike tale aan te leer sonder om verward te raak. Daar is egter ook uitsonderings op hierdie reël.

Wat is die doelwitte van die projek?

Die doel met die projek is om die feite van die bogenoemde internetopname oor navorsingsbevindinge aan Afrikaanssprekende ouers wat buite Suid-Afrika woon, bekend te stel.

Die projek bestaan uit twee bene, die Facebook-groep is een daarvan ...

Foto: verskaf

Die Facebook-groep “Afrikaanssprekendes wat buite Suider-Afrika woon” is geskep om ’n sosiale forum te skep wat die teikengroep sal lok om aan te sluit. In die groep is hulle gevra om deel te neem aan ’n gesprek oor die huistaal/-tale van hulle kinders in die “nuwe” land en hoe hulle die voor- en nadele van hulle huistaalbeleid beleef.

Gesprekke in die groep word egter hoegenaamd nie tot ouerskap of taal beperk nie – enige ander emosionele of praktiese kwessies, soos die tipiese vreugdes en uitdagings van Afrikaanssprekendes wat buite Suider-Afrika woon, word aangemoedig.

Toe die getal van die Facebook-groep begin groei, kon sy lede bewus gemaak word van die voordele wat die behoud van Afrikaans as ’n moedertaal by kinders inhou vir hulle huidige en toekomstige bande met hulle Afrikaanssprekende familie – asook al die ander voordele vir die kinders wat internasionaal deur verskeie navorsingsverslae uitgewys is.

Wat behels die tweede been van die projek?

Parallel met die Facebook-groep is ’n internetgebaseerde vraelys in 2012 van stapel gestuur oor die houdings en gebruike van Afrikaanssprekendes wat buite Suider-Afrika woon. Lede van die Facebook-groep is genooi om die vraelys anoniem te voltooi en om ander Afrikaanssprekendes buite Suider-Afrika aan te moedig om dieselfde te doen.

Die vraelys word lank reeds nie meer aktief gebruik nie, maar dit is steeds beskikbaar by www.surveymonkey.com/s/AfrikaansBuiteSA2.

In Maart 2013 het die Skool vir Tale by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit onder leiding van Wannie Carstens en Jako Olivier besluit om by hierdie projek aan te sluit deur sy eie ondersoek te doen.

.....

Lees die verslag van dié ondersoek in hierdie LitNet Akademies-artikel:

Taalverskuiwing en taalhandhawing onder Afrikaanse ekspatriate
(Jako Olivier en Ernst Kotzé, 2014) 

.....

Hoe vul hierdie twee afsonderlike afdelings mekaar aan?

Soos hier bo aangedui, het die twee bene ’n sinvolle geheel gevorm. Die vraelys het kwantitatiewe inligting versamel oor hoe Afrikaanssprekendes buite Suider-Afrika dink en voel oor Afrikaans as huistaal en via die Facebook-groep is die teikengroep aangemoedig om die vraelys te voltooi. Die besprekings in die Facebook-groep het die statistiese aanduidings wat met die vraelysopname bevind is, kwalitatief aangevul.

Het die deelnemers se reaksies sedert 2012 verander? 

Sonder ’n opvolgopname (anonieme vraelys) sal daar nie bepaal kan word of daar enige beduidende verandering in die teikengroep se houding en gedrag plaagevind het nie. My veranderde persoonlike omstandighede het egter nie so ’n opvolgondersoek moontlik gemaak nie.

Maar dis steeds nie te laat nie.

Is daar ’n sperdatum vir die projek?

Nee, die Facebook-groep is steeds baie aktief en die voordele van Afrikaans as huistaal kom steeds in die gesprekke na vore.

  • 2

Kommentaar

  • Willem steenkamp.w

    Ek sê dit gaan nou oor oorlewing. Leer Spaans op 72. Ek is eindelik vry van die juk van Afrika. Geen misdaad. Vryemarkstelsel. See vol vis. Almal het werk
    Die grootste proleem bly Afrika. Swak Rand.

  • Willem Pretorius

    My vrou 'n Brit en Italianer. Ek, Afrikaans. Ons bly in Dubai en my kinders is hier gebore. Ek praat sedert geboorte net in Afrikaans met hulle. Die oudste, nou 10 is vlot en lees selfde standaard boeke vir 10 jarige Afrikaanse kind. Die 8 jarige sukkel bietjie maar nou dat sy kan lees is sy amper op 8 jarige standaard.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top