Afrikaanssprekende emigrante: verliese en verwagtinge

  • 6

Opsomming

Die verskynsel van Suid-Afrikaanse emigrasie geniet baie aandag in die media, met die fokus dikwels op sosiopolitieke faktore. Daar word egter min aandag aan die sielkundige ondervindings van diegene wat emigreer, geskenk. Dié artikel, wat deel vorm van ’n groter navorsingsprojek, fokus op sommige van die ondervindings eie aan Afrikaanssprekende emigrante. Die groter projek fokus op die impak wat emigrasie op die Suid-Afrikaanse gesinslewe het. Die resultate van hierdie kwalitatiewe studie dui daarop dat Afrikaanssprekende inwoners van die land dikwels ’n gevoel van vervreemding in die “nuwe” Suid-Afrika beleef. Emigrasie lei tot spesifieke interpersoonlike verliese en ook spesifieke verliese aan kultuur en taal. Laasgenoemde kan beskou word as ’n tipe kulturele rou, soos beskryf deur Ainslie (1998), wat eie is aan mense wat emigreer en hulle kulturele wortels agterlaat. Die moontlike verlies van die moedertaal, wat een van die mees tradisionele elemente van kultuur is, veral in toekomstige generasies, blyk ’n bron van kommer te wees. ’n Aantal aanbevelings vir toepaslike sielkundige voorbereiding word gemaak om die impak van hierdie verliese te verminder.

Trefwoorde: emigrasie; immigrasie; Afrikaans; kulturele rou; moedertaal; vervreemding

Abstract

Afrikaans-speaking emigrants: Losses and expectations

In our globalised world an increase in migration can be widely observed. Historically South Africa has been characterised by both internal and external migrations. During the apartheid years a number of emigratory fluxes took place, often linked to specific political events. However, a definite trend can be observed in post-apartheid South Africa, where a new surge of the population has chosen to leave the country. The people who emigrate tend to be highly skilled, hence this kind of migration is often referred to as a "brain drain" depriving South Africa of much-needed professional and technical expertise.

This emigration phenomenon has received a good deal of attention in the media, with the focus often on the socio-political factors behind the motivation to emigrate. The main reasons regularly identified are the high crime levels, affirmative action, corruption and uncertainty regarding the economic situation. The question, “Should I stay or should I go?” often highlights the dilemma at the heart of these debates and is explored at the beginning of this article.

However, in comparison little attention has been given to the psychological motivations as well as the experiences of those South Africans who decide to emigrate. An overview of some relevant local and international literature related to the process of emigration is provided by the authors. This highlights the main losses linked to emigration, specifically with regard to language, culture and personal relationships. It also describes the processes that individuals and families go through when they emigrate from their country of origin.

The focus of this article is on some of the psychological experiences unique to Afrikaans-speaking emigrants associated with their decision to leave South Africa. The data used for this article formed part of a larger research project on South African emigration. The main aim of this qualitative study was to explore the experiences and motivations of those South Africans emigrating, as well as of those family members and friends left behind. Furthermore, the project wanted to shed light on the impact that emigration is having on South African family life and social structures.

Ten South African families, from different cultural backgrounds, where at least one member of the family was emigrating, formed part of the study. A number of semi-structured interviews were carried out with participants leaving the country and six months later with some of the family members and friends left behind.

Questions to those emigrating attempted to cover a number of areas, such as (i) reasons for the emigration; (ii) expectations regarding country of destination; (iii) the losses envisaged in the process of emigration; (iv) the ways of maintaining contact with family and friends; and (v) the manner of preparation for the emigration. A thematic analysis was carried out to identify a number of relevant themes. The results described in this article are specific to the experiences of those seven families in the larger research project where at least one of the members of the marital couple was Afrikaans-speaking.

The results of this study suggest that Afrikaans-speaking inhabitants may be experiencing a sense of alienation and loss in the "new" South Africa which may have influenced their decision to leave. Other reasons leading to the decision to emigrate included socio-political factors, a need for change and/or professional improvement, and wanting to provide better opportunities for one’s children. Participants had many expectations regarding the country of destination, often linked to the reasons for leaving, but mostly emphasising a safer environment and better opportunities for their offspring.

As expected from the prevalent literature, emigration leads to a number of losses, and this was the experience of all the participants. Specific interpersonal losses were identified. There were serious concerns about leaving elderly parents behind with reduced support as well as losses related to the participants’ professional contexts. What also strongly resonated with a number of the participants were the losses related to language and culture. This particular experience can be seen as a type of “cultural mourning” as described by Ainslie (1998), which is common among people who emigrate and leave their cultural roots behind. The possible loss of the mother tongue, especially with regard to future generations, also appeared to be a source of concern. All participants emigrated to English-speaking countries, so they seemed to anticipate a future where they would have to struggle with a second language and where eventually their children would lose contact with their mother tongue. This experience resonates with the finding of Barkhuizen and Knoch (2005) regarding the “linguistic longing” of Afrikaans-speaking emigrants in New Zealand.

In conclusion, there appear to be several reasons for emigrating, but generally people have an expectation of a safer and better future, especially as far as one’s children are concerned. However, it does require a certain amount of sacrifice on the part of the adults as they leave their cultural roots behind.

The authors argue that one of the main challenges facing Afrikaans-speaking emigrants lies in finding a balance between mourning for that which is lost and left behind and the opportunities in the country of destination. New support systems need to be explored and developed, in addition to finding ways of maintaining contact with the people left behind.

Ultimately the development of a “transnational” lifestyle may be a way of overcoming the loss of “social capital” (Falicov 2007) generally associated with emigration.

Keywords: emigration; immigration; Afrikaans; cultural mourning; mother tongue; alienation

 

1. Inleiding1

In die tydgreep van globalisasie het gemeenskappe al hoe meer divers geword. Die verskynsel van emigrasie2 en globalisering het die samestelling van baie gemeenskappe getransformeer. In Suid-Afrika is ’n definitiewe neiging ná 1994 geïdentifiseer, toe ’n groot aantal Suid-Afrikaners verkies het om die land van hulle geboorte te verlaat. Die redes is onder meer polities van aard, terwyl ekonomiese onsekerheid en ’n styging in geweld en misdaad ook ’n rol daarin speel (Goldin 2002). Baie jong volwassenes verlaat die land nadat hulle hulle tersiêre opleiding voltooi het. Menige Suid-Afrikaanse gesinne wat agterbly, word diep geraak hierdeur en bevind hulle met kinders wat regoor die wêreld versprei is. Ons samelewing word al hoe meer gekonfronteer met die kompleksiteit verbonde aan die verskynsel van mense wat hulle land van oorsprong verlaat om hulle op ’n vreemde plek te hervestig. Hierdie verskynsel is in kontras met die feit dat die wit bevolking in Suid-Afrika afstam van Europese immigrante wat vanaf die 17de eeu na die suidelike punt van Afrika gekom het. Hulle was van Duitse, Nederlandse, Franse en ander Europese herkoms en sommige het van politiese en/of geloofsvervolging probeer ontsnap(Griffiths en Prozesky 2010).

Daar word dikwels verwys na ’n uittog van kundiges (brain drain), want baie van diegene wat die land verlaat, beskik oor hoogs gespesialiseerde vaardighede wat moeilik vervang kan word (Crush 2000).

Die Suid-Afrikaanse regering het onlangs betrokke begin raak by ’n aktiewe “tuiskomsrevolusie”, waar die 80 000 tot 1,2 miljoen Suid-Afrikaners wat in Engeland werk, geteiken word (Marchetti-Mercer 2011).

 

2. Emigrasie gedurende die apartheidsjare

Gedurende die apartheidsjare het Suid-Afrika ’n emigrasieproses beleef toe baie mense, beide swart en wit, die land weens politieke faktore verlaat het (Marchetti-Mercer 2009). Baie jong wit mense het die land in die 1980’s verlaat om diensplig vry te spring (Jupp 2001).

In haar boek The rift: The exile experience of South Africans, wat handel oor die ondervindings van politieke-asiel-soekers wat na Suid-Afrika terugkeer na die beëindiging van apartheid, redeneer Bernstein (1994) dat Suid-Afrikaanse asielsoekersonderskei kan word van tradisionele asielsoekers omdat hulle nie die land verlaat het weens ’n burgeroorlog, revolusie of staatsgreep nie. Baie van die aktiviste wat Suid-Afrika gedurende hierdie tydperk verlaat het, beskou hulself steeds as deel van die voortdurende en toenemende ”struggle” tuis. Hierdie groep verteenwoordig ook nie ’n homogene groep nie, omdat daar verskillende groeperings van asielsoekers was, soos na Sharpeville in die sestigs en die Soweto-opstand in 1976. Verder het die meeste asielsoekers die land verlaat as individue wat dikwels vir baie jare nie kontak met hulle gesinslede kon maak nie, weens die isolasie waarbinne hul beweeg het (Bernstein 1994).

Baie van hierdie groeperings het in die vroeë 1990’s na Suid-Afrika teruggekeer (Marchetti-Mercer 2009). Dit was vir hierdie asielsoekers ’n uitdaging om na baie jare na Suid-Afrika terug te keer. Bernstein (1994) tipeer dit as die “paradoks van asiel”, wat sy beskryf as die verskynsel dat alhoewel Suid-Afrika hul vaderland (tuiste) was, dit ’n realiteit was dat ’n ander vreemde land eintlik hulle tuiste geword het. Met hulle terugkeer het hul gevind dat dit nie net hulle was wat onomkeerbaar verander het nie, maar ook die Suid-Afrika wat hul destyds agtergelaat het. Om dié rede het baie van die mense praktiese en sielkundige probleme met hulle terugkeer ondervind. Hulle het ook nie die terugverwelkoming wat hulle verwag het, ontvang nie. Hulle het dikwels kritiek ontvang en is verwerp deur diegene wat die “struggle” vanuit Suid-Afrika gevoer het (Marchetti-Mercer 2009).

Verder het Suid-Afrika ook die verskynsel van interne migrasie gedurende die apartheidsera beleef, wat ’n groot deel van die swart bevolking geaffekteer het. Dit het gelei tot die interne emigrasie van die swartarbeidsmag, waar mans hulle vrouens en kinders agtergelaat het om werk te soek in die nywerhede en veral die myne. Vroue moes noodgedwonge hulle kinders agterlaat terwyl hulle werk gesoek het in stede, gewoonlik as huishulpe in wit huishoudings. Hierdie praktyk het die gesinstrukture van swart mense nog verder beïnvloed. Die negatiewe effek van hierdie tipe interne migrasie op sulke swart huishoudings is goed gedokumenteer (sien bv. Hanks en Liprie 1993).

 

3. Emigrasie na 1994: huidige statistiek en tendense

Soos vroeër beskryf, beleef Suid-Afrika steeds ’n emigrasiebeweging na 1994, wat dikwels verband hou met die sosiopolitieke omstandighede in die land vandag (Goldin 2000; Marchetti-Mercer 2012). Statistiese gegewens oor die presiese getal Suid-Afrikaners wat emigreer, is nie altyd korrek nie, omdat mense nie aandui wanneer hulle beplan om te emigreer nie. Baie wit Suid-Afrikaners beskik oor dubbele burgerskap, wat die verskynsel verder kompliseer. Statistiek Suid-Afrika het in Julie 2010 ’n verslag gepubliseer wat daarop dui dat ongeveer ’n halfmiljoen wit Suid-Afrikaners sedert 1994 die land verlaat het. Die meerderheid mense wat uit Suid-Afrika emigreer, is tussen 24 en 40 jaar oud. Daar is na raming 750 000 jong wit Suid-Afrikaners wat die land na 1994 verlaat het. Daar is tans meer wit mans tussen die ouderdom van 60 en 64 jaar in die land as tussen 30 en 34 jaar (SAIRR 2009).

Hoewel dit oor die algemeen aangeneem word dat dit ’n wit uittog is, het swart professionele persone ook geëmigreer (veral dié in beroepe soos verpleegkunde). Talle swart Suid-Afrikaners soek ook geleenthede oorsee (Marchetti-Mercer 2011).

 

4. Suid-Afrikaners se houding jeens emigrasie

Suid-Afrikaners se houding jeens emigrasie is in 2009 deur die bemarkingsmaatskappy Synovate nagevors. Persoonlike onderhoude is met 600 respondente gevoer wat in al nege provinsies woon en alle ouderdomsgroepe, albei geslagte en alle rasse insluit. ’n Opgesomde oorsig van die resultate van hierdie ondersoek word vervolgens weergegee (Synovate 2009).

In 2008 het 20% Suid-Afrikaners oorweeg om die land te verlaat, in vergelyking met ’n marginale daling na 18% in 2009 (Synovate 2009). Dit blyk dat die wêreldwye resessie ’n remskoen vir sommige mense se emigrasieplanne was. Van die Suid-Afrikaners wat aangedui het dat hulle definitief gaan emigreer, of dit ernstig oorweeg, het 56% aangedui dat hulle planne vertraag is totdat die ekonomie wêreldwyd gestabiliseer het.

4.1 Ouderdomsgroep

In die steekproef wat ondersoek is, het dit geblyk dat meer jong mense oorweeg het om die land te verlaat.In die ouderdomsgroep van 18 tot 24 het 30% van die respondente aangedui dat hulle emigrasie oorweeg het. Die laagste waarskynlikheid om te emigreer is in die groep van 55 tot 64 jaar aangedui.

4.2 Geslag

Die studie het aangedui dat mans ’n hoër geneigdheid as vrouens het om te emigreer. Veertien persent van vroue het aangedui dat hulle definitief sou emigreer of dit ernstig oorweeg, in vergelyking met 21% van die mans. Die motivering vir die verskil tussen geslagte lê in die feit dat mans aangedui het dat beter werksgeleenthede die groot oorweging sou wees, terwyl vroue aangevoer het dat misdaad en geweld die hoofoorweging sou wees.

4.3 Voorkeurbestemming

Die meeste deelnemers (25%) het aangedui dat hulle voorkeurbestemming Brittanje (VK) sou wees, terwyl 23% sou verkies om na Australië en 20% na die VSA onderskeidelik te emigreer. Die jonger deelnemers het Brittanje (VK) as voorkeurbestemming aangedui, terwyl die ouer deelnemers Australië verkies het.

4.4 Groepsdruk

Die genoemde studie het aangetoon dat selfs mense wat nie emigrasie oorweeg nie, graag daaroor gesprek voer, en ’n kwart van die Suid-Afrikaners wat aan die studie deelgeneem het, is deur vriende of familie aangemoedig om te emigreer. Van die mense wat kinders op skool of universiteit het, het 23% van die deelnemers hulle kinders aangemoedig om blyplek in ’n ander land te vind.

4.5 Redes vir vertrek

As die motiverings vir emigrasie ondersoek word, is die primêre oorweging wat gerapporteer is, geweld, misdaad en korrupsie (82%), teenoor die ooreenstemmende syfer (55%) van 2008. Ander oorwegings wat geïdentifiseer is, is ’n onstabiele ekonomie (31%), regeringsprobleme (31%), diskriminasie (7%) en bekommernisse oor infrastruktuur (3%).

4.6 Redes om te bly

’n Aantal redes wat hulle sou weerhou van emigrasie word deur die deelnemers in die studie aangevoer. Die grootste rede was “die wonderlike klimaat” (28%), gevolg deur “om naby familie en vriende te wees” (23%). Vir 22% is die primêre rede hulle “liefde vir Suid-Afrika se mense”, terwyl 19% “die natuur” en “wild” aangedui het. Vryheid en diversiteit van kulture in Suid-Afrika is ook as redes aangegee.

 

5. Voorkeur sosiale diskoerse en debatte rakende die redes vir emigrasie

5.1 Misdaad en geweld as stootfaktore

Griffiths (2007) redeneer dat daar ’n verskil is tussen wit Suid-Afrikaanse emigrante en ander emigrante. Emigrasie is ’n wêreldwye tendens, maar daar is ’n duidelike verskil in die redes waarom Suid-Afrikaners emigreer. ’n Mens kan redeneer dat Suid-Afrikaanse emigrante grootliks deur “stootfaktore” gemotiveer word, met ander woorde negatiewe omstandighede in die land van oorsprong eerder as “trekfaktore” soos positiewe omstandighede in die land van heenkome wat mens sou aanspoor om te trek (Kunz 1973).

Van Rooyen (2000:97) verklaar:

Crime has become the country’s Achilles heel – no matter what progress has been made in reconstruction, reconciliation, nation building and even economic miracles, these will remain empty words if the citizens of the country are subject to a level of violent crime akin to a “civil war” that never happened.

Hy vergelyk die ondervinding van wit Suid-Afrikaners met sogenaamde slagoffer-diaspora – met ander woorde traumatiese ondervindings wat mense uit hulle tradisionele tuislande dryf.

Volgens Van Rooyen (2000) is daar drie tipes wit Suid-Afrikaanse emigrante:

1. dié wat die land verlaat

2. dié wat na sogenaamde veiliger plekke in die land trek, soos die Wes-Kaap

3. dié wat in veiligheidskomplekse intrek.

Laasgenoemde is volgens Van Rooyen (2000:19) ’n “sielkundige emigrasie” wat gesien word as ’n sielkundige onttrekking uit die samelewing. Mense verhuis na hoësekuriteitsomgewings en lei ’n hoogs afgesonderde lewe.

’n Ander kant van die debat is die feit dat emigrante gesien word as verraaiers van die nuwe demokratiese bedeling. Van Rooyen (2000:127) verwys na oudpresident Nelson Mandela se stelling in 1998 dat emigrante nie ware Suid-Afrikaners is nie, en dat hulle rassisties is, omdat hulle nie onder swart oorheersing ’n bestaan kan voer nie. Dit is nie ’n onkontroversiële perspektief nie, want baie emigrante sien hulleself as slagoffers van misdaad en geweld en nie as rassiste nie.

5.2 Die “moet-ek-bly-of-gly?”-debat

Al die bogenoemde argumente dui op die feit dat die sogenaamde “moet-ek-bly-of-gly?”-debat vandag in Suid-Afrika voortduur. Richman (2010) beskryf dit in sy onlangse boek met dieselfde titel as die beskrywende vraag vir Suid-Afrikaners. Hy gee ’n aantal verhale van Suid-Afrikaners weer wat albei kante van die debat verteenwoordig. Hy probeer verskillende sienings akkommodeer sonder om kant te kies en wys daarop dat daar nie regte of verkeerde antwoorde op hierdie vraag is nie. Mense neig om hulle posisie sterk te verdedig en daar word min ruimte gelaat vir meer neutrale sienings.

In die boek inkorporeer hy opstelle waar die skrywers die besluit wat hulle geneem het, verdedig. Mense verlaat die land as gevolg van misdaad en die persepsie van ’n onsekere toekoms, maar ander bly ten spyte daarvan dat hulle dieselfde probleme ondervind. Die vrae rondom wat ’n tuiste is en die liefde vir ’n land word deur beide groepe gedeel. Volgens Richman (2010) moet ’n persoon uiteindelik leer om saam te leef met die besluit wat hy/sy geneem het, of die een wat hy/sy beplan om te maak.

5.3 Verlies aan ontologiese sekuriteit

’n Ander diepliggende rede hoekom mense besluit om die land te verlaat het dalk te doen met wat Dupuis en Thorns (1998) as ontologiese sekuriteit bestempel. Giddens (1990) beskou ontologiese sekuriteit as ’n sin van selfversekerheid wat mense in die kontinuïteit van hulle selfidentiteit en die konstantheid van hulle sosiale en materiële omgewing het. Hy beskryf dit as, “’being’ or, in the terms of phenomenology, ‘being-in–the-world’. But it is an emotional, rather than a cognitive, phenomenon, and it is rooted in the unconscious” (Giddens 1990:92). Dupuis en Thorns (1998) beskryf home primêr as ’n plek waar mense ’n sin van ontologiese sekuriteit kan bekom, terwyl daar ’n buitewêreld is wat bedreigend en buite ’n mens se beheer is.

Hierdie behoefte aan ontologiese sekuriteit is ’n basiese sielkundige behoefte van individue en word primêr in persoonlike verbintenisse met ander mense nagespoor (Giddens 1990). Die huis is gevolglik die essensiële en formatiewe bron van ontologiese sekuriteit. Suid-Afrikaners voel dikwels ontnugter in hulle verhoudings met hul land van oorsprong en plaas soveel afstand as moontlik tussen Suid-Afrika en hulself. Die gevolglike eksistensiële onteiening van wonings of blyplek mag ’n sterk motiverende faktor vir baie Suid-Afrikaners wees wat die land verlaat. Hierdie eksistensiële onteiening van woning of blyplek kan ’n produk van die kunsmatige, verwronge idee van ’n blyplek wees wat voortgevloei het uit ’n koloniale oorsprong (Goodwin en Schiff 1995).

Volgens Griffiths en Prozesky (2010) gee Taylor (2004) en Heidegger (2001 [1971]) se filosofiese taal ons insig in die eksistensiële en verbeeldingsverknorsing waarin wit Suid-Afrikaners hulle in Suid-Afrika en oorsee bevind. Griffiths en Prozesky (2010) wys ook daarop dat wit Suid-Afrikaners die land verlaat as gevolg van dinge wat hulle daaglikse bestaan en die konteks van lewe bedreig; maar die dieper kwelling is die feit dat hulle nie meer hier kan leef en woon nie, eerstens as gevolg van die ekstreme aard van die wit Suid-Afrikaanse sosiale verbeelding en die wêreld wat dit gevorm het, en tweedens as gevolg van die krag van hierdie verbeelding. Die verbeelding, wat ondersteun is deur apartheid, was gedeeltelik onsamehangend en gebaseer op rasseskeiding en sistematiese onderdrukking, asook effektiewe ekonomiese verslawing van die grootste gedeelte van ons bevolking.

’n Mens kan nie waarlik leef of tuis voel as die verskillende aspekte van ’n mens se gemeenskapslewe en praktyke bots nie, en ’n mens kan nie ten volle mens wees as die hoeksteen van jou lewe gegrond is op die ontkenning van ’n ander persoon se menslikheid nie. Volgens Van der Merwe (2008) het die wit Afrikaner se identiteit, kultuur, waardes en narratiewe soos dit tradisioneel geken, bewaar en in stand gehou is, reeds onherroeplik verander. Waarmee dit vervang word, is in hierdie stadium nog nie presies duidelik nie, want die proses is steeds aan die gang en benodig in die toekoms verdere navorsing.

Steyn (2001) voer aan dat wit Suid-Afrikaners neig om na Brittanje of voormalige Britse kolonies te emigreer op soek na ’n materiële lewenstyl soortgelyk aan dié in Suid-Afrika. Hulle vertrou dan dat hulle daar tuis sal voel; hulle neem selfs onbewustelik aan dat hulle broederskap sal ervaar. Hulle glo hulle sal dit met die Kanadese, Australiërs of Nieu-Seelanders deel, bloot omdat daardie bevolkings ook hoofsaaklik wit is. Sommige kenmerke van wit rasvermenging is supranasionaal, ’n oorblyfsel van kolonialisasie. Gevolglik kan wit mense emigreer na lande waar ’n deel van die wit identiteit meer ondersteun word, waar, volgens Steyn (2001:91–2), die parameters van ’n wit wêreldbeskouing meer ongeskonde gebly het.

Ten spyte daarvan dat baie wit mense die land verlaat met verskeie negatiewe gevoelens jeens Suid-Afrika, soek hulle steeds verbintenisse met die land deur kontak te behou met landsburgers. Dít terwyl hulle oorsee voortgaan om die negatiewe aspekte van die land te beklemtoon (Steyn 2001).

’n Vreemde verskynsel word waargeneem in die wit Suid-Afrikaanse gemeenskap waar emigrante in Australië, Nieu-Seeland en die VK almal Suid-Afrikaanse gemeenskappe herontwikkel het. Daar is skole en kerke in hierdie gemeenskappe wat spesiaal ontwerp is vir hierdie bevolking van emigrante; sommige kerke en skole het Afrikaans as ’n primêre taal van kommunikasie: ’n taal inheems aan Suid-Afrika. Op hierdie manier staan die gemeenskap saam en herontwerp in ’n sekere sin hul tuiste en bestaan daar deur te identifiseer met kulturele aspekte wat aan hulle bekend is. Gevolglik word ’n nuwe sin van identiteit en waarde gevorm (Marchetti-Mercer, Greyvenstein en Prinsloo 2008).

Hierdie verskynsel pas in by die konsep van “verlies aan sosiale kapitaal” (Falicov 2007:164). Mense wat emigreer, mag dit met die verloop van tyd herbou deur middel van ware of virtuele ruimtes, en dit word moontlik gemaak deur die beskikbaarheid van tegnologiese verbindings met die gemeenskap wat agterbly. Falicov (2007) redeneer verder dat emigrante heel waarskynlik hulle etniese gemeenskapnetwerke sal herbou in die nuwe land om hierdie saak baas te raak. Daar is bewys dat verbintenisse met sulke gemeenskapsnetwerke sterk met geestesgesondheid korreleer (Vega, Kolody, Valle en Weir 1991).

Falicov (2005) se navorsing, wat fokus op die verband tussen geestesgesondheid en emigrasie, dui aan dat verbintenis met ’n mens se ou kultuur voordelig kan wees. Die behoud van ’n persoon se tradisionele kultuur kan dien as ’n buffer vir die negatiewe impak op geestesgesondheid as gevolg van emigrasie (Marchetti-Mercer en Roos 2006). Abe, Zane en Chun (1994) neem ook waar dat die behoud van kultuur as ’n belangrike anker gedurende die hervestigingsproses en as ’n positiewe verbintenis met die verlede kan funksioneer.

 

6. Emigrasie en taal

Grinberg en Grinberg (1989:109) redeneer dat taal die basis van ’n persoon se identiteit vorm en gevolglik ’n belangrike rol in die lewe van emigrante speel. Hulle glo (1989:90) dat ’n mens se moedertaal nooit so belangrik is as wanneer ’n mens in ’n land bly waar ’n ander taal gepraat word nie. Die ervarings en gevoelens van ’n mens se kinderjare is nou aan jou moedertaal verbind. Hulle glo verder dat ’n immigrant se onvermoë om die plaaslike taal goed te praat, of dat hulle dit met ’n aksent praat, kan lei tot ’n sin van ondergeskiktheid en onbekwaamheid, en dat dit tot ’n minderwaardigheidskompleks kan lei (1989:111).

Barkhuizen en Knoch (2005:216) beskryf die ondervinding van Afrikaanssprekende emigrante in Nieu-Seeland as linguistic longing (linguistiese verlange) om die emosionele reaksies op verminderde blootstelling aan en geleenthede vir die gebruik van Afrikaans te verwoord.

Kinders leer ’n nuwe taal vinniger aan, want hulle wil nie hê hulle portuurgroep moet hulle as “anders” beskou nie. Namate hulle meer vaardig word in die nuwe taal, stel hulle minder belang in hulle moedertaal, wat konflik tussen hulle en hulle ouers veroorsaak (Marchetti-Mercer 2009:133).

 

7. Emigrasie en verlies

Ainslie (1998:287) beskryf die proses wat immigrante beleef as ’n proses van kulturele rou:

When an immigrant leaves loved ones at home, he or she also leaves the cultural enclosures that have organized and sustained experience. The immigrant simultaneously must come to terms with the loss of family and friends on the one hand, and cultural forms (food, music, art, for example) that have given the immigrant’s native world a distinct and highly personal character on the other hand. It is not only people who are mourned, but culture itself, which is inseparable from the loved ones it holds. [....]. While the motives for migration (voluntary or involuntary) and the conditions left behind (economic, political) vary from person to person, all immigrants lose something essential to their lives in leaving their native home [...], even those whose lives in their country of origin are characterized by conflict and deprivation will experience loss.

Hy is van mening dat die immigrasie-ondervinding ’n spesiale geval van rou verteenwoordig, waar die rou sentreer om die verlies van geliefdes en plekke, tesame met geografiese losmaking (Ainslie 1998:285–6). Hy verwys na die werk van Volkan (1993) wat na immigrante as “onophoudelike roubeklaers” verwys.

Ainslie (1998) redeneer ook dat ’n algemene kenmerk van immigrante-rou ’n poging is om die realiteit van losmaak te ontken of te verdun. Hulle poog om die realiteit van verlies te vermom deur die skepping van ’n sielkundige spasie – die illusie dat hulle beide “hier” en “daar” is (Ainslie 1998:289).

Ainslie (1998:293) stel dit voorts dat belangrike veranderlikes “die veranderde omstandighede van kulturele rou” onderlê:

1. die tyd wat emigrante weg was van hulle land van oorsprong

2. hoe maklik en moontlik dit is om terug te keer

3. nuwe tegnologiese maniere van kommunikasie.

Verder redeneer Ainslie ook dat hoe meer mense kontak kan behou en hernu, hoe minder rou is nodig, want dit onderhou “its intrapsychic representations and the fantasy of return” (Ainslie 1998:293).

Ainslie (1998:296) sien immigrasie as “a double-edged sword: On the one hand it provides economic opportunities [...]; on the other hand, the experience of dislocation, coupled with significant acculturative stress attendant to negotiating an unknown culture, results in the noted symptoms.”

Nuwe immigrante ondervind spanning as gevolg van ’n verlies aan sosiale ondersteuning en netwerke wat in hulle vaderland beskikbaar was, met die gevolg dat daar onvermydelik ’n impak op beide fisiese en geestesgesondheidsvlakke kan wees (Ward en Styles 2003:350).

 

8. Die proses van migrasie

Migrasie is ’n proses wat oor ’n tydperk plaasvind. Mense mag dit verskillend ervaar en nie alle individue sal dieselfde ondervindings deel nie. Dit is ook so dat elke generasies dit op ’n ander manier beleef (Sluzki 1979).

Volgens Van Coller (2002) speel die volgende faktore ’n belangrike rol in die impak van die emigrasie-ondervinding:

a. Die demografie en omstandighede van die individue in die land van herkoms. Dit sluit die volgende faktore in:

i) die politiese en ekonomiese situasie

ii) ouderdom, geslag, opvoedingsvlak, geloof, gesondheid, taal en status.

b. Die motivering vir migrasie:

i) stoot-/trekfaktore

ii) verwagtinge rondom emigrasie.

c. Interne hanteringstrategieë en hulpbronne

d. Die uitdagings en spanning om in die nuwe land te lewe.

e. Die omstandighede in die gasheerland. Dit sluit in sosiale ondersteuning en houdings, kontakte, deelname en probleme wat ondervind word.

f. Eksterne ondersteuning en hulpbronne. Dit verwys na migrante se kennis van en houding teenoor ondersteuning en eksterne hulpbronne wat in die gasheerland beskikbaar is.

Van Coller (2002:21–5) beskryf die volgende fases van emigrasie, wat gebaseer is op ’n aantal modelle wat die migrasieproses omskryf. Sy beklemtoon dat elke fase sy eie uitdagings aan die individu stel en verskillende psigologiese reaksies uitlok:

8.1 Pre-immigrasie en beplanningsfase

Hierdie fase dek die tydperk vandat daar oorweeg word om te emigreer tot die tydstip wanneer al die reëlings getref is en die individu gereed is om te emigreer.

Volgens Sluzki (1979) kan migrasie óf negatief (bv. om aan politieke onderdrukking of hoë vlakke van misdaad te ontsnap) óf positief gemotiveerd wees (bv. om ’n beter bestaan te maak in ’n ander land). Dit is belangrik om te herken of die besluit vrywillig of nie vrywillig is nie, om die impak op die individu of gesin te bepaal.

Dié mense wat migreer as gevolg van byvoorbeeld ekonomiese faktore of beter onderwys, sal ander spanninge beleef as dié wat as gevolg van politieke oortuigings migreer. Mense wat ’n hoë motivering het om te migreer sal minder geestesgesondheidsprobleme hê as dié wat teësinnig is. Dit is ook van belang om te identifiseer wie die motiveerder of verantwoordelike persoon is wat die besluit neem om te migreer. Is die gesin byvoorbeeld op pad uit die land as gevolg van ’n spesifieke individu se loopbaan terwyl die res van die gesin eintlik nie wil gaan nie? Volgens Hulewat (1996:130) is dit belangrik om te weet hoe die besluit geneem is om te emigreer, aangesien dit sal bepaal hoe die individu of gesin in die nuwe land sal aanpas. Sluzki (1979) wys daarop dat dit ’n tyd van gemengde gevoelens mag wees: euforie as gevolg van opgewondenheid om te emigreer, maar ook gevoelens van hartseer, onsekerheid en vrees oor wat voorlê.

8.2 Die “wittebrood”-fase

Hulewat (1996:130) wys daarop dat hierdie tydperk ’n opwindende en uitputtende ondervinding kan wees.

Volgens Sluzki (1979) eis migrasiestres nie in die onmiddellike weke, of selfs maande na die migrasieproses, sy tol van die gesin nie. In hierdie stadium is die gesin ten volle gefokus op aanpassing en oorlewing, en lede van die gesin mag onbewus wees van die stresvolle aard van die migrasie, asook die impak wat dit op die gesin het.

Gedurende hierdie tydperk word die gesin gekonfronteer met ’n kulturele konteks wat baie verskil van hulle eie. Die drang om te oorleef is so sterk dat gesinne ’n relatiewe moratorium met betrekking tot akkulturasie en akkommodasie ondervind. Baie van die konflikte wat ondervind kan word as gevolg van ’n totaal nuwe kultuur as hul eie, bly omtrent dormant.

8.3 Die krisisfase van deflasie of dekompensasie

Gedurende hierdie tydperk sal die spanning wat oor verskeie maande opgebou het, na vore kom (Tousignant 1992:170).

Sluzki (1979) wys daarop dat daar in hierdie tydperk baie probleme, konflikte en sekere simptome in die gesin na vore kan tree. Gedurende hierdie tydperk is die hooftaak van die gesin om sy eie identiteit te herskep. Daar moet ’n balans gevind word tussen die ou identiteit, wat gekoppel is aan die land van herkoms, en die nuwe omgewing waarheen migreer is. Dit kan baie moeilik wees om ’n balans te vind en volwassenes en kinders pas op verskillende maniere aan. Die gesin kan gedwing word om sy gedragsreëls te verander. Wat gewerk het en aanvaarbaar was in die land van herkoms kan dalk nie langer in die nuwe land geld nie. Kinders pas dikwels vinniger in die nuwe land aan. Gedurende hierdie tydperk kom die sterk- en swakpunte in die gesin se vaardighede om opgewasse te wees duidelik na vore. So kan spanning ook kumulatief word en sekere simptome kom tot uitdrukking in die maande en soms jare na migrasie.

Gedurende hierdie tydperk word geslagsrolle beklemtoon en die verskille tussen mans en vroue word duideliker. Die belangrikheid van aanvaarbare kulturele norme en rolle wat mense saambring na die nuwe land, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Geslagsverskille in aanpassing word ook in die ouer generasie van emigrante gereflekteer. Dit is belangrik dat al hierdie faktore in ag geneem moet word as daar gekyk word na die ondervindings van paartjies in hierdie fase.

8.4 Uitbalanserings- of aanpassingsfase

Volgens Van Coller (2002) sal die sielkundige uitkoms van die proses van emigrasie afhang van hoe effektief die uitdagings van die krisisfase opgelos is.

Sluzki (1979:387) dui daarop dat nuwe individuele en kollektiewe sterkpunte na vore kan tree as die immigrantgesin daarin slaag om die reëls, modelle en gewoontes van die land van oorsprong konstruktief met die nuwe realiteit te integreer.

White (2004) beskryf ’n driefaseproses van migrasie van identiteit. Eers is daar ’n skeidingsfase, wat insluit die wegbreek van ’n persoon se bekende lewe en gekenmerk word deur optimisme. Tweedens is daar ’n liminale fase, wat beskryf kan word as ’n “tussen-in” fase waar ’n persoon se bekende sin van bestaan in die wêreld afwesig is. Dit word gekenmerk deur tydperke van disoriëntasie en verwarring en beduidende vertwyfeling. Laastens is daar ’n herinkorporasiefase wat bereik word wanneer ’n persoon voel hy het gearriveer op ’n ander plek in sy lewe en ’n sin van inpas en tuis-wees ondervind.

8.5 Transgenerasieverskynsels

In die transgenerasiefase pas immigrante aan by die nuwe land en verban hulle planne om terug te keer na die land van oorsprong. Met die aankoms van kinders kom nuwe brandpunte na vore, soos die behoud van die moedertaal, godsdiens en sosiale waardes. Eerstegenerasie-kinders mag in konflik kom oor hulle verskillende kulture en sal soms verder studeer in hulle land van herkoms. Sommige immigrante behou noue kontak met hulle gesin en land van herkoms, maar die teenoorgestelde kan ook waar wees, veral waar mense agterdogtig is teenoor die land van herkoms.

 

9. Die navorsingsprojek

Die doel van die groter navorsingsprojek onder bespreking was om Suid-Afrikaners se ondervinding van migrasie in die konteks van hulle gesinslewe na te vors. Die fokus was op mense wat op die punt gestaan het om te migreer en hulle ondervinding rondom die besluit om Suid-Afrika te verlaat, asook op lede van die gesin en nabye vriende wat gaan agterbly. Die studie het ook die totale effek van die verskynsel van migrasie op Suid-Afrikaanse gesinslewe, die funksionering en die algemene sosiale konteks daarvan nagegaan (Marchetti-Mercer 2012:245).

Die studie was kwalitatief van aard. Daar is hoofsaaklik gebruik gemaak van semigestruktureerde onderhoude met tien Suid-Afrikaanse families uit verskillende kultuur- en sosio-ekonomiese groepe. Die onderhoude het gedien as basis vir ’n beskouing van die ondervindings van hierdie gesinne met betrekking tot sommige lede se besluit om te emigreer. Die ondersoek het oor 18 maande gestrek.

Agt kerngesinne en een enkellopende persoon het uiteindelik die land verlaat. Een van die twee deelnemers wat nie getroud was of kinders gehad het nie, het later besluit om nie te emigreer nie. ’n Ander familie het na Suid-Afrika teruggekeer agt maande na emigrasie en ’n opvolgonderhoud was moontlik. Ses maande na die vertrek (of kort daarna) is daar onderhoude gevoer met 21 gesins- en familielede en naaste vriende van diegene wat geëmigreer het.

Die fokus van hierdie artikel is egter slegs op die Afrikaanssprekende gesinne of daardie gesinne waar minstens een van die eggenote Afrikaanssprekend is.

9.1 Navorsingsmetode

Die studie was kwalitatief van aard en het berus op ’n gesinsisteembenadering, waar emigrasie nie gekonseptualiseer was as ’n individuele geval nie, maar as ’n sistemiese proses wat ’n impak het op ’n aantal persone en verwante subsisteme. Onderhoude is gevoer deur drie verskillende onderhoudvoerders (een was die projekleier en die ander twee opgeleide navorsingsassistente) en het ’n uur tot een en ’n half uur geduur. Alle deelnemers het ’n ingeligte toestemmingsvorm voltooi. Etiese goedkeuring vir hierdie studie is verkry volgens die riglyne van die universiteit van Pretoria. Daar is met 32 mense onderhoude gevoer oor ’n tydperk van 18 maande. ’n Oorspronklike onderhoudskedule is ontwikkel. Dit het belangrike aspekte ingesluit om onder meer die persoonlike, interpersoonlike en sosiale faktore van emigrasie beter te verstaan. Die tipe vrae wat gestel is, het primêr gefokus op die redes vir die besluit om te emigreer, verwagtinge rondom die land van bestemming, verliese wat verband hou met die emigrasie, die siening van die impak van emigrasie op ander belangrike verhoudings en hoe die familie hom voorberei vir die emigrasie. As gevolg van praktiese beperkings was dit makliker om met een lid van die gesin ’n onderhoud mee te voer.

Die persone wat op die punt gestaan het om te emigreer, is vrae gevra om die redes vir emigrasie verder na te gaan. Die vrae het die volgende ingesluit:

  • hulle verwagtinge van die land van bestemming
  • hoe hulle besluit ’n impak gehad het op hulle persoonlike verhoudings
  • verliese geassosieer met emigrasie
  • planne om kontak te behou met familie en vriende
  • hulle voorbereiding vir die emigrasieproses.

Daar is ook aandag gegee aan die ondervinding van mense wat agterbly, en hoe hulle lewens verander het sedert die emigrasie van familie. Die verandering in verhoudings met die persone wat die land verlaat het, is ondersoek, en daar is ook nagespoor hoe kontak met die persone behou is.

Daar was buigbaarheid in die vrae wat gestel is, aangesien al die onderhoudvoerders klinies opgelei en in staat was om verder te delf vir meer emosioneel-gelaaide materiaal.

9.2 Steekproeftrekking

Die aanvanklike deelnemers aan die studie (mense wat op die punt gestaan het om uit Suid-Afrika te emigreer) is geïdentifiseer deur gebruik te maak van ’n doelgerigte steekproeftrekkingbenadering. ’n Voorlopige steekproeftrekking van tien gesinne is geïdentifiseer en dit is gesien as groot genoeg om ’n wye verskeidenheid response te verkry, terwyl dit sou toelaat vir diepgaande verkenning van elke geval (Willig 2008). Die besluit om tien gesinne te werf is bevestig gedurende data-ontleding toe versadiging bereik is gebaseer op die response van die voorlopige steekproeftrekking. Bykomende dataversameling was nie nodig geag om die ontleding uit te brei of te verryk nie. ’n Sneeubal-steekproeftrekking is ook gebruik, aangesien sommige deelnemers die onderhoudvoerders na ander moontlike deelnemers verwys het. Dit het veroorsaak dat die steekproeftrekking gelaai was ten opsigte van mense wat sosiokultureel en professioneel dieselfde was.

Daar is met slegs een lid van die gesin wat sou emigreer ’n onderhoud gevoer. Uit praktiese oorwegings was dit nie moontlik om met al die gesinslede onderhoude te voer nie. Gevolglik dui die resultate op individuele ondervindings en opvattings en nie op dié van ander gesinslede nie. Verder was daar geen aanduiding oor hoe die gesin aangepas het by hulle nuwe land van bestemming nie. Die uitsondering was die gesin wat teruggekeer het en met wie ’n onderhoud gevoer is. Waar moontlik is ’n onderhoud met minstens een lid van hulle familie wat agtergebly het en/of nabye vriende gevoer.

9.3 Gevallestudies

Vir hierdie artikel is die gevallestudiemetode spesifiek gebruik om data in te samel. ’n Gevallestudie sluit in ’n gedetailleerde ondersoek van ’n enkele individu, groep of situasie (Flyvbjerg 2004). Die enkele element word behandel as ’n voorbeeld van ’n spesifieke verskynsel wat veroorsaak dat ’n persoon insig verkry oor wat plaasvind en waarom ’n verskynsel gebeur het (Flyvbjerg 2004; Morra en Friedlander 1999). Alhoewel veralgemening na ander bevolkingskontekste beperk is, is die doel van gevallestudienavorsing om dit moontlik te maak om tot die teorieë en idees oor ’n fenomeen te veralgemeen (Tellis 1997). As sodanig word gevallestudies gebruik om ’n bestaande teorie te bevestig of te bevraagteken. Dit dien die doel om ’n unieke geval daar te stel wat verdere idees oor ’n verskynsel kan belig (Tellis 1997). Gevolglik is dit verantwoordbaar en verskaf bruikbare en waardevolle inligting wat kennisskepping fasiliteer. Die gevallestudie wat vervolgens beskryf word, is slegs dié van gesinne wat Afrikaanssprekend was of waar minstens een van die eggenote Afrikaanssprekend was. Die name is verander ter wille van vertroulikheid.

Gesin 1 – Gemengde Engels- en Afrikaanssprekende gesin
Pam is ’n 36-jarige Engelssprekende kliniese sielkundige, getroud met Victor, wat 37 jaar oud is. Victor is Afrikaanssprekend en hulle het twee kinders, Marie (8) en Patrick (4). Hulle emigreer na Nieu-Seeland. Hy het reeds ’n werk gehad en sy nie.

Gesin 2 – Afrikaanssprekende gesin
Chris is ’n 33-jarige kliniese sielkundige. Hy en sy lewensmaat was op pad na Nieu-Seeland toe, voor hulle uitmekaar is. Chris het in elk geval na Nieu-Seeland geëmigreer.

Gesin 3 – Afrikaanssprekende gesin
Gideon is ’n 41-jarige prokureur, getroud met Annabel (40). Sy is ’n opvoedkundige sielkundige met twee kinders, Pieter (10) en Natalie (7). Hulle het na Nieu-Seeland verhuis omdat sy ’n werksaanbod gekry het. Na agt maande het hulle teruggekeer omdat hy nie werk kon kry nie.

Gesin 4 – Gemengde Engels- en Afrikaanssprekende gesin
Antonio is ’n 62-jarige Engelssprekende afgetredene en Estelle (54) ’n Afrikaans-sprekende akademikus. Hulle vertrek na die VSA waar sy werk by ’n universiteit gekry het. Hulle het ’n 22-jarige dogter Kristen in Suid-Afrika agtergelaat en hulle 24-jarige seun Barry het in Europa gewoon.

Gesin 5 – Afrikaanssprekende gesin
Cecilia is ’n 33-jarige mediese dokter, getroud met Frans (38), wat as aktuaris gewerk het. Hulle het een dogter, Hanna (2). Cecilia het ’n werksaanbod in Kanada gekry.

Gesin 6 – Afrikaanssprekende gesin
Elize (40) is ’n voorligtingsielkundige met ’n 10-jarige seun. Hulle vertrek na Nieu-Seeland waar sy ’n werksaanbod gekry het.

Gesin 7 – Afrikaanssprekende gesin
Die 35-jarige Terri is ’n mediese dokter, getroud met Pieter (35), ’n kliniese sielkundige. Hulle het twee kinders, Christine (7) en Marc (3). Hulle emigreer na Kanada, waar die ma ’n versekerde werk gehad het.

9.4 Data-insameling

Onderhoude is van aangesig tot aangesig gehou en ’n semigestruktueerde benadering is gevolg om sekere temas in meer diepte te ontdek. Alle onderhoude is digitaal opgeneem en later verbatim getranskribeer deur die onderhoudvoerders of deur ’n opgeleide navorsingsassistent. Deelnemers is die kans gegee om ondervra te word in die taal van hulle keuse, en in die meeste gevalle het hulle besluit om die onderhoud in Engels te voer. In slegs ’n paar gevalle is die onderhoud in Afrikaans gevoer en dan is die onderhoude in Engels vertaal. Ter wille van hierdie artikel moes groot dele van die transkripsie van Engels in Afrikaans vertaal word.

9.5 Data-ontleding

Bestaande literatuur is gebruik om ’n oorsig oor emigrasie te vorm. Voortspruitend hieruit is die onderhoudsvrae saamgestel en is die wyse waarvolgens die data ontleed sou word, bepaal.

Die ontleding was sowel induktief (deurdat temas gegenereer is uit die data wat versamel is) as deduktief (deurdat die data betekenisvolle interpretasie verkry het, gesien in die lig van die bestaande teorieë oor emigrasie).

’n Tematiese ontleding is gebruik om kwalitatiewe ontleding mee te doen, omdat dit ’n buigbare manier van identifikasie, ontleding en rapporteringspatrone soos gevind in die data is. Braun en Clarke (2006) se raamwerk is gebruik.

Die volgende stappe is gevolg:

Fase 1. Navorsers maak hulself vertroud met die data (data word getranskribeer, gelees en herlees en die mees opvallende idees word neergeskryf).

Fase 2. Genereer aanvanklike kodes (sistematiese kodering van interessante kenmerke deur gebruik te maak van die hele datastelselsaamvoeging relevant tot elke kode).

Fase 3. Soek temas (saamvoeg van kodes in potensiële temas; versamel alle data van toepassing op elke potensiële tema).

Fase 4. Hersien temas (gaan temas na om te sien of hulle werk in verhouding tot die gekodeerde uittreksels (vlak 1) en die volledige datastel (vlak 2); genereer ’n tematiese “kaart” van die ontleding).

Fase 5. Definiëring en benaming van temas (voortdurende ontleding om elke tema verder te verfyn, om sodoende akkurate definisies en name vir elke tema te eien).

Fase 6. Saamstel van die verslag (selekteer voorbeelde van die antwoorde; sodoende word die ontleding teruggevoer tot die navorsingsvraag en bestaande literatuur).

9.6 Die kwaliteit van navorsing

Een manier om betroubaarheid te verseker was om ’n voorlopige ontleding van die transkripsies te doen en om dan te soek na bewyse in die data wat nie die temas soos geïdentifiseer in die eerste ontleding, ondersteun nie. Die temas wat steeds na vore kom, is geïdentifiseer as die hooftemas wat die ondervindings van die deelnemers weergee (Chu Huang en Mathers 2008).

Soveel verbatim uittreksels van die deelnemers se response as moontlik is gebruik om betroubaarheid van die aannames van die ontleding te ondersteun, of om verwysingstandaarde te bereik (Morrison en James 2009). Deel van die proses was om introspektief/selfspieëlend te wees, en mede-akademici is ingesluit om as “kritiese vriende” op te tree, met die doel om ander te betrek by die interpretasie wat bereik is. Gevolglik is ander interpretasies buiten die artikelskrywers se eie subjektiewe perspektiewe gebruik om hulle interpretasies te toets en uit te brei.

 

10. Resultate

Verskeie temas is in die proses van data-ontleding geïdentifiseer. Hierdie bespreking sal egter net fokus op die ondervindings spesifiek tot die wit Afrikaanssprekende deelnemers. Hulle was almal professionele mense en pas by die bevindinge van Crush (2000) wat die uittog-van-kundiges-aard van Suid-Afrikaanse emigrasie beklemtoon.

10.1 Redes vir vertrek

Verskeie faktore word uitgelig as moontlike redes vir die besluit om te emigreer.

10.1.1 Sosiopolitieke faktore

Soos verwag, was daar ’n paar bekommernisse ten opsigte van die sosiopolitieke situasie in die land, maar miskien nie so oorweldigend as wat verwag is nie. Slegs een gesin emigreer as gevolg van ’n traumatiese blootstelling aan misdaad. “Skielik besef jy, jy is ’n padda in kokende water” (Terri, moeder, gesin 7). Een van die grootouers het kommentaar gelewer op die feit dat families nie veilig gevoel het in hulle eie land nie: “Ek dink ook die politieke roeringe in Afrika het ’n verdere bydrae gelewer dat jy sukkel om jou geborgenheid, jou veiligheid hier so te beleef op die manier wat jy vroeëre jare ...” (Pieter, oupa, gesin 4).

Soos vroeër bespreek, is emigrasietendense dikwels gekoppel aan spesifieke politieke oomblikke in die land. Alle deelnemers wat die land verlaat het, is ondervra in die tydperk ná die Polokwane-ANC-konferensie en die aanloop tot die bewind van Jacob Zuma, ’n aantal hoëvlakgevalle van korrupsie, en beurtkragvoorvalle aan die begin van 2008 wat byna die land tot stilstand gebring het.

10.1.2 Die behoefte aan verandering

Dit was ook duidelik dat baie van die deelnemers emigrasie beskou het as die geleentheid om ’n dramatiese verandering in hul lewens te bring. Sommige van die veranderings wat hulle gesoek het, was op ’n professionele vlak, aangesien sommige mense gevoel het dat Suid-Afrika nie voldoende werksgeleenthede aan hulle bied nie. Estelle (moeder, gesin 4) het gevoel sy het ’n professionele verandering nodig, aangesien sy die teenswoordige sisteem ontgroei het. Sy was bang dat sy “sielkundig sou sterf”, aangesien daar geen waardering vir haar besondere kennis in Suid-Afrika was nie.Sy voel dat haar kundigheid eerder in die land van bestemming waardeer sal word: “Ek het nie die soort vaardigheid wat in die land gewaardeer word nie, ... Ek dink dit is ’n hartseer ding. Dit is hoekom mense weggaan ...” Ander is op soek na 'n drastiese verandering in hul lewens: “Is dit wat ek wil doen vir die res van my lewe?” (Annabel, moeder, gesin 3). Estelle (moeder, gesin 4) het gevoel haar spesialiteit was nie langer van waarde in Suid-Afrika nie: “Ek het die stelsel ontgroei.”

10.1.3 Die daarstel van beter geleenthede vir kinders

Daar was ook ’n sterk gevoel dat deur te emigreer ’n mens se kinders beter geleenthede kon hê. Beter onderwys en die alternatiewe wat oopgemaak word deur ’n dubbele burgerskap blyk baie belangrike kwessies te wees. Cecilia (moeder, gesin 5) het ’n gevoel van verligting gehad dat sy haar dogter ’n beter toekoms en ’n beter opvoedkundige geleenthede sou kon gee deur te emigreer: “Verlig dat daar ’n opsie vir haar is; dat sy ’n toekoms gaan hê, wat ek nie dink sy hier sal hê nie ... dat sy ’n paspoort sal hê en oorsee sal kan gaan studeer ... ” Elize (moeder, gesin 6) het gevoel dat as sy vir haar seun ’n ander paspoort gee, sy vir hom beter geleenthede sal gee: “Ek dink daar is geleenthede vir David.” Annabel (moeder, gesin 3) glo dat haar kinders baat sou vind as hulle blootgestel word aan ’n internasionale konteks: “Ons wil graag die kinders die geleentheid gee, en om vir hulle te kan sê: ‘Daar is julle paspoorte ..., daar is die wêreld gaan verken ... gaan net.’”

Estelle (moeder, gesin 4) sien die verhuising na die VSA as ’n manier om die weg voor te berei vir haar dogter om by hulle aan te sluit sodat sy haar studie in die VSA kan voltooi: “Ek wil natuurlik haar na Amerika toe laat kom ... Ek dink Francine sal in die Verenigde State beland.” Terri (moeder, gesin 7) sien uit na ’n beter lewenswyse vir haar gesin en voel haar kinders kan dieselfde kinderdae hê as toe sy jonk was: “Ek het altyd gedink dat ek nooit in staat sou wees om my kinders die opvoeding te gee wat ek gehad het nie ... Kanada maak veral goed voorsiening vir kinders.”

10.1.4 Die gevoel van vervreemding in die nuwe Suid-Afrika

Daar was ’n sin van kulturele vervreemding of verwydering in sommige van die deelnemers. ’n Baie spesifieke respons van Afrikaanssprekendes was dat hulle gevoel het dat hulle nie langer in Suid-Afrika tuishoort nie. “Daar is geen plek vir my kultuur in Suid-Afrika nie” (Cecilia, moeder, gesin 5). Sy brei verder uit: “Maar in ’n sekere sin behoort ons nie meer langer hier nie en mens voel dit elke dag. Dit dwing ’n mens om te gaan, om elders te voel dat jy behoort. Ek het gevoel ek pas nie langer in nie en ek kan dit nie langer vat nie. Ek voel hier is nie vir my ’n plek nie.” Hierdie erger wordende gevoel van ’n chroniese sin van vervreemding en om nie te behoort nie, lei tot ’n onttrekking van die daaglikse Suid-Afrikaanse lewe en ’n drang om te soek na verskillende plekke waar ’n mens weer tuis kan voel.

Dieselfde deelnemer het gevoel dat die Afrikaners altyd blameer sou word vir die apartheid-regime en dat die stigma haar lewe in Suid-Afrika ondraaglik maak: “Daar is ’n sterk invloed om die Afrikaanse kultuur te onderdruk, want dit word gesien as deel van die vorige regime en ek dink dit werp vrugte vir hulle af ... hulle jaag ons weg, hulle maak dit moeilik vir ons om hier te leef en vir ons om te wees wat ons is. Ek dink ek kan elders ’n Afrikaanssprekende persoon word sonder die stigma en wat ook al. So ja, ek dink nie meer ... as ek huil omdat ek nie langer hier behoort nie.” Daar was dus ’n gevoel dat ’n persoon se sin van identiteit en kultuur soos dit bekend was, onherroeplik verander het.

Hierdie gevoel van verlies aan identiteit laat ’n mens dink aan die middelfase van migrasie van identiteit soos deur White (2004) beskryf. Hy praat van ’n tipe liminale fase, ’n “tussen-in”-fase, waar ’n persoon se bekende sin van bestaan in die wêreld afwesig is. Dit word gekenmerk deur tydperke van disoriëntasie en verwarring en selfs beduidende wanhoop. Hierdie ondervinding lei tot ’n proses van vervreemding en byna dissosiasie voor die oomblik van emigrasie: “Teen die tyd wat ek die land verlaat, is ek nie meer ’n Suid-Afrikaner nie” (Cecilia, moeder, gesin 5).

Een van die grootouers het die opmerking gemaak dat die mense van Europese afkoms miskien nooit regtig tuis gevoel het in Suid-Afrika nie: “Ek wil amper sê dat ek dink vir ’n Europeër, of laat ek liewer sê iemand van Europese afkoms, is dit nogal ’n aanpassing wat geslagte gaan neem om ’n Afrikaan te word” (Pieter, oupa, gesin 4).

10.2 Verwagtinge rondom die land van bestemming

Baie deelnemers was seker dat hulle ’n veiliger en minder stresvolle lewe sou hê as hulle emigreer. Daar was baie verwagtinge oor toekomstige voordele vir hulle kinders, veral ten opsigte van die onderwys en algemene leefstyl: “Dit sal die eerste keer in hulle lewe wees dat hulle fiets kan ry in die strate en skool toe kan loop” (Terri, moeder, gesin 7). Elize (moeder, gesin 6) het ook daarna uitgesien om nie meer bang te wees nie: “Ek dink om nie meer vreesbevange te wees nie ... om buite te kan hardloop en nie bang te wees nie ...”

Annabel (moeder, gesin 3) se besluit het gesentreer rondom werkvooruitsigte. Sy het ’n werksaanbod gekry nadat sy navorsing op die internet gedoen het en het gevoel dat dit ’n verbetering vir haar loopbaan sou wees. Sy was verheug oor die feit dat “jy elders in aanvraag is en mense jou kennis en ondervinding waardeer, ... jy word deel van die wêreld buite Suid-Afrika.”

Aan die ander kant het party deelnemers daarop gewys dat dit swaar sal wees vir Afrikaanssprekendes om te emigreer. ’n Deelnemer wie se kinders almal geëmigreer het, het kommentaar gelewer op die spesifieke uitdagings wat Afrikaanssprekende mense sou ondervind: “Ons ondervind ’n vreeslike hartseer oor die verlies wat hulle ondervind aan die ander kant. Dit is nie snaaks nie en dit sal primêr Afrikaanssprekendes wees wat die ekstra aanpassings sal moet maak en dit maak deel uit van my irritasie, die feit dat Suid-Afrika vaardighede verloor en dat hulle swaar kry aan die ander kant” (Elaine, ouma, gesin 5).

10.3 Verliese geassosieer met die vertrek uit Suid-Afrika

Emigrasie het ’n nou verband met die proses van verlies, hoofsaaklik geassosieer met “sosiale kapitaal” (Falicov 2007), maar het ook te make met ’n verlies aan kultuur en taal (Ainslie 1998). Dit was ook die ondervindings van die deelnemers wat vervolgens bespreek word.

10.3.1 Interpersoonlike verlies

’n Aantal interpersoonlike verliese is geïdentifiseer, veral ten opsigte van ouer mense. Baie van die deelnemers sou ouer wordende ouers agterlaat. Weens die ouers se ouderdom, finansiële beperkings en die geografiese afstande sou dit vir hulle onmoontlik wees om hulle kinders maklik oorsee te besoek. Hierdie aspek het sigbare nood veroorsaak: “Dit is die besef dat ek dalk nooit weer my ma sal sien nie. ... as ek totsiens sê, is dit miskien die laaste keer” (Elize, moeder, gesin 6).

Estelle (moeder, gesin 4) was baie bekommerd oor haar bejaarde ouers wat alleen woon: “... vir my is dit die swaarste.” Sy het hulle toegerus met die toepaslike tegnologie sodat hulle gereeld kon kommunikeer. Estelle was verlig dat haar dogter ten minste vir ’n jaar beskikbaar sou wees om na hulle om te sien. “Ek dink dit het my angs verlig.”

Cecilia (moeder, gesin 5) het verskeie vrese gehad om haar bejaarde ouers agter te laat. Sy het gevoel dat die gesondheidsisteem in die land onvoldoende is en dat die land oor die algemeen nie veilig vir ouer persone is nie: “Dit is nie ’n plek vir ouer persone nie.” Sy wou hulle nie alleen agterlaat in Suid-Afrika nie en het gehoop dat hulle uiteindelik Kanada toe sou trek: “Ek sal seker maak my ouers kom oor.” Haar man was ook bekommerd daaroor om sy ouers agter te laat. “Ek dink hy is bekommerd dat sy ouers hier is.”

Sommige deelnemers het ook ’n skuldgevoel gehad om bejaarde ouers wat afhanklik was vir hulle ondersteuning, agter te laat. Elize (moeder, gesin 6) was besorg oor haar bejaarde moeder, veral omdat sy die enigste dogter was wat naby haar woon: “[D]it is waarskynlik die swaarste ding waarmee ek vrede moes maak.” Toe haar vader oorlede is, het een van haar broers oorsee gebly en sy weet hoe moeilik dit vir hom was, en sy was bekommerd dat dit ook met haar kon gebeur. “Ek het gesien watter uitmergelende effek dit op hom gehad het.”

Terri (moeder, gesin 7) was besorgd oor haar skoonma, wat binnekort al drie haar kinders in verskillende lande sou hê, en het gevoel sy sou baie alleen wees: “Ek dink dit sal baie moeilik wees vir haar.” Sy was ook bekommerd oor haar ma, wie se man aan terminale kanker ly en wie sy sou agterlaat: “Wat dit sleg maak vir haar, is dat ek haar grootste ondersteuningbron is, met dié dat hy siek is.”

10.3.2 Professionele verliese

Al die deelnemers was professionele mense en was spesifiek in hulpverleningsberoepe. Dit het beteken dat hulle almal professionele verhoudings moes beëindig as deel van hulle voorbereiding vir emigrasie. In sommige gevalle het hulle negatiewe gevoelens van hulle pasiënte ervaar, wat die proses vir hulle baie moeiliker gemaak het. Elize (moeder, gesin 6) het gevoel dat as ’n sielkundige haar vertrek ’n invloed gehad het op pasiënte en kollegas: “As ’n professionele persoon, is al my verwysingsbronne nie net teleurgesteld dat ek die land verlaat nie, maar omdat ek in eetversteurings gespesialiseer het. Hulle is omgekrap en ongemaklik omdat ek die land verlaat.”

Terri (moeder, gesin 7) was baie bewus van die verlies in ’n groter professionele groep: “... en dit was swaar vir ons kollegas, want hulle sien dit as ’n verlies, vir beide ons professies. Jy weet, ek dink nie ons is net gemiddeld in ons werk nie. Ek dink ons is beide baie goed in ons werk. Dit is dus ’n groot verlies vir ons kollegas, en vir ons pasiënte is dit ’n geweldige verlies. En ons het nie net een of twee pasiënte nie, na so baie jare is daar baie van hulle. Dit is nie net twee pasiënte nie, daar is honderde van hulle. So, ek dink dit is een gebied waar dit baie mense affekteer.”

10.3.3 Die verlies van kultuur en taal

Die verlies van mens se kultuur hou verband met emigrasie, want mense los alles wat bekend is. Dit was die ervaring van ’n paar van die deelnemers, wat veral die gevoel van verlies beklemtoon het as hulle Afrika sou verlaat: “Dit is moeilik ... jy los jou kultuur agter, jy verlaat Afrika, ... daar is so baie waaraan ons gewoond is, wat ons as vanselfsprekend aanvaar, ... sonskyn, ... die gevoel om tuis te wees” (Cecilia, moeder, gesin 5); “Ek dink dit is vreeslik hartseer en veral as jy kyk hoe hard die Afrikaners as ’n klein groep moes baklei om hulleself te vestig ... dit is eintlik baie tragies. So dit is meer van ’n idealisme, jy weet, ’n ideologie wat jy agterlaat” (Terri, moeder, gesin 7). Dit dui op die feit dat Afrikaanssprekendes deel voel van Afrika, en die vertrek uit Afrika vir hulle pynlik is.

’n Ander baie spesifieke aspek wat geïdentifiseer is, was die verlies van ’n moedertaal, veral wat die kinders betref. Taal is nou gekoppel aan identiteit, en sy verlies, veral in die toekomsgeslagte, kan gesien word as deel van die verlies van kultuur. Een van die moeders het kommentaar gelewer oor wat die emigrasie vir haar man se ouers sou beteken: “Hierdie grootouers is baie nader aan my kinders as my eie ouers ... dit is vir hulle swaar om hulle kleinkinders te verloor. Hulle is Afrikaans en kan nie goeie Engels praat nie ..., maar Max gaan nie vlot in Afrikaans wees nie. Ek dink hulle het dit soort van aanvaar, maar ek weet nie of hulle gaan verstaan - die aksent - as hulle weer kwaliteit tyd saam spandeer nie” (Pam, moeder, gesin 1).

Een van die oupas sê vir sommige van sy vriende dit was ’n uitdaging toe hulle kinders na lande getrek het waar daar nie Afrikaans gepraat word nie. “Sommige van ons is baie meer Afrikaans en die feit dat die kinders so ver weggaan na ’n nuwe taal, is baie moeilik” (Daniel, oupa, gesin 5).

Een van die moeders het gevoel dat Afrikaans in die toekomstige generasies in haar gesin sal uitsterf. “Ek dink wat dit vir ons moeiliker maak is dat ons ook ... dit is nie asof jy net jou vaderland verlaat nie ... jy verlaat jou moedertaal, want ons praat Afrikaans. So, gelukkig is die kinders daarin gevestig, maar daar sal nie baie ander mense wees met wie hulle Afrikaans kan praat nie. Ons sal Afrikaans tuis praat, maar na die tweede generasie sal dit nie meer gepraat word nie, so dit sal effektief uitsterf.” Sy het ook opgemerk dat haar ma bekommerd was dat haar kinders Afrikaans sal verloor: “Ons is bekommerd oor die kinders, want hulle speel in Engels en hulle moet hard werk om die Afrikaans aan die gang te hou” (Terri, moeder gesin 7).

Die pa van een van die deelnemers het gedink dat die feit dat sy seun nie Engelssprekend is nie, ’n groot uitdaging vir die seun is: “Jy mis die feit dat jou basiese taal van kommunikasie by die werk en waar jy ook al gaan nie jou moedertaal is nie” (Daniel, oupa, gesin 5) en die ma het gevoel: “My oudste seun wat nie goed is in Engels nie, sê hy doen baie goed daar, dit gaan goed en hy pas goed aan, maar die een ding wat hy elke dag voel, is dat hy nie ’n vrou het nie, en as hy tuis kom, is hy alleen en hy kan met niemand praat in sy eie taal nie, en as hy sosialiseer, kan hy nie grappe in Engels vertel nie” (Elaine, ouma gesin 5).

Sommige het gevoel hulle sal hard werk om Afrikaans te handhaaf, veral sover dit hulle kinders betref: “Ek sal haar in ’n Franse privaatskool plaas, maar haar eerste taal sal altyd Afrikaans wees. Dit is makliker as ons al twee Afrikaans is, sibbe en broer... almal Afrikaans” (Cecilia, ma gesin 5).

’n Interessante uitsondering was een van die deelnemers, Annabel, wat na Nieu-Seeland geëmigreer het, maar wat na ’n paar maande teruggekeer het. Een van haar belangrikste motiverings vir emigrasie was ’n sterk begeerte om verandering in haar lewe te bring. Nadat sy in Nieu-Seeland aangekom het, het sy ondervind dat Afrikaans ’n dominante kenmerk van die Nieu-Seelandse samelewing was en dat die gebruik van Afrikaans ’n algemene verskynsel was waar hulle gebly het: “Jy sal nie Afrikaans mis nie, want die baie Afrikaans is nogal vreesaanjaend. Die eerste brief van die skool was in Afrikaans en Engels, Afrikaans aan die een kant en Engels aan die ander kant” (Annabel, ma gesin 3).

Verder het sy gesê: “Ek bedoel, is dit ’n Suid-Afrikaanse skool? Nee, dit is ’n Engelse skool, maar daar was so baie Suid-Afrikaanse ouers, hulle het Afrikaanse aande, ... omdat sommige onderwysers Afrikaans is, het hulle Afrikaanse aande, ... so hulle het Afrikaanse kurrikulum-aande, so dan kan jy die kurrikulum in Afrikaans bespreek. Dan praat ons in mekaar se taal ... so in daardie sin het ons nooit Afrikaans gemis nie.”

Sy het gevoel dat Afrikaners neig om hulle gemeenskappe te herskep: “Daar is so baie Afrikaanssprekende mense daar en jy neig om daarvan weg te beweeg, want hulle vorm

’n kliek en hulle maak vir hulleself ’n klein Suid-Afrika in Auckland.” Sy voel dit sou integrasie teenwerk, maar as jy werklik deel wil word van Nieu-Seeland, moet jy meng met die Nieu-Seelanders. “Jy kan jouself nie isoleer nie.” Sy redeneer dat sy ander Afrikaanssprekende mense begin vermy het. “Oral waar jy gaan, hoor jy Afrikaanssprekende mense, en dan sal die kinders sê ... ‘hulle praat Afrikaans’.”

“Teen die tweede of derde maand as jy in ’n winkelsentrum ingaan, en jy hoor iemand Afrikaans praat, sal ek net sê: ‘Shhh [... ] julle praat nie nou nie’ want dan loop die mense en sê: ‘Is jy ook Afrikaans?’ Jy weet en dan: ‘Hoe lank is jy nou al hierso?’ en dan wil hulle ... en jy raak net moeg daarvan. Jy word moeg daarvan ... dit is soos: ‘Hoe lank is julle al hier? Hoekom het julle hiernatoe gekom?’ en jy wil nie deur die hele ding gaan nie. Aanvaar net dat ek hier is en dit is dit.”

Dit is ’n interessante jukstaposisie, gegewe dat sommige deelnemers gevrees het dat hulle Afrikaans sou verloor deur die proses van emigrasie, miskien omdat ’n behoefte aan verandering die hoofmotivering was vir die besluit om te emigreer, eerder as ’n sin van kulturele vervreemding. Hierdie deelnemer kon wegbeweeg van die herhaling van ’n soortgelyke kulturele afsondering in die land waarheen hulle trek. Sy kon eerder ’n nuwe kulturele ondervinding uitkies.

 

11. Bespreking

Hierdie bespreking fokus slegs op die ondervindings wat die artikelskrywers geïdentifiseer het wat van spesifieke belang vir Afrikaanssprekende respondente en hulle families is. Daar word gefokus op die redes vir en motivering van die mense se besluit om te emigreer, asook op die verwagtings ten opsigte van die plekke van bestemming. Die verliese wat gekoppel kan word aan die emigrasie, word ook bespreek.

Wat die profiel van die deelnemers aan die navorsingstudie betref, was die gemiddelde ouderdom van die mense met wie onderhoude gevoer is, die laat dertigs. Hulle was almal professionele mense, in baie gevalle hoogs opgelei, wat dus ooreenstem met die verskynsel van ? vaardigheidsverlies waaroor reeds verslag gedoen is (Crush 2000). Die grootste aantal sielkundiges het na Nieu-Seeland geëmigreer, terwyl die twee mediese dokters na Kanada verhuis het, wat ? gewilde bestemming vir Suid-Afrikaanse dokters is (Bezuidenhout, Joubert, Hiemstra en Struwig 2009).

Die meeste gesinne wat geëmigreer het, het betreklik jong kinders gehad. ’n Kans op ’n beter toekoms was ’n sterk motivering vir die besluit om te emigreer, soos uitgelig deur sommige deelnemers. Die voordele wat verband hou met ’n opvoedkundige geleentheid oorsee en die verkryging van ’n tweede paspoort is beklemtoon.

Wat die redes vir emigrasie betref, was daar, soos verwag kon word, algemene bekommernisse gekoppel aan veiligheid en sekuriteit. Dit sluit aan by die huidige debat rondom emigrasie in Suid-Afrika (sien bv. Van Rooyen 2000; Richman 2010). Dit kan ook ’n sin van verlies aan ontologiese sekuriteit aandui, soos beskryf deur Dupuis en Thorns (1998). Die skrywers argumenteer dat mense ’n gevoel van kontinuïteit in hulle selfidentiteit en in die konstantheid van hulle sosiale en materiële omgewings moet ervaar. Dit is ’n basiese sielkundige noodsaaklikheid en dit mag wees dat Suid-Afrikaners ontnugter is in hulle verhouding met die land van hulle geboorte.

In ’n sekere sin wou mense ’n verandering in hulle lewe gehad het. Hulle het gevoel dit sou te weeg gebring word deur te trek na ’n nuwe land waar hulle vaardigheid en ondervinding waardeer sou word. Sommige skrywers, byvoorbeeld Sluzki (1979), argumenteer dat persone wie se hoofmotivering vir emigrasie positief is, soos byvoorbeeld die soeke na ’n beter lewenstyl, eerder as die ontsnapping van ’n negatiewe situasie, ook vinniger en makliker in die nuwe land aanpas.

Wat na vore gekom het uit sommige response, wat nie geïdentifiseer is by nie-Afrikaanssprekende respondente nie, is die feit dat hulle as Afrikaners gevoel het hulle hoort nie langer in Suid-Afrika nie. Daar was ’n gevoel dat omdat Afrikaners betrokke was by die vorige apartheidsregering, hulle nooit ten volle aanvaar sal word in die nuwe Suid-Afrika nie en dus word mense hier uitgewerp. Die begrip kultuur is meer beklemtoon in die geval van Afrikaanssprekende gesinne of as een van die deelnemers Afrikaanssprekend was, sowel as ’n gevoel van hartseer oor die verlies van ’n mens se kultuur. Dit pas in by Ainslie (1998:287) se siening van emigrasie as ’n tipe “kulturele rou”, soos vroeër genoem.

Ten spyte daarvan dat emigrasie voordele kan inhou vir dié wat die land verlaat, impliseer dit ook die verlies van geliefdes en plekke, wat dit ’n proses van konstante rou maak. In hierdie konteks van verlies word die herkonstruksie van gemeenskappe in die ander land ’n imperatief as teenreaksie vir die moontlike uitmergelende impak op beide fisieke en geestesgesondheid (Ward en Styles 2003:350). Gevolglik kan hierdie verskynsel beter verstaan word vanuit hierdie perspektief. Die sterk sin van verlies geassosieer met Afrikaans kan ook begryp word in die konteks van die belang van taal in ’n persoon se kulturele identiteit (Grinberg en Grinberg 1989).

Die vrees oor die verlies van Afrikaans as moedertaal was veral van toepassing op die toekomstige generasies. Dit skakel met die konsep van linguistiese verlange soos deur Barkhuizen en Knoch (2005:216) beskryf wanneer hulle die ervaring van die Afrikaanssprekende emigrante in Nieu-Seeland waarneem om die emosionele reaksies te beskryf wat blootstelling aan en geleenthede vir die gebruik van Afrikaans verminder.

Daar was ’n gevoel dat Afrikaanssprekendes verdere spanning sou ondervind as hulle emigreer, veral gekoppel aan probleme met die taal. Dit sou inpas by die bevindings van Grinberg en Grinberg (1989). Hierdie skrywers glo dat selfs om ’n vreemde taal met ’n aksent te praat, emigrante kan laat voel dat hulle ondergeskik en onbevoeg is.

’n Aantal interpersoonlike verliese is ook deur ’n aantal deelnemers uitgelig, veral met betrekking tot bejaarde ouers. Daar was ’n ernstige besorgdheid oor die lot van die bejaarde ouers en om hulle agter te laat. Daar was ook skuldgevoelens onder professionele persone omdat hulle kliënte en pasiënte sou agterlaat. Hierdie verlies aan “sosiale kapitaal” wat gepaard gaan met emigrasie, soos beskryf deur Falicov (2007), kan die rede wees waarom baie Afrikaners nuwe gemeenskappe vir hulleself bou nadat hulle gemigreer het. Navorsing dui daarop dat dit gesien kan word as ’n positiewe stap in die handhawing van ’n persoon se kultuur en dat dit kan dien as ’n buffer teen die negatiewe geestesgesondheidsimpak wat die gevolg is van emigrasie (Marchetti-Mercer en Roos 2006:60). Dit was interessant om op te merk dat die deelnemer wat na Suid-Afrika teruggekeer het ’n paar maande na emigrasie na Nieu-Seeland, kommentaar gelewer het op die feit dat Afrikaners hulself isoleer in hulle eie selfopgerigte gemeenskappe. Sy het gevoel dat die teenwoordigheid van Afrikaans in die Nieu-Seelandse gemeenskap nie tot suksesvolle emigrasie en integrasie bydrae nie. Gegee dat haar vernaamste motivering vir emigrasie ’n behoefte aan verandering was, kon dit haar algehele ervaring van emigrasie beïnvloed het.

’n Mens sou kon spekuleer of daar optimale balans tussen integrasie in ’n nuwe samelewing en die behoud van ’n persoon se kulturele wortels is. Onlangse werk deur Falicov (2007) ondersoek die voordele van ’n sogenaamde “transnasionale” lewe, waar ’n persoon deel word van die nuwe kultuur, maar ook die kulturele wortels en identiteit van die verlede behou.

Deelnemers het in die algemeen gevoel dat emigrasie hulle meer vryheid van beweging sou verskaf en minder stresvolle lewensgebeure. Hulle het gedink dat hulle kinders veral daarby baat sou vind. Daar was per implikasie ’n groot opoffering aan die kant van die volwassenes, want hulle het besef emigrasie sou die verlies van Afrikaans as moedertaal vir hulle kinders en toekomstige generasies beteken.

Navorsing oor kinders en emigrasie dui daarop dat kinders gouer die nuwe taal bemeester as ouer mense. Dit gebeur spesifiek omdat die kinders nie gesien wil word as verskillend van hulle portuurgroep nie (Grinberg en Grinberg 1989). Namate hulle taalvaardigheid verbeter, stel hulle minder in hulle moedertaal belang. Dit kan heel dikwels konflik tussen hulle en hul ouers veroorsaak (Marchetti-Mercer 2009).

 

12. Gevolgtrekkings

Die algemene resultate van die studie dui daarop dat motiverings vir emigrasie uiteenlopend is. Dit wissel van die verwagte sosiopolitieke redes waaroor ons daagliks praat, tot ’n wens vir verandering en om beter kanse vir ons kinders daar te stel. Soos aangeteken in baie van die immigrasie-literatuur (sien Ainslie 1998 en Falicov 2007), is emigrasie primêr ’n proses van verlies, veral van interpersoonlike verhoudings. ’n Spesifieke kommer vir Suid-Afrikaanse emigrante is om bejaarde ouers agter te laat met baie min sosiale ondersteuning. ’n Mens sou kon redeneer dat dit een van die mees opvallende sosiale gevolge van emigrasie in die land is. Die gevoel van verlies aan kultuur soos beleef deur Afrikaanse emigrante dui op ’n groep mense wat diep verbind is met Afrika as gevolg van hulle geskiedenis, maar verplaas en gestigmatiseer voel in die nuwe Suid-Afrika as gevolg van hulle historiese verbintenis met die apartheid-regime. Die belangrike rol wat taal speel as deel van die mense se identiteit word ook beklemtoon deur die resultate van hierdie studie. Mense het hulle vrees uitgespreek dat veral hulle kinders die gebruik van Afrikaans in die toekoms sal verloor.

In die algemeen word emigrasie gesien as ’n kans vir ’n nuwe begin met beter professionele geleenthede, meer vryheid en veiligheid en uiteindelik beter kanse vir ’n persoon se kinders.

Uiteindelik kan ’n mens redeneer dat die uitdaging vir wit Afrikaanssprekende emigrante mag lê in die vind van ’n balans tussen die rou oor wat hulle verloor het en wat agtergebly het en die kanse wat geskep word in die nuwe samelewing. Die neiging van expats om ’n Suid-Afrikaanse gemeenskap in die nuwe land te skep, kan so ’n poging wees.

Die uitdagings waarvoor die mense moontlik te staan kan kom in die nuwe land moet ondersoek word, veral sover dit die behoud van die moedertaal betref. Dit is belangrik om bewus te wees van ondersteuningstelsels in die nuwe land. Maniere om verhoudings te behou met diegene wat agterbly, en die rol wat tegnologie in hierdie verband speel, moet ondersoek en onderhandel word voor die emigrante vertrek.

Emigrasie beteken onafwendbare verlies, maar hopelik is die ideale uiteenkoms die vermoë om nie net ’n gebroke hart te ervaar nie, maar eerder om twee harte te ontwikkel (Falicov 2007), waar ’n mens op verskillende plekke tuis kan voel.

 

 

Bibliografie

Abe, J., N. Zane en K. Chun. 1994. Differential responses to trauma: migration-related discriminants of post-traumatic stress disorder among Southeast Asian refugees. Journal of Community Psychology, 22:121–35.

Ainslie, R.C. 1998. Cultural mourning, immigration, and engagement: vignettes from the Mexican experience. In Suarez-Orozco (red.) 1998.

Barkhuizen, G. en U. Knoch. 2005. Missing Afrikaans: “Linguistic longing” among Afrikaans-speaking immigrants in New Zealand. Journal of Multilingual and Multicultural Development, 26(3):216–32.

Bezuidenhout, M.M., G. Joubert, L.A. Hiemstra en M.C. Struwig. 2009. Reasons for doctor migration from South Africa. SA Family Practice, 51(3):211–5.

Bernstein, H. 1994. The rift: the exile experience of South Africans. Londen: Jonathan Cape.

Braun, V. en V. Clarke. 2006. Using thematic analysis in psychology. Qualitative Research in Psychology, 3(2):77–101.

Chu Huang, Y. en N.J. Mathers. 2008. Postnatal depression and the experience of South Asian marriage migrant women in Taiwan: survey and semi-structured interview study. International Journal of Nursing Studies, 45(6):924–31.

Crush, J. 2000. The dark side of democracy: migration, xenophobia and human rights in South Africa. International Migration, 38(6):103–33.

Dupuis, A. en D.C. Thorns. 1998. Home, home ownership and the search for ontological security. The Sociological Review, 46(1):24–47.

Eisner, E.W. 1991. The enlightened eye. New York: Macmillan.

Falicov, C.J. 2005. Emotional transnationalism and family identities. Family Process,44(4):399–406.

—. 2007. Working with transnational immigrants: expanding meanings of family, community, and culture. Family Process,46(2):157–71.

Flyvbjerg, B. 2004. Five misunderstandings about case-study research. In Seale e.a. (reds.) 2004.

Giddens, A. 1990. The consequences of modernity. Cambridge: Polity Press.

Goldin, J. 2002. Belonging to two worlds: the experience of migration. South African Psychiatric Review, 5(4):4–8.

Goodwin, J. en B. Schiff. 1995. Heart of whiteness: Afrikaners face black rule in the new South Africa. New York: Scribner.

Griffiths, C.G. 2007. Narratives of immigration: negotiating transition. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika.

Griffiths, D. en M.L.C. Prozesky. 2010. The politics of dwelling: Being white / Being South African. Africa Today, 56(4):22–41.

Grinberg, L. en R. Grinberg. 1989. Psychoanalytic perspectives on migration and exile. Londen: Yale University Press.

Hamilton, C., N. Alexander, A.S.A. Guimarães en A. James (reds.). 2001. Beyond racism: Race and inequality in Brazil, South Africa, and the United States. Boulder: Lynn Rienner.

Hanks, D.E. en M.L. Liprie. 1993. South African migration and the effects on the family. Marriage and Family Review,19(1/2):175–92.

Heidegger, M. 2001 [1971]. The origin of the work of art, from poetry, language, thought. New York: HarperCollins.

Hulewat, P. 1996. Resettlement: a cultural and psychological crisis. Social Work, 41(2):129–35.

Johnson, S. 2009. Fleeing from South Africa. Fourteen years after apartheid, why are the best and the brightest leaving Africa’s most successful state? Newsweek. http://www.newsweek.com/2009/02/13/fleeing-from-south-africa.print.html (8 April 2010 geraadpleeg)

Jupp, J. 2001. The Australian people. Cambridge: Cambridge University Press.

Kunz, E.F. 1973. The refugee in flight: Kinetic models and forms of displacement. International Migration Review, 7:125–46.

Like, R.C., J. Rogers en M. McGoldrick. 1988. Reading and interpreting genograms: a systematic approach. The Journal of Family Practice,26(4):407–12.

Marchetti-Mercer, M.C. en J.L. Roos. 2006. Migration and exile – some implications for mental health in post-apartheid South Africa. South African Journal of Psychiatry,12(3):53–64.

Marchetti-Mercer, M.C., W. Greyvenstein en R. Prinsloo. 2008. Looking for home in our families: Exploring the relational aspects of finding a place of belonging in a postmodern world. Referaat gelewer by die Internasionale Gesinsterapiekongres, Porto (Portugal), 26–20 Maart.

Marchetti-Mercer, M.C. 2009. South Africans in flux: exploring the mental health impact of migration on family life. African Journal of Psychiatry,12(2):129–34.

—. 2011. Emigration and mental health: Lessons from South Africa. Referaat gelewer by die Wêreldgeestesgesondheidskongres, Kaapstad, 18–21 Oktober.

—. 2012. Is it just about the crime?: A psychological perspective on South African emigration. The South African Journal of Psychology,42(2):243–54.

Morra, L.G. en A.C. Friedlander. 1999. Case study evaluations. World Bank Operations Evaluation Department. Washington, DC: World Bank.

Morrison, M. en S. James. 2009. Portuguese immigrant families: the impact of acculturation. Family Process,48(1):151–66.

Mylopoulos, M. en G. Regehr. 2009. How student models of expertise and innovation impact the development of adaptive expertise in medicine. Medical Education,43(2):127–32.

Richman, T. (red.). 2010. Should I stay or should I go? To live in or leave South Africa. Kenilworth: Two Dogs Publishers.

SAIRR (South African Institute for Race Relations). 2009. Skills flights retards growth and investment. http://www.sairr.org.za (8 April 2010 geraadpleeg).

Seale, C., G. Gobo, J.F. Gubrium en D. Silverman (reds.). 2004. Qualitative research practice. Londen en Thousand Oaks, CA: Sage.

Sedky K., R. Nazir, R. Parlapalli en S. Lippmann. 2010. Letter to the editor: Stages of immigration. International Journal of Social Psychiatry, 57(3):323–4.

Sluzki, C.E. 1979. Migration and family conflict. Family Process,18(4):379–90.

Steyn, M. 2001. “Whiteness just isn’t what it used to be”: White identity in a changing South Africa. Albany: State University of New York Press.

Suarez-Orozco, M. (red.). 1998. Crossings: Mexican immigration in interdisciplinary perspectives. Boston: Harvard University Press.

Synovate. 2009. Should I stay or should I go? Synovate survey reveals South African attitudes towards emigration. E-pos van [email protected] (21 Mei 2009).

Taylor, C. 2004. Modern social imaginaries. Durham: Duke University Press.

Tellis, W. 1997. Introduction to case study. The Qualitative Report, 3(2). http://www.nova.edu/ssss/QR/QR3-2/tellis1.html (23 November 2011 geraadpleeg).

Thorne, S. 2000. Data analysis in qualitative research. Evidence Based Nursing, 3:68–70.

Tousignant, M. 1992. Migration and mental health. Some prevention guidelines. International Migration, 30(1):167–74.

Van Coller, E. 2002. Preparation for immigration - a psychological educational perspective. Ongepubliseerde MEd-verhandeling, Unisa.

Van der Merwe, J.P. 2008. Waardes as kultuuraspek van die Afrikaner. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 48(3):357–73.

Van Rooyen, J. 2000. The new Great Trek: The story of South Africa’s white exodus. Pretoria: Unisa Press.

Vega, W.A., B. Kolody en R. Valle. 1987. Migration and mental health: an empirical test of depression risk factors among immigrant Mexican women. International Migration Review, 21(3):512–30.

Vega, W.A., B. Kolody, R. Valle en J. Weir. 1991. Social networks, social support, and their relationship to depression among immigrant Mexican women. Human Organization, 50(2):154–62.

Volkan, V.D. 1993. Immigrants and refugees: a psychodynamic perspective. Mind and Human Interaction, 4:63–9.

Ward, C. en I. Styles. 2003. Lost and found: Reinvention of the self following migration. Journal of Applied Psychoanalytic Studies,5(3):349–67.

White, M. 2004. Challenging the culture of consumption: rites of passage and communities of acknowledgement. Dulwich Centre Newsletter, 2/3:38–47.

 

 

Eindnotas

1 Die artikel is gebaseer op navorsing wat deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) van Suid-Afrika ondersteun is. Enige mening, bevinding, gevolgtrekking of aanbeveling in hierdie materiaal is dié van die skrywers en die NNS aanvaar geen verantwoordelikheid daarvoor nie. Ons wil graag mev. Magriet Lee bedank vir die finale afwerking van die artikel.

2 Die volgende terme word gebruik (ook ooreenkomstig die betrokke bronne waarna verwys word):

Emigrasie: Verlating van jou eie land om permanent in ’n ander land te gaan woon.

Emigrant: Iemand wat sy eie land verlaat om hom in ’n ander land te vestig.

In hierdie artikel verwys bostaande terme na mense wat Suid-Afrika verlaat om hulle in ’n ander land te vestig.

Immigrasie: Binnekom van ’n land om blywend daar te woon.

Immigrant: Iemand wat van elders af ’n land binnekom om hom blywend daarin te vestig. Dit verwys na dié mense wat na ’n vreemde land getrek het om permanent daar te woon.

Migrasie: Die verhuising van mense na ’n nuwe gebied of land met die doel om werk of beter lewensomstandighede te vind.

 

 



  • 6

Kommentaar

  • 'n  Interessante artikel. Ongelukkig kan ek nie met alles saamstem nie. Indien mens emigreer omdat jy voel daar is nie vir jou 'n toekoms in Suid-Afrika nie, is integrasie in die nuwe land baie belangrik. Dis nodig om deel te wees van die kultuur van jou bestemming. Daardie land word jou toekoms. Die eerste stappe kan so klein wees soos om 'n nuwe nasionale sport te aanvaar. Niemand kan floreer as jy vir die res van jou lewe verbete aan jou ou kultuur en taal vasklou nie. Dis 'n nuwe begin in alles opsigte.

     
    Dis ook belangrik om te besef dat hele families emigreer. Dit sluit broers, susters, ouers en soms self grootouers in. Die familie eenheid is baie hegter in die buiteland. In ons geval het ons dogter eerste die land verlaat. Ons seun het gevolg en ons dogter het ons drie jaar later geborg.
     
    Suid-Afrika is 'n mooi herinnering wat altyd kosbaar sal bly. Dit speel 'n klein rol in ons toekoms en geen rol in die toekoms van ons kleinkinders nie. Die taal sal mettertyd in die buiteland verdwyn. Die kultuur is die basis van ons menswees, maar dis nie die enigste mooi kultuur op aarde nie. Ons kinders en kleinkinders gaan 'n nuwe kultuur aanneem.
     
    Emigrasie is baie meer as net die land verlaat. Dis ook 'n pynlike proses van belangrike dele van jou vorige lewe afsterf - vir altyd.
    • Avatar
      rachel Heyneke

      My sus bly in BELGIË. Dit was baie trane. Met ’n Belg getroud in Suid-Afrika. Wil my ook uit ons geboorteland kry. Dis onveilig. Mense glo ons nie wat hier gebeur nie.
      Een ’n bestuurder by ’n maatskappy, die ander het elektriese agtergrond. Nou ’n Rep.
      vir E>T>N. Wat kan men doen?

  • Which country is it better to go to for work Canada or England? Which of these will be easier to find a job in?

  • Hi daar dankie vir die hulp page wat jy het. Ek hoop jy kan ons help net met inligting. My man en kinders kom van New Zealand het hul permanente citizenship seker gehad. Hul woon 5 jaar al in SA ons moes die kids SA citizens gemaak het vir skooldoeleindes. Het klaar paspoorte gereël van SA af. Ek is in SA en gaan eerste keer NZ toe. Geen probleme sal opduik dan nie ? My ander vragie is ek het ’n poedeltjie-hond wat ek wil saamneem. Ek beplan ook om my ma en sussies oor te bring nadat ons ons voete gevind het in NZ. Enige raad asb.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top