Afrikaanse skrywers oorheers Suid-Afrikaanse literêre toekennings

  • 0

Afrikaanse skrywers het die Suid-Afrikaanse Literêre Toekennings (Sala) Maandagaand 8 Desember op Midrand op die vierde Sala-glansgeleentheid oorheers.

Die skrywers AHM Scholtz en Sheila Cussons is met Salas vereer in die kategorie Postume Literêre Toekenning, wat dit twee uit drie gemaak het.  Scholtz se toekenning was met spesiale verwysing na sy romans Vatmaar en Afdraai;Cussons s'n vir haar digkuns.

Adam Small, Elsa Joubert en Wilma Stockenström is drie van die agt skrywers wat in die kategorie Leeftydprestasietoekenning vereer is.

Small en Joubert se toekennings is namens hulle deur dr Riana Barnard van Tafelberg in ontvangs geneem, terwyl Wilma Stockenström hare in persoon ontvang het. Daar is spesiaal verwys na Small se digbundel Kitaar my kruis, Joubert se roman Die swerfjare van Poppie Nongena en Stockenström se novelle Die kremetartekspedisie.

Skrywer-vertaler Chris van Wyk is vir sy vertaling van Scholtz se Vatmaar vereer in die kategorie Toekenning vir Literêre Vertaling.

Voorts was Willem Anker se roman Siegfried op die kortlys van slegs drie skrywers vir die k. Sello Duiker-gedenkprys.

Daar was geen wenners in die kategorieë Nadine Gordimer-kortverhaaltoekenning vir Afrika-tale asook Literêre Joernalistiek nie.

Dr Pallo Jordan, minister van kuns en kultuur, het die toekennings oorhandig.

Sala is uniek daarin dat dit gaan oor alle letterkunde in al die amptelike tale van Suid-Afrika. Voorts gaan dit, benewens uitstaande literêre meriete, oor die bevordering van Suid-Afrikaanse maatskaplike samehang en nasiebou.

Johann P Boshoff en Wilma Stockenström

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top