
...
Maar wat skreeu dan nou beter “Suid-Afrikaans”? ’n Piesang of ’n lekker groot, ryp mielie? Jy kan maar self seker verder die res van jou inkleurboekie inkleur.
...
’n Nuwe reeks begin op 14 Februarie 2022, Valentynsdag, op Showmax.
Sex in Afrikaans is ’n kaalbas, reguit gesprek oor seks en taboes, ook die gebrek daaraan, in ons Afrikaanse opvoeding. Bradley R Daniels is die kliniese sielkundige wat in episode 1 reeds die komberse afpluk. LitNet het by hom ingeloer.

Bradley R Daniels in die ateljee (Foto verskaf)
Bradley. Kom ons begin by jou. Hoe het ’n goeie Afrikaanse seun soos jy besluit om deurmekaar te raak met seks?
Ek is en was maar altyd ’n boekwurm. Ek het van kleins af ensiklopedieë gelees. My ouers en familie was maar altyd baie ondersteunend teenoor my passie vir lees. Maar my reis om met seks te werk het oor ’n lang pad bymekaargekom toe ek my meestersgraad by New York University (NYU) voltooi het. Hier het ek meer oor seks en seksualiteit geleer. My praktikum by die Institute of Human Identity het nou regtig my insig gebou in die veld van seksuelegesondheidspraktyke.
En my leer het toe tot nou nooit opgehou nie.
Ek is tans nog ’n baie aktiewe lid van die Executive Board by die Southern African Sexual Health Association (SASHA,) en is ook baie betrokke by die World Association for Sexual Health (WAS).
Ek was ook laas jaar betrokke by WAS se 2021-kongres (WAS2021), wat tot nou die eerste internasionale seksuelegesondheidskongres is wat op die Afrika-kontinent plaasgevind het. Dít was nou rêrig iets vir die history books!
Die gebied van sielkunde en seksuele gesondheid saam is vir my verskriklik interessant en daar is baie nuwe ontwikkelinge regoor die wêreld.
Baie tannies sal vra: “My kind, weet jou ma wat jy doen?”
Dan sal ek altyd tong-in-die-kies antwoord: “Maar nou, moet sy dan weet?” *Roll cue for pinky finger to side of mouth!*
Op ’n ernstiger noot: Jy het al in verskillende lande gestudeer en gewerk. Ek is nie so seker dat Afrikaanse mense noodwendig meer konserwatief is as mense in byvoorbeeld die VSA nie. Hoe dink jy daaroor?
Dit is wel ’n mite dat Afrikaanse mense – en inderdaad Suid-Afrikaners oor die algemeen – meer konserwatief is as mense in ander lande, soos die VSA. My ondervinding in die VSA is dat dit eintlik uiters konserwatief is, meestal, met die meer liberale uitkyke op die East and West Coast cities soos New York en San Francisco. Die indruk wat geskep word deur TV, film en soapies is verwarrend. Dit is nie ’n ware refleksie van die werklikheid nie.
As ek kyk na wat ons gevind het by die WAS-kongres, wat ons as SASHA vir die eerste keer ooit op die Afrika-kontinent aangebied laas jaar na ’n 25-jaar-geskiedenis van die kongres, is dat dit ’n wêreldwye probleem is dat mense oor die algemeen dit baie moeilik vind om oor seks te praat.
Die naam van die reeks, Sex in Afrikaans, is ’n mooi woordspel. Ons móét ophou om te dink aan seks as iets wat van elders af kom. Hoe het julle soveel Afrikaanse mense gekry wat meedoen aan die reeks? Het julle in die smalls geadverteer?
Ek moet sê daar was baie navorsing wat deel was van die proses. Gelukkig was ek van die begin af betrokke by die proses, beide die kliniese en tegniese aspekte.
Die hardwerkende span by Provoco het die harde werk gedoen om gewillige deelnemers te kry. My gedeelte van die werk daarna was om dan ’n “safe space” te skep en te behou vir die deelnemers, deur die hele proses. Dit was deeply rewarding vir my om te sien hoe die deelnemers ontwikkel het deur die proses.
Die feit dat julle die eerste episode op Valentynsdag bekendstel, kielie my. Ons is mooi grootgemaak dat seks en liefde nie noodwendig dieselfde is nie. Hoe voel jy daaroor?
Daar kan dalk nie ’n meer perfekte dag wees vir die show se launch nie? Valentine’s is soos ’n heaven-send.
Ek dink dit is waar dat seks en liefde nie altyd noodwendig saam gaan nie. Maar dit is ook waar dat dit kan!
Dit word alles spesifiek beïnvloed deur die tipe verhouding van die mense waar, of met wie, die seks gebeur. Seks kan tog ook ’n pragtige uitdrukking wees tussen mense wat lief is vir mekaar.
Ek het Amanda, die sekswerker, baie verfrissend gevind. Sy maak byvoorbeeld die stelling dat meer mans sou selfdood pleeg as hulle nie soms buite die huwelik kan uiting gee aan hulle drange nie. Wil jy daarop reageer?
Ek onthou vir Amanda baie goed. Haar storie is ’n baie interessante een.
Ek dink dat dit weer eens bewys dat baie verhoudings ’n tekort het aan die taal en die manier om openlik oor seks en drange te kan praat met mekaar.
Dit was tog altyd my poging deur Sex in Afrikaans om vir couples die taal, kennis en “safe space” te gee om met vertroue oor seks te kan praat en “to negotiate competently”, soos ek dit tegnies sou stel.
Ek het nou die eerste episode gesien, maar hier kom nog baie pret, nie waar nie? Gee ons so ’n minikykie na watter goed ons Afrikaanse monde dalk gaan laat oophang?
Omdat ek nog nie self die finale produk beskou het nie, is dit moeilik om te sê hoe die finale edit lyk. Maar ek kan definitief sê dat daar ’n ietsie vir elke mond sal wees as dit wil oophang.
Ek kan met vertroue ook sê dat daar vir kykers baie sal wees om te leer. Dit het ek my plig gemaak, nie net as aanbieder nie, maar ook as sielkundige en as ’n seksuelegesondheidspraktisyn.
Is ek reg dat seksuele probleme tot groot trauma lei? En: Wat moet mense doen as hulle seksuele probleme ervaar?
Trauma is so ’n ingewikkelde, tegniese woord in sielkunde. Mense gebruik die woord baie los, ook waar hulle eintlik net wil sê dat iets moeilik, pynlik of onverstaanbaar is vir hulle. En ek dink ons moet eers daar begin.
Ons seksuele gesondheid is deel van ons holistiese gesondheid in die body-mind duality. ’n Mens kan nie ’n volkome gesondheidsgevoel hê as enige deel van jou nie gesond is nie.
Ek beveel dit streng aan dat mense wat seksuele probleme ervaar, professionele hulp moet kry. Dit kan die vorm aanneem van ’n sielkundige wat die seksuelepraktykondervinding het, iemand soos ek, of ’n mediese dokter met ondervinding in seksuele praktyk.
By SASHA en WAS werk ons juis daaraan om soveel as moontlike professionele mediese mense op te lei om met diep kennis en vertroue op die gebied van seks en seksuele gesondheid te kan werk.
Laastens: Hoekom ’n mielie en nie ’n piesang nie?
Weer eens was ek nie deel van die finale design elements nie, maar wat ek kan sê, is dat beide piesangs en mielies “phallic symbols” is.
Maar wat skreeu dan nou beter “Suid-Afrikaans”? ’n Piesang of ’n lekker groot, ryp mielie? Jy kan maar self seker verder die res van jou inkleurboekie inkleur.
*Cue my smile en lekker lag omtrent hier.*


Kommentaar
Geluk, Bradley R Daniels, dat jy die komberse afpluk om ons Afrikanernasietjie se misrabele sekslewe en praktyke bloot te lê vir ondersoek.
Eerstens moet jy kennis hê en verstaan dat ons die slagoffers van ons koue, Calvinistiese geloof en kerk is, wat ons van kleins af indoktrineer dat seks 'n groot sonde is en verband hou met die mens se val in die paradys; ook dat dit alleen in die huwelik bedryf mag word met die enigste doel om kinders voort te bring vir die Volk.
Dink bietjie hoeveel geslagte jong, jagse Afrikanerseuns nie geterroriseer is nie met preke en vrese oor die sondige praktyk van onani (draadtrek in die volksmond), wat sonder meer lei tot swaksinnigheid en blindheid.
Dink aan al die jong gay mense wat selfmoord gepleeg het weens die wrede landswette wat hulle vervolg en hulle lewens verpletter het.
Dink bietjie aan al die wêreldliteratuur en films wat destyds gesensureer is om ons Afrikaners dom en onkundig te hou oor die mees basiese feite van menswees.
As voorbeeld van die onderdrukking van seks en die kennis daarvan, noem ek die voorbeeld van die besoek aan 'n kunsmuseum in Stockholm in 1969, waar daar 'n uitstalling was van Japanese shungakuns (erotiese kuns). My skoolmaat was na die eerste vyf minute so geskok dat hy die museum uitgestorm het. 'n Soortgelyke geval het in Amsterdam plaasgevind in 1986 toe 'n jong Suid-Afrikaanse man daarop aangedring het om die berugte Wallejies te besoek. Na die bekyk van sekere literatuur in 'n boekwinkel het hy ook die kluts kwytgeraak en verdwyn. Twee bisarre reaksies van anders gesonde jong manne van ons ou volkie.
Dus, trek gerus die komberse af en ook sommer die lakens ook. Bring ons ou Afrikanertjies tog op die vlak van Europa, al is dit slegs halfpad, na 'n vakuum van 60 jaar.
Groete en voorspoed.
Dr. George Redelinghuys