Afrikaanse handeklap-rap-rave: ekhouvanjou,okay!

  • 0

Hey ouens. Hoe lyk dinge in Potch?

Lekker, die weer is net op en af! Gister 30 grade, vandag 10!

Gepraat van Potch, sien julle julself as ’n “Potch-band”? Watter rol speel die dorp en sy mense in julle lewens en musiek?

Hmm, dis altyd ’n moeilike een. Dis altyd snaaks hoe mense in jou eie dorp nie die grootste fans is nie, maar tog is ons vriende darem baie supportive van wat ons aanvang.

Ek het self in Potch geswot en die music scene daar het myns insiens nogals verander van ’n grungier tipe rock (soos gesien in Luminol, Aphonia en dies meer). Hoe het dinge vanuit julle oogpunt as musikante verander en wat sou julle sê is die rede(s) daarvoor?

Ek dink rêrig Straatligkinders het super baie deure oopgemaak vir baie jong kunstenaars. Hulle het in Januarie 2007 seker een van die eerste Potch-bands geraak wat ’n deurbraak music video gehad het, en van daar af was als makliker en Potch was op die map.

Wat is julle musikale agtergronde?

Ruan Kruger het sy eerste sukses in ’n band gehad met Straatligkinders, wat ek ook gemanage het. Arno, of Autotune soos ons hom noem, was eers in Franse Vlugteling en toe hulle opbreek, het hy ons gejoin.

Die ouens van ekhouvanjou,okay!

Louis, hoe rap mens lekker? Watter figuur uit die rap-wêreld (plaaslik of internasionaal) inspireer jou?

Ek dink tans is Flo Rida my favourite. Hy’t ’n amazing styl en sing nie oor die normale karre, geld en vroumense nie. Ek kon glad nie rap nie, en doen dit seker nog steeds nie amazing nie, maar ek rap beter as wat ek sing, so dit was my pad in die band in.

Waaroor gaan nerd rock / aerobicore?

Haha, daar was nie ’n genre wat ons musiek kon label nie, so toe moes ons iets nuut uitdink. “Nerd rock” beskryf baie ons eerste vollengte-album, wat baie nerdy was, maar tog ’n lekker harde aanslag gehad het, terwyl “aerobicore” seker ons eerste EP beskryf, wat baie meer dansgerig was en goed was om op te gym. Die nuwe album, Seisoene, beskryf ons as handeklap-rap-rave.

Wie is julle ideale gehoor? Julle noem in ’n onderhoud dat julle grootliks op skole (wil) fokus. Wat is julle motivering hiervoor?

Flip, het ek dit gesê? Hehe. Ek dink net tans is dit die mark wat ons die meeste ondersteun en die musiek is seker die rede daarvoor. Ons wou iets fun, happy en mindless doen, en studente is nie altyd die grootste voorstanders van sulke tunes nie. Ons het so hier en daar ’n nommer wat die ouer mark nogal waardeer, maar die nerdy tunes werk weer vir die jonger mense, veral die dames.

Die band het ’n indrukwekkende gevolg op Facebook. Waaraan skryf julle dit toe? Het julle ’n bepaalde “strategie” wat sosiale media en julle aanlyn-teenwoordigheid aanbetref?

Ons het mense gespam toe ons die page oopgemaak het in April 2010, en van daar af het ons 1 000 mense binne 24 uur gekry en dit het net aanhou groei. Tans verloor ons so 10 mense ’n dag op Facebook – ek wens ek het die rede hiervoor geweet – maar tog groei ons ook met so 20 mense ’n dag. So ons laat onsself beter voel deur te glo dat Facebook mense verloor, en nie net ons nie.

Julle hou van Flight of the Conchords en julle eie musiek is ook lekker grappig. Kan julle bietjie uitbrei oor die rol wat humor in julle musiek speel?

Daar is oorgenoeg ernstige bands in die wêreld! Ons luister ook na hulle [Flight of the Conchords] en voel as daar plek is vir hulle, is daar ook plek vir iets minder ernstig. Ons is nie baie ernstige ouens nie, en is eerder entertainers as musikante. Ek dink enige populêre kontemporêre Afrikaanse kunstenaar moet homself nie as ’n kunstenaar of musikant sien nie, maar eerder as ’n entertainer, want net soos die popsterre van ons land, staan ons ook op stage met ’n backtrack en laat mense eerder dans en glimlag as om hulle te laat uitfreak oor ’n drum roll of ’n massive solo (alhoewel Ruan Kruger ’n amazing guitarist is).

Baie van julle musiek, en dan ook julle naam self, fokus op die skoner geslag en verhoudings. Is daar ’n doelbewuste rede hiervoor? Sou dit beperkend kon raak in die sin dat julle nie met ekhouvanjou,okay! meer ernstige boodskappe kan oordra nie?

Ek dink ons is in so ’n bevoorregte posisie dat ons letterlik kan maak wat ons wil met ons tunes. Rock bands bly maar rock, maar ons het al in die verlede rock tunes uitgebring, dans tunes en vet heavy rap nommers, so daar’s nie reëls nie. Die hele Ek is beter as hy, trust my-album was op girls gerig, maar met Seisoene probeer ons wegbreek van dit en sal eerder die helfte oor iets anders skryf. Tog moet mens nie wegbreek van waar jy sukses behaal nie, en eerder daarop ook bou.

Die albumomslae van die ekhouvanjou,okay!-EP en Ek is beter as hy, trust my


ekhouvanjou,okay! het ’n prominente visuele aanslag. Julle video’s en eerste album cover is baie fun en besig (Louis, as ek reg onthou, het jy ook ’n kleurvolle tattoo van ’n ruimteskip of iets?). Wie is verantwoordelik vir julle “identiteit” wat grafiese ontwerp, video’s ensovoorts aanbetref?

Ons het met die free self-titled EP saam met Casper Odendaal gewerk vir die omslag en T-hemde, toe met Ek is beter as hy, trust my saam met MJ du Preez van Doktrine Ontwerp, en met Seisoene doen ons sommer als self, omdat dit super foto-based is. Video’s het nog die meeste van die kere uit ons en Bouwer Bosch se breine gekom, terwyl ons ook al saam met Werner Botha en Blimpfilms op ander video’s gewerk het. Ons hou daarvan om self involved te wees met die idees, omdat dit tog ons produk is en ons wil hê mense moet ons persoonlikheid in die ontwerpe en video’s raaksien.

Hoe het dit met julle eerste album, Ek is beter as hy, trust my, gegaan? Julle het ook onlangs ’n nuwe EP, Seisoene: Winter, uitgebring. Hoe vergelyk die reaksie daarop sover?

Ek is beter as hy, trust my het baie goed gedoen. Ek’t nie presiese syfers nie, maar ons was happy. Die nuwe release, Seisoene, kom in vier dele uit, met Seisoene: Winter wat reeds by die Nokia Ovi Music Store beskikbaar is. Seisoene: Lente behoort begin Oktober beskikbaar te wees en Seisoene: Somer sal Desember vrygestel word. Daarna beplan ons om Seisoene: Herfs saam met ’n limited edition hard copy uit te bring wat in alle musiekwinkels beskikbaar sal wees.

Wat is julle gunsteling Xbox game(s)?

Ek en Ruan Kruger is nogal goeie FIFA 12-spelers, maar Autotune haat dit. Hy like skiet games, maar raak siek bang in Fear 3! So hy verkies army games.

 

Klik hier om Ek is beter as hy, trust my van Kalahari.com te koop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top