Afrikaans: Taal van my voorouers, my familietaal!

  • 1

Merlyn van der Rheede (foto verskaf)

September word tradisioneel as Erfenismaand in Suid-Afrika beskou. “Wat is kultuur en erfenis?” is ’n oeroue vraag wat dikwels uiteenlopende menings tot gevolg het.

Afrikaans is my familietaal, die taal van my voorouers. Ek gee erkenning aan hulle, want hulle het die taal help skep en ontwikkel. Dit is my kultuur- en erfenistaal. Dit maak my wie ek is. Taal is tog deel van mens se herkoms – dus is taal en herkoms sinoniem. Dis belangrik om te weet waar jy vandaan kom en van alles wat daarmee gepaard gaan. Vandag, Erfenisdag, besef ek weer opnuut die waarde van familie en tradisies en dat taal natuurlik die mees belangrike rol speel.

Tale speel ’n belangrike rol in die daaglikse lewens van mense, nie net as kommunikasiemiddel nie, maar ook wat betref identiteit, kultuur en tradisies. Suid-Afrikaners moet aangemoedig word om trots te wees op hul herkoms en erfenis. Taal is onlosmaaklik deel hiervan. ’n Mens mag nooit minderwaardig voel oor jou agtergrond, taal of kultuur nie.

Die Afrikaanse taal behoort aan al sy sprekers, ’n diverse groep wat mense vanuit alle gemeenskappe en rasse insluit. Afrikaans het dus ontstaan uit die mengelmoes rasse, tale en nasies wat aan die puntjie van Afrika in ’n kultuurpot saamgegooi is. Mense praat Afrikaans op verskillende maniere, maar almal pas in hierdie groot legkaart van Afrikaans in. Christo van Rensburg, skrywer van die boek Van Afrikaans gepraat, sê in sy boek: “Die ondersoekers en navorsers wat na hierdie antwoorde soek, kom gewoonlik by die hart van Afrikaans uit. Asook by die spore wat al sy sprekers gelaat het.” Ons moet verstaan dat Afrikaans ’n familie is wat dwarsoor ons land versprei is met unieke variëteite en uitspraakvorme. Kaaps, byvoorbeeld, het ontstaan as gevolg van die invloed van Maleis-Portugese slawe aan die Kaap. Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat verwoord. So sê die digter Adam Small.

Tradisies of gebruike oor geslagte heen dra beslis by tot ’n gemeenskap se ryke geskiedenis en erfenis. Navorsing deur Schlemmer (2010) dui aan dat ’n taalverskuiwing na Engels in baie bruin gemeenskappe plaasvind en in ’n geringer mate onder wit Afrikaanssprekendes. In baie gevalle word Afrikaans deur die grootouers en ouer generasies gepraat, maar dit word nie meer met hul kinders gepraat nie. Dit is so hartseer, en die vraag is: Besef ons wat die gevolge hiervan is? Ook: Hoe verhinder ons die aftakeling van Afrikaans as ons erfenistaal en taal van onderrig?

Suid-Afrika is ’n land met vele tale en kulture. Sprekers van die verskillende tale moet aangemoedig word om hul taal te gebruik en hul kultuur te beoefen. Suid-Afrikaners moet ook aangemoedig word om mekaar se tale en kulture aan te leer en te verstaan. Ons huidige regering het 25 jaar later nog geen daadwerklike poging aangewend om ons Afrikatale te ontwikkel nie. Dis dan juis die rede waarom derduisende leerders onderrig in ’n tweede of soms derde taal ontvang. Meertaligheid en die ontwikkeling van die inheemse tale behoort dus ’n prioriteit vir die regering te wees.

Hoe arm is dit nie om slegs EEN taal magtig te wees? Die ouer wat verkies dat sy of haar kind in sy moedertaal skoolgaan, moet geprys word, want so verseker hulle dat hul kinders meertalig word. Meertaligheid gee betekenis aan jou lewe, want dit skep nuwe geleenthede en bou brûe; dit stel jou in staat om na ander mense uit te reik. Meertalige persone pas ook makliker aan in die werksplek.

Laat ons hoop dat ons inheemse tale in die nabye toekoms uitgebrei en bevorder word en so ons diverse kultuur en erfenis bevorder!

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Anthony "Speedo" Wilson

    Merlyn - Ek het al die argumente gebruik toe my oudtse kleinseun skool begin dat sy ouers hom in 'n Afrikaans medium skool moet inskryf. My dogter het voet by stuk gehou en gesê, "Daddy ek maak my kind groot vir die nuwe Suid Afrika. Hy moet Engels beter of net so goed soos Sipho of Johann kan praat. Indien nie beter nie. Afikaans, so mal soos wat Daddy ookal oor die taal is, gaan dit NIE vir hom doen nie. Ek en Grant gaan ons huistaal nou Engels maak en dit is hoe ons gaan lewe." Sy is natuurlik Duits magtig want sy was by die Duitse skool tot en met Graad 12. Shaydon het nou die dag graad gevang en ek kan nie fout vind nie want dit was HULLE besluit. Daar is talle stories soos dié. Ek onthou hoe ek met 'n swart kunstenaar moes raas en haar daaraan herinner dat nie een van die kinders by ‘n funksie eintlik Engels verstaan nie, veral dié met so 'n swaar aksent nie, so sy moet maar dat ek liefs vertaal of tolk speel. Ek moet erken dit gebeur nie meer in Eersterust die Township waar ek bly nie. Die kinders is so tuis in Engels dat hulle dit uit eie keuse met mekaar praat. Kyk ek sal nog altyd Afrikaans bly. Jy sal nie glo hoe het –“Change-aaa daai deng” my eindloos gegrief nie. Ek haat die geraadbraakte Afrikaans veral as diesulkes maak asof dit die normaalste ding onder die son is. Ek word natuurlik net so kwaad omdat Afrikaans by tradisionele Afrikaanse skole ook soms net so afgeskeep en sleg behandel word. My kleinndogter, Deshané Wilson die aktrise wat in Amulet in "Swartwater" gespeel het vertel die dag toe ek haar na skool gaan haal het. Jy weet mos di’s die oupa se werk. Ek vra toe die middag, "Didi how does it feel to be in Grade 11?" Sê sy vir my,"Oupie do you know how nice it is to be taught Afrikaans by someone who actually speaks the language?". Ek vra toe hoe was sy dan in Graad 10 Afrikaans onderig. Sê sy, "Miss Mô ... iets would say today I am teaching this language in Zulu." en wanneer sy kla dat sy nie Zulu vertsaan nie dan sê die juffrou,"It is not my problem, this langauge is on its wat out anyway." noddeloos om te sê ek was geskok. Ons sal moet verstaan tensy ons vir ons kinders 'n toekoms in Afrikaans kan waarborg of verseker sal ons moet aanvaar dat ONS binnekort die enigste generasie gaan wees wat nog steeds in Afrikaans droom, praat, sing, bid, Protes aanteken en lief voor is. Maar - ons is aan die uitsterf!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top