Afrikaans se verklarende woordeboeke: gister, vandag en môre

  • 26

Jana Luther is al jare lank betrokke by woordeboekmaak. Sy skryf vir LitNet ’n essay oor haar praktiese ervaring in die bedryf – en oor wat die toekoms vir Afrikaanse woordeboeke inhou.

’n Veranderende legkaart

Ondanks die belangrikheid van geletterdheid en kommunikasie, is daar vir die meeste tale slegs enkele groot, verklarende woordeboeke. ’n Lessenaarwoordeboek wat algemeen as ’n standaardwoordeboek van ’n taal beskou word, weerspieël in opeenvolgende uitgawes die veranderende manier waarop die standaardvariëteit van die taal gebruik word.

Vir Afrikaans is daar twee sulke woordeboeke: Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (VAW), waarvan die laaste (sesde en negende) uitgawes onderskeidelik in 2015 en 2010 verskyn het.

In Stellenbosch staan die werk aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, ’n omvattende, sinchroniese woordeboek, einde se kant toe. In die WAT, waarvan die eerste boekdeel (A–C) in 1951 verskyn het, word die woordeskat van Afrikaans in sy wydste omvang, van vandag tot sowat ’n honderd jaar gelede, bewerk. Deel 15 van die WAT, die tweede van drie dele van S, het in 2019 verskyn. Wanneer die Woordeboek voltooi is, sal dit 20 boekdele beslaan.

In ’n verklarende woordeboek word ’n menigte woorde verklaar – ’n “kakofonie” het iemand gesê; miriades wyd uiteenlopende tot subtiel verskillende betekenisse.

’n Verklarende woordeboek berus op navorsing, maar is ook ’n skeppende werk. Daarom is geen twee verklarende woordeboeke ooit dieselfde nie.

’n Vergelyking van dieselfde woord in twee artikels. Een uit die VAW, een uit die HAT.

Vergelyk die voorafgaande skermgrepe met ’n skermgreep van dieselfde woord in die WAT.

Drie kiekies, as ’t ware, van een minuskule onderdeeltjie van die taal. En nes foto’s, wat op verskillende tye, in verskillende tydperke in die geskiedenis geneem word, lyk elkeen anders.

Van die oorspronklike Afrikaanse “ikon” (in Nederlands “icoon”, vroeër “icon”, via Latyn, soos in Engels “icon”, uit Grieks “eikon”) het die spelling oor tyd heen verander. Toe die rekenaar arriveer, het “ikon” “ikoon” geword en daarby ’n nuwe betekenis gekry.

Behalwe dat taal soms gedug ingewikkeld is, bly dit ontwikkel. Ou woorde en betekenisse verdwyn, verander, nuwes kom by, betekenisse verskuif.

Van ’n standaardwoordeboek verwag gebruikers meestal die nuutste prentjie, ’n woordeboek wat die taalgebruik van vandag weerspieël. Maar dit is natuurlik slegs moontlik as die woordeboek in stand gehou word; deurentyd bewerk, bygewerk word; as daar klokslag nuwe uitgawes verskyn.

Werk aan ’n woordeboek is soos die bou van ’n legkaart waarvan stukkies die hele tyd verander.

 

Weg met papier

Oor etlike eeue heen is woordeboeke met die hand gemaak. Vandag kan ’n mens jou dit nouliks indink. Sedert leksikograwe in die vroeë 1980’s, in Suid-Afrika van om en by 1990 af, op rekenaar begin werk het, het nuwe tegnologieë die maniere waarop ons werk, ingrypend verander.

Aan die produksiekant word woordeboeke vandag in databasisse geberg. Aan teks in ’n databasis kan ’n mens vinnig verander. Veranderings wat ’n hele woordeboek raak, wysigings en korreksies wat in die voorrekenaartyd een vir een deur ’n setter op die spoor van ’n redakteur of proefleser aangebring sou moes word, word vandag dikwels in een stap afgehandel. Te danke aan rekenaars word nuwe papieruitgawes van woordeboeke geproduseer sonder dat die teks elke keer oorgetik hoef te word. Die belangrikste verandering is waarskynlik dat die rekenaar papier wegdoen.

Die laaste (?) gedrukte uitgawe van die HAT beslaan 1 634 bladsye. As die boek dikker was, sou dit nouliks meer ’n handwoordeboek genoem kon word.

Vir die 16 voltooide boekdele van die WAT, wat saam waarskynlik meer as 50 kg weeg, is rakspasie van oor ’n meter nodig. Op ’n enkele CD-ROM weeg die 16 dele, saam, sowat 16 gram.

 

Hoera vir die rekenaar

Die algemene idee van ’n woordeboek as ’n gesaghebbende bron wat verduidelik hoe woorde gebruik word, bly dieselfde, maar in ’n digitale woordeboek, aanlyn bron of portaal, is spasie nie langer ’n probleem nie. ’n Aanlyn woordeboek kan enige getal lemmas bevat, want ’n aanlyn woordeboek is, nou ja: ook die betekenis van “boek” het verander. Ensiklopediese inligting kan ingesluit word, enige inskrywing kan aan enige artikel elders op die internet gekoppel word. Multimedia speel ’n belangrike rol; artikels kan met illustrasies, klank, videomateriaal verryk word. ’n Heuglike kenmerk is dat ’n aanlyn woordeboek in reële tyd bewerk kan word.

Aan die navorsingskant bied die rekenaar vandag onmiddellike toegang tot omvattende taalkorpora – elektroniese voorbeelde van werklike taalgebruik gedurende spesifieke periodes.

Woordeboekmakers ontwikkel oor die algemeen ’n ruim woordeskat, ’n redelik goeie algemene kennis, maar nie een van ons ken al die woorde van die taal waarmee ons werk nie. Voordat ons woorde kan definieer, moet ons van elke woord wat ons in ons standaardwoordeboeke opneem, eers die gebruiklikste betekenisse vasstel.

Dit doen ons op verskillende maniere: Ons doen dit deur ander naslaanwerke te raadpleeg. Ons maak uitgebreid van bronne op die internet gebruik: elektroniese weergawes van ander woordeboeke, ensiklopedieë, vaktydskrifte, waarvan baie nie meer in gedrukte formate beskikbaar is nie. Ons verken die internet self, neem deel aan taalgesprekke in die sosiale media. Wanneer ons met tegniese terme, terme uit die wetenskappe sukkel, moet ons spesialiskennis inwin. Deur middel van e-posse, gesprekke oor IP-netwerke heen, is vakadviseurs naby. Veral verken ons groot databasisse, sif deur rekenaarlêers van werklike taalgebruik. Deur die woorde in groot korpusse op verskillende maniere te sorteer, kan ons sien hoe dikwels elke woord gebruik word, kan ons voorbeelde van seldsame woorde soek, grammatikale inligting bekyk, voorbeeldsinne versamel.

Wanneer woordeboekmakers woorde definieer, betekenisse verklaar, kombineer hulle elke keer hul eie ervaring en begrip van hoe woorde in verskillende kontekste gebruik word met die resultate van ’n grondige ontleding van al die bronne tot hulle beskikking.

Dit alles saam verskaf die stukke van ’n legkaart wat lei tot definisies van hoe woorde werklik gebruik word, eerder as hoe iemand dink hulle gebruik (moet) word.

Hoe groter, omvattender die korpus, hoe resenter die taal daarin, hoe minder hoef ons op persoonlike indrukke terug te val.

In die geval van ’n lessenaarwoordeboek wat reeds bestaan en waarvan ’n nuwe uitgawe voorberei word, word elke aspek van elke woord wat ingesluit word noukeurig oorweeg of heroorweeg. Die redakteur besluit watter inskrywings onveranderd gelaat kan word, watter hersien moet word, watter uit die papierboek verwyder kan word en watter nuwe inskrywings bygevoeg moet word. (In die verlede was die ideaal ’n nuwe uitgawe elke vyf tot tien jaar.)

Om geleidelike verandering te registreer, moet ’n leksikograaf die spoor kan vat en woordbetekenisse oor tyd heen kan naspeur. Standaardwoordeboeke is deskriptief, nié voorskriftelik nie.

Vir elke uitgawe van ’n standaardwoordeboek is die opdrag om die taal te beskryf soos dit in daardie tyd gebruik word.

 

Skarebenutting

By die WAT, waar elke inskrywing ’n nuwe inskrywing is, word die werkswyse, soos hier bo beskryf, deur ’n kaartproses voorafgegaan en aangevul: Vir elke trefwoord wat gedefinieer moet word, begin die redakteur by ’n pakkie handgeskrewe en getikte kaartjies – poëme en sitate wat gewone taalgebruikers van oral na die Woordeboek gestuur het.

Poëme: mense se eie sinne en frases wat die tipiese gebruik van woorde en uitdrukkings illustreer, gebaseer op werklike gebruik in hulle kontrei.

Sitate: Aanhalings uit geskrewe stukke (boeke, koerante, tydskrifte, ...), volledig met bibliografiese besonderhede daarby.

Op 25 Januarie 1947 het die destydse redakteur van die WAT, dr PC Schoonees, op taalliefhebbers sy eerste beroep om samewerking gedoen: Die Woordeboek moes onder die aandag van die algemene publiek gebring word. Jaarliks daarna, in toesprake, radiopraatjies, populêre artikels, het hy die oproep herhaal:

Help ons met dié groot taak.

Help ons om materiaal te versamel.

Deur die belangstelling en goedgesindheid van Afrikaanse koerante en tydskrifte, gereelde publisiteit, is mense se verbeelding aangegryp. Kaartjies het teen ’n tempo van 2 000 tot 3 000 per maand ingestroom.

In 1963 het die WAT die miljoenste kaartjie ontvang, in Januarie 1970 is die tweemiljoenkerf verbygesteek, in Augustus 1983 was daar drie miljoen kaartjies (Gericke 1991: 88-89, 104, 112).

Sonder dié vrywillige samewerking van ’n groot aantal mense “sou dit vir die Woordeboek onmoontlik gewees het om die taal te probeer weerspieël soos dit in die algemeen, maar ook in elke uithoek van die land gepraat word (Snijman 1963: 211, in Gericke 1991).

 

Stadig oor die klippe

Een van die belangrikste vaardighede waaroor ’n woordeboekmaker moet beskik, is die vermoë om ingewikkelde dinge, idees, begrippe, so duidelik moontlik in so min as moontlik woorde te beskryf. ’n Leksikograaf moet ’n goeie kennis en geheue van verskillende aspekte en van die geskiedenis van taal hê – van betekenisse, spelling, uitspraak, gebruik. Maar woordeboekmakers moet veral ook self geringe verskille tussen betekenisse kan herken.

Hoewel die rekenaar dié deel van die werk bespoedig, bly die ontrafeling, ontwarring van betekenis ’n tydsame proses.

En tyd is geld.

 

Die kool of die sous?

Dieselfde kragte wat op die breër uitgewersbedryf inwerk en dit grondig ontwrig, het op die woordeboekbedryf ’n nog veel groter impak. Navorsing toon al hoe meer mense bevredig hulle behoefte aan inligting via rekenaars, slimfone, tablette.

Die boodskap is duidelik: Die toekoms is digitaal.

Rondom die millenniumwisselling is gedrukte uitgawes van woordeboeke na masjienleesbare formate omgeskakel – van papier na masjienleesbare teks, van woordverwerkingsprogramme na die destyds nuwe SGML-koderingskema. Ook woordeboeke wat lank uit druk was, is gedigitiseer – oorgetik, geskandeer, nagegaan. Nuwe stelsels vir die bou van tekskorpusse is ontwikkel.

In 2008 is die teks van die vyfde uitgawe van die HAT deels masjienmatig, deels met die hand ontleed. Die woordeboek is stukkie vir stukkie in die TLex-stelsel ingetrek, ’n standaardwerkbank vir woordeboeke wat op die bedryfstandaard XML gegrond is. Van 2009 tot 2015 is digby 100 000 trefwoorde, kollokasies, uitdrukkings, afleidings en samestellings, 128 408 definisies, 78 234 voorbeeldsinne en -frases, 3 228 nuwe trefwoorde en 5 365 nuwe betekenisonderskeidings elektronies in 493 147 afsonderlike databasisvelde bewerk. Vir elk van dié inskrywing was die kritiese oog van ’n redakteur en ’n eerste proefleser nodig. Die sesde uitgawe van die HAT, met ’n totale woordtelling van 2.1 miljoen, is geset, nog ’n keer geproeflees en gedruk.

Dit was nie goedkoop nie.

Nou is dit nie langer volhoubaar nie.

Die uitgewersmodel van die verlede – belê groot en verhaal oor jare (of dekades) jou belegging deur papierwoordeboeke te verkoop, is uitgedien. Vir kommersiële uitgewers is die kool – die HAT en VAW in dié geval – die sous nie langer werd nie.

 

Watwou woordeboeke

’n Standaardlessenaarwoordeboek kan vir baie verskillende doeleindes gebruik word: Om na te gaan hoe woorde gespel word. Om te kyk waar ’n mens die klem plaas wanneer jy woorde uitspreek. Om die basiese betekenisse van woorde te vind. Om vas te stel hoe woorde in sinne gebruik word, met watter ander woorde hulle verbind, waar hulle vandaan kom, uit watter tale, hoe hulle oorspronklik gebruik is, hoe hulle betekenisse oor tyd heen ontwikkel het, in watter vakgebied(e) hulle aangewend word, of hulle streeksgebonde is, in watter registers hulle voorkom.

As ’n woord slegs in baie informele kontekste gebruik word, of hoofsaaklik deur ’n spesifieke groep mense, as dit op een of ander manier aanstoot kan gee, mense kan seermaak, behoort jou woordeboek dit aan te dui.

’n Woordeboek wys met watter woorde ’n mens versigtig moet omgaan.

Desnietemin hoor ons al hoe gereelder: “Woordeboeke? As ek wil weet wat ’n woord beteken, google ek hom.”

Nou ja. Dié argument is geldig. Maar dan moet ’n mens dit dalk effens anders formuleer. Wat die woordeboekversmaaiende googlelaars bedoel, is: “Wie het ’n gedrukte woordeboek nodig? As ek wil weet wat ’n Engelse woord, of ’n woord in een van die wêreld se ander groot tale beteken, google ek dit.”

 

Google is koning

Dat die internet ’n omwenteling teweeggebring het in die manier waarop ons inligting soek, en vind, is ongetwyfeld waar. Ingewikkelde soektogte, ondersoeke wat in die verlede langdurige besoeke aan biblioteke geverg het, duur op die internet, vandag, dikwels enkele sekondes.

Maar wanneer jy jou antwoord het, onthou: Sonder die gedrukte bronne van die verlede, op biblioteekrakke, in tweedehandswinkels, in bokse in motorhuise, op stowwerige solders, of weggesmyt – en hulle makers – sou baie van die kitsklaar definisies wat soekenjins vandag so vinnig gaan haal, nie bestaan het nie.

Of jy nou ’n woord in ’n papierwoordeboek naslaan, ’n woordeboektoepassing op jy foon afgelaai het, ’n aanlyn woordeboek of woordeboekportaal gebruik, of ’n internetsoekenjin. As jy op die internet ’n definisie vind, is die kans goed dat jy ’n gedigitaliseerde woordeboek of ander naslaanbron geraadpleeg het, geskep deur iemand wat hopelik vir sy of haar gehaltewerk vergoed is.

Vir Engels is die aanbod groot.

Naas oop aanlyn bronne bied portale soos Dictionary.com, thefreedictionary.com, yourdictionary.com ook gelisensieerde inhoud aan van bekende woordeboekuitgewers wat vandag waarskynlik sukkel om kop bo water te hou, of reeds hulle deur gesluit het.

Voorbeelde van groot Engelse woordeboeke wat gratis geraadpleeg kan word, is die Collins English Dictionary, The American Heritage Dictionary, die Amerikaanse Merriam-Webster, die Oxford Learner’s Dictionary, die Longman Dictionary of Contemporary English, Macmillan Dictionary en meer.

Daar is Wiktionary van die Wikimedia Foundation, sedert 2002 ’n gratis webwerf, soortgelyk aan Wikipedia, waaraan enigiemand kan help redigeer, en wat terselfdertyd as databron vir ander woordeboekwebwerwe en -programme dien. Baie van die inskrywings op dié gedeelde werf is op bestaande inskrywings in van die internet se ander gratis Engelse woordeboeke gebaseer. Van die inskrywings word outomaties gegenereer, nog ander word uit kommersiële woordeboeke, ook gedrukte eksemplare, en uit ander internetbronne aangepas.

Baie tesouruswebwerwe en -programme gebruik WordNet, van die Princeton Universiteit, as databron. Dit is nie ’n boek wat woorde alfabeties, elk met sy verskillende betekenisonderskeidings lys nie, maar, soos die naam aandui, ’n “net” wat ongeveer 117 000 stelle sinonieme, elk vir ’n spesifieke betekenis, aan mekaar verbind. Deur al die betekenisse waaraan ’n woord gekoppel is, te lys, kan ’n mens dié “pampoenrank” as woordeboek gebruik.

Deur middel van API’s (toepassingsprogrammeringskoppelvlakke) kan omtrent enige webblad of program intyds tot van hierdie inligting toegang kry. Deur ontwikkelaars te nooi om innoverende produkte te skep wat woordeboekdata gebruik, kan digitale inhoud op verskillende maniere gebruik en hergebruik word.

Vir Afrikaans is dié aanbod egter gering, en betrokkenheid en verbeeldingrykheid op die oog af min.

Op 11 Desember 2019, om 11 vm., bevat die gratis aanlyn ensiklopedie Wikipedia 5 980 604 Engelse artikels teenoor 86 926 in Afrikaans. In Wiktionary is daar 905 463 Engelse trefwoorde; in die Afrikaanse Wiktionary 4 960.

Afrikaans het vier portale waarin woordeboekversamelings geraadpleeg kan word: Pharos Aanlyn (niegratis), Longman-HAT (niegratis), die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (niegratis) en die VivA Woordeboekportaal (gratis + premiuminhoud).

Gebruik van die VAW (by Pharos), HAT (by Longman-HAT en VivA) en die WAT (by woordeboek.co.za en VivA) is tot intekenaars beperk.

 

Papier of portaal?

Hou by jou keuse van ’n standaardwoordeboek die volgende in gedagte:

  • Taal verander. Heeltyd.
  • In elke papieruitgawe ontbreek elke klein verandering, al die woorde en al die betekenisse wat die taal binnegekom het ná die jaar waarin daardie spesifieke uitgawe van daardie spesifieke woordeboek verskyn het.
  • Oop bronne wat gratis geraadpleeg kan word, is meestal oud; gedigitaliseer en so gelaat staan.
  • Afrikaans se standaardwoordeboeke, die HAT en die VAW, word nie meer in stand gehou nie. Hul kommersiële uitgewers het die werk aan dié woordeboeke gestaak.

 

Dood in die pot?

In die woordeboekbedryf, nie net in Suid-Afrika nie maar oral in die wêreld, is personeelafleggings en sluitings aan die orde. Van groot, gedrukte woordeboeke word sedert die millenniumwisseling ál minder eksemplare verkoop. Van die spanne ervare, talentvolle leksikograwe wat in die verlede die gehalte hoog gehou het, het die meeste die trekpas gekry. In Suid-Afrika werk die handjievol woordeboekmakers en ondersteuningspersoneel wat by kommersiële uitgewers oor is, hoofsaaklik nog aan skoolwoordeboeke.

By Pearson Africa is die HAT in ’n doodloopstraat.

Te oordeel aan ontbrekende neologismes en ander opvallende leemtes is die VAW – en ook die groot Pharos Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Woordeboek(PAEEA) – by NB in dieselfde bootjie.

Nóg uit die verkope van papieruitgawes, nóg uit aanlyn subskripsies, nóg uit lisensiëring, nóg uit advertensies sal daar weer genoeg inkomste genereer kan word om voortgaande werk aan Afrikaans se standaardwoordeboeke kommersieel te regverdig.

Afrikaans het geen leksikograaf meer wat hom of haar voltyds op eietydse taalgebruik en taalverandering kan toespits nie.

Stagnasie het ingetree waar dit saak maak.  

Om op die WAT, Afrikaans se grootste, oudste, niekommersiële woordeboek, in te teken, kos R200 per jaar. Dis omtrent 55 sent per dag. Maar ook vir die werk wat hiér gedoen word – vir insae daarin – hou Afrikaansgebruikers hul beursies toe.

Watwou taaltrots en taalnuuskierigheid.

As leksikograaf bevind ek my aan die einde van 2019 in die opwindendste en terselfdertyd droewigste tyd van my loopbaan.

Opwindend, want die internet, nuwe tegnologieë, groot data bied aan leksikograwe vandag meer geleenthede en groter vryheid om hulle ambag te beoefen as wat ooit in die verlede vir enige gedrukte woordeboek moontlik was.

Droef, want ons kan dié kragtige en toeganklike nuwe media nie benut om die werk van ons voorgangers in stand te hou en voort te sit nie.

 

Wat nou?

Die WAT bly daartoe verbind om Afrikaans in sy volle omvang te beskryf. Die onmiddellike leemte is die een wat nievoortgang van werk aan die HAT en VAW laat.

Afrikaans kort dringend ’n intydse program vir die moniteer van taalverandering, nuwe woorde en betekenisse wat die taal, en veral die standaardvariëteit van Afrikaans binnekom, ook uit sy variëteite.

’n Klein poging hiertoe is die Woordeboek van Afrikaanse Vandag (WAV) by afrikaans-vandag.co.za. (Die WAV is as Algemene Woordeboek van Eietydse Afrikaans by VivA begin, maar is intussen daar gesluit.)

Gedurende November is onder meer die volgende woorde in dié eksperimentele woordeboek bygevoeg:

Besoek vir die volledige lys die Woordeboek van Afrikaans Vandag.

  

Woordeboeke

  • Botha, W.F. et al. (redakteurs). 2019. Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – Sri Lanka). Stellenbosch: Buro van die WAT. Aanlyn by www.woordeboek.co.za. Soos op 12 Desember 2019.
  • Labuschagne, F. J. en L. C. Eksteen. 2010. Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Negende uitgawe. Kaapstad: Pharos Woordeboeke
  • Luther, Jana, Fred Pheiffer en Rufus H. Gouws (redakteurs). 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Sesde uitgawe. Kaapstad: Pearson South Africa.
  • Luther, Jana. 2019 –. Woordeboek van Afrikaans Vandag. Kaapstad. Aanlyn by www.afrikaans-vandag.co.za. Soos op 12 Desember 2019.

 

Ander bronne

  • Gericke, Werner. 1991. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal: ’n kultuurhistoriese verkenning. Ongepubliseerde tesis. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.
  • 26

Kommentaar

  • Corlietha Swart

    Uitstekend, Jana, DANKIE - vir my honneursstudente (Taalversorging) ook, Nerina!
    Corlietha Swart

  • Susanne Lagendijk

    Ek is ’n ouer dame wat so ’n bietjie al die internet kan gebruik en soek vinnige oplossings, sommer op my selfoon. Ek gebruik Google vertaal redelik baie. Bv Afrikaans-Engels of Afrikaans-Nederlands. Hoe kan ek ’n verduideliking van ’n Afrikaanse woord op hierdie platform kry?

    • Beste Susanne
      Ek hoop dit gaan goed.
      Afrikaans het vier portale waarin woordeboekversamelings geraadpleeg kan word: Pharos Aanlyn (niegratis), Longman-HAT (niegratis), die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (niegratis) en die VivA Woordeboekportaal (gratis + premiuminhoud).
      Vriendelike groete

  • Muller Dirker

    Jana, waar en hoe kan ek elektronies inteken vir die WAT? R200.00 jaarliks.

    Baie dankie.

  • Baie dankie Jana, dit was nou regtig uiters insiggewend, dog met ’n traan in my oog.
    Ek kan my nie die lewe sonder woordeboeke indink nie

  • Jana, ek wil jou graag kontak vir n vinnige kort bespreking. Ek het ‘n idee wat my rondjaag rondom die inligting wat jy met ons gedeel het. Ek sal dit baie waardeer.

  • Kokkie de Kock

    Een betekenis van ‘beginsel’ kan wees ‘oortuiging’. Iemand kan bv. baie sterk geloofsoortuigings of -beginsels hê, iets waarin hy vas glo en sy lewe daarvolgens lewe.

  • Andre Pretorius

    ’n Artikel wat my regtig aan die dink het. Waar staan Afrikaans vandag?

    Afrikaans verander so vinnig dat dit baie moeilik is om tred te hou met die veranderings, en nog moeiliker om te dokumenteer.

  • Blykbaar is ditsem.io een of ander aanlyn woordeboek wat gedryf word deur die gemeenskap. Enige iemand kan ’n rekening maak en definisies plaas, maar dit lyk of dit eers deur ’n goedkeuringsproses gaan voor dit wys. Dit het nog nie baie inhoud nie, maar dit lyk belowend!

  • Marlyn le Roux

    Ek wens ek kon "dankie" sê aan álmal wat al óóit 'n positiewe en/of opbouende bydrae tot ons Taal gemaak het.
    Ek bly lief vir die reuk wat eie is aan die oopmaak van enige handboek, koerant of tydskrif, die geritsel of gefluister van papier wat omgeblaai word, die wegraakwêreld van verbeelding wat gedrukte media ons eens op 'n tyd gegun het.
    Maar terselfdertyd wens ek dat ek kon "dankie" sê aan almal wat bybly met tegnologiese vooruitgang en Afrikaans ook só toeganklik maak…
    Ons Taal is die koester werd.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top