Inleiding
Wanneer u my klaar aangehoor het, seer geagte meneer voorsitter en kollegas – diegene van u dan wat die geduld mag hê om te bly sit tot op die end van hierdie lesing – sal u my sê dat ek die kosbare tyd van ’n geleerde liggaam met iets anders in beslag kon geneem het as met die verkondiging van vanselfsprekende waarhede. (Nienaber en Heyl sj:133)
So begin CJ Langenhoven in Julie 1914 sy lesing “Afrikaans als Voertaal” by die vyfde jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (Nienaber en Heyl sj:131). Dames en here, baie welkom by die Departement Afrikaans en Nederlands se derde Middaguurgesprek van 2014 met die tema “Afrikaans: 100 jaar onderrigtaal”. Ons hoop is dat u die gesprek saam met ons sal geniet en dat u nie na afloop van hierdie gesprek sal voel dat ons “die kosbare tyd van ’n geleerde liggaam met iets anders in beslag kon geneem het as met die verkondiging van vanselfsprekende waarhede” nie.
Dat ons vandag oor Afrikaans as onderrigtaal praat, is geen toevalligheid nie. Vandag vier ons departement die instelling van Afrikaans as medium van onderrig deur die Kaapse Provinsiale Raad op 23 April 1914. Dit was die einste Langenhoven wat op daardie Maandag ’n mosie voor die Kaapse Provinsiale Raad voorgestel het waarin hy die instelling van Afrikaans as onderrigmedium tot standerd 4 bepleit, asook die voorsiening van leermiddele soos handboeke vir hierdie doel (Nienaber en Nienaber 1941:159; Kannemeyer 1995:293). Hierdie voorstel is gemaak te midde van ’n Afrikaans-Nederlandse taalstryd in Afrikanergeledere. In teenstelling met die pro-Afrikaanse beweging wat deur die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) begin is, het daar in die laat 1800’s ook ’n pro-Nederlandse beweging in die Kaap posgevat waarvan die navolgers hulle vir die behoud en bevordering van Nederlands as taal van die Afrikaner beywer het (Malan 1963:174). Na die Suid-Afrikaanse Oorlog/Anglo-Boereoorlog het die Zuid-Afrikaansche Taalbond onder leiding van Nederlands-gesindes soos WJ Viljoen, wat aan hierdie departement verbonde was, hulle vir die vereenvoudiging van Nederlands beywer ten einde Nederlands se populariteit in Suid-Afrika te verhoog en sodoende Afrikaans uit te skakel. ’n Aantal jong akademici, van wie heelwat oud-Stellenbosse studente deel uitgemaak het, was egter nie vir die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling (VNS) te vinde nie en het stryders vir die Afrikaanse saak geword (GS Nienaber 1959:37; Kapp 2013:21–2). Hulle was van mening dat Afrikaans die logiese, natuurlike en lewende Hollandse vorm was wat in Suid-Afrika as teenvoeter vir Engels kon dien (Bosman 1959:77). ’n Hewige Afrikaans-Nederlandse taalstryd het later oor die hele land versprei en het uiteindelik uitgeloop op die stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap in 1909 om die Afrikaanse en Nederlandse faksies te verenig in hulle stryd om die behoud van die Hollandse taal (dws Nederlands én Afrikaans) in Suid-Afrika (Malan 1963:193). Maar alhoewel die geskil tot ’n mate deur die stigting van die Akademie bygelê is, kon hulle steeds nie eenstemmigheid bereik oor wat hierdie taal moes wees nie: Nederlands of Afrikaans (Nienaber 1950:10; Malan 1963:194). Dit het daartoe gelei dat die Akademie, in ’n poging om spanning tussen die pro-Nederlandse en pro-Afrikaanse groepe te demp, hulle in die beginjare eers met ander sake besig gehou het en dat die Akademie in die beginjare in werklikheid ’n Nederlandse liggaam was (Bosman 1959:87; Malan 1963:194). Die Akademie moes dus eers van die belangrikheid van hulle rol in die bevordering van Afrikaans oortuig word. Hierin het CJ Langehoven ’n belangrike rol gespeel.
In 1911, twee jaar na die stigting van die Akademie, vra CJ Langenhoven in ’n artikel in Ons Land:
Hoe lank sal ons hink op twee gedagtes? As Nederlands ons taal is, waarom praat ons hom nie? As Afrikaans ons taal is, waarom skryf ons hom nie? (Kannemeyer 1995:241)
Toe Langenhoven in 1912 redakteur van Het Zuid-Westen word, was hy dus “reeds oortuig daarvan dat Afrikaans, die taal wat deur alle Afrikaners gepraat word, die erkende taal van die Afrikaner op alle gebiede moet word, gelykwaardig aan Engels” (Kannemeyer 1995:261). Spoedig na sy aanstelling as redakteur van Het Zuid-Westen het die blad die spreekbuis geword waardeur Langenhoven die bevordering van Afrikaans bepleit het, en het die land, in sy eie woorde, “gedreun van Afrikaans-propagandakrete soos nooit tevore gehoor was nie” (Nienaber en Nienaber 1941:159; Kannemeyer 1995:251, 261). Op 2 Maart 1914 word Langenhoven verkies as lid van die Kaapse Provinsiale Raad (Nienaber en Nienaber 1941:159). Volgens Nienaber en Nienaber (1941:159) het Langenhoven hom egter nie “om eersugtige redes [...] as ’n kandidaat vir die setel” van Raadslid voorgestel nie, “maar daar was die saak van Afrikaans wat moes behartig word”. Gewapen met “’n vertérende geesdrifvuur” het Langenhoven, in sy eie woorde, “gewigtige voormanne en autoriteite” vir die Afrikaanse saak probeer werf. Maar na ’n “gesmeek en gesoebat” waarop Langenhoven geen reaksie gekry het nie, het sy “tijdelike, ongewone, en swaargedwonge besadigdheid [...] gevlieg soos ’n blits en plek gemaak vir die onbeteugelde woede van ’n fanatiek” (Langenhoven 1938:362–3):
“Nou kijk,” het ik geantwoord, “julle besadigde en verstandige virsigtigheid-aanraaiers; julle medewerkers wat die briek vasdraai teen die steil opdra’ende uit, staan julle nou eenkant opsij; en ik sal alleen te werk gaan. Ik sal nou voortvaar in mijn dolle rasernij sonder die onontbeerlike hulp van julle verstandige beraad; en ik sal die mosie voorstel al krij ik geen sekondant nie, al staan ik vir wat reg en waarheid is in die ganse Raadsaal stok alleen.” (Langenhoven 1938:363)
Voordat hy sy voorstel voor die Raad ingedien het, het Langenhoven egter “hard gewerk om sy sienswyse by die partygenote en ander te laat ingang vind” (Nienaber en Nienaber 1941:159). Hy het selfs ’n aparte koukus met die Engelse raadslede gehou waar hy sy standpunt vir hulle in Engels uitgelê het (Langenhoven 1938:365). So was die saak volgens Langenhoven (1938:366) “gewonne vóordat hy vóor die Huis gekom het” op 23 April 1914 toe Langenhoven “net ’n paar woorde nodig had bij die bespreking in die raadsaal”.
So het Langenhoven dan sy mosie voorgestel:
Dat deze Raad zijn goedkeuring hecht aan die toenemende handhaving door het Onderwijs Departement van deze Provincie van het gezonde beginsel van onderwijs door het medium van de moedertaal der leerlingen, soals neergelegd in de Onderwijs Ordonantie, en verder aanbeveelt dat het beginsel verder uitgebreid worde door het gebruik van het Afrikaans-Hollands als medium op onze lagere scholen en tot met de Vierde Standaard waar het Hollands volgens wet de voertaal is: Mits dat geen leesboeken, in het Afrikaans geschreven, voorlopig worden toegelaten tenzij dezelfe voorzien zijn van een getuigschrift van goedkeuring door Superintendent van Onderwijs, hetzij “de Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst”: en mits het gebruik van zodanige leesboeken niet toegelaten worde waar het betrokken schoolkomitee er bezwaar tegen heeft.” (Langenhoven 1938:358–9)
Op die vraag van een van die Engelse raadslede of Afrikaans inbegrepe word in die woord “Dutch” of “Hollands” in artikel 137 van die Grondwet, antwoord Langenhoven:
Meneer Voorsitter [...], ik behoef nie ’n interpretasie te waag aan Artiekel 137 nie. U het dit reeds uitgeleg. U leg dit nog dag vir dag uit. Als Artiekel 137 Afrikaans uitsluit, dan is ik en al mijn medelede elke slag wanneer ons U hier toespreek in Afrikaans, uit die orde uit! Dan is dit uw plig om ons stil te maak, net so goed alsof ons Duits of Frans of Sesoeto praat. (Langenhoven 1938:366–7)
In sy amper afgewaterde vorm het die mosie, volgens Nienaber en Nienaber (1941:159), heel onskuldig gelyk en is dit aan die einde van die debat eenparig aanvaar.
Daardie middag laat weet Langenhoven sy vrou per telegram:
Provinsiale Raad het my mosie aangeneem wat Afrikaans toelaat as permissiewe medium tot en met die vierde standaard. (Kannemeyer 1995:296–7)
Oor die betekenis van hierdie besluit skryf die Afrikaans-gesinde Gustav Preller in De Volkstem van 5 Mei 1914:
Vir die eerste maal in die geskiedenis van Suidafrika sal die s.g. ’Hollands-sprekende’ Afrikaner nou die reg en voorreg gaan geniet van onderrig te mag worde door middel van sijn eige taal [...]. (Kannemeyer 1995:297)
En oor Langenhoven skryf hy:
Sijn werk word ’n baken op die pad van ons Afrikaanse Taal.
Langenhoven (1938:360), wat meen dat sy aandeel maar van “’n geringe verdienstelikheid” was en dat hy “toevallig die voortou moes neem”, verwoord die impak van sy rol in die aanvaarding van Afrikaans as skooltaal soos volg:
Wat ek egter met my mosie reggekry het, [...] was om eenmaal op die wetboek, al was dit maar die provinsiale administrasieboek, en al was dit maar in hoe ’n klein hoekie van die ontsaglike terrein wat moes verower word, ’n skerp lyn te trek tussen Afrikaans en Nederlands en aan die handige verwarring wat daar nog altyd was ’n end te maak. (Langenhoven 1938:372)
Vervolgens het Langenhoven dieselfde kwessie op die vyfde jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Julie van daardie selfde jaar geopper deur die volgende besprekingspunt in verband met Afrikaans in te dien:
De Akademie bespreke de wenselikheid van het geleidelike invoeren van Afrikaans as medium by het Lager Onderwys.
Benewens hierdie besprekingspunt het Langenhoven, ter ondersteuning van sy voorstel, ook ’n vurige rede getiteld “Afrikaans als Voertaal” gelewer. In reaksie hierop het die Akademie met slegs twee teenstemme hulle goedkeuring aan die besluit van die Kaapse Provinsiale Raad geheg (Nienaber en Heyl sj:131–2; Nienaber en Nienaber 1941:160).
Hierdie stap het ook die nodige momentum geskep vir Transvaal en die Vrystaat om vanaf 1917 die voorbeeld van die Kaapse Provinsiale Raad te volg (Kapp 2009:44). Die Transvaalse en Vrystaatse provinsiale rade besluit ook dat Afrikaans voortaan as die onderrigmedium van Afrikaanse kinders beskou sou word, en nie Nederlands nie. Hulle het hulle ondersteuning van Afrikaans as onderwysmedium op alle vlakke bevestig en talle Afrikaanse universiteite, kweekskole en onderwyskolleges, kerke en skole is op die been gebring. Vanaf die 1920’s het wit skole toenemend enkelmediumskole geword. Teen 1925 het al vier die destydse provinsies reeds moedertaalonderrig aan Afrikaanssprekende kinders tot standerd 10 (graad 12) verskaf. In 1918 word Victoria College die Universiteit Stellenbosch en begin hy om sy toekoms as Afrikaanse tersiêre instelling af te baken. In dieselfde jaar word Afrikaans ook vir die eerste keer as universiteitsvak gedoseer met die aanstelling van JJ Smith by die Universiteit Stellenbosch en DF Malherbe by Grey Universiteitskollege (later die Universiteit van die Oranje-Vrystaat) in Bloemfontein as professore in Afrikaans (Steyn 1980:193; Ponelis 1993:53–4; 1997:605; 1998:52; Giliomee 2003:14; Roberge 2003:30; Hugo 2009a:65).
Gesprek
Teen hierdie tyd het u seker al begin wonder wat van die gespreksdeel van hierdie Middaguurgesprek geword het. Ek nooi nou graag vir Eldridge Jason na vore om by my aan te sluit.
Eldridge Jason is oorspronklik van die Weskus-vissersdorpie Paternoster. Na sy skoolopleiding het hy joernalistiek by die destydse Skiereiland Technikon – deesdae die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie – studeer. Eldridge is al vir byna agt jaar ’n verslaggewer by die Kaapse dagblad Son, waar hy elke dag deal met die lief en leed van die inwoners van die Kaapse Vlakte. In 2003 verskyn sy debuut-jeugroman, Gerook. Hierdie roman, wat fokus op dwelmmisbruik onder tieners, het so ver as Pole aanklank gevind. As hy nie hard aan die werk is om van sy writer’s block ontslae te raak nie, hou Eldridge daarvan om die platteland met sy helder sterreruim saam met sy vrou, Winifred, en hulle driejarige seuntjie, Danté, te verken. Eldridge, baie welkom hier by ons.
Eldridge, toe ek jou gevra het of jy bereid sou wees om vandag met ons te kom praat, het jy in jou e-posantwoord aan my genoem dat Afrikaans jou “nader as ná aan die hart lê”. Vertel ons bietjie waar kom jou passie vir Afrikaans vandaan.
Net soos 100 jaar gelede, leef ons egter in ’n tyd waar Engels as onderrigtaal baie gewild is onder sprekers van Afrikaans. Selfs CJ Langenhoven het aanvanklik Engels, eerder as Afrikaans, as enigste ampstaal ondersteun. In 1893 het hy as student aan die Victoria College (later die Universiteit Stellenbosch) in ’n artikel in die blad van die Union Debating Society die volgende geskryf oor Engels, wat hy as “The future language of South Africa” beskou:
English is now virtually a universal language, its literature is studied and admired by all civilised countries, it forms the commercial medium of the whole world. (Aangehaal in Hugo 2009:38)
Dit is ook ’n siening wat vandag deur baie Afrikaanssprekendes gehuldig word. As ouer het jy egter doelbewus die besluit geneem om jou kind in Afrikaans groot te maak en te laat onderrig. Wat het jou gemotiveer om hierdie besluit te neem?
Een van ons honneursstudente vertel my nou die dag dat iemand by hom wou weet hoekom hy Afrikaans studeer, aangesien Afrikaans mos eintlik maar ’n “kombuistaal” is. Ook Langenhoven (in Kannemeyer 1995:134–5 en Kapp 2013:18) het voor sy “bekering” tot Afrikaans gesê:
For intellectual training Africander Dutch offers no scope, for it has no literature, and a very poor vocabulary. For internal intercourse and as a trade-medium English is superior to it; and for foreign trade it stands nowhere.
Wat is jou reaksie op sulke uitsprake?
Jy het ook in jou e-pos aan my genoem dat “bruin Afrikaanse ouers se gesukkel met Engels” jou “vreeslik wroeg”. Dit is nogal sterk gestel. Hoekom voel jy so sterk daaroor?
As ons nou reguit met mekaar praat, Eldridge, wat is bruin Afrikaanssprekende ouers wat kies om hulle kinders in Engels te laat onderrig se reaksie teenoor jou besluit om jou kind in Afrikaans te laat skoolgaan?
Maar tog, as ’n mens na die geskiedenis van Afrikaans gaan kyk, is dit opmerklik dat die Afrikaners of wit Afrikaanssprekendes eers daarvan oortuig moes word dat Afrikaans hulle taal is en waardig is om as onderrigtaal gebruik te word, terwyl bruin Afrikaanse gemeenskappe soos dié in Genadendal en die Moslemgemeenskap in die Kaap reeds vroeg in die 19de eeu Afrikaans as onderrigtaal gebruik het. Davids (1994:51) wys byvoorbeeld daarop dat die Kaapse Moslemgemeenskap reeds teen 1815 begin het om Afrikaans as onderrigmedium by die Dorpstraat-madrasa te gebruik. Dit is ’n hele 100 jaar voor die aanvaarding van Afrikaans as onderrigtaal deur die Kaapse Provinsiale Raad! Wat het dan “verkeerd” gegaan na 2014 toe?
Dink jy nie, en jy mag maar eerlik wees, wit Afrikaanssprekendes is ten minste deels te blameer daarvoor dat so baie bruin ouers deesdae eerder verkies om hulle kinders in Engels te laat onderrig nie? Want vir dekades het wit Afrikaanssprekendes so te sê die bestaan van bruin Afrikaanssprekendes misken deur hulle nie te betrek by besluite oor en liggame vir Afrikaans nie. So het selfs Langenhoven by meer as een geleentheid na Afrikaans as “witmanstaal” verwys:
Afrikaans, so skryf Langenhoven, “plaas ons hoger als die Engelsman op nasionaal gebied en patrioties gebied; ja hoger als enige ander blanke inwoner van ons land; want hij is die enigste witmanstaal wat nie onmiddellik oor die see kom nie. (Kannemeyer 1995:269)
[Afrikaans is] ons kostelikste roem, ons hoogste besitting: die éen enigste witmanstaal wat in Suid-Afrika gemaak is en nie oor die seewater klaar gekom het nie, wat die spore van die lief en leed dra van alles wat ons en ons vadere hier deurleef en deurworstel en deurtriomfeer het; die éen band wat ons as nasie aan mekaar heg; die uitgedrukte siel van ons volk. (Nienaber en Heyl sj:166)
Deur Afrikaans ’n “witmanstaal” te noem in plaas daarvan om die taal se multikulturele oorsprong te erken, het Langenhoven gruwelik fouteer (Giliomee 2003:11). Sulke uitsprake kon volgens Giliomee (2007:5) kwalik die bruin Afrikaanssprekendes tot die stryd vir Afrikaans aanspoor. Kan ’n mens dan regtig bruin Afrikaanssprekendes verkwalik dat hulle hulle kinders eerder in Engels laat onderrig?
Behalwe dat jy ’n Afrikaanse ouer is, werk jy ook by Son. Met ’n daaglikse leserstal van 1,1 miljoen is Son die grootste Afrikaanse koerant in Suid-Afrika. Wie is julle primêre lesers?
Dit klink ’n bietjie na ’n teenstrydigheid: aan die een kant laat baie bruin Afrikaanssprekendes hulle kinders in Engels onderrig, maar tog dui die gewildheid van ’n koerant soos Son daarop dat Afrikaans nog springlewendig is onder bruin Afrikaanssprekendes. Dit word ook bevestig deur die jongste sensusgetalle. Volgens die Suid-Afrikaanse sensusdata van 2011 is 3 442 164 van die 6 855 082 moedertaalsprekers van Afrikaans bruin, terwyl slegs 2 710 461 wit is (Statistics South Africa 2012) Bruin moedertaalsprekers van Afrikaans maak dus meer as 50% van die Afrikaanse spraakgemeenskap uit. Hoekom, dink jy, is Son so gewild onder bruin Afrikaanssprekendes? En waaraan kan hierdie skynbare teenstrydigheid toegeskryf word?
Sou ’n mens kon sê dat bruin Afrikaanssprekendes nie soseer ’n probleem het met Afrikaans nie, maar eerder met Standaardafrikaans? Southwood en Van Dulm (2009:3) van die Departement Algemene Taalwetenskap het byvoorbeeld in ’n studie daarop gewys dat al die taaltoetse wat ontwikkel is vir gebruik met Afrikaanssprekende kinders, nie vir sprekers van Kaapse Afrikaans ontwikkel is nie, wat meebring dat tipies ontwikkelende kindersprekers van Kaapse Afrikaans verkeerdelik as taalgestremd gediagnoseer word wanneer hierdie toetse met hulle uitgevoer word. Ook Le Cordeur (2010:5) wys daarop dat baie bruin Afrikaanssprekendes “steeds soos bywoners in hul eie taal voel”, omdat Afrikaans in sy “wit” vorm gestandaardiseer is. Dink jy die feit dat Standaardafrikaans vir baie bruin sprekers te ver verwyderd van hulle alledaagse taalgebruik is, het daartoe bygedra dat hulle eerder besluit om Engels te gebruik? Wat is jou ervaring van julle lesers se houding ten opsigte van Standaardafrikaans?
Langenhoven het gelukkig later sy fout agtergekom toe hy ’n funksie by ’n skool vir bruin leerders bygewoon het waar daar met ’n enkele uitsondering slegs Engelse gedigte deur die leerders voorgedra is (Giliomee 2007:5). Dit het Langenhoven so ontstel dat hy uitgeroep het:
Daar is ’n miljoen, ja, ’n miljoen potensiële lesers van Die Huisgenoot [...] en wat doen ons vir dié mense; wat is ons houding teenoor hulle, dat hulle aan hul moedertaal, Afrikaans, vashou en nie vervreemd raak nie? (Aangehaal in Giliomee 2007:5)
Hoe kan ons vandag gehoor gee aan hierdie vraag van Langenhoven? Wat kan ons doen om te keer dat bruin Afrikaanssprekendes, en veral jong bruin Afrikaanssprekendes, vervreem word van Afrikaans?
Ter afsluiting: Hoe sien jy die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal? Dink jy daar is ’n toekoms vir Afrikaans as onderrigtaal in Suid-Afrika? Dink jy Afrikaans sal oor 100 steeds ’n onderrigtaal wees?
Enige laaste gedagtes?
Eldridge Jason
Ek is bly dat CJ Langenhoven tot sy sinne gekom het en afgewyk het van sy standpunt dat Afrikaans ’n kombuistaal is. Of soos iemand definitief op die Kaapse Vlakte sou sê: “He came to his sentences.”
Afrikaans, so mooi soos wat hy is, was nog nooit vir my ’n kombuistaal nie. Ek werk immers in niemand se kombuis nie. Vir my is dit die taal van my hart, ’n weerspieëling van wie ek is en die taal waarin ek die lekkerste lekker drome kan hê.
Tog grief dit my verskriklik deesdae om te sien hoe veral bruin ouers verkies om hul kinders in Engels groot te maak.
En dit laat my altyd wonder: Marra Whaai?
Hoekom sal ouers dan hul kinders weerhou om blootgestel te word aan so ’n ryk, kleurvolle taal waarin jy jou in alle mood swings van die wêreld in uit kan druk?
Destyds met ons seuntjie, Danté, se geboorte, het van vroulief se kollegas ook gevra hoekom ons hom in Afrikaans grootmaak. Hul redenasie was dat Engels ’n kind ’n voorsprong gee.
Kwaad het ek aan vroulief gesê: “Gaan sê vir daai esels ons is nie dom nie.”
Want nêrens in die wêreld is daar enige bewyse dat Engels jou kind ’n voorsprong in die lewe gee nie. Selfs as jy gaan kyk na die top-presteerders van skole in die land, sal jy sien dat baie van hulle afkomstig van tradisioneel Afrikaanse skole is.
So watter voorsprong gee Engels dan jou kind?
Die geleentheid om eerste in die ry te staan vir ’n rakpak-job by Shoprite?
Dit bring my elke keer na aan ’n hartaanval as ek gras natspuit en buurman skree vir sy klong: “Why must I talk with you so long?” Hoekom moet ek so lank met jou praat?
Of daai meisie wat tydens ’n onderhoud waar ek haar gevra het waar sy tydens die gebeure gestaan het, gesê het: “I was standing by the wire.” Dit het my omtrent ’n ligjaar en ’n half gevat om te besef sy sê sy het by die draad gestaan.
Sulke krom, verdraaide Engels kan tot baie komiese oomblikke lei.
Maar dis hartverskeurend dat veral bruin ouers besluit om Afrikaans die rug toe te keer en dat hul kinders aan ’n uiters onverdraagsame vorm van Afrikaans bloot te stel.
En om wat te bereik? Die kind se vermoë om in Afrikaans of Engels of watter taal ook te kan kommunikeer, geheel en al op te skroef?
Ek let ook met ’n diep sug deesdae daarop dat Afrikaans gesien word as ’n “skel”-taal. As ’n ouer nie gou genoeg op ’n Engelse woord kan kom om die kind te berispe nie, word die “Engelse” kind sommer in Afrikaans uitgetrap. So wat moet daai arme kind dink? Afrikaans word net deur oupas en oumas gepraat? En as jy wil skel, skel jy in Afrikaans?
Vir langer as wat ek kan onthou, voorspel doemprofete die verdwyning van Afrikaans en ek wil dit onomwonde stel dat dit ’n groter liegstorie is as 7de Laan. ’n Taal wat al vir meer as 100 jaar ons brood en botter vir die siel is, sal nie net van die aardbol af verdwyn nie.
’n Taal wat soveel kleur in my lewe bring, sal nooit so boring soos ’n 7de Laan-storielyn word nie.
Afrikaans is my inkleurpotlood vir die lewe, my tool waarin ek my nie net uit kan druk nie, maar ook geur en warmte aan stories kan verleen.
So mense kan maar voortgaan om die leuens wat hul hulself wysmaak oor Mengels te glo.
Wie het anyway al van ’n Engelssprekende Beyoncé Koekemoer gehoor?
Dit bly my droom dat Afrikaans vir die volgende 100 jaar gaan aanhou groei en die doemprofete in hul Engelse tee sal laat verstik.
My taal draai immers geen baggage nie.
Ek kan mos my eie bagasie dra!