Afrikaans in 'n vryval by Stellenbosch

  • 3

jacquesvde240Die universiteitbestuur van die Universiteit Stellenbosch se besluit om Engels van 2016 af as verstektaal te gebruik ten koste van Afrikaans plaas Afrikaans in ‘n vryvalposisie. Dit is ‘n groot terugslag vir Afrikaans as universiteit- en wetenskapstaal by wat eens ‘n boegbeeld vir Afrikaans was. Die Afrikaanse Taalraad doen ‘n beroep op die raad van die US om ‘n streep deur die planne te trek en die bestuur te versoek om met meer verbeeldingryke taalplanne vorendag te kom. Dit lyk asof die US swig onder druk van politieke groepe soos SASCO en Open Stellenbosch en dat die sogenaamde raadpleging van die groepe eerder bevraagteken kan word.

Hierdie stap is tegelykertyd ‘n aanmoediging vir ander instellings soos die UV en die Potch Kampus van die NWU om die US se voorbeeld te volg. As die “ouboet” van die Afrikaanse universiteite so ‘n taalstap neem, sal die druk op die genoemde instellings verder toeneem.

Daar is begrip daarvoor dat anglisering in die hoër onderwys ‘n internasionale tendens is, maar dit neem nie weg nie dat die Afrikaanse taalgemeenskap die voorreg ontneem word om in Afrikaans te studeer en intellektueel te groei by een van Suid-Afrika se gerekende universiteite, terwyl daar binne ‘n radius van enkele tientalle kilometers drie ander Engelstalige tersiêre instellings bestaan.

ATRHierdie besluit marginaliseer nie net Afrikaans nie, maar is tewens ‘n terugslag vir ander inheemse tale  in Suid-Afrika wat ook die reg het om op die lang duur as wetenskapstaal erken te word. Die Afrikaanse Taalraad doen ‘n ernstige beroep op universiteite om nie die deur hard in die gesig van die Afrikaanse taalgemeenskap toe te klap nie.

Jacques van der Elst
Uitvoerende Hoof
Afrikaanse Taalraad

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    André Badenhorst

    Ek sê gister vir 'n vriendin van my, werksaam by 'n US departement, dat hulle al hul administrasie van volgende jaar af slegs in Engels moet doen volgens die voorgestelde taal-edik. Sy reageer: "Ja, ons weet nie meer wat gaan vir wat nie. Gister het ons van ons Dekaan af gehoor dat dit so besluit is, maar vandag hoor ons dis maar net 'n voorstel. Op ons gaan dit nie veel van 'n impak hê nie, want ons doen alle administrasie in elk geval al lankal slegs in Engels en die oorgrote meerderheid van ons klasse is ook in Engels. Ons dosente verkies om in Engels klas te gee en die meeste studente verkies om in Engels klas te loop." So dis dit. Die skrif is aan die muur. En wie moet ons bedank? Boland, Boland Bank!

    • Avatar
      willem kruger

      Die nuwe taalbeleid/besluit/bespreking steek my dwars in die krop. Ek verstaan nie wat is daarmee fout om in jou moedertaal onderrig te word nie. Hoekom breek ons af? Hoekom neem ons weg? Hoekom verarm ons als in die land als net ter wille van 'transformasie', 'sosiale kohesie' en hoekom moet slegs Engels daai brugbouer wees? Hoekom wil jy so ’nmooi taal soos Afrikaans afwater tot ’n randtaal soos Xhosa wat geen Akademiese waarde het op tersiêre vlak nie? Taal is inherent aan wie ons is. Volgende is dit hoërskole, laerskole en dan kombuistaal. Wat dan? Dan beweeg ons maar net weer terug na wat ons was in Milner se tyd. Als Engels. En als "Africanised". As daai dag kom sien ek nie meer plek hier vir die Afrikaner aangesien jy nie meer die vryheid het om jou taal orals te besig nie. Die taal kan nie meer ontwikkel nie en stelselmatig sal dinge soos kunstefeeste, kykNET, Afrikaanse tydskrifte en koerante hul gat sien. Dit sal net langer vat. Ek luister hoe die Zoeloe-kindertjies hier by my kompleks Engels met mekaar praat op die skoolgrond; Indiërs wat hul tradisionele tale verloor het en net Engels praat. Is taal dan maar net ’n kommunikasiemiddel en dis dit? Is daar geen hart, kultuur, identiteit daaraan gekoppel nie? Dis hartseer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top