Afrikaans en sy druktradisie van toeka tot toekoms: Afrikaans word nie gered deur net oor Afrikaans te praat nie

  • 0

Sybrandus Adema, Ilse Salzwedel, Geraldine Frieslaar, Annie Olivier en Phillip Louw

...
’n Taal se toekoms word nie bepaal deur hoe hard ons daaroor praat op Taaldag nie. Dit word bepaal deur wat ons op die ander 364 dae van die jaar daarmee doen.
...

Die taal se toekoms lê nie bloot in monumente, koerante en boeke nie, maar in die vraag of mense die taal kan lees, gebruik, bekostig, bewaar en vrylik kan beoefen

Daar is iets ironies aan die geskiedenis van Afrikaans: ’n Taal wat eens moes veg om ’n plek in die koerant, skool en op die kansel te kry, moet vandag weer veg om ’n plek in ’n veranderende inligtingswêreld te behou.

Die vyand lyk net anders. Dit is nie meer noodwendig Nederlands of Engels nie. Dit is die ekonomie van die moderne media, die mag van Google en Meta, die verval van koerantargiewe, die verlies aan leesgewoontes, duur boeke, ontoeganklike digitale inhoud, swak biblioteekstelsels, onbetroubare internettoegang en ’n openbare kultuur waarin ’n TikTok-video makliker verteer word as ’n deeglik nagevorste nuusberig.

Dit was een van die ongemaklike onderstrominge van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se jaarlikse Taalgesprek in die Paarl, waar die fokus vanjaar op “Afrikaans en sy druktradisie: van toeka tot toekoms” geval het.

Die gesprek het op Taaldag, 14 Augustus, plaasgevind presies 151 jaar nadat die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl gestig is.

Maar dalk is die belangrikste vraag nie meer hoe Afrikaans in die verlede sy plek verower het nie. Die vraag is: Wat doen Afrikaanssprekendes vandag om te keer dat daardie plek stadigaan verdwyn?

Die GRA van 1875 was ongetwyfeld ’n waterskeiding. CP Hoogenhout, SJ du Toit, DF du Toit en ander het, met die invloed van Arnoldus Pannevis, Afrikaans as skryf-, skool- en kanseltaal begin bevorder. Die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, het in 1876 verskyn. Die beweging het uiteindelik gehelp om die pad na die amptelike erkenning van Afrikaans in 1925, en later sy status as een van Suid-Afrika se amptelike tale, te baan.

Maar daar is ’n belangrike kwalifikasie. Die mense wat destyds die taalbeweging aangevoer het, het nie alle Afrikaanssprekendes verteenwoordig nie. Afrikaans was nog altyd groter as die mense wat op ’n bepaalde tyd die politieke of kulturele eienaarskap daarvan probeer opeis het.

Die “wit ooms van toe” en die veel meer diverse groep Afrikaanssprekendes wat vanjaar Taaldag in die Paarl gevier het, is nie dieselfde gemeenskap nie. Tog deel hulle iets fundamenteels – ’n taal.

En miskien is dit juis hier waar die gesprek oor Afrikaans se druktradisie vir vandag betekenis kry. Want ’n taal leef nie omdat ’n monument dit verteenwoordig nie. ’n Taal leef wanneer mense dit gebruik. Wanneer kinders daarin lees. Wanneer joernaliste daarin ondersoek doen. Wanneer skrywers daarin skryf. Wanneer akademici daarin navorsing publiseer. Wanneer mense koerante koop, boeke lees en tydskrifte ondersteun. Wanneer die geskiedenis van die taal en sy mense behoorlik bewaar word.

En wanneer daardie dinge nie gebeur nie, help die mooiste monument in die wêreld ook nie veel nie.

Een van die treffendste opmerkings tydens die gesprek onder leiding van Sybrandus Adema, kommunikasiebeampte van die ATM, het van joernalis Ilse Salzwedel van Die Papier gekom toe sy opgemerk het ons het die geleentheid gemis om koerante te red.

Dit is ’n ongemaklike stelling, maar dit verdien om ernstig opgeneem te word. Tradisionele media het die afgelope jare ’n ekonomiese oorlog teen Google, Meta en ander digitale platforms verloor. Advertensiegeld het van koerante en tydskrifte na tegnologiemaatskappye verskuif. Mediahuise het personeel besnoei, publikasies gesluit en hul sakemodelle probeer herbou terwyl die publiek al hoe meer gewoond geraak het aan gratis inhoud.

Michael Jonas

Maar die publiek het ook ’n aandeel in die dilemma waarin die media verkeer. Ons het Facebook en Instagram gebruik, YouTube gekyk en inhoud op sosiale media gedeel sonder om veel te vra oor wie die joernaliste betaal wat die nuus waarop daardie platforms staat maak, produseer.

Te veel mense wil hê die nuus moes gratis wees. Nou ontdek hulle dat gratis nuus ’n prys het. As daar nie genoeg geld is om verslaggewers te betaal nie, verdwyn ondersoekende joernalistiek. As nuuskantore tot op die been gesny word, kan dieselfde joernalis nie tegelykertyd ’n video maak, sosiale media bestuur, ’n webberig publiseer en nog ’n deeglike koerantberig lewer nie.

Dit is presies hierdie werklikheid wat tydens die Taalgesprek beskryf is.

En dan vra lesers verbaas waarom daar soveel oppervlakkige nuus, fopnuus en propaganda is. Die antwoord is deels eenvoudig: Kwaliteit kos geld.

Die grootste gevaar van die nuwe inligtingswêreld is dalk nie dat mense te veel nuus kry nie, maar dat hulle al hoe minder tussen nuus en geraas onderskei.

Salzwedel het dit skerp gestel: Mense het toegelaat dat fopnuus en alternatiewe “waarhede” die plek van hoofstroommedia begin inneem. Nuus word al hoe meer aangepas by wat mense graag wil hoor, eerder as wat hulle nodig het om te weet.

Dit is natuurlik nie ’n argument dat hoofstroommedia altyd reg is nie. Joernaliste maak foute. Redakteurs maak foute. Koerante het politieke en kommersiële agendas. Mediahuise verdien kritiek en moet daarvoor aanspreeklik wees.

Maar daar is ’n reuse verskil tussen ’n mediahuis wat aan professionele standaarde gebonde is en iemand wat ’n WhatsApp-stemnota uit sy sitkamer versprei of fopnuus op Facebook of X die wêreld instuur.

Die een behoort aan ’n stelsel van verifikasie, redigering, aanspreeklikheid en regstelling. Die ander een behoort aan niemand nie en het geen etiese verantwoordelikhede nie.

Dit is waarom die pers (wat in Engels ook as die Fourth Estate bekendstaan) steeds belangrik is. Joernaliste is nie die vyand van demokrasie nie. Hulle is gesamentlik een van die instrumente waardeur demokrasie kan funksioneer.

Die onthullings wat uit ondersoekende joernalistiek voortvloei, onder meer oor korrupsie en die strafregstelsel, herinner ons daaraan dat baie van dit wat later in openbare ondersoeke en kommissies na vore kom, eerste deur joernaliste oopgevlek is.

Die publiek behoort dus nie bloot te vra wat media vir ons kan doen nie, maar ook wat ons doen om media aan die lewe te hou.

En hier word kunsmatige intelligensie deel van die gesprek. KI kan binne sekondes ’n antwoord produseer. Dit kan opsommings maak, tekste vertaal en enorme hoeveelhede inligting verwerk. Maar waar kom daardie inligting vandaan?

Soos Rasaad Adams, ’n jong joernalis wat al by verskeie publikasies gewerk het,  tydens die gesprek beklemtoon het, val KI se antwoorde nie uit die lug nie. Die stelsels steun onder meer op nuusberigte, akademiese bronne en ander inhoud wat deur mense geskep is.

Daarin lê ’n groot paradoks. Ons bou al hoe slimmer masjiene wat toegang tot mensgemaakte kennis het, terwyl ons terselfdertyd die instellings wat daardie kennis produseer en bewaar, laat verswak. Dit is soos om ’n biblioteek met ’n superrekenaar te bou en dan die biblioteek op te hou finansier.

KI kan vir jou sê wat reeds êrens geskryf is. Maar iemand moes eers daardie bron geskep het. Iemand moet ’n korrupsie-ondersoek doen. Iemand moet ’n hofverslag skryf. Iemand moet ’n onderhoud voer. Iemand moet ’n boek navors. Iemand moet die dokumente gaan haal. En iemand moet die materiaal bewaar sodat dit oor 20 of 50 jaar nog gevind kan word.

Hier raak die probleem nog ernstiger, want daar word maklik aanvaar dat digitalisering beteken dat iets vir altyd beskikbaar sal wees. Dit is nie noodwendig waar nie.

Tydens die Taalgesprek is daarop gewys dat artikels van betreklik onlangse publikasies soms reeds moeilik of onmoontlik is om op te spoor nadat webwerwe se agterkant, databasis of argitektuur verander is. Dit is ’n ongelooflike probleem.

’n Koerantartikel van drie jaar gelede behoort nie soos ’n verlore manuskrip uit die Middeleeue te wees nie. Maar dit is wel soms die geval.

Geraldine Frieslaar, ’n argivaris van die Universiteit van Wes-Kaapland, het die belangrikheid van goeie metadata, gestandaardiseerde lêernaamgewing en beheerde woordeskat (“controlled vocabulary”) beklemtoon. Sonder behoorlike beskrywing kan materiaal selfs binne ’n paar jaar feitlik onvindbaar word en verlore raak.

Daar is nog ’n probleem, en dit is geld. Phillip Louw van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) het gewaarsku teen die gevaar dat verskillende instellings dieselfde boeke en bronne afsonderlik digitaliseer. Met beperkte hulpbronne kan Afrikaans eenvoudig nie bekostig om dieselfde werk vier of vyf keer te doen nie.

Afrikaans is nie ’n taal met oneindige finansiële hulpbronne nie. Dit beteken dat samewerking nie ’n luukse is nie. Dit is ’n noodsaaklikheid.

Universiteite, argiewe, biblioteke, uitgewers, museums, mediahuise en taalorganisasies moet ophou om elkeen op hul eie eiland te werk. Afrikaans moet slim wees met wat hy het. Nie omdat Afrikaans minderwaardig is nie, maar omdat hulpbronne beperk is.

En dan is daar die ongemaklike vraag oor toegang. ’n Taal kan nie demokraties wees as slegs welgestelde mense toegang tot sy boeke, media en kennis het nie.

Dit is een van die sterkste punte wat uit die gesprek na vore gekom het. Boeke is duur. Data is duur. Digitale intekeninge kos geld. Biblioteke sukkel. In baie gemeenskappe is toegang tot tegnologie beperk.

Selfs e-boeke, wat aanvanklik as ’n goedkoper alternatief beskou is, is nie noodwendig goedkoop genoeg om die probleem op te los nie. Annie Olivier van Jonathan Ball-uitgewers het daarop gewys dat digitale platforms ook ’n aansienlike deel van die inkomste neem en dat e-boeke slegs ’n klein deel van totale verkope uitmaak.

Maar daar is geen maklike oplossing nie. Skrywers moet betaal word. Uitgewers moet geld verdien. Boekwinkels moet oorleef. Terselfdertyd moet die staat sy verantwoordelikheid teenoor biblioteke, skole en openbare kennis ernstig opneem.

As ’n boek wat R300 kos uiteindelik deur korrupte kontrakteurs teen R900 aan die staat verkoop word, is die probleem nie dat boeke te duur is nie. Die probleem is dat korrupsie die hele kennisketting vergiftig.

En die antwoord daarop is beslis ook nie om boeke onwettig te versprei nie.

Rooflees waar boeke, koerante en tydskrifte se PDF’s onwettig gratis versprei word, klink miskien vir sommige mense soos ’n soort Robin Hood-aksie teen ’n onregverdige stelsel. Maar wanneer jy ’n boek steel, steel jy nie noodwendig van ’n ryk korporasie nie. Jy steel ook van die skrywer, die vertaler, die redakteur, die ontwerper en ander mense wat aan die boek gewerk het.

Die antwoord is eerder om toegang goedkoper en wyer beskikbaar te stel.

Daar kan nie van joernaliste verwag om dapper te wees en hulle dan alleen te los nie. Miskien is dit die belangrikste boodskap van die hele gesprek.

Daar word van joernaliste verwag om die korrupte politikus uit te daag, die georganiseerde misdaad te ondersoek, die ongemaklike vraag te vra en die waarheid te probeer vasstel. Maar wanneer hulle aanlyn geteister, gedreig en geïntimideer word, kyk die meeste mense dikwels weg.

Salzwedel het die gehoor daaraan herinner dat veral vroulike joernaliste ’n hoë prys op sosiale media betaal. Dreigemente van verkragting, agtervolging en ander vorme van intimidasie is nie bloot “deel van die werk” nie. Dit is ’n aanval op die openbare sfeer.

Die gevaar is dat redelike mense uiteindelik stilbly omdat die koste van deelname te hoog geword het. Dan word die openbare debat oorgelaat aan diegene wat die hardste skree. Die linkses en regses skree mekaar dood. Die gematigde stem verdwyn en almal verloor.

Die Afrikaanse Taalmonument is ’n belangrike deel van die geskiedenis van die taal en daar is niks verkeerd met monumente nie. Maar as ons werklik vir Afrikaans omgee, behoort ons bereid te wees om minder simbolies en meer prakties te dink.

Afrikaans het nie nog ’n monument nodig nie, en daar is belangrike punte wat uit die gesprek na vore gekom het:

Ons moet kinders leer lees.

Ons moet skoolkoerante ondersteun.

Ons moet Afrikaanse boeke koop.

Ons moet vir goeie joernalistiek betaal.

Ons moet biblioteke beskerm.

Ons moet digitale argiewe behoorlik bewaar.

Ons moet seker maak dat akademiese bronne in Afrikaans beskikbaar bly.

Ons moet ruimte maak vir al Afrikaans se variëteite en stemme.

En ons moet ophou dink dat Afrikaans se voortbestaan bloot die verantwoordelikheid van “die taalinstansies” is. ’n Taal behoort aan sy sprekers.

Die mense wat 151 jaar gelede in die Paarl begin het om Afrikaans as skryf- en openbare taal te vestig, het ’n enorme kulturele nalatenskap gelaat. Maar hulle kon nie voorsien hoe die drukpers eendag sou verander nie.

Hulle kon ook nie voorsien dat die grootste bedreiging vir die gedrukte woord nie noodwendig sensuur sou wees nie, maar ekonomiese onvolhoubaarheid, digitale verwaarlosing en ’n publiek wat al hoe minder bereid is om vir gehalte te betaal.

Die uitdaging vir Afrikaans is dus nie om terug te keer na 1875 nie. Dit is om iets uit 1875 se gees te leer: ’n Taal word nie deur nostalgie gebou nie. Dit word deur mense gebou wat bereid is om iets daarvoor te doen.

Die GRA het ’n koerant begin omdat hulle verstaan het dat ’n taal ’n openbare stem nodig het. Vandag het Afrikaans steeds ’n openbare stem nodig. Maar daardie stem kan nie net uit monumente, toesprake en herdenkings bestaan nie.

Dit moet uit boeke kom. Uit koerante. Uit skoolbanke. Uit biblioteke. Uit argiewe. Uit ondersoekende joernalistiek. Uit nuwe skrywers. Uit ou skrywers. Uit Kaaps en ander variëteite. Uit digitale platforms én die gedrukte woord.

En uiteindelik uit lesers. Want miskien is die grootste bedreiging vir Afrikaans nie dat mense dit nie meer wil praat nie. Dalk is dit dat ons dit nog praat, maar al hoe minder daarin lees en skryf, dit minder bewaar en minder bereid is om daarvoor te betaal.

’n Taal se toekoms word nie bepaal deur hoe hard ons daaroor praat op Taaldag nie. Dit word bepaal deur wat ons op die ander 364 dae van die jaar daarmee doen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top