Hein Willemse het ’n toespraak by die jaarlikse prysfunksie van die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria op 24 Maart 2026 gelewer.
Hy het die teksweergawe aan LitNet verskaf.
Afrikaans: 1976, mites, kennis en toekoms
Dit is vir my heerlik om terug op die kampus van die Universiteit van Pretoria te wees, waar ek die grootste deel van my professionele loopbaan deurgebring het.i Ek het baie goeie herinneringe aan my verblyf in hierdie stad. Pretoria het van die mees voorspelbare weer in die land. Die donderstorms en die grondreuk van reën bly ’n nostalgiese gedagtenis. As ’n navorser mis ek die universiteit se goeie biblioteek, die staatsbiblioteek en die argief wat binne reikafstand was.
Van my blywendste herinneringe is dié aan my kollegas, ons gesprekke en die wyse waarop ons mekaar gevorm het. Van my studente is daar baie dinge wat ek onthou: die enkeles wat voor ’n tugkomitee geroep moes word, die meeste studente se bruisende energie, die pligsgetrouheid en inisiatief van ons studentassistente, en veral die intellektuele nuuskierigheid van ons presteerders, julle voorgangers. Baie dankie dat julle my genooi het.
Julle het my gevra om iets oor Afrikaans en Afrikaanssprekendes in ons huidige tydsgewrig te sê. Dis ’n tema waaroor elkeen ’n mening het: soveel hoofde, soveel sinne. Inderdaad het ons almal ’n storie. Laat ek dit as ’n aanknopingspunt gebruik: Ons ís trouens stories. Dit is deur stories dat ons onsself verstaan, individueel en kollektief. Ons identiteit word geweef uit die verhale wat ons vertel en die verhale wat oor ons vertel word. Ná ons dood leef ons voort deur stories.
I
Laat ek met ’n persoonlike storie begin. Vanjaar, 50 jaar gelede, het ek as ’n regstudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) ingeskryf. Onder die apartheidsbeleid was dit die enigste universiteit waarnatoe ek kon gaan. My voorneme was om ’n regsgeleerde te word, veral een wat uiteindelik in arbeid- en menseregte wou spesialiseer. In die winter van 1976 het ’n gebeurtenis plaasgevind wat by nabaat daardie voorneme geleidelik verander het. Op skool het julle waarskynlik van die Soweto-opstande geleer, wat begin het as ’n betoging teen die gebruik van Afrikaans as ’n onderrigtaal in wat destyds die Departement van Bantoe-onderwys genoem is.
Die slagspreuk “Afrikaans is the language of the oppressor” het tekenend van dié tyd geword. Op die UWK-kampus het ons as studente ook in solidariteit betoog en uiteindelik sou die onrus uitbrei na die onmiddellike omstreke en verder weg. Die interessante feit is dat die betogings op die UWK-kampus en die uitbreidende opstand in die Wes-Kaap hoofsaaklik ín Afrikaans plaasgevind het. In dié sin was Afrikaans in dié streke die taal waarin téén Afrikaans betoog en in opstand gekom is.
Die opstand van 1976 het die gang van my lewe verander, en dit sou ook ’n langdurige impak op ons hele geslag as jongmense hê. Dit het die trajek van ons land grondig verander, so ook die persepsie en gang van Afrikaans. Destyds het verset teen die minderheidsregering toegeneem, nie net nasionaal nie, maar ook internasionaal. Minder as 15 jaar later was ons midde-in ’n oorgangsperiode op pad na ’n demokratiese bestel.
Vir Afrikaanssprekendes was 1976 ’n openbaring. Afrikaans wat vir hulle gewoon net taal was, daardie onbewuste aspek van menslike interaksie, het nou in die spervuur beland. Ons sou later rasionaliseer dat daar Afrikaans én Afrikaans is, die een die taal van oorheersing, die ander die taal van die armes en verset. Wat ook al ons posisie en rasionalisasies: Die aanklag van 1976 bly vir ons as sprekers van Afrikaans ons historiese trauma, een wat ons in geen gesprek oor taal in die land kan ontwyk nie.
Sommige het die verskriklike aanklag van verdrukker ontken, maar mense wat ernstig oor dié sake nagedink het, het dit ter harte geneem. Ons is nie slegte mense nie, het hulle gesê, ons moet hervorm. Die staat was in beleg, politieke hervorming was in die lug, en organisasies is gestig om “Afrikaans as vriendelike taal” te bevorder.
Vir talle nie-Afrikaanssprekendes het die taal dié simbool van onderdrukking en politieke geweld geword, weer eens nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal. Die volgende uitspraak van die sangeres Miriam Makeba bly my by. Sy skryf in haar outobiografie, Makeba: My story (1988): Afrikaans is verbasterde Nederlands met ’n bietjie Duits; “[It has] a guttural and ugly sound ... It is the language of genocide, and, in fact, it sounds like the German the Nazis speak in Hollywood movies” (5).
Dié soort uitspraak doen taalkundig vreemd aan. Geen taal is per definisie lelik nie, en dade word gepleeg deur mense, nie deur ’n taal in sigself nie. Ook vir die betogende UWK-studente van 1976 sou die uitspraak vreemd op die oor geval het. Hulle was grotendeels Afrikaanssprekend, maar hulle was aktief teen die apartheidsbestel gekant; hulle gemeenskappe het daaronder gely. Ook hulle het die verdrukking van apartheid ervaar: Hulle is teen hulle sin gekategoriseer, van hul stemreg ontneem, van hul grond vervreem, en hulle toegang tot opleidings- en loopbaangeleenthede is beperk. Hoe kon hul moedertaal wat hulle hele wese omgeef, “guttural and ugly” wees of die taal van volksmoord? Hoe kon hulle taal die taal van die onderdrukker wees? Hulle sou egter besef dat hoewel Makeba se uitspraak nie feitelik was nie, dit ’n diep emosionele uiting was.
Vir sprekers van Afrikaans oor alle geledinge van ons samelewing verteenwoordig 1976 ’n deurslaggewende oomblik toe die aard, die “taal-heid”, van Afrikaans ontbloot is. Dit is die besef dat taal nooit onskuldig is nie. Taal is nie net woorde wat aaneen voortgebring word nie, want dit is verstrengel met geskiedenis, identiteit en mag.
II
Hoe het dit gebeur dat Afrikaans eertyds slegs met één sektor van daardie breë spraakgemeenskap geïdentifiseer is? Afrikaans het deel geword van ’n projek van historiese miteskepping, een wat gekenmerk is deur aktiewe vernederlandsing in die vroeë 20ste eeu en steeds vandag belas word met die aktivistiese vergermanisering van Afrikaans. In vroeë Afrikaner-taalgeskiedskrywing en skoolhandboeke is ’n verhaal gekonstrueer wat ’n hoofsaaklik regstreekse, byna eksklusiewe band met Europa beklemtoon het. Hierdie weergawe het nie net die bydraes van inheemse mense en mense wat tot slaaf gemaak is, geminimaliseer nie, hulle is deur bewuste weglating en verskrywing sistematies uit die wordingsverhaal van Afrikaans verwyder. So kon die persepsie gevestig word dat Afrikaans die eksklusiewe besit van die Afrikaner is, ’n taal veredel en afgesonder van sy veelkantige oorspronge. Die feit is dat vroeë akademici en handboekskrywers wetend en soms onwetend ’n raamwerk geskep het waarin daardie aansprake geregverdig is.
Dit is hierdie raamwerk wat as algemene kennis versprei is en as die enigste waarheid by geslagte leerlinge en studente ingeprent is. Die slagspreuk van 1976 is regstreeks terug te voer na hierdie proses van miteskepping wat as dié waarheid in onderwysdepartemente en die praktyke op straatvlak deurgevoer is. Die sukses van dié miteskepping is dat die opstandelinge van 1976 hierdie meesternarratief wat by hulle ingeprent is, geglo en daarteen gereageer het.
III
Daardie regstudent van 1976 het toe nie ’n advokaat geword nie, maar ’n Afrikaanse letterkundige. Hierdie insigte het hom iets geleer oor die aard van kennis. Hierdie is nie bloot ’n filosofiese uitspraak nie; dit is ’n historiese en institusionele werklikheid. Elke kennissisteem ontstaan binne ’n bepaalde konteks, gevorm deur mag, taal, kultuur en materiële omstandighede. Universiteite destyds was, net soos universiteite vandag, as primêre ruimtes vir die produksie en legitimering van kennis nooit onskuldige instellings nie.
Sonder om die lang geskiedenisse en debatte oor die universiteit as instelling te bespreek, is dit ter sake om die volgende te vereenvoudig en te onderstreep: Universiteite reproduseer bepaalde wêreldbeskouings. Ouer Suid-Afrikaanse universiteite soos die Universiteite van Kaapstad, Stellenbosch en Pretoria het destyds breedweg imperiale of Afrikanernasionalistiese en republikeinse uitkyke, met ’n voorkeur vir Europese beskouings op die wêreld, gereproduseer. By die UWK, wat uitdruklik binne die apartheidsraamwerk gestig is, was daar van meet af aan, maar veral in die periode ná 1976, ’n kontestasie oor die aard van kennis, en om anders te dink, en dit het ’n vorm van verset geword.
Daardie jong akademikus het besef: Kennis is nooit waardevry of neutraal nie. Hy moes leer dat kennis ’n produk van spesifieke mense is, ontwikkel onder bepaalde omstandighede en op konkrete plekke. Hy moes leer om krities na die oorsprong van daardie kennis te kyk en daaroor te besin.
Ek gee ’n voorbeeld. Dit is ’n feit dat hoofsaaklik wit skrywers in die 20ste eeu die Afrikaanse letterkunde geskep het, net soos dit ’n feit is dat mense met my agtergrond hulleself glad nie in daardie letterkunde herken het nie. Hulle is dikwels as onnadenkende agterryers, selfs veragtelike figure, voorgestel, altyd aan die rand van die verhaal. As navorser moes ek vra: Waar hoor ek die stemme van daardie mense? Want wat ek lees in die skryfwerk van wit skrywers is persepsies, en dikwels negatiewe persepsies, wat op die lange duur wit intellektuele meerderwaardigheid en maatskaplike beheer bevestig.
Die dwingende vraag wat daardie jong akademikus moes vra, was: Hoe hoor ek die stemme van die sprekers wat oorspronklik nie geletterd was of ten minste nie geletterd was in die Europese tradisie van geletterdheid nie? Hulle stemme is daar, maar dit is gestigmatiseer, onderdruk en selfs geapproprieer, oorgeneem. Hy moes leer om sy blikhoek in die lees van letterkundige tekste te verander. Hy moes ook leer dat ander vorme van uitdrukking, soos mondelinge vertellings, selfs verslae van hofsake, sy vrae kon bevredig. Die vrae wat letterkundiges uit ’n bepaalde tradisie vra oor talige strukturering, vorm en estetiese afgerondheid het kontekstueel eerder as universeel geword.
Die les was eenvoudig, en een wat julle as jong denkende mense konstant moet vra: Wie produseer die kennis? Wanneer is dit gegenereer? Onder watter historiese en sosiale omstandighede het dit ontstaan? En van waar, geografies én ideologies, word hierdie kennis geproduseer, en vir watter doeleindes? Hierdie vrae is nie terloops nie; dit is grondig tot enige ernstige intellektuele onderneming, ook in die toekoms.
IV
Vandag, 50 jaar later, staan Afrikaans op ’n heel ander plek in ons geskiedenis, en die gebeure van 1976 bied ’n belangrike verklaring vir daardie nuwe plek. Ja, Afrikaans het historiese voorregte en institusionele magsposisies verloor, daar bly voortdurende beleidsdruk, en die taal is gewoon nie meer dominant in belangrike sfere van ons breë samelewing nie.
Dit is egter ook ’n tyd van nuwe, opwindende uitdagings, ten spyte daarvan dat baie jongmense – selfs Afrikaanssprekendes – ambivalent oor die taal en sy vooruitsigte voel. Die historiese trajek van Afrikaans is nie ’n afgehandelde saak nie, net soos die vorming van ons land, sy instellings en beleidsrigtings nie ’n afgehandelde saak is nie. Afrikaans se plek mag dalk nie meer dominant wees nie, maar dit is nou deel van ’n meertalige omgewing waar vrae oor inklusiwiteit en taalregte vir alle inheemse tale sterker op die voorgrond tree. Onlangs moes ek my steun uitspreek vir ’n nuwe digitaliseringsprojek om die uitings van alle inheemse Suid-Afrikaanse tale – kultuur, letter- en taalkunde – op te neem. Dit is ’n opwindende geleentheid wat ’n belangrike aanpassing in persepsie en praktyk verteenwoordig: Afrikaans in die konteks van ’n meertalige staat.
In reële terme groei die aantal Afrikaanssprekendes en die demografie verander. Aan die begin van die 21ste eeu was byna 60% van Afrikaanse sprekers bruin en binne die afsienbare toekoms – in julle leeftyd – gaan daardie persentasie styg tot 70%, en selfs meer. Hierdie veranderinge rondom meertaligheid en die demografie skep geleenthede rondom inklusiwiteit en maatskaplike binding wat voorheen nie deur Afrikaanse sprekers aangegryp en ontwikkel is nie.
Op kulturele gebied is die uitdrukkingsgeleenthede van Afrikaans uiters opwindend. Al is kultuurfeeste finansieel onder druk, word voortdurend nuwe geleenthede gesoek. Die kulturele energie wat loskom, bied ’n blik op ’n toekoms wat konstant gevorm word terwyl ons daaroor tob, of dit nou op ouer mediums soos die verhoog, teater en televisie is of in nuwer vorme soos in die sosiale media. Daardie kreatiwiteit leef. Vandag kan ons die nuwe energie sien in die oplewing van skryfwerk in ’n verskeidenheid Afrikaanse variëteite en die aandrang uit voorheen versweë oorde dat hulle gehoor moet word, en dat hulle aktiewe planne onderneem om hul vorme van Afrikaans op te teken.
Afrikaans is anders as wat die doemprofete dit wil hê, nie besig om te kwyn of te verdwyn nie. Dit is besig om voor ons oë te transformeer in nuwe dinamiese vorme. Jong Afrikaanssprekers is besig om ’n trajek te bepaal wat waarskynlik anders gaan lyk en voel as wat 50 jaar gelede die geval was. Ek kan my nie eens indink hoe die koms van KI ons benadering tot taal, letterkunde en kulturele studie gaan verander nie. Nog minder kan ek my indink hoe KI die hantering van taal in die openbare en privaatsektore, op skole en in universiteite gaan verander. Dink daaraan dat jy die volle spektrum van openbare dienste en opvoeding in jou voorkeurtaal kan kry. Die vraag is of ons universiteitswese, ons opleidingsinstansies en ons beleids- en toekomsvisies op hierdie potensiaal bedag is.
En dit, liewe pryswenners, is julle uitdaging. Julle is ons presteerders, julle is die nuuskieriges wat daardie nuwe blikhoeke en trajekte vir ons gaan skep. As jong denkers is dit julle taak om die nuwe stories van ons tyd te help ontsluit, om met begrip met die verlede om te gaan, maar nie daar te vertoef nie; om ons nuwe konteks te begryp, krities daarmee om te gaan, en wellewend in die nuwe wêreld te leef.
Eindnota
i My dank aan Jacomien van Niekerk en haar span vir die uitnodiging en hul gul ontvangs.

