African Gothic: ’n teaterresensie

  • 1

African Gothic by die Grahamstad Nasionale Kunstefees 2018

Regie: Alby Michaels
Akteurs: Liezl de Kok, Zak Hendricks, Mpho Osei-Tutu, Olive Strachan
Aangebied deur: UJ Arts & Culture Faculty of Art

African Gothic is die Engelse vertaling en verwerking van Reza de Wet se 1986-drama Diepe grond. Die Engelse titel van die produksie plaas die teks onmiddellik in die kader van die gotiek – die gehoor kan dus ’n riller met moord, doodslag, bloedskande en ander grilgebeure wat op Afrika-bodem afspeel, te wagte wees. In hierdie opsig stel African Gothic nie teleur nie.

Terwyl die gehoor hul plekke inneem, slaap die besmeerde Frikkie en Sussie Cilliers op ’n kaal matras, onder karige, vuil beddegoed. Hulle woon in ’n bouvallige plaashuis (in die oorspronklike teks beskryf as ’n vervalle herehuis, hier aangebied as ’n krot) êrens op die Vrystaatse vlaktes. Die tekens van agteruitgang is duidelik sigbaar – die vlieë maak hul wakker, droë grasse staan heuphoogte buite die venster en leë blikke lê op hopies grond in die huis rond. Die Cilliers’s het nie die vermoë om die grond te bewerk of na die plaas om te sien nie, maar skryf hul omstandighede aan die voortslepende droogte toe. Dié broer en suster leef in bloedskande saam, slaap hul dae om en grawe snags gate (selfs in die huis!) op soek na water. Vir oorlewing is hulle van Alina, die gedienstige huishulp, se groentetuin afhanklik en verkwansel hulle die meubels stuk vir stuk aan ’n oom Piet, wat op sy beurt vir hulle ’n bietjie voorraad uit die dorp saambring.

Wanneer Mister Grove, ’n prokureur uit Bloemfontein, onverwags opdaag en skynbaar hulle voortbestaan op die plaas bedreig, maak Frikkie en Sussie ’n plan om van hom ontslae te raak. Die twee verwar en mislei hom totdat hy uiteindelik op die plaas moet vertoef en dit duidelik word dat hierdie nag nog in ’n nagmerrie gaan ontaard. Hoe meer hy (onwetend) die rol van die vader in hierdie huis van waansin inneem, hoe skraler raak sy kanse om te ontsnap. Dit word toenemend duidelik dat die trommel in die leefarea vol geheime is en dat Frikkie alles in sy vermoë sal doen om dit te bewaar.

Van die mees ontstellende tonele is dié waar Frikkie en Sussie die tyd met hul “speletjies” verwyl. Hier is egter nie sprake van wegkruipertjie nie; dit is traumatiese episodes uit hul kinderdae wat opgevoer en herleef word. Die gehoor kom sodoende veel te wete van die gebeure wat aanleiding gegee het tot die ontstellende situasie waarin die twee hulle bevind. Temas soos ’n diepgewortelde Calvinistiese skuldgevoel, die onderdrukken­de patriargie en die invloed daarvan op die psige van die Afrikaner word met hierdie spel na vore gebring. Is dit dalk hul moeder se oordrewe strengheid en hul vader se gewillige sambok wat tot hul sielkundige ondergang gelei het?

Frikkie en Sussie is gevangenes van hul verlede – hulle kan skaars in die hede funksioneer en staar ’n uitsiglose toekoms in die gesig. Al wat hulle kan doen is om in afsondering hul eie verwronge weergawe van die status quo te probeer handhaaf. Gegewe die konteks van 1986 en die dramaturg se bedoeling dat dit as ’n kontemporêre stuk opgevoer moes word, is die parallelle met die politieke omstandighede van die tyd voor die hand liggend. Hierdie aanbieding van African Gothic het egter nie die tydsgees van die 1980’s in Suid-Afrika behou nie. Deurdat Mister Grove ’n “yuppie” swart prokureur in ’n spoggerige pak gemaak word, word die toneelstuk outomaties na die hede verplaas. Ander vrae ontstaan gevolglik: Is Afrikaners dalk steeds, te midde van politieke en maatskaplike vooruitgang, vasgevang in hul eie weergawe van die verlede? Kan nooit aan die sogenaamde erfsondes van die voorvaders ontsnap word nie?

Die karakter wat my in die lig hiervan laat nadink, is Alina die huishulp. Ten spyte van die konteks van die nuwe Suid-Afrika bly sy steeds ’n agtergrondfiguur, fisies versteek agter ’n skerm. Die gehoor sien meestal net haar skaduwee en sy tree op die voorgrond slegs wanneer sy vir Frikkie en Sussie troos of versorg. Sy dien as ’n soort surrogaatmoeder wat uit liefde na die twee kranksinniges omsien, maar hou sodoende waarskynlik ook hul waansinnige bestaan in stand. Daar word dalk hiermee kommentaar gelewer op die onontkombare gemarginaliseerde posisie van sommige groepe in die samelewing.

Om hierdie omvangryke produksie op die planke te bring, het meer as 300 studente en dosente van die Universiteit Johannesburg kragte saamgespan. Elke aspek, van die beligting tot die bemarking, is deur die groep hanteer. Wat die stel betref, is dit veral die gebruik van die skerm waaragter Alina in die kombuis doenig is wat beïndruk. Ek haal my hoed af vir veral Liezl de Kok en Zak Hendricks wat hierdie uitmergelende rolle moet vertolk.

Hierdie teaterstuk is veral geskik vir gesoute teatergangers. Die temas is gewigtig en sommige tonele ontstellend – daar is nie verniet ’n ouderdomsperk van 16 nie. Die produksie word weer later vanjaar in Johannesburg aangebied en Reza de Wet-aanhangers, teaterliefhebbers en nuuskieriges word aangemoedig om dit te ondersteun.

* Met dank aan Tim Huisamen vir die insiggewende gesprek.

  • 1

Kommentaar

  • Ek sou baie graag wou weet wanneer die stuk later vanjaar weer opgevoer word (en waar). Ek het "Diepe grond" vroeër vanjaar met my eerstejaarstudente (aan die NWU) behandel en sal hulle baie graag na dié uitvoering wil bring. Ek sal enige inligting baie waardeer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top