Affodille blom by Afrikaanse Taalraad se Erfenisdagvieringe

  • 0
kaapse_affodille_facebook650

Die Kaapse Affodille (foto: Facebook)

Die Kaapse Affodille, ’n unieke vroueboereorkes, is een van die vrolike hoogtepunte tydens die Afrikaanse Taalraad se Erfenisdagvieringe op 24 September 2015 by die Kunstekaapteater (Artscape).

Hoewel daar ook ernstige besprekings op die program is, kan bywoners van dié gratis dag seker weet dat musiek en vermaak hoogty gaan vier – dis mos deel van ons erfenis!

“Dit is belangrik dat verskillende kulture en tipes musiek erken word op Erfenisdag in 'n diverse land soos Suid-Afrika,” sê Leonie Pelteret, die groep se agent en self ook ’n Affodil. “Ons is almal musikante en lief vir verskeie soorte musiek wat wissel vanaf klassiek, rock, pop en 'club'-musiek. Dit is egter van pas dat ons die spesifieke volksmusiek saam met ander musiekgroepe ten toon kan stel op 24 September.”

Leonie vertel dat hulle al sedert 2009 saam musiek maak. Sy sê hulle het van meet af gefokus op die feit dat hulle ’n boereorkes met net vroue is. “Tradisioneel is dit oorwegend meer mans wat konsertina speel en boeremusiek maak.”

En boeta, kan hierdie klomp dames die gehoor aan die dans kry! “Die gehoor geniet ons energie, juis omdat ons so geniet om musiek te maak. ’n Klomp dames wat musiekinstrumente speel (veral volksmusiekinstrumente) is nie aldag te sien nie.”

Aanvanklik het hulle baie gereeld geoefen sodat die orkes ’n hegte band kon vorm – en natuurlik om die musiek onder die knie te kry. Vandag, sê Leonie, is die musiek al tweede natuur. 

En waarna kan besoekers uitsien op 24 September? “Ons is 'n baie energieke orkes wat dit geniet om te lag en om ons gehore te vermaak met ons tradisionele musiek – met ’n moderne aanslag. Ons gaan definitief bekende wysies speel soos 'Al lê die Berge nog so blou', 'Suikerbossie', 'Sarie Marais' en vele meer. Ons gaan gebruik maak van die konsertina, mondfluitjie, banjo en dan bykomende, ondersteunende instrumente soos die baskitaar, dromme en kitare.” 

Meer oor die Afrikaanse Taalraad (ATR)

Die ATR is ’n sambreelorganisasie wat meer as 40 organisasies wat saamsnoer rondom Afrikaans, byeen bring. Die raad is ingebind tot die bemagtiging van die Afrikaanse taalgemeenskap en die bevordering en beskerming van Afrikaans. Vir meer inligting oor die ATR, sy lede en bestuur, besoek http://afrikaansetaalraad.co.za/

Meer oor die ATR se Erfenisdag op 24 September

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) hou vir die eerste keer ’n nasionale taalberaadfees by die Kunstekaapteater op Erfenisdag, 24 September, om die ryk, gedeelde erfenis van Afrikaans as taal te vier. Die taalopskop geskied ook teen die agtergrond van Afrikaans se 90-jarige bestaan as amptelike taal.

Program

08:00-09:00        Praat Saam (direkte uitsending op RSG). Aanbieder: Lynette Francis. Wat is Afrikaans se rol in die smee van ’n gedeelde erfenis? Deelnemers: Steward van Wyk (Departement Afrikaans, UWK), Fatima Allie (koskenner en storieverteller uit die Bo-Kaap, Conrad de Kock (Pendoring-wenner: kopie), Martin Dentlinger (taalstryder van Rehoboth, Namibië) en Anne-Marie Beukes (ATR-voorsitter en hoof van die Departement Linguistiek, UJ).

09:00     Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille, en Jacques van der Elst, uitvoerende hoof van die ATR, verwelkom gaste.

09:30-11:00        Afrikaans nóú. Waar staan Afrikaans nou en hoe ervaar verskillende groeperinge in die land Afrikaans as spreektaal. Fassiliteerder:  Anne-Marie Beukes (voorsitter van die ATR). Deelnemers:  Fahrid Essack (hoof van die departement religieuse studies, UJ), Saartjie Botha (uitvoerende hoof van die Woordfees, US), Tony Ehrenreich (Cosatu-leier in die Wes-Kaap) en Leon Wessels (UV en NWU).

11:00-11:15        Pouse

11:15-12:45        Afrikaans van nóú af.  Fassiliteerder: Michael le Cordeur (departement van taalonderrig, US en voormalige ATR-voorsitter). Deelnemers: Debra Meyer (dekaan van die fakulteit Natuurwetenskap, UJ), Cerneels Lourens (prokureur en taalaktivis) en Marlene le Roux (waarnemende hoof van Kunstekaap en onder-voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans).

12:45-13:30        Sarah Theron en Hemelbesem nuwe lewe in die partytjie kom blaas. Kom luister hoe hierdie twee besonderse kunstenaars met Afrikaans toor – en selfs probeer om mekaar se styl na te boots!

13:30-14:30        Gratis middagete

14:30-16:15        Afrikaans se jong stemme. Fassiliteerder: Karen Meiring (kykNET hoof). Deelnemers: Christina Mashobane (ATKV) en Sinki Mlambo (Revlon), Benjamin Bock (ATKV), Mischke le Cordeur (Protea Hotel-groep), Marius Swart (departement Afrikaans en Nederlands, US) en Dian Wessels (Sunflood Studios).

17:00-19:00        Gratis vermaak! Kaapse Affodille Dames-boereorkes, ERUB-kinderkoor, Betjies van Betjiesfontein-rieldansers, Die Jaloersbokkies.

20:00                     Zoid. Zanne. Zolani. Kaartjies kos R180 en is te koop by Computicket.

Tussendeur is daar twee uitstallings wat ’n besoek werd is: Die Burger se reeks spotprente wat  die 100-jarige bestaan van dié koerant vier, en ’n versameling stalletjies wat aan die leefwêreld van Afrikaans vorm gee.

Vir meer inligting oor die ATR-taaldag by Kunstekaap op 24 September 2015, kontak vir Frieda le Roux (friedaleroux@gmail.com) of Ria Olivier (ria.olivier@mweb.co.za)

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top