Advokaat Oswald Pirow

  • 0
oswaldpirow650

Oswald Pirow (fotobron: wikipedia)

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Advokaat Oswald Pirow, politikus, skrywer, sportman en regsgeleerde by uitnemendheid, is op 14 Augustus 1890 te Aberdeen in die destydse Kaapkolonie gebore. Hy het op Potchefstroom skoolgegaan, en was maar 14 jaar oud toe hy vir verdere studie na Duitsland vertrek het. Nadat hy sy doktorsgraad verwerf het, het hy in Engeland aan die Inner Temple sy regstudies voltooi voordat hy in 1914 as advokaat en lid van die Pretoriase balie toegelaat is.

Sy kop het politiek toe gestaan en in 1924 het hy parlementslid geword. In 1929 het hy sy goeie vriend advokaat Tielman Roos as minister van justisie opgevolg, in welke hoedanigheid hy onder meer verantwoordelik was vir die aanstelling van regters. Later jare was hy ook minister van spoorweë en hawens, maar sy nasionaal-sosialistiese oortuigings, wat uitgeloop het op die stigting van sy sogenaamde Nuwe Orde in 1940, het hom in onguns by die kiesers gebring. Hy het die politiek vaarwel toegeroep en weer as senior advokaat in Pretoria gepraktiseer.

Mooi storietjies word van Oswald Pirow vertel. Op 'n dag, na sy uittrede uit die politiek, moes hy 'n hofsaak behartig saam met 'n junior advokaat, wat nie gelukkig was met die stand van hul voorbereiding vir die verhoor nie. Pirow het gefluister: "Moet jou nie bekommer nie. Sien jy daardie man daar bo?” Hy het in die rigting van die regter na die regter op die bank beduie. “Nouja, ék het hom aangestel!" – 'n aanstelling uit Pirow se dae as minister van justisie.

Pirow was 'n geesdriftige en baie suksesvolle jagter. Terwyl hy minister van spoorweë was, het hy eenmaal in die omgewing van Bloemfontein gaan jag. Hy sou per trein na Pretoria terugkeer, en toe hy met sy bok op die Bloemfonteinse stasie aankom, was daar 'n geskarrel onder die portiere om dié belangrike passasier behulpsaam te wees. Een van hulle het die minister en sy bok na die regte toonbank geneem, waar 'n amptenaar – glo 'n klein mannetjie met so 'n ronde gesig – besig was om een of ander vorm te voltooi. Die portier sê toe: "Meneer Pirow, die minister van spoorweë is hier. Hy wil hê dat sy bok saam met hom op dieselfde trein na Pretoria moet reis." Die amptenaar het ongestoord voortgegaan met die vorm waarmee hy besig was. Die portier het benoud begin rondtrippel en sy mededeling nog tweemaal herhaal. Die amptenaar het rustig opgekyk en langsaam gesê: "Mister Pirow, the minister of railways, must wait like everyone else." Nie voordat hy sy vorm behoorlik voltooi én nagesien het nie, het die minister en sy belangrike vrag die amptenaar met die ronde gesig se aandag geniet. Pirow wou die man glo net daar bevorder, maar die spoorwegregulasies het dit nie toegelaat nie!

'n Ander sjarmante storie oor Pirow die advokaat is dié een, van die prokureur wat ná 'n verhoor waarin Pirow verskyn het, versigtig probeer uitvind het hoeveel sy rekening sou beloop, want sy kliënt was bekommerd oor sy regskoste. "My boy," het Pirow die jong prokureur gerusgestel, "you insert the digit, I will add the nought."

Toe advokaat Pirow aan die einde van sy regsloopbaan besluit het om op sy plaas in die Laeveld te gaan aftree, het hy 'n junior advokaat geroep en hom meegedeel dat hy sy hele biblioteek aan hom skenk. Hy het daarna op en af in die kamer gestap en uiteindelik die enkele boek wat daar was, aan die verbaasde junior oorhandig. Dit was 'n Kaapse hofverslag van 1918, wat bitter selde in 'n hof gebruik is. Dit het boonop nie eers aan Pirow behoort nie, want voorin was die letters AD – die voorletters van advokaat Adolf Davis, ook van die Pretoriase balie. "O, moet jou nie daaroor bekommer nie," het Pirow droogweg geantwoord toe die junior advokaat daaroor navraag doen.

Na sy aftrede het die regering advokaat Pirow genader om leier te wees van 'n span staatsadvokate in 'n belangrike hoogverraadverhoor wat in 1956 begin het. Hy was nog met die gewigtige taak besig toe hy onverwags in 1959 oorlede is.

Bronne

Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel 5, bl 631

The South African Law Journal (106), bl 564, 1989  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top