ABSA Ketting: IL de Villiers in gesprek met Joan Hambidge

  • 0
1. Jy is een van die mense wat oor bykans elke ding (wat jy lees, ervaar, sien, hoor ens) 'n vers kan maak. Daardie gedig oor die man wat val uit die World Trade Center, byvoorbeeld, het my getref. Werk jy soos Opperman "van berig tot gedig" ("Klara Majola")? Is daar 'n onmiddellikheid: reguit vers toe? Hoe kry dit vorm? Hoekom kies jy die medium "van weiniges vir weiniges"?
 
Ek dink my persoonlikheid - Mediterreens, haastig, onmiddellik - reageer op my Umwelt. Daar bestaan die opvatting dat gedigte net oor universele onderwerpe moet handel, lank moet staan, ryp moet word, multivalent moet praat: dit doen ek ook. Maar die gedig oor die onmiddellike mag ook sy uiting vind.
 
Ek het nie die digkuns gekies nie - dit het my gekies. Die digkuns het vele aangesigte: myne is beslis meer postmodern en ja, ek werk dikwels soos Opperman, 'n model, van berig tot gedig. Ek het pas 'n roman voltooi - wat juis die "onmiddellike" moes opvang. Dit het waarskynlik met energie te make. Gaan kyk na Poskaarte en die digters se eksperimente met die digkuns en wat dit behels. Natuurlik bewonder ek klassieke digters, onder andere soos jy, wat met groot beheersing terugkyk, opteken en bestendig.
 
2. Jy reis die wêreld vol en sien hoe mense leef. As jy sou kon kies: as wie en wat sou jy ná hierdie aardse reis wou "terugkom", en veral waar en hoekom? Dis nie 'n teologiese vraag nie.
 
Ek is Boeddhisties ingestel. Ons kom waarskynlik terug. Ek sou wou leef in Suid-Amerika: La Paz of Santiago. Ek vind die Italiaanse landskap verruklik, nes die Suide van Spanje. Maar Chili of iewers digby Puerto Montt.
 
3. Glo jy die teorie van die digter se stryd tussen "reveal" en "conceal"? Sal jy nou verse terughou vir eendag, dalk, of publiseer jy en klaar, of swyg jy liewer oor sekere dinge? Oor die liefde, wat ook al? En sê ook sommer waar jy dink die Afrikaanse poësie sigself vandag bevind. Goed, middelmatig, power ...?
 
Die digkuns het te make met "reveal"/"conceal". Ek het twee bundels in 'n laai: Witbank-Blues en Koesnaatjies vir die proe – eersgenoemde ernstig; laasgenoemde speelse liefdesverse. Ek swyg nooit nie, maar ek wil nie mense seermaak met my verse nie. Voor ek "Dad" gepubliseer het, het ek dit eers vir my susters gewys vir hul mening, wat positief was. Ek het ná 'n liefdesopbreek verse op LitNet gepubliseer wat my pyn uitgebasuin het - die eksgeliefde het dit as seermakend ervaar, ofskoon dit oor my pyn gehandel het. Maar dan het die grote Opperman geleer dat jy net na die gedig moet kyk, net na die gedig, en die effek op ander moet ignoreer - anders sal jy nie kan skryf nie.
 
Skryf kan 'n mens altyd; dit is die publiseer wat moeilik is.
 
Daar is fantastiese jonger digters. En hul gebral op 'n ouer generasie is goed: in die tagtigerjare het ons weer op ons beurt "neergesien" op die digters van die sewentigerjare. Ons was meer vormbeheerst; hul verse was te vry. 'n Nuwe generasie kan egter net bestaan opdat die ouer mense die weg gebaan het. So, stadig oor die klippertjies as 'n mens die hele tradisie voor jou as Coke Light afmaak!
 
Ek vind dit amusant dat die jonger generasie die hele tyd iets nuuts wil bring.
Dit kan jy net by nabaat weet.
 
Hier is hulle te haastig met die "nuwe stem", die "nuwe tegniek" - alles wat Charl-Pierre Naudé in sy versamelbundel as nuut aanstip, is al in Afrikaans gedoen. Gaan lees jou digkuns, en word wys!
 
4. Jy het 'n aangrypende gedig geskryf oor die dood van jou pa en van 'n vriendin wat eindig: "Pa, sal haar sien, Pa./ Aan die skroewedraaiermerk/ teen haar slanke nek." Dis kommentaar oor dood én geweld, liefde en mistieke gevoel van eenwording van geliefdes "aan die ander kant". Jy wat ook soveel lykdigte skryf: hoe "beleef" jy die dood, ek bedoel in jouself en jou eie sterflikheid? Is jy soms "verlief" op die dood?
 
Ek is nie verlief op die dood nie, al verwys 'n literator na my as 'n literêre lykbesorger of so iets en sien hy my digkuns as 'n nekrologiese obsessie. Die lewe en die dood is 'n jin/jang. Ons leef en ons gaan dood. So is die so. Ek is verlief op die lewe. Ek is 'n energieke, bruisende mens. Maar die dood is 'n harde werklikheid wanneer jy geliefdes en 'n vader aan die dood afstaan. Maar ons gaan ook op aarde dood. Die einde van 'n fase, liefdesverhouding, tydperk - dit is dood.
 
5. Hoe beleef jy Suid-Afrika (en veral die Afrikaanse seksie - met al sy variante) vandag? Of liewer: hoe sien jy die plek en sy mense oor dertig, veertig jaar? Ek vra nie kristalbal nie, ek vra blote gevoelte ...
 
Ek is erg negatief oor mense wat hul Afrikaanse taal en herkoms ontken. Probeer Engels wees, hulle kinders na Engelse skole stuur - wat? En dan, die kinders weer na 'n Afrikaanse universiteit stuur.
 
As hulle moet weet hoe Engelse vir hulle lag ...
 
Afrikaans sal oorleef - solank as wat ons nog daar is. 'n Taal kan net uitsterf as die mense wat haar praat, nie meer in haar dig nie. Die "Afrikaner" mag dalk uitsterf. My obsessie is met Afrikaans - nie die Afrikaner nie. Ek dig in Afrikaans, maar ek behoort nie tot die Afrikaanse digkuns nie.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top