ABSA Ketting: Anton Krueger in gesprek met Johannes van Jerusalem

  • 0
1. … johannes van jerusalem – jy't nou onlangs jou eerste bundel uitgebring, eros ontbind, so ek gaan vir my eerste vraag vra dat jy vir ons 'n voorbeeld uit die boek gee, sodat mense 'n idee het van jou werk ...  
 
Miskien moet ek eerder vir jou ‘n nuwe gedig maak, impromptu, soos in die Bekgeveg Heavyweight-afdeling:
 
johannes het van jerusalem gekom
halfpad hierheen was hy nog heeltemal stom
 
een dag het hy aan ‘n plant gekou:
hy’t ‘n hele klomp dinge van die heelal onthou
 
hier, en jerusalem minder as ‘n haarbreedte weg -
tussen hier en daar ‘n helse geveg!
 
hy het gehoor: “Die tyd het aangebreek.”
johannes het die rivier Vergeet oorgesteek
 
hy het die lyk begrawe in die naaste sand
hom toe goed verkyk aan hierdie nuwe land
 
“Kyk, Eros en die Dood is hand gemeen,
die een se hand so soos die ander een.”
 
2. … in die ketting sover lees ek dat mense al heelwat besprekings gevoer het oor die onderskeide en gelyksoortighede tussen poësie en 'n hele klomp ander dinge – musiek, skilder, teken, seks, fietsry en wat ook al, so ek wil vir jou vra oor jou gedansery ... jy is nou al 'n hele paar jaar 'n biodanza instructor – watse invloed het dans op jou poësie gehad? ... is dit nie 'n teenoorgestelde tipe proses nie? ... aan die een kant 'n pure abstraksie – ‘n koue teks – aan die ander kant 'n lyf wat woordloos woerel ... wat swyg en swym ...
 
Vir my is gedigte maak heeltemal visceral; ek gee nie eintlik om oor betekenis terwyl ek skryf nie. Dis meer ‘n gevoel wat my lei, spanninge en ontspanninge. Dis nie heeltemal of dit ek in ‘n eng persoonlike sin is wat skryf nie, in elk geval. Dis ‘n soort beswyming, ‘n besetenheid, ‘n ekstase. Dans maak my los in my lyf. Dis met my lyf wat ek skryf. Kop en hartklop is albei in die lyf. Hulle maak die horing styf.
 
3. … okay, om die waarheid te sê, ek het oor die fietsry gelieg, maar kom ons praat bietjie meer oor seks, want jou bundel is nou juis opgeoffer aan die god van ekstase – dink jy daar is genoeg seks in die hedendaagse 
afrikaanse letterkunde?
 
Ek het geen idee nie! Wat is genoeg seks in ieder geval?
 
Alles is seks, ‘n aanmekaarnaai van die heelal – alles wat nie ontbinding is nie; en selfs ontbinding bevat klein aanmekaarnaaitjies: bakterieë wat selle vreet, en so aan. Die bioloog Lynn Margulis reken seks het ontstaan as mislukte kannibalisme: een amebe vreet ‘n ander een maar kry dit nie reg om hom te verteer nie. Twee selle word een, heilige huwelik. Selbinding.
 
4. ... dis nou al 'n hele paar jaar vandat ons bekgevegte gedoen het saam met henning en leon ... dit was fokken lekker tye en ek het dit altyd verskriklik geniet ... is jy ook spyt die ding gebeur nie meer nie?
 
Dink jy ons moet dit weer doen? En miskien moet ons ook ander opsies ondersoek, soos die poetry-aande wat Louis Esterhuizen destyds hier in Pretoria gedoen het. Hy het ‘n moerse vibe aan die gang gekry.
 
Bekgeveg was befok! Van die heel eerstes af toe Louw Odendaal nog die ref was. Een aand was Louw so dronk dat die hele ding in burlesk verander het. Hy het heeltemal vergeet hoe die reëls werk en begin om beledigings te skree vir die mense wat hom probeer reghelp. Die eerste keer toe ons Oudtshoorn te gegaan het, het ons die mees beswymelende 'e' denkbaar gehad. Ons het op wolke geloop. Louis en Marlise het gereeld in hulle kamer gekreun van die blydskap. Die tweede Oudtshoorn het Demos met ‘n oop kombi oor ‘n oorstromende brug gejaag en almal hoog die donder in vir hom gemaak. Dit was fokken bar bekgevegte – die mense wou net vuil versies hê. Met die derde Oudtshoorn het ek die eerste nag ‘n visioen gesien van ‘n reusagtige seeslang wat uit die oseaan opskiet en met ‘n brutale krul van sy lang, gekartelde spier ‘n skip verpletter.
 
5. ... waaroor het jy gisteraand gedroom?
 
Miskien van ‘n groot donker huis iewers in berge wat ek baie goed ken in my drome. Miskien van iets waarvan ek niks weet nie. ‘n Ruk terug in ‘n tent langs die see in die draai van ‘n sagte rug het ek gedroom ek ontmoet Breyten Breytenbach en ek vertel vir hom dat Jerusalem van Bill Blake af kom.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top